Sing vooraf: Skrifberyming
15-6:2 (42:2)
Ons hulp is in die Naam van die
Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes,
genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur
die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm
33:2
Gebed
Psalm 73:12
Skriflesing:
Esra 9
Teks:
Esra 9:6; Kategismus Sondag 24
. . . en
gesê: My God, ek voel te beskaamd en verleë om my
aangesig tot U, my God, op te hef, want ons ongeregtighede het oor ons
hoof gegroei, en ons skuld is hemelhoog. (Esra 9:6 AFR53)
Die
Here wil telkens die saak van ons verlossing onder ons aandag bring.
- Hy wil die betekenis van die nuwe verbond weer nuut en sterk stel: Hy
is die nuwe verbond.
- Daarom roep Hy ons almal van tyd tot tyd om aan sy Nagmaaltafel te kom
aansit, of om ’n kind te doop.
Hierdie
nuwe verbond waarin ons ingesluit is deur die Here Jesus Christus is
nie net ’n liggaamlike saak nie, dit is ook ’n
geestelike saak.
- Ons moet byvoorbeeld sy lyding en dood geestelik omhels wanneer ons
Nagmaal vier.
- Om dit te kan doen, moet ons enersyds met ’n baie diep
skuldbelydenis van ons sondes voor die Here aan sy tafel verskyn. Ons
moet altyd onthou hoeveel onregmatigheid in ons lewe is.
- Wanneer ons ’n kind ten doop hou, moet ons glo dat hierdie
kind saam met die Here Jesus sterf en saam met Hom uit die doop uit
opstaan in die ewige lewe.
Maar,
die Nagmaal is juis ’n genade-ete, en daarom moet ons die
ander kant van die saak ook onthou: Ons moet onthou dat ons
’n baie besondere groep mense is, want ons is van die begin
af deur God uitgekies as sy volk.
- Daarom het die Here Hom aan ons geopenbaar deur self op ons aarde te
kom woon en met ons te praat en wonders en tekens te doen.
- Hy het met sy liggaam aan ’n kruis gesterf waar soveel van
ons mense dit gestaan en sien het.
- Nadat Hy uit die dood opgestaan het en hemel toe gevaar het, het Hy
weer in ons midde ingekom deur die uitstorting van die Heilige Gees oor
ons, en so lei Hyself ons deur ons hele geskiedenis.
Mens
sou nou verwag dat mense soos ons wat al vir eeue die pad saam met die
Here kom, en al hierdie simbole soos die doop en die Nagmaal
voortdurend ervaar, in staat moet wees om werklik goeie werke vir die
Here te doen.
- Maar ons almal weet dat dit nie so is nie.
- Ons is soos wat dit die geval met die gelowiges was van wie ons gelees
het.
- Daarom moet ons dieselfde as hulle bely wanneer ons voor die Here
verskyn:
My God, ek is te skaam, ek het nie die
vrymoedigheid om my kop voor U op te tel nie. Ons sonde is hoog
opgestapel, ons misdade staan hemelhoog. (Esra 9:6 NAV)
Of
soos Jesaja:
En ons het almal geword soos
’n onreine, en al ons geregtighede soos ’n
besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons
ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind. (Jesaja 64:6 AFR53)
Nie
een van ons se werke is werklik goed nie. Daarom die beeld dat ons
sondes voor die Here is soos vuil klere aan ons liggame, of soos
’n ashoop wat so hoog is dat dit tot teen die hemel
lê.
Die
vraag behoort onwillekeurig by ons op te kom: As ons wat altyd die
leiding en die nabyheid van die Here geken, gesien en gehoor het, so
swak vaar met ons goeie werke, wat gaan dan van ons word?
Geliefde
gemeente, u moet altyd onthou dat ons in die Nuwe-Testamentiese tydvak
onder die genadeverbond lewe.
- Dit is waarom die Here sê dat die beker wat Hy met Nagmaal
uitdeel die Nuwe Testament in sy bloed is.
- Die Nuwe Testament leer dat ons nie deur ons werke salig word nie
– ons word sondevry en regverdig deur Jesus Christus.
- Vir hierdie verlossing het ons geloof nodig, nie in die eerste plek
werke nie.
As
die saak dan so staan, kan elke gelowige vra:
- As ek dan moet glo, waarom moet ek dan nog goeie werke ook doen?
- 'n Ander vraag wat gelowiges ook dikwels kwel, is: As ek dan
klaar deur die Here Jesus vergewing van sondes het, waarom moet ek dan
nog goeie werke ook doen. Want die goeie werke dra tog niks by vir my
verlossing nie!
As
ons die Romeinebrief deurlees, sien ons dat daar geskryf staan:
- dat alle mense voor God gesondig het, en
- dat daar net een loon is waarmee God die sondes betaal, en dit is die
dood.
Dit stel
die hele saak in sy regte perspektief: Elke mens se lewe verwerf vir
hom die geweld van die hel.
- Almal van ons is baie ver van volmaak af.
- Selfs ons beste pogings is nie volmaak voor die Here nie.
As
ons dit op onsself gaan toepas, dan beteken dit doodeenvoudig net dat
ons nie kan roem dat ons in Christus verlos is, maar ons lewe laat blyk
dat ons dinge doen soos iemand wat aan die duiwel behoort nie.
- Jy doen dus nie goeie werke om daarmee die saligheid te verwerf nie.
- Jy doen goeie werke om daarmee aan te toon dat jy die merktekens van
jou Verlosser verkondig.
Hoe
goed toon ons lewens dat ons aan die Here behoort? Onthou u die
wetgeleerde wat vir die Here kom vra het wat die groot gebod van die
Here is (Matteus 22:36)? Toe het die Here Jesus geantwoord:
Jy
moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou
hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod.
En die tweede wat hiermee gelykstaan: jy moet jou naaste
liefhê soos jouself.
Toets
u eie lewe hieraan. Het ons die Here so lief? Die antwoord is vir
seker: Nee! Enige gelowige wat op hierdie vraag gaan
“ja” antwoord, is vermetel, want die uitlewing van
ons godsdiens bewys dat ons die Here nie so liefhet nie.
Ons
moet goeie werke doen, want die Here Jesus sê in Johannes
15:5 dat almal wat in Hom bly, baie goeie vrugte in die lewe dra, soos
lote wat op ’n goeie wingerdstok ingeënt is.
- Hiermee sê die Here baie duidelik waarom hy van ons goeie
werke vra: Ons doen dit omdat ons ingeënt is in die saligheid
van die Here Jesus Christus.
- Daarom moet ons sy vrugte dra. Die goeie werke wat ons doen, is dus
bloot die gevolg van God se genade oor ons.
Kom
ons stel die saak anders:
- As jy wil hê die Here moet jou vir jou goeie werke beloon,
dan impliseer jy daarmee dat die Here Jesus se dood nie nodig was nie,
want jy kan in jou eie krag – met jou eie werke –
in die hemel kom.
- Of jy beweer dat Jesus se werke nie genoeg was nie, en dat jy met jou
goeie werke ’n bydrae moet lewer, om sy versoeningswerk aan
te vul.
Altwee
die beskouings is verkeerd. God voorsien die volle verlossing in Jesus
Christus.
Ons
word verplig om goeie werke te doen, al voorsien God vir ons die
verlossing en die ewige lewe. Ons lees in Jesaja 64:8:
Maar
nou Here, U is ons Vader; ons is die klei, en U is ons Formeerder . . .
In
die Nuwe Testament preek Paulus oor hierdie teks in Romeine 9.
Hy
stel God voor as ’n pottebakker wat met klei allerhande
soorte voorwerpe maak.
- Van sommige klei word bakke gemaak en van ander potte.
- Van party van die klei word voorwerpe van eer gemaak wat God aanbid.
- Van die ander klei word voorwerpe gemaak wat God nie kan eer nie, en
wat vir die dag van die oordeel bewaar word.
En
dan staan daar die treffende sin: Die klei kan tog nie die pottebakker
gaan staan en verwyt omdat uit die stuk klei ’n voorwerp
gemaak is soos hy gemaak is nie! ’n Kruik kan nie
’n bak wees of andersom nie. Die pottebakker het sy wil
uitgevoer in die maak van elke voorwerp.
Die
genade van hierdie saak is dat God ons laat lewe om gelowiges te wees
wat met ons goeie werke God verheerlik.
- Omdat ons in Christus so gemaak is, moet ons God elke dag verheerlik in
die werk wat ons doen.
- Ons doen nie goeie werke om daarmee hemel toe te wil gaan nie. Ons doen
goeie werke omdat ons reeds in Christus op pad is hemel toe –
en nou bewys ons goeie werke dit net.
- Ons goeie werke is dus bloot dankbaarheid.
Veroorsaak
so ’n leer nou nie dat mense sleg word, en hulle
verantwoordelikhede vergeet nie? Die antwoord is net dat elke mens wat
waarlik glo, nie sy geloof deur onverantwoordelikheid sal laat omkrap
nie. Hy sal dubbeld sy verantwoordelikheid besef, en daarom soveel
harder stry om goed en reg te doen sodat God daardeur aanbid word.
Dit
is waarom ons eredienste toe kom.
- In die erediens versterk die Heilige Gees ons met die versoening deur
die Here Jesus Christus.
- Om deur die Here met die boodskap van sy genade en sy verlossing bedien
te word is om fisies te ervaar dat die Here ons verander het van
lidmate van die ryk van die duiwel na lidmate van die ryk van sy Seun
toe.
- Dit is om fisies te ervaar dat die Here ons in sy genade in sy
koninkryk ontvang.
Volhard
dan met blydskap in u goeie werke. Ons weet dat ons goeie werke nie die
saligheid kan verwerf nie. Maar ons weet ook dat dit nie nodig is om
die saligheid te verwerf nie, want ons het dit reeds.
Ons
doen goeie werke om aan Christus ons dankbaarheid vir hierdie
verlossing te bewys.
Kom ons lees Kategismus
Sondag 24 saam.
Vraag 62: Maar waarom kan ons
goeie werke nie die geregtigheid voor God of ’n deel daarvan
wees nie?
Antwoord: Omdat die geregtigheid wat
voor die oordeel van God kan bestaan, heeltemal volmaak moet wees en in
alle opsigte met die wet van God ooreen moet stem (a) en omdat ook ons
beste werke in hierdie lewe almal onvolmaak en met sondes besmet is (b).
(a)
Gal 3:10; Deut 27:26: (b) Jes 64:6.
Vraag 63:
Verdien ons goeie werke dan niks nie, terwyl God hulle tog in hierdie
en in die toekomstige lewe wil beloon?
Antwoord:
Hierdie beloning word nie uit verdienste nie, maar uit genade gegee (a).
(a)
Luk 17:10.
Vraag 64: Maar maak hierdie leer nie
mense onverskillig en roekeloos nie?
Antwoord:
Nee, want dit is onmoontlik dat ’n mens wat deur ’n
ware geloof in Christus ingeplant is, nie vrugte van dankbaarheid sal
voortbring nie (a).
(a) Matt 7:18; Joh 15:5.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm
92:2, 3
Die genade van die Here Jesus Christus
en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly by u
almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 20 November 2005 (aand)