Sing vooraf: Psalm 42:1, 5
Ons begin hierdie ontmoeting met God deur
openlik teenoor mekaar en teenoor God te verklaar:
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 104:1
Geloofsbelydenis: Apostolicum
Na die wet loof ons God vir sy genade met
Psalm 138:3.
Wet
Psalm 138:3
Gebed
-
Doksologie:
-
Aanbidding:
-
Skuldbelydenis:
-
Vergifnis:
-
Dank:
-
Smeking vir die
nood van die gemeente en voorbidding vir die kerk, owerhede en sondige
wêreld, asook die beroep op die beloftes van God:
-
Algemene
bede:
-
Verligting van die
Gees ter wille van die Woorddiens:
Amen.
Psalm 90:9
Skriflesing: Eksodus
33
Teks:
Eksodus 33:18
Daarop vra hy: Laat my tog u heerlikheid
sien. (Eksodus 33:18 AFR1953)
Moses het op die berg geklim en by die Here gaan smeek om die volk genadig
te wees. Hy het die Here ook gevra om saam met hulle verder te trek. Sy
presiese woorde was:
As U nie self saamgaan nie, laat ons nie
hiervandaan optrek nie!
Die Here het toe die versoek bewillig, en toe het Moses gevra dat hy die
heerlikheid van God wil sien. Die saak is eintlik baie eenvoudig. Hy sê ook
vir die Here dat hy die Here graag wil ken om Hom behoorlik te kan dien.
Daarom vra hy om die Here te mag sien.
Die Here se genade is groot.
- Daarom verduidelik die Here aan Moses dat Hy sy versoek nie so kan
bewillig soos wat hy dit vra nie, want dan gaan Moses sterf.
- Moses vra dus iets wat die Here nie kan doen nie, want dit sal meer
kwaad as goed doen.
- Tog verhoor die Here sy gebed binne die grense van uitvoerbaarheid.
Die Here sê vir hom: “Kyk, hier is ’n
plek by My waar jy op die rots kan staan.”
Ons weet die Here is alomteenwoordig, maar hierdie woorde laat tog die
indruk dat die Here besonder naby aan Moses was – so naby dat die Here sê
dat Moses langs Hom staan.
- Die Here sê verder dat Hy Moses in die skeur van die rots sal laat
staan, en dat Hy Moses met sy hand sal
toemaak totdat sy heerlikheid by hom verbygegaan het.
- Nadat die heerlikheid van die Here verbygegaan het, sal die Here sy
hand wegneem sodat Moses Hom van agter kan sien.
- Hy sien dus die heerlikheid van die Here soos wat ons die son sien
ondergaan – nie in die volle krag nie, maar tog genoeg dat hy kan bly
lewe.
Altyddeur was die versugting van die gelowige daar dat hy die Here wil
sien om Hom te ken.
- Die Here het egter al lankal beplan om Homself te openbaar, maar op
so ’n wyse dat dit tot ons verlossing kan wees.
- Met ander woorde dat ons eendag voor sy troon mag wees waar ons sy
volle heerlikheid sal aanskou.
Daarom het die Here Hom later ten volle geopenbaar in sy heerlikheid
as ons Verlosser.
- Hy het op die aarde gelewe en die verlossingsraad verkondig en
gepreek met gelykenisse.
- Hy het dit ook gedemonstreer met wonderwerke wat almal daarop gerig
was om die herstel deur sy goddelike krag te openbaar.
Die Here trek dan die lyn deur na ons toe.
- Hy begin al daarmee die aand voor sy dood – Hy beveel sy dissipels om
die Paasfees voor te berei.
- Terwyl hulle daar saam was, het Hy die Paasfees in die Nagmaal
verander.
- Hy beveel hulle om die fees voortaan te vier tot sy gedagtenis.
Hy openbaar ook aan hulle wat dit is wat die geleentheid so besonders
maak:
- Sy liggaam word vir hulle gebreek, en sy bloed word vir hulle
vergiet.
- Die brood en die wyn is die tekens daarvan.
Die dag van die kruisiging het die Here toe sy krag ten volle aan ons
geopenbaar. Voor ons oë het die Verlosser sy verlossingswerk
uitgevoer.
- Hy bid vir vergifnis vir die wat teen Hom sondig en Hom doodmaak.
- Dan lê Hy self sy lewe af.
- Dan word dit helder oordag donker, rotse skeur en dooies staan op in
die grafte.
Terselfdertyd skeur die voorhangsel in die tempel middeldeur. Die
voorhangsel het mos die heilige en die allerheilige geskei.
- Daarmee openbaar die Here aan die tempelvolk dat die skeiding tussen
ons en Hom weggeneem is in die dood van sy Seun.
- Ons sien nou die heerlikheid van God in die tempel.
Daarna staan die Here op uit die dood. Die mense kry die leë
graf.
- Die Here self verskyn aan hulle by verskillende geleenthede.
- Hulle sien die Here in sy oorwinning oor die dood.
- Hulle sien God as die oorwinnaar oor die mag van die hel.
- Hulle sien die Here as die Ewiglewende en Triomferende.
Nou roep hierdie selfde Here u almal om weer saam met Hom die Nagmaal
te vier. Ons ontvang brood en wyn – dis maar net tekens – maar wat werklik
gebeur is dat Hy u sy heerlikheid laat sien.
- Hy herinner u aan sy oorwinning oor die dood.
- Hy herinner u aan Sy opstanding.
- Hy herinner u aan Sy versoeningswerk waardeur ons sondes voor die
aangesig van God weggeneem is.
U beleef dit dat die Here aan u openbaar dat sy heerlikheid van krag
is oor u omdat u deur Hom deel kry aan die opstanding uit die dood.
- U beleef dit dat die Here se heerlikheid u verskoon van u sondeskuld
voor God in sy oordeel oor lewe en dood.
- U hoor dat die Drie-Enige God aan u belowe dat u Hom eendag van
aangesig tot aangesig sal sien in die hiernamaals:
En hulle sal sy aangesig sien, en sy
Naam sal op hulle voorhoofde wees. (Openbaring 22:4 AFR1953)
Kom vier saam met die Here sy Heilige Nagmaal.
- Onthou dat dit nie maar net brood en wyn is nie.
- Die Here gebruik hierdie sakrament om u sy heerlikheid te laat sien.
Amen.
Gebed
Psalm 73:10
Formulier
Psalm 16:1-3
Af tafel toe:
Tydens Nagmaal: Psalm 116
Terug sitplekke toe: Psalm 118
Slotgebed
Slotpsalm Psalm 100:1-4
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk
Bellville
Datum 28 Februarie 2007 (oggend)