Sing vooraf: Skrifberyming 4-3:2
(nuut)
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 18:1, 11
Geloofsbelydenis: Nicea
Wet
Na die wet bely ons voor God ons
sondeskuld en bid vir versoening met Psalm 25:5, 7.
Psalm 25:5, 7
Gebed
-
Doksologie:
-
Aanbidding:
-
Skuldbelydenis:
-
Vergifnis:
-
Dank:
-
Smeking vir die
nood van die gemeente en voorbidding vir die kerk, owerhede en sondige
wêreld, asook die beroep op die beloftes van God:
-
Algemene
bede:
-
Verligting van die
Gees ter wille van die Woorddiens:
Amen.
Psalm 89:12
Skriflesing: Eksodus
33
Teks:
Eksodus 33:3, 5, 14
. . . want Ek sal in jou midde nie
optrek nie, omdat jy ’n hardnekkige volk is; anders sal jy op die weg
verteer word. (Eksodus 33:3 AFR1953)
Die Here het naamlik met Moses gespreek:
Sê aan die kinders van Israel: Julle is ’n hardnekkige volk; as Ek vir
een oomblik in jou midde sou optrek, sou Ek jou vernietig. Maar haal nou
jou versiersels van jou af, dan sal Ek weet wat Ek met jou moet
doen. (Eksodus 33:5 AFR1953)
En Hy antwoord: Moet Ek self meegaan om
jou die rusplek te verskaf? (Eksodus 33:14 AFR1953)
Die Here openbaar hier iets verskrikliks: Hy verlaat inderdaad sekere mense
sodat hulle in hierdie lewe kan bly lewe.
- Hy sê baie uitdruklik: as Hy met hulle op die pad saamgaan, gaan Hy
hulle verdelg!
- Hy gaan hulle doodmaak omdat hulle hulle nie wil bekeer nie en dus
ook nie wil verander en verbeter nie.
Die situasie kom dikwels baie prakties by sommiges van ons ook
voor.
- Iemand volhard in ’n sonde – en dan haal die gevolge van die sonde
hom/haar in.
- Sodra die persoon dan diep in die moeilikheid is, word daar dikwels
gesê: “Die Here het my verlaat!”
- Dalk het die Here – juis omdat die bedoeling van verlating is dat dit
genadetyd van die Here is sodat daar juis bekering moet kom!
Hier openbaar die Here iets wat ons as gelowiges baie duidelik sal
moet verstaan: Ons kan nie die Here
verwyt asof dit sy skuld is dat Hy ons verlaat het nie.
- Vers 3 en vers 5 stel dit reguit: Die Here kan ter wille van sy
genade nie saamgaan nie, want as Hy saamgaan sal hy die mense wat nie wil
luister nie, moet uitdelg.
- Later het Hy dit gedoen, ook toe Hy die Israeliete vir veertig jaar
laat rondtrek het totdat al die wat uit Egipte opgetrek het en alewig
opstandig was, in die woestyn doodgegaan het.
Daar is dus vir mense wat onbekeerlik in hulle sondes is tydelike
genade as die Here hulle in die lewe verlaat, sodat hulle tydens hulle
aardse lewe nog sekere fisiese voordele mag geniet.
Alle mense maak foute teenoor die Here. Selfs diep gelowiges maak growwe
foute. Tog het die Here eindelose geduld met ons.
- Hy vergewe ons – al waarsku Hy ons.
- Hy verhoor ons en bewys genade – al is ons gebede baie keer baie
arrogant en verkeerd.
- Hy vergewe ons ook ons onwilligheid om ons roeping teenoor Hom
behoorlik na te kom – tot op ’n punt.
Moses is ’n diep gelowige mens. Ons lees in Eksodus 33:11 dat die Here
direk met Moses gepraat het soos ’n man met sy vriend.
- Daar was dus ’n baie mooi en persoonlike verhouding tussen die Here
en Moses.
- Moses was ’n uiters voortreflike mens in die Here se oë, daarom word
hy saam met Elia gestuur om die Here Jesus net voor die kruisiging te
gaan versterk op die berg van verheerliking.
Beteken dit dat so ’n voortreflike
mens nooit ’n fout maak nie? Nee. Hulle maak ook foute. Growwe foute. Hulle
oorskry soms selfs die grense van nederigheid voor die Here. Kyk net wat
het gebeur in hierdie hoofstuk wat ons gelees het.
Terwyl die Here sy Wet vir Moses gegee het, het die volk ’n goue kalf
gemaak. Die Here was kwaad hieroor en Hy het vir Moses gesê dat Hy nie
verder saam met die volk sal trek nie. Hy sal ’n engel saamstuur.
Let op die gevolge:
- Die Here onttrek Hom van die volk.
- Dis nie die Engel van die Here wat verder gaan saamtrek nie – dis ’n
gewone engel.
- Die volk gaan in hierdie lewe niks verloor (skade ly) nie: Hulle gaan
nog steeds die Beloofde Land kry.
Moses het toe baie by die Here gepleit.
- Hy het gesmeek dat die Here die volk genadig moet wees en hulle hulle
sondes vergewe.
- Hy was so ernstig dat hy vir die Here gesê het dat die Here hom maar
uit die boek wat die Here geskryf het moet uitdelg as die Here dit nie
wil doen nie (32:32).
- Die Here het Moses toe aangesê om met die volk verder te trek.
Iets tref mens in Moses se reaksie op die Here se bevel.
- Elke keer wanneer die Here hom geroep het en opdragte gegee het, het
hy besware gehad – daar is ’n diepgewortelde onwilligheid in hom om die
wil van die Here sonder meer na te kom.
- Dit was ook so toe die Here hom geroep het by die brandende bos. Dit
is nou ook weer so.
- Dit is asof Moses die Here met ’n groot mate van arrogansie aanvat op
die Here se uitsprake.
- Toe die Here hom aansê om met die volk verder te trek onder die
leiding van ’n engel, het Moses daarop gereageer deur die Here daarop te
wys dat Hy vir Moses gesê het:
Ek ken jou by die naam, en jy het ook
genade in my oë gevind. (Eksodus 33:12 AFR1953)
Die Here het met hierdie woorde die diep en intieme band wat tussen Hom en
Moses bestaan, bevestig.
- Uit ’n gedeelte soos Efesiërs 1:4 weet ons dat die Here Moses al voor
die skepping geken het.
- Maar wat baie belangrik is, is dat die Here daarmee saam bevestig dat
Hy genade gee.
Romeine 9 openbaar dat die Here ook mense maak wat vir die oordeel
bewaar bly.
- Hierdie mense deel dus beslis nie in die Here se genade nie.
- Daarom is die bevestiging aan Moses so belangrik: Ek ken jou op jou naam. En Ek ken jou in My genade.
Ek is jou goedgesind.
Moses gebruik hierdie genadebevestiging om met die Here te redeneer.
Eintlik is dit meer as redeneer, want hy verwyt die Here.
- Hy het nie lus om met die volk verder te trek nie.
- Daarom sê hy vir die Here:
Toe het Moses met die Here gespreek: U
sê nou wel aan my: Ek moet hierdie volk laat optrek, maar U laat my nie
weet wie U saam met my sal stuur nie . . . (Eksodus 33:12 AFR1953)
Is dit waar?
- Die Here het dan gesê dat Hy ’n engel sal saamstuur!
- Josua was Moses se opvolger en die Here het dit baie vroeg al vir
Moses gesê.
Die vraag steek by ons vas: Waarom sê die Bybel spesifiek die
woorde:
Daarna gaan Moses na die laer terug;
maar sy dienaar Josua, ’n jongman, die seun van Nun, het hom nie uit die
tent verwyder nie. (Eksodus 33:11 AFR1953)
- Dit wys mos duidelik dat Josua die leiding met Moses gedeel het.
- Soveel te meer nog omdat hy net voor hierdie gebeurtenis ook saam met
Moses op die berg was toe Moses die Tien Gebooie gekry het.
Moses bou nou ’n hele argument op rondom die Here se woorde dat die
Here vir hom genade belowe het.
- As hy genade in die Here se oë gevind het, dan wil hy die Here se wil
weet.
- Hy sê nie wat hy wil weet van die wil van die Here nie, want die
woorde dat die Here tog moet onthou dat dit sy volk is (en nie Moses se
volk nie!) volg op hierdie versoek:
Onthou tog hierdie nasie is u
volk. (Eksodus 33:13)
In hierdie woorde is daar iets van ’n
verwyt omdat Moses die Here daarop wys dat die Here eintlik besig is om sy
werk op Moses af te skuif – die Here behoort eintlik sy werk self te
doen!
Die Here lok Moses uit om nederig te word en te bid vir dit wat hy graag
wil hê:
En Hy antwoord: Moet Ek self meegaan om
jou die rusplek te verskaf? (Eksodus 33:14 AFR1953)
Moses het besef dat daar geen moontlikheid is dat hulle sonder die Here kan
verder trek nie. Die Here moet saam. Maar of sy motivering daarvoor werklik
water hou, is heeltemal ’n ander saak.
- Dit gaan nie vir hom in die eerste plek oor God se eer nie. Dit gaan
vir hom oor wat die mense sal sê.
- Hoe sal die mense weet dat ek en u volk u goedgesindheid geniet as U
nie saam met ons gaan nie?
Sy vraag is duidelik nie gerig op die eer van God nie.
- Hy bou sy argument – wat heeltemal reg is – daarop dat dit juis die
feit is dat die Here met hulle saamgaan dat hulle, Moses en die Here se
volk, anders is as al die ander volke op die aarde.
- Sy betoog is gerig op homself en die volk. Hulle gaan die spot van
die ander mense wees as hulle sien die wolkkolom en die vuurkolom (die
teenwoordigheid van die Here) is nie meer by die volk nie (v. 15, 16).
Let op hoe geduldig die Here met Moses is.
- Hy weet Moses is onwillig om verder te trek met die volk.
- Hy hoor baie duidelik die verwyt as Moses Hom daarop wys dat dit sy
(die Here se) volk is en nie Moses se volk nie. Die Here behoort self met
die volk te werk en nie sy werk op Moses af te skuif nie.
Tog raak die Here nie kwaad nie. Baie geduldig willig Hy Moses se
versoek in – maar nie op grond van Moses
se arrogante argument nie!
Hy bewillig dit uit
genade: Ek ken jou op jou naam, en jy het genade in My oë gevind.
Die genade van die Here het die bedoeling dat daar juis bekering moet
kom!
So kry God die eer. Hy is so groot dat sy liefde so groot is dat dit selfs
bo ons sondes uitstyg.
- Met geduld en liefde luister Hy na dinge wat ons verkeerd beredeneer
en verkeerd doen.
- In liefde vergewe Hy ons ons onwilligheid om voluit te doen wat Hy
van ons verwag.
- Hy verhoor selfs ons verkeerde gebede op die regte manier.
Daarom moet ons nie soms in ons praatjies maak asof die Here se
raadsplan geen genade oor ons beskik nie!
- Hy beskerm ons oral waar ons gaan.
- Dalk is die wat so vreesbevange raak se probleem dat hulle ’n baie
skewe of dalk selfs glad geen band met God het nie – soos die Israeliete
wat ’n goue kalf aanbid terwyl die berg langs hulle rook van God se
heilige teenwoordigheid!
- Dalk is sulke mense juis bang dat die Here hulle sal weggooi soos wat
hulle Hom weggegooi het!
Dit is waar dat die Here hierdie verskriklike ding openbaar dat Hy
inderdaad sekere mense verlaat sodat hulle in hierdie lewe kan bly
lewe.
- Maar Hy openbaar baie presies wie daardie mense is!
- Hy gaan húlle doodmaak wat nie wil ophou kerm en nie tot bekering wil
kom nie.
In die gedeelte wat ons gelees het, openbaar die Here genade vir die
wat wat wel probeer verbeter en wat aanhou bid en smeek. Kyk net wat sê Hy
vir Moses:
Toe sê die Here aan Moses: Ook hierdie
versoek wat jy uitgespreek het, daaraan sal Ek voldoen; want jy het
genade gevind in my oë, en Ek ken jou by die naam (33:17).
In die Nuwe Testament verduidelik die Here die vervulling hiervan:
En as dit bevind is dat iemand nie
opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur
gewerp. (Openbaring 20:15 AFR1953)
Die Here verduidelik hiermee na aanleiding van die geskiedenis van die
totstandkoming van die hel, wat hierdie teksvers voorafgaan:
En uit sy mond gaan daar ’n skerp swaard
om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ’n ysterstaf regeer,
en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn
van God, die Almagtige. (Openbaring 19:15 AFR1953)
Ons wat deur die Here geken word, se name staan almal in die Here se boek
van die lewe. Die name is daar ingeskryf op grond van God se uitverkiesende
liefde vir ons en die daaropvolgende versoening van al ons sondes deur die
Here Jesus Christus.
En ek het trone gesien, en hulle het
daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele
gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die
woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die
merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het
geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar
lank. (Openbaring 20:4 AFR1953)
Dis nie mense wat tydens hulle aardse lewe volmaak was nie. Die mense wat
hierdie ewige seën by God kry, is mense wat selfs hulle lewens verloor het,
maar wat aan die Here getrou gebly het.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 119:2
Die Here sal jou seën en jou behoed;
Die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
Die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk
Bellville
Datum: 18 Februarie 2007 (oggend)