Sing vooraf: Psalm 22:10
Ons begin hierdie ontmoeting met God deur openlik teenoor mekaar en teenoor
God te verklaar:
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige
werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 73:1, 7, 11, 12
Geloofsbelydenis Nicea
Na die wet bely ons voor God ons sondeskuld en bid om vergewing van ons sondes
met Ps. 51:3.
Wet
Psalm 51:3
Gebed
Psalm 27:1, 6
Skriflesing: Eksodus 3
Teks:
Eksodus 3:10
Gaan dan nou heen, dat Ek jou na Farao kan stuur; en lei my volk, die
kinders van Israel, uit Egipte uit. (Eksodus 3:10 AFR53)
Daar staan in Romeine 8 dat die Here ons roep om te glo omdat Hy ons uitverkies het, en dat ons
dan deur sy genade op hierdie roeping kan antwoord met geloof, en dat ons daarom uiteindelik
deur Hom geheilig word (Romeine 8:28-30).
Maar ons moet daardie teksvers deurtrek na alle vlakke van die lewe toe.
- Die Here roep alle gelowiges om ’n bepaalde roeping te vervul.
- Die Here roep ons almal om, terwyl ons lewe, die belange van sy kerk ook op die hart te
dra – eintlik logies, want ons is mos die kerk.
Dis waaraan hierdie preek aandag gee:
- Die feit dat die Here ons roep om waarlik gelowiges te wees en met al ons vermoëns die
Here te verheerlik.
- Ons mag nie hierdie roeping verontagsaam of gering ag nie.
Van die dood van Josef af tot met die geboorte van Moses het die omstandighede waaronder
die Joodse volk in Egipte was, aansienlik verander.
- Maar ons moet by die verhouding wat hier tussen die twee volke geteken word, verbykyk in
hierdie preek, want die preek gee nie daaraan aandag nie.
- Kyk na die plek wat God se bekommernis oor sy uitverkorenes inneem in hierdie
geskiedenis.
- Kyk hoe die Here daaraan aandag gee en die uitkoms bewerk deur die roeping van mense en
hulle gehoorsaamheid aan hierdie roeping.
As ons dit baie eenvoudig wil stel, dan sou ons kon sê dat die kerk hier in ’n krisis
geraak het.
- Mettertyd was daar ’n toestand aan die ontwikkel waar die kerk se voortbestaan bedreig is
in dié sin dat lidmate van die kerk by hulle geboorte doodgemaak word.
- Die kerk kon nie meer groei nie, en sou dus begin kwyn en sekerlik uitsterf.
Let daarop, gemeente, dat die kerk van daardie tyd in twee krisisse beland het:
-
’n geloofskrisis en
-
’n bestaanskrisis.
Die Here neem nie met sulke toestande genoeë nie, en daarom verskaf Hy die uitkoms. Kyk
hoe doen Hy dit:
- Daar word ’n seuntjie gebore uit die stam van Levi.
-
- Uit die geslag wat later die priestergeslag sou word.
- Moses.
- Moses se geskiedenis loop so dat hy in die paleis van die farao grootword.
-
- Die Here sorg hiermee dat Moses die opleiding en ondervinding kry wat hy later sou
nodig hê om hierdie kerkvolk uit die heidene se land uit te lei.
Aan die paleis word al Moses se eienskappe ontwikkel.
- Hy ontvang die hoogste geleerdheid wat mens in daardie tyd kon kry.
- Daarmee saam ontvang hy ook militêre opleiding – wat hy later in die woestyn weer aan die
Jode geleer het.
In hierdie stadium was Moses nie vir die Jode self aanvaarbaar as ’n leier nie.
- Hy was die enigste oorlewende babaseuntjie van die Israeliete.
- Daarby was hy vir alle praktiese doeleindes ’n Egiptenaar.
- Daarby beskik die Here dit so dat Moses ’n Egiptenaar doodmaak en sodoende in onguns kom
by die farao en moet vlug vir sy lewe.
Hierdie gebeurtenis maak dit vir die Jode duidelik dat bloed by hierdie man dikker is as
water. Hy bly steeds ’n Jood – een van hulle.
Dit bring ons by die dag toe die Here Moses geroep het by Horeb.
- God gaan roep Moses self.
- Dit was opsigself al ’n baie belangrike gebeurtenis, want in daardie stadium het die Here
vierhonderd jaar tevore laas aan iemand verskyn – en dit was aan Jakob toe hy op pad was na
Egipte toe.
-
- Dit was terwyl hy by Berseba geoffer het.
- Daar het die Here toe aan Jakob belowe dat Hy hom ’n groot nasie sou maak.
Die Here verskyn aan Moses in ’n vuurvlam.
- Moses herken God nie.
- Daarom wil hy hierdie “verskynsel” van nader gaan bekyk.
- Hy kan dit nie begryp dat ’n doringbos kan aanhou brand sonder dat dit uitbrand nie.
Daar is Skrifverklaarders wat meen dat die vuur hier ’n simbool is van God se
regverdigheid en heiligheid wanneer Hy mense roep.
- Die heiligheid van God kom ook daarin uit dat Hy vir Moses sê dat hy nie mag nadergaan
nie.
- Maar juis dit bring ons by ’n baie belangrike saak wanneer ons nou oor roeping gaan
praat.
- Daar is ’n groot afstand tussen ons en God – ’n afstand wat ons nie kan ophef of tot niet
maak nie.
Hierdie afstand beklemtoon ook die gehoorsaamheid wat ons aan God moet
betoon wanneer Hy ons roep! Die afstand word selfs verder beklemtoon wanneer God vir Moses sê
Wie Hy is:
Ek is die God van jou vader, die God van Abraham, die God van Isak en die
God van Jakob.
Dit beteken dat die Here dit hier baie reguit aan Moses stel dat Hy die God van die geskiedenis
is.
- Van ewigheid af tot in die ewigheid vorentoe is God daar, en bepaal Hy die gang van elke
gebeurtenis in die geskiedenis.
- Maar dit beklemtoon ook aan Moses die geweldige grootheid en almag van die Persoon wat
hom roep.
- Moses behoort hierdeur met huiwering vervul te word as hy nie sy roeping wil opvolg nie.
God gee dan sy opdrag aan Moses: Gaan haal my volk:
Gaan dan nou heen, dat Ek jou na Farao kan stuur; en lei my volk, die
kinders van Israel, uit Egipte uit. (Eksodus 3:10 AFR53)
Die saak is baie ernstig. God roep Moses om die kerkvolk vir Hom te gaan verskuif.
- God openbaar in die roeping die krisis waarin sy kerk verkeer, maar ook terselfdertyd sy
besorgdheid en liefde vir hierdie volk wat Hy uitverkies het.
- Broeders en susters, hoe hanteer ons ons roeping wat baie naby verwant is aan hierdie
roeping van Moses?
- Die vraag gaan aan ons almal wat tot die geloof geroep is.
Kyk hoe onwillig is Moses.
- Hy is in verset – sonder dat hy rede het.
- Hy wil nie die moeite doen waarvoor God hom roep nie.
- Sy gesig is nog toegedraai van vrees, maar hy praat teë.
Die erns daarvan om deur God geroep te wees, gaan by hom verby.
- Hy benader ook sy hele situasie net van sy eie menslike belange se kant af.
- Hy wil nie na sy volk toe gaan om hulle vir God weg te neem onder die Egiptenare uit nie.
Kyk na sy oorwegings:
- Hy is nie waardig genoeg nie.
- Hy kan ook nie praat nie.
Kyk net wat oorweeg hy nie in sy roeping nie:
- Hy oorweeg nie dat dit God is wat stuur en ook die krag gee vir die werk nie.
- Hy dink met ander woorde glad nie daaraan dat hy in God se krag moet gaan werk nie.
- Dink daaraan: Is dit nie dalk onderskatting of minagting van God se vermoëns as ons oor
allerhande menslike redes en oorwegings dikwels nie ’n bepaalde opdrag van God uitvoer nie?
God is egter baie geduldig, en as Moses beswaar maak, dan bemoedig die Here hom:
Ek sal met jou wees.
Die Here gee selfs ’n teken: Gaan haal die volk, dan sal hulle hier op dieselfde berg
aanbid.
Moses bly vol verskonings.
- Die Egiptenare stel ’n baie hoë premie op gode se name. Hoe moet Moses sê wie stuur hom?
- God antwoord: EK IS. EK IS het my na julle gestuur.
- Verder openbaar die Here ook nog aan Moses dat Hy reeds die volk voorberei het. Hulle sal
luister!
Uiteindelik aanvaar Moses sy opdrag, maar op ’n manier waaroor enigeen van u hom bloedig
sou vererg het:
Ag, Here, stuur tog deur wie U wil stuur!
Dan word die Here kwaad:
Aäron is daar. Hy kan praat.
Hierdie verset van Moses word in die Bybel baie breedvoerig beskryf om enersyds die verkeerde
in die mens aan te toon. Mens redeneer nie met God nie.
- As jy jou roeping/opdrag oorweeg, is daar net een saak wat jy oorweeg, en dit is of dit
God is wat jou geroep het.
- As jou antwoord “ja” is, dan volg jy die roeping op, want dan het God klaar die
uitvoering van jou taak ook moontlik gemaak.
Verder is dit ook duidelik dat die Here nie daarvan hou dat mense sy roeping bevraagteken
nie. Dit bevraagteken sy heiligheid en sy almag.
Om die kwessie van roeping of van opdrag wat God gee, goed te verstaan, moet ons kyk wat ons in
ons belydenis leer oor die roeping van die Here Jesus Christus (NGB art 21).
- Sy opdrag is dat Hy die wat die Vader Hom gee, moes versoen met God (Johannes 17).
- Ons glo dat Jesus Christus – kragtens ’n eed – ’n ewige Hoëpriester is volgens die orde
van Melgisedek.
-
- Hy het Homself in ons naam voor sy Vader gestel om God se toorn met volledige
betaling te stil.
- Dit het Hy gedoen deur Homself aan die kruishout te offer en sy kosbare bloed tot
afwassing van ons sondes uit te stort soos die profete dit voorspel het.
NB: Daar was nooit enige twyfel by die Here Jesus of Hy aan hierdie opdrag getrou of
ontrou sal wees nie! Hy het van die begin tot die einde gehoorsaam!
Wat was die inhoud van sy roeping (opdrag) wat God aan Hom gegee het?
- Daar staan geskrywe dat die straf wat vir ons die vrede aanbring, op die Seun van God
was.
- Deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom; dat Hy soos ’n lam na die slagpale gelei
en by die misdadigers gereken is (Jesaja 53: 5, 7, 9).
- Hy is as ’n misdadiger deur Pontius Pilatus veroordeel al het dié Hom eers onskuldig
verklaar.
- Hy het teruggegee wat Hy nie geroof het nie (Ps 69:5).
- Hy het na liggaam en siel as regverdige vir die onregverdiges gely (1 Petrus 3:18).
- Hy het die verskriklike straf wat ons sondes verdien, ervaar, sodat sy sweet soos
bloeddruppels geword het wat op die grond val (Lukas 22:44).
- Hy het uitgeroep: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” (Matteus 27:26).
Dit alles het Hy ter wille van die vergewing van ons sondes gely.
- Ons sê daarom tereg saam met die apostel Paulus dat ons met julle oor niks praat nie as
oor Jesus Christus en wel oor Hom as gekruisigde (1 Korintiërs 2: 2).
- Ons beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, ons Here, te ken oortref alles in
waarde (Filippense 3:8).
- Ons vind volkome vertroosting in sy wonde.
Ons hoef nie enige ander middel te soek of uit te dink om ons met God te versoen nie as
slegs hierdie offerande wat net een maal gebring is, waardeur die gelowiges vir altyd volmaak
word (Hebreërs 10:14).
Dit is dan ook die rede waarom Hy deur die engel van God Jesus genoem is, want Hy sou sy volk
van hulle sondes verlos (Matteus 1:21).
Nou is ons verlostes wat net een ding aan God verskuldig is: Dit is volkome gehoorsaamheid as
Hy iets van ons eis, of vir ons ’n opdrag gee, of ons roep om in sy diens te werk.
Wat is jou roeping?
Het jy dit al ooit uitgemaak?
Hoe beantwoord jy jou roeping voor God?
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 33:1, 5
Die Here sal jou seën en jou behoed;
Die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
Die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 21 Augustus 2005 (oggend)