Sing vooraf: Ps 146:1, 8
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 103:9
Geloofsbelydenis: Apostolicum
Na die wet bely ons voor God ons sondeskuld en bid om vergewing van ons
sondes met Ps. 19:6
Wet
Psalm 19:6
Gebed
Psalm 78:1
Skriflesing: Esegiël 33
Teks:
Esegiël 33:2
Mensekind, spreek met die kinders van jou volk en sê vir
hulle: As Ek die swaard oor ’n land bring, en die mense van
die land neem ’n man uit hulle kring en stel hom as wag vir
hulle aan, (Esegiël 33:2 AFR53)
Alles wat met ons gebeur, word deur die Here beskik tot ons bekering en
vernuwing.
- Maar dan moet ons ag gee op dit wat die Here vir ons sê en
wat Hy ons beveel om te doen.
- Die waarskuwings wat die Here ons gee wanneer dinge begin skeefloop,
gebeur nie deur wonderwerke en allerhande wonderlike tekens en dinge
nie.
- Dit gebeur deur die medegelowiges rondom ons.
Uiteindelik – as ons nie hoor nie, tree die Here se straf in
– en dit mag dan dalk te laat wees – dan gaan ons
verlore.
Kom ons benader hierdie Bybelgedeelte vanuit twee gesigspunte:
1. Die Here waarsku ons deur medemense
2. Die krag van die Here se vergewing
1. Die Here waarsku ons deur medemense
Esegiël het saam met die Jode wat reeds weggevoer was in
ballingskap in Babel gewoon.
- Hy was nie werklik gewild as profeet nie.
- Die volk het hom nie geglo nie, want hulle het gesê hy praat
altyd in gelykenisse wat hulle nie verstaan nie.
Waarvan hulle glad nie gehou het nie, was dat Esegiël reg aan
die begin van sy roeping al vir hulle gesê het dat die Here
hom as wag oor hulle aangestel het.
- Hoofstuk 3 van vers 16 af se inhoud is presies dieselfde as dit wat ons
saam gelees het in hoofstuk 33:
Die Here het Esegiël as wag oor die volk aangestel.
- Die mense wou hom nie glo nie.
Toe het daar iets besonders gebeur.
- Esegiël het vir die mense daar in Babel voorspel dat daar
eendag ’n boodskapper aangehardloop sal kom wat vir hulle
gaan vertel dat Jerusalem geval het.
- Dit het toe presies so uitgekom. Toe hulle al twaalf jaar lank in
ballingskap was, het daar ’n boodskapper opgedaag met die
hartseer boodskap dat Jerusalem ingeneem is.
Al die dinge wat in hierdie hoofstuk geskrywe staan, het toe gebeur.
- Hierdie gebeurtenis het die Jode laat verstaan dat jy jou nie teen die
Here verset nie.
- Hulle het begryp dat jy moet luister en aandag gee wanneer die Here met
jou praat.
Esegiël het toe vir die volk verduidelik wat sy posisie tussen
hulle en die Here is.
- Die Here het hom beveel om ’n wag oor Israel te wees
– net soos wat hulle in oorlogsomstandighede ’n wag
uitsit om hulle te waarsku as hulle die vyand sien naderkom.
- Die verskil tussen Esegiël en ’n militêre
wag is net dat die wag moet waarsku wanneer die vyand kom, terwyl
Esegiël hulle moet waarsku teen die Here!
- Esegiël moes alles wat die Here aan hom openbaar aan sy volk
bekendmaak.
Dit was die hoofrede waarom die Jode in Babel nie van Esegiël
gehou het nie.
- Hy het hulle gewaarsku dat Jerusalem gaan val as hulle nie tot bekering
wil kom nie.
- Die Jode wou dit net nie glo nie.
- Hulle het
gesê dat die Here nooit sal toelaat dat Jerusalem val nie.
- Nou het
Jerusalem geval.
Esegiël se prediking het meteens vir die mense baie duidelik
geword:
- Hy het hulle gewaarsku. In hierdie waarskuwing dat hulle tot bekering
moet kom was die Here aan die woord.
- Omdat hulle nie tot bekering wou kom toe hulle gewaarsku is nie, het
die Here hulle gestraf.
- Maar wat erger is, is die feit dat hulle moes hoor dat die Here dit het
teen iemand wat ’n waarskuwing hoor, maar nie tot bekering
wil kom nie.
Wat die ergste is, is dat die Here dit duidelik stel dat jy nou skuld
na niemand anders toe kan verplaas nie.
- Die gelowiges kan nie hulle eie sondes so maklik verplaas na iemand
anders toe wat dan kwansuis die oorsaak daarvan is dat hulle verkeerd
doen nie.
- ’n Mens kan nie deur skuldverplasing homself vrywaar daarvan
om by die Here in die skuld te kom nie.
- Die sondaar staan in sy eie en volle verantwoordelikheid voor die Here.
As die wag gewaarsku het, en die gelowige wou nie tot bekering kom nie,
dan is daar ’n groot fout tussen hom en die Here. Dan gaan
die Here hom straf en die wagter vryspreek.
In alle billikheid teenoor ons gemeente kan daar seker met reg
gesê word dat hierdie gemeente werklik reageer op die
prediking.
- Maar dit is ook so dat enkelinge in ons gemeente moeilik met die Here
kan of wil saamlewe – maar almal is beslis nie altyd net aan
die verkeerde kant nie.
- Dit neem egter nie die waarskuwing van die Here weg dat ons moet ag gee
op die vermaning en leiding van die Woord van die Here nie.
Kom ons kyk na die betekenis daarvan dat Esegiël die wag is
wat moet waarsku:
- Esegiël verteenwoordig almal wat in die besondere dienste
staan – predikant, ouderling en diaken.
- Hier kom in die eerste plek sekerlik alle ampsdraers in die gesigsveld:
Hulle het die plig om te verkondig wat die Here wil hê.
- Die dominee, die ouderlinge en die diakens is die wagters van hierdie
gemeente.
- As die
aangesteldes nie die basuin blaas nie, en mense in hierdie gemeente
beland in sonde, dan eis die Here die bloed van daardie mense wat
verlore gaan van die wagters af.
Oor die regverdigheid waarmee die kerkraad werk en getrou waarsku, die
volgende:
- Ons moet besef dat die roeping van die Here om toesig te hou oor sy
kerk en om te waarsku teen sonde en alles wat nie reg is nie,
’n baie groot roeping is. Dis nie ’n maklike werk
nie.
- Ons is sekerlik ook nie almal ewe bekwaam en ewe vaardig nie. Solank
ons net getrou is.
Tye is nou baie verkeerd, en daarom moet ons veral aan die hand van
hierdie Bybelgedeelte mekaar weer aanmoedig en sterk maak om ons
oë oop te hou en die gemeente van die Here reg te lei.
- Ons – die kerk van die Here – moet betyds kyk waar
dinge kan skeefloop en dan waarsku.
- Dit geld
veral dinge soos dwaalleer en slapheid in die geloof.
- In ons
tyd is daar baie soorte dwaalleer in omloop en ons mense is nie altyd
vry daarvan nie.
- Ons moet die Woord van die Here bestudeer sodat ons op ’n
bekwame wyse kan onderskei en kan leiding gee waar dit nodig is.
- Ons lewensvoorbeeld moet nie vol krake wees sodat die gemeente ons kan
wantrou nie.
Die enkele lidmate wat nie kerk toe kom nie moet baie streng deur die
hele gemeente vermaan en gewaarsku word.
- As dit blyk dat hulle uit ongeloof wegbly van die eredienste af, en
daar geen bekering kom nie, moet sulke mense met die Here se ban uit sy
volk verwyder word sodat hulle nie die hele kudde van die Here aansteek
en siek maak nie.
Maar, broeders en susters, hierdie profesie raak die hele gemeente
– elke een van u ook, want ons is almal geroep om mekaar se
wagters te wees. Dit is tog ondenkbaar dat God die Heilige Gees net in
die ampsdraers werk en nie in die hart en verstand van elke gelowige
nie!
- Dink daaraan dat die manier waarop Kaïn vir die Here
gesê het dat hy nie sy broer se wagter is nie, eintlik bedoel
om te sê dat hy wel sy broer se wagter is!
2. Die krag van die Here se vergewing
Daar is ’n paar probleme wat baie keer in almal van ons se
gedagtes opkom. Dit is:
- Wat gebeur nou met al die verkeerde dinge wat in my verlede
lê?
- Daarby is daar ook die stryd oor die betekenis van ons goeie werke.
Gaan die Here dan nooit ons goeie werke ook in ag neem as Hy ons
oordeel nie?
Vir al hierdie dinge is daar duidelike antwoorde in die Skrif.
- Toe die boodskapper die dag daar aangehardloop kom en die volk besef
dat Esegiël regtig ’n profeet is, en dat die Here
Jerusalem laat vernietig het oor al hulle onbekeerlikheid, was hulle
baie moedeloos.
- Hulle het toe hulle sondes baie diep en ernstig bely.
Hulle het gesê:
En jy, mensekind, sê aan die huis van Israel: So het julle
gesê: Gewis, ons oortredinge en ons sondes is op ons, en
daardeur teer ons weg – hoe kan ons dan lewe? Sê
vir hulle: So waar as Ek leef, spreek die Here Here, gewis, Ek het geen
behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose
hom bekeer van sy weg en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van jul
verkeerde weë! Waarom tog wil julle sterwe, o huis van Israel?
(Esegiël 33:10-11 AFR53)
Hoor u hulle belydenis? Ons opstandigheid en ons sondes rus swaar op
ons. Ons vergaan daaronder. Hoe kan ons nog lewe?
- Hulle het gedink dat die pad vorentoe so donker is dat daar geen lig is
nie.
- Hulle het gedink dat die Here net vernietig.
Maar toe stuur die Here Esegiël om sy genade te gaan preek.
- Die oomblik wanneer mense tot bekering kom, gee die Here vir hulle sy
liefde.
- Daarom roep Esegiël uit dat die Here sê dat Hy geen
behae het in die dood van goddelose mense nie.
- Hy het behae in mense wat hulle bekeer.
- Hy preek vir die volk dat hulle hulle net moet bekeer – en
dan laat die Here hulle lewe.
Die gesindheid van die Here teenoor hierdie mense kom ook duidelik uit
in die manier waarop die Here van hulle en met hulle praat.
- Vroeër het die Here hulle wederstrewiges genoem. Hulle was
’n hardnekkige klomp.
- Nou noem die Here hulle kinders en my volk.
Die Here is nie meer besig om hulle te straf nie. Hy is nou besig om
die volk wat Hy klaar gestraf het, te herstel. Daarom kondig die Here
nou sy genade oor hierdie volk aan. Dit doen die Here met twee baie
sterk uitsprake.
- In die een uitspraak maak die Here dit duidelik dat Hy baie sterk
afwysend staan teenoor die sonde.
- In die tweede uitspraak bevestig die Here die eindeloosheid van sy
genade oor sondaars.
Die Jode was maar net sulke mense soos ons. Hulle het aan dieselfde
geestelike gebreke gely as waaraan ons ly. Onder hulle was daar ook al
die soorte sondaars wat ons onder ons het. Daarom word die afkeer wat
die Here aan sondes het, eerste gestel.
- Daar was mense onder die volk daar in Babel wat gedink het dat hulle
sulke regverdige mense is dat so ’n ou sondetjie nou en dan
regtig nie baie sal saakmaak nie, want hulle het so ’n groot
krediet van regverdigheid dat dit hulle sondes sal uitkanselleer.
- Met ’n harde uitspraak sê die Here dat die goeie
dade van ’n goeie mens hom nie sal red as hy op ’n
dag teen die Here in opstand kom nie. Die Here verdra geen
opstandigheid teen Hom nie.
Maar aan die ander kant is die genade van die Here werklik sonder
grense.
- As iemand wat sleg is, tot bekering kom, dan red die Here hom.
- Al die slegte dinge wat agter hom lê word vir ewig deur die
Here vergewe.
- Daar word nie eers weer verwyt of geweeg of iemand wat vroeër
in sy lewe goddeloos was, nou goed genoeg is om die ewige lewe te mag
ontvang nie.
- Na opregte bekering gee die Here vergifnis en die ewige lewe doodgewoon
uit genade.
Kan dit so maklik gebeur? Die antwoord is: Ja. In die Ou Testament het
die Here net gesê dat dit die geval is, maar in die Nuwe
Testament het Hy gesê waarom dit so is:
- Daar was ’n Wagter wat deur God gestuur was om sy volk te
waarsku en om hulle bymekaar te maak.
- Die volk wou nie luister nie, en toe het hierdie Wagter Homself in God
se oordeel gegee sodat die volk net nie vernietig moet word nie.
- Dit is hoe Jesus Christus die straf vir die sondes wat agter ons
lê voor die regstroon van die Here gedra het.
- Hy het volmaakte versoening tussen ons en die Here bewerk.
Die praktiese gevolg daarvan is dat as ons werklik tot bekering gekom
het, ons sondes nie meer teen ons kan tel nie, want daar is reeds
volkome gestraf daarvoor.
Aan die ander kant moet ons net besef dat ons een enkele grond vir
versoening voor die Here het, en dit is die versoening deur die bloed
van Jesus Christus.
- Daarom kan ons eie geregtigheid nie bygereken word nie.
- Jy moet óf self betaal óf iemand anders moet
betaal, maar wie ook al betaal, moet dit volmaak doen – so
bely ons dit in die Heidelbergse Kategismus.
Ons volle verlossing gebeur binne die raamwerk van God se genade.
- Die Wagter werk nog steeds – Hy self lei ons in sy verlossing
deur die werk van die Heilige Gees.
- As u mooi dink, sal u besef dat die Heilige Gees die Bybel gebruik om u
te laat verstaan wat die Here van u vra.
Dit is waar dat alles wat met ons gebeur, deur die Here beskik word tot
ons bekering en vernuwing.
- Maar dit is net so waar dat ons moet ag gee op dit wat die Here vir ons
sê en wat Hy ons beveel om te doen.
- Daarom moet ons sorg dat die ampsdraers wat ons in die Naam van die
Here verkies, gelowiges is wat die Woord van die Here suiwer aan ons
verkondig.
- Die Here praat nie net deur ampsdraers alleen met ons nie. Hy praat
veral deur sy Woord en Gees.
- Deur middel van hierdie openbaring praat Hy voortdurend met alle
gelowiges. Luister dan na medegelowiges wanneer hulle u vertroos of
vermaan met die Woord van die Here.
So leef ons die Here met ons aanbidding tegemoet totdat Hy op die wolke
kom.
Amen.
Slotgebed
Skrifberyming 1-1:1, 3 (24:1, 3)
Die Here sal jou seën en jou behoed;
Die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
Die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk
Bellville
Datum: 30 Julie 2006
(oggend)