Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 68:2, 13
Geloofsbelydenis: Nicea
Wet
Psalm 40:4
Gebed
Psalm 31:5
Skriflesing:
Exodus 15:1-21 en Openbaring 15:1-8.
Teks:
Eksodus
15:2
Die
HERE is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword. Hy is my
God, Hom sal ek roem; die God van my vader, Hom sal ek verhef.
Openbaring 15:2
En ek
het gesien iets soos ’n see van glas, gemeng met vuur. En die
oorwinnaars oor die dier en oor sy beeld en oor sy teken, oor die getal
van sy naam, het ek by die see van glas sien staan, met siters van God.
Die lied van die see!
- Vir die Christelike kerk is hierdie lied wat die
Israeliete daar langs die Rooi See gesing het en die verloste volk wat
daar langs die Rooi See gestaan het die profesie van die triomfsang van
die oorwinnaars oor die Satan en die antichris wanneer Jesus Christus
weer kom.
- Daar staan die verlostes by die ingang na die ewige
lewe. Saam sing hulle (ons) die lied van Moses en van die Lam. So gaan
ons singend die ewige lewe by God in.
Vir iemand wat nie deur die Heilige Gees gelei word om te verstaan wat
hier gebeur nie, lyk die deurtog deur die Rooi See maar soos ’n stukkie
oergeskiedenis wat gebeur het. Die Here openbaar egter vir die wat kan
verstaan dat Hy ’n voorspel in hierdie gebeurtenis ingebou het van die
eindoordeel.
- Hy gaan uitverkore mense verlos van ’n vuil en seer
wêreld.
- Dieselfde oomblik wanneer Hy hulle verlos, verdelg
Hy hierdie wêreldmagte dat daar nie ’n geluid van hulle agterbly nie.
- Die Here maak ook die wêreld en sy tyd vir ewig
toe, sodat sy verlostes ook nie weer met hierdie pad kan terugdraai in
die wêreld in nie – soos die waters terugvloei en ondeurloopbaar daar
lê soos wat dit altyd vantevore was.
Wat maak gelowiges hiermee? Skerper gestel: Wat maak óns hiermee? Die
antwoord is: Sien wat God in jou lewe doen en bewys dadelik jou
dankbaarheid: Juig! Jubel! Loof God!
Moses se lied het twee dele. Altwee besing die genade en die
heerlikheid van God.
- Die eerste gedeelte van die lied (v. 2-12) besing
die almag en die genade van die Here soos wat Hy dit geopenbaar het in
sy regering oor alle volke. Dit is belangrik om te let op die klem: Die
Here regeer oor alle volke sodat Hy sy volk kan red. Daarom word in
hierdie gedeelte die genade van die Here besing in die seeslag oor
Farao se leër en strydwaens.
Luister weer na die lied:
- Die HERE is my krag en my psalm,
en Hy het my tot
heil geword (v. 2).
- Die HERE is ’n krygsman; HERE is
sy naam (v. 3).
- Hy het Farao se strydwaens en sy
leërmag in die see
gewerp. En sy beste vegsmanne het in die Skelfsee gesink. Die
watervloede het hulle oordek. Hulle het in die kolke gesink soos ’n
klip (v. 4, 5, 10).
- o HERE, u regterhand is
verheerlik deur krag. U
regterhand, o HERE, verpletter die vyand (v. 6).
- En in u grote hoogheid werp U
diegene neer wat teen
U opstaan. U stuur u toorngloed uit: dit verteer hulle soos ’n stoppel
(v. 7).
In die tweede gedeelte van die lied word die genade van die Here oor sy
volk besing omdat die Here met sy volk op pad is na ’n einddoel toe,
naamlik die ewige lewe. Dit is hierdie gedeelte van die lied wat in
Openbaring 15 vervul word.
- U het deur u guns die volk gelei
wat U verlos het;
U het hulle deur u krag na u heilige woning gevoer (v. 13).
- Verskrikking en vrees het op
hulle geval; deur die
grootheid van u arm was hulle stom soos ’n klip, terwyl u volk
deurtrek, HERE, terwyl die volk deurtrek wat U verwerf het (v.
16).
- U bring hulle in en plant hulle
op die bergland van
u erfenis, die plek, o HERE, wat U as vaste woonplek vir U berei het,
die heiligdom wat u hande gestig het, o Here! (v. 17).
- Die HERE sal regeer vir ewig en
altoos (v. 18).
Kom ons vergelyk hierdie gebeurtenis met Openbaring 15. Johannes het
sewe engele gesien wat die sewe laaste plae oor die aarde moet laat
kom.
- Hierdie plae toon die einde van die tyd en van ons
aardse geskiedenis aan – maar ook die einde van God se straf, want God
se straf oor almal wat Hom gehaat het en geweier het om Hom as God te
aanbid, is dan ontledig.
- Wanneer die sewe plae oor die aarde uitgevoer is,
het die grimmigheid van God ook afgeloop. Dit stem ooreen met die
vernietiging van Farao en sy leërs.
Voordat die sewe plae en al hulle moeilikheid kom, openbaar die Here
eers iets anders aan Johannes. Hy sien ’n gesig van al die verlostes.
- Dit skep ’n bepaalde klimaat, naamlik dat al is
daar watter woeste en swaar stryd in hierdie lewe, ons moenie dat dit
ons onderkry nie, want die Here se genade wag voor: dit word nooit en
deur niks van ons af weggevat nie.
- Die verskyning van die verlostes sluit aan by die
uittoggeskiedenis toe Moses met die Israeliete deur die Rooi See gegaan
het. Soos wat hulle op die kritieke oomblik by die Rooi See gestaan het
en oor die see getuur het met die dreiging van Farao se leër agter
hulle – so staan die uitverkorenes in die eindoomblik langs die see van
glas.
- Altwee die groepe staan by die afsluiting van ’n ou
bedeling en die begin van ’n nuwe bedeling.
- Altwee die groepe – die Israeliete en die verlostes
van die hiernamaals – het ’n paralelle verlossingsdaad ervaar.
- Altwee staan by ’n see: die Israeliete by die
Skelfsee en die verlostes by ’n see van glas.
- Altwee die groepe sing die lied van Moses.
- Die mense by die Skelfsee en die mense van die
hiernamaals is almal oorwinnaars, want nie een van die twee groepe is
deur die oordeel van die Here vernietig nie.
Die Here sê net meer dinge van die verlostes wat by die see van glas
staan.
- Hy wys daarop dat Hulle die dier en sy beeld en sy
teken oorwin het.
- Net soos die Israeliete het hulle ook nie self
oorwin nie, daarvan is die see van glas juis die beeld: God het hulle
laat oorwin deur sy redding.
- Sy redding is die bloed van die Here Jesus Christus
– dit is wat die see van glas vir ons beteken.
Die see van glas beeld die regverdige oordeel van God in Jesus Christus
uit. God se oordeel het twee kante:
- Die een is verlossing vir sy volk en die ander een
is vernietiging van sy vyande.
- God se redding en sy straf blink uit in die
regverdigheid daarvan. Die “gemeng met vuur” toon die geregtigheid van
God in sy oordeel aan.
En ek
het gesien iets soos ’n see van glas, gemeng met vuur. En die
oorwinnaars oor die dier en oor sy beeld en oor sy teken, oor die getal
van sy naam, het ek by die see van glas sien staan, met siters van God (Openbaring
15:2).
Dit is asof Johannes met twee stelle oë kyk:
- Met die een stel oë sien hy oordeel: Die
ongelowiges wat met die oordeel getref word, sien ’n see van vuur. Die
Here het deur die see van glas sy straf uitgeoefen oor die goddelose
wêreld en dit moedeloos en finaal tot ondergang gebring.
- Met die ander stel oë sien hy genade: die verlostes
sien die oordeel van God soos ’n see van glas.
Hierdie verloste mense is onder andere die wat gely het onder die
vervolging deur die antichris (13:15-17 en 14:11). Hierdie mense het ’n
baie besondere eienskap – hulle het almal voortdurend weerstand gebied
teen die duiwel. Die Here openbaar in ’n volledige beskrywing van hoe
wyd die duiwel mense aanval:
- Hierdie mense moes weerstand bied teen die dier:
hulle moes oorwin teen allerhande ideologiese magte.
- Hulle moes heers oor sy beeld: hulle moes heers oor
afgodsdienste dat dit hulle nie pak en saamsleep nie.
- Hulle moes heers oor sy teken. Dit beteken dat
hulle hulle nie met hom moes vereenselwig nie. Daar is baie maniere
waarop hierdie aanslag kom:
- Tekens wat gedra en gegee word
- Standpunte waarin mense ingedwing word
- Dit kan selfs ooreenkomste wees waarin jy by jou
werk ingedwing word wat tot oneer van God mag wees.
- Hierdie verlostes het so suiwer geglo dat hulle oor
al hierdie dinge kon heers en nie daardeur ingesluk word nie.
Hiermee beskryf die Here ons pad en die tipe lewe van ons tyd. Ons moet
oorwinnend daardeur, want die Here het nie tyd vir mense wat saamlopers
en deelnemers is met dinge wat by die duiwel en sy aanhangers tuishoort
nie.
Kom ons gaan weer terug na die volk toe wat langs die Rooi See gestaan
en sing het. Let veral op na die tema: “Ek
wil sing tot eer van die
Here, want Hy is hoog verhewe.” Ons moet dieselfde
ingesteldheid hê.
- Eers word die verhewenheid van die Here geprys. Die
majesteit van God is verhewe bo alle magsvertoon van mense en volke en
weermagte. Hy het dit bewys deur met die grootste gemak die Egiptenare
met strydwaens en perde in die see te verdrink soos lood op die bodem.
- Met presies dieselfde daad red en help God sy volk
met onmeetbare krag.
In hierdie oordeelsdaad van God kom daar ’n baie naby en persoonlike
band tussen Hom en sy volk uit:
- God is naby – reddend naby.
- Meters van die dood en angs af laat Hy sy mense
lewe en juig!
- Dit is wat dit beteken waar Moses sing:
Die
Here is my krag en my psalm
Hy het my tot heil geword
Hy is my God
Hom sal ek roem;
die God van my vader,
Hom sal ek verhef.
Verder het Moses en die volk van God se oordeel gesing.
- Hulle het gesing dat die hoogheid van die Here
almal wat teen Hom opstaan, vernietig. Moses het gesing dat die
toorngloed van die Here hierdie opstandelinge soos ’n stoppel verteer
(v.7).
- Maar Moses het ook gesing van God se genade. Om die
waarheid te sê het hy in sy lied iets gesing van wat baie duidelik die
uitverkorenes en hulle ingaan in die hemel by die wederkoms in ons
gedagte laat inskuif. Luister net weer na vers 13:
U het
deur U guns die volk gelei wat U verlos het;
U het hulle deur U krag na U heilige
woning gevoer.
In Openbaring 15 sien ons die vervulling: die volk staan verlos by God
en die deurgang na sy koninkryk toe. Ons sien onsself. Net soos Israel
sing ons die lied van Moses – ’n lied van God se oorwinning waarin ons
oorwinning toegevou word.
- Die volk langs die Skelfsee se middelaar was Moses
wat vir hulle ’n lied geskryf het.
- Ons (die skare langs die see van glas) sing alle
eer aan die Here toe omdat Hy ons verlos het deur die bloed van ons
Middelaar Jesus Christus.
- Die Rooi See was in die openbaring (geskiedenis)
simbolies dat die bloed van Jesus Christus vir ons ’n deurtog gaan gee
wat baie groter en baie heerliker is as die een waar ’n slawevolk
deurgetrek het en ’n heersersvolk verdrink is.
- Daarom moet ons sing omdat God ons oor die duiwel
en sy werke laat oorwin. Ons moet ons verwondering en verbasing en
blydskap net so uit ons lied laat uitstraal soos wat die Israeliete dit
gedoen het en die verlostes langs die see van glas dit doen.
Tog is daar iets wat nie verbygegaan het nie, en ook nie sal verbygaan
nie, en wat in hierdie oomblik van ons bestaan waar is:
- Dit is dat ons God in volkome eenheid met mekaar
moet besing en aanbid as die God en Koning van die Heiliges.
- Hy is vir ons ’n God van genade.
- Ons God betoon Hom in die eindoordeel as die
Allerhoogste en die Een met die hoogste krag en majesteit.
- So moet ons Hom met ons sang bely en jubelend inwag.
Ons gemeente moet wees soos wat Israel daar langs die Rooi See was.
- Ons verwagting moet dieselfde wees, naamlik dat ons
God wil lofsing en aanbid.
- Soos wat Mirjam die volk saamgebind het sodat die
kerk in sy lof verenig, so moet die kerk vandag ook saamgebind in sy
eenheid sing:
Groot
en wonderlik is u werke,
Here God, Almagtige;
regverdig en waaragtig is u weë,
o Koning van die heiliges!
Wie sal U nie vrees nie, Here,
en u Naam nie verheerlik nie?
Want U alleen is heilig;
want al die nasies sal kom en voor U
aanbid,
omdat u regverdige dade openbaar
geword het (Openb. 15:3,4).
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 118:7
Die HERE sal jou seën en jou behoed;
Die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 4 Julie 2004 (oggend)