Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 103:11
Gebed
Psalm 84:6
Skriflesing:
Eksodus 5:1-2; Eksodus 7:14-25
Teks:
Eksodus 7:17a
So
spreek die Here. Hieraan sal jy weet dat Ek die Here is.
Is dit nie dalk moontlik dat baie van ons in hierdie gemeente ook soos
Farao die Here miskyk nie? Ons sien sy werke, maar sien nie die Here
van die werke nie.
- Dis baie maklik om
mekaar af te skryf as ons geloof begin uitsak, maar dis nie die regte
ding om te doen nie.
- Dis juis in sulke
tye dat ons ons hande in die liefde van die Here na mekaar toe moet
uitsteek en mekaar uit die modder van ongeloof moet uitsleep sodat ons
almal op die droë grond van God se genade kan staan.
Die
dag toe die Here in die woestyn aan Moses verskyn het, het die Here
hom al volledig ingelig oor al die wonders wat in Egipte sou gebeur het
en veral dat hy hom daarop moet voorberei dat die Here Farao se hart
gaan verhard (Eks. 4:21 en 7:3).
En die
Here sê vir Moses: Nou dat jy wegtrek om na Egipte terug
te gaan, kyk dat jy al die wonders voor Farao doen wat Ek in jou mag
gestel het. Maar Ék sal sy hart verhard, sodat hy die volk nie
sal laat trek nie. (Eks. 4:21 AFR53)
En
Ék sal Farao se hart verhard en my tekens en wonders in
Egipteland vermenigvuldig. (Eks. 7:3 AFR53)
Die eerste keer toe Moses en Aäron voor die Farao verskyn het en
hom van die Here en die opdrag van die Here vertel het, was Farao se
woorde:
En
daarna gaan Moses en Aäron en sê vir Farao: So spreek die
Here, die God van Israel: Laat my volk trek, dat hulle vir My ’n fees
kan hou in die woestyn. Maar Farao antwoord: Wie is die Here na wie se
stem ek moet luister om Israel te laat trek? Ek ken die Here nie, en ek
sal Israel ook nie laat trek nie. Toe sê hulle: Die God van die
Hebreërs het ons ontmoet; laat ons tog drie dagreise ver die
woestyn intrek en aan die Here onse God offer, sodat Hy ons nie tref
met die pes of die swaard nie. Maar die koning van Egipte antwoord
hulle: Moses en Aäron, waarom hou julle die volk van hulle werk
af? Loop na julle werk toe. (Eks. 5:1-4 AFR53)
Ek ken die Here nie!
- Al die wonders en
plae wat daarna gekom het, was die Here wat Hom openbaar het aan almal
wat met Farao te doene gehad het.
- Die Farao het mos
gesê dat hy die Here nie ken nie, nou kon hy sien Wie die Here is.
- Daarby moes die
kerkvolk (Israeliete) ook uit alles wat gebeur, leer Wie die Here is
wat hulle weglei uit slawerny in hulle vryheid in, sodat hulle Hom
opreg kon aanbid.
Dit is waaroor alles gaan: God
openbaar Hom aan die kerk. God maak sy
kerk vry van alles wat hulle belemmer om Hom te kan aanbid. Al gebruik
Hy pyn en dood, niks sal Hom keer om sy volk se vyande weg te neem nie.
Dit is binne hierdie opset wat ons moet kyk waarom Farao verhard bly.
- Ons weet van God se
kant af was dit so dat die Here sy hard verhard het.
- Maar die Bybel gee
die menslike rede ook:
- Farao het sy geleerdes ingeroep
en hulle kon ook water in bloed verander.
- Die Bybel stel die saak duidelik:
Omdat Farao se geleerdes dieselfde kon doen, was sy hart verhard (v.
22).
Die beplanning van die Here werk so dat die Here nie sy wil op jou
afdwing sodat jy die Here kan verwyt dat jy graag wou glo en tot
bekering wou kom, maar dat die Here dit nie wou toelaat nie.
- Die mens gee altyd
sy samewerking vrywillig en met oorgawe.
- Daarom het Farao uit
homself ook geweier om die Here te erken en te gehoorsaam.
- Die Bybel leer ons
dat Farao se hart swaar en verstomp was. Sy verharding was sy eie skuld.
Farao het van sy kant af geen verskoning vir sy verharding nie, want
die Here openbaar Hom ten volle aan Farao. Kyk hoe prakties sluit die
Here by Farao se lewe aan. Tot nou toe het Farao hom steeds teen die
Here verset. Nogtans kom die Here weer ’n keer na Farao toe.
- Die Here stuur Moses
om by die Nyl te gaan wag. Farao het die gewoonte gehad om elke
môre in die Nyl te gaan bad (Vgl. Eks. 2:5; 8:20).
- Baie effektief begin
die Here sy openbaring by Farao se bad- en drinkwater.
Wie is die Here? Ek ken Hom nie, het Farao gesê. Toe openbaar die
Here Hom aan Farao sodat Farao Hom kan ken.
- Aan die begin het
die Here vir Farao tekens gegee, maar nou word dit meer as ’n teken.
Dit word ’n plaag.
- Die Here demonstreer
nie meer nie. Die Here gaan oor tot die offensiewe! Die Here val hom
aan. Alle waters in Egipte gaan in bloed verander word op God se bevel.
Die beskikkingsmag van die Here kom in die eerste plaag na vore.
- Die Here gaan nie
net die Egiptenare straf as die water in bloed verander nie. Die Here
gaan hulle voedselvoorraad ook vernietig.
- Ons lees in Numeri
11:5 van die visse wat die Egiptenare vir die Israeliete gegee het om
te eet, en hoe die Israeliete daarna terugverlang (vgl. Jes. 19:8).
Ons
dink aan die visse wat ons in Egipte verniet kon eet, aan die
komkommers en die waterlemoene en die prei en die uie en die knoffel.
(Num. 11:5 AFR53)
Ons moet ook daarop let dat bloed ’n baie besondere betekenis in die
Bybel het.
- Afgesien van die
water wat tydens die eerste plaag in bloed verander het, beskryf die
Bybel beeldend dat die maan ook soos bloed sal word wanneer die
wederkoms naby is.
<>Die Here openbaar
aan Johannes dat daar aan engele opdrag gegee sal word om strome en
selfs ’n gedeelte van die see in bloed te verander voor die
wederkoms (Vgl. Op. 8:8; 11:6; 16:4; Joël 2:31; Op. 6:12).>- Onthou
ook die bloed
van die besnydenis en die bloed van Jesus Christus – en dat die
doopwater die afwassing deur die bloed van Christus simboliseer en so
ook die wyn by die Nagmaal.
Hierdie Eksodusgeskiedenis gaan oor die verlossing van God se volk –
van sy kerk.
- Alles wat gebeur
staan in die teken daarvan dat die Here mure afbreek.
- Hy neem alle
versperrings weg wat sy volk van Hom af wegkeer – versperring wat
belemmer dat hulle voluit in sy genade kan staan.
- Hierdie eerste plaag
was maar net die begin van ’n reeks handelinge waarmee die Here Farao
stelselmatig afgebreek het.
Kyk na die betekenis van die dinge vir ons:
- Ons sal ’n baie
groot fout maak as ons ons net met die Israeliete gaan identifiseer en
bly is daaroor dat die Here op die een of ander manier almal wat in ons
geloofspad staan, gaan vernietig.
- Ons moet onsself ook
aan Farao gaan toets. Kom ons wees baie eerlik en dan toets ons almal
vanoggend om te kyk of ons as ’n gemeente werklik anders voor die Here
lyk as wat Farao en sy towenaars gelyk en gereageer het.
Ons begin by die kontras in vertrekpunte:
- Farao het
gesê: Ek ken die Here nie. Ons gemeente bely dat ons die Here
ken. As dit waar is dat ons die Here ken, dan behoort ons
geloofsprestasies dit te wys. Sou ons anders as Farao gevaar het as ons
met die eerste plaag gekonfronteer was?
- Die bedoeling is nie
om u te konfronteer met die foute wat ons maak en om almal in die hel
in te preek nie. Ons moet besef dat dit daaroor gaan dat die plae deel
was van die Here se raadsplan om sy volk te bevry. In die
bevrydingsproses het die Here ’n skerp skeiding aangebring. Hierdie
skeiding het nie net tussen mense bestaan nie, maar selfs tussen hulle
eiendom.
Daarom eis hierdie stuk openbaringsgeskiedenis besinning:
- Is ons regtig besig
om met hart en siel die verlossingspad te loop wat die Here deur Jesus
Christus voor ons oopgebreek het as ons soveel dooie geloof met ons
saamdra?
- Dit ’n groot
probleem. Dit help nie dat ons net die probleem raaksien nie. Ons moet
dit oplos.
Die antwoord lê daarin dat ons wat ware gelowiges is, mekaar moet
opskerp.
- Die lidmate moet
hulle ouderling en diaken konfronteer as hulle sien dat hulle nie by
die kerk is nie. Skerp hom op.
- Die ouderlinge en
die diakens moet die lidmate gereeld besoek en ook uit die Bybel iets
voorlees en ’n gebed doen. (Hulle doen nie Skrifverklaring nie.)
Wie is die Here? het Farao gevra. Toe het God sy woord verkondig en sy
almag geopenbaar en gesê: Hieraan sal jy weet dat Ek die Here is.
Hieraan sal jy weet! Aan die verkondiging van die Woord van die Here
sal jy weet.
· Verkondig ons die
magtige dade van die Here aan mekaar? Hoe sal ons vaar as ons nou langs
die Nyl gestaan het?
· Wie is die Here? Ons
ken Hom, want Hy het ’n belofte en ’n vergesig gegee wat baie groter is
as sonde of verwyte of as laksheid in ons geloof. Dit is die belofte
dat Hy kom met ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde en dat ons deur die
versoening van ons Here Jesus Christus daar sal woon.
As ons ons versoening deur die Here Jesus vergelyk met die eerste
plaag, is daar enersyds ’n paar dinge wat merkwaardig ooreenkom en
andersyds is daar ook weer skerp verskille.
- Die ooreenkoms is
dat albei Godsopenbaring tot verlossing is.
- By albei is daar
bloed betrokke:
- Die Egiptenare was deur bloed
bedreig
- en teen die kruis het Jesus se
bloed afgevloei.
- Die verskil is dit:
- Tydens die eerste plaag is die
onregverdiges deur die bloed bedreig en het hulle dors geword.
- Aan die kruis was dit omgekeerd:
die Regverdige Jesus was dors en sy bloed het gevloei tot verlossing
van die onregverdiges.
Hieraan weet ons dat Hy ons Here is, want aan Eva was al beloof dat
iemand sal kom wat die mag van die Satan sal verslaan.
- Hoe die
verslaanveldslag sou lyk, is deur die Here stuk vir stuk openbaar.
Jesus sou onskuldig aan die kruis sterf, sodat ons gered kan word.
- Daarna het Hy uit
die dood opgestaan sodat ons Hom op hierdie opstandingspad kan volg. Hy
het ’n pad vir ons oopgebreek na die troon van God toe sodat ons die
Here onbevange kan dien.
- Presies soos wat die
Here dit deur die plae vir Israel gedoen het. Daaraan weet ons dat Hy
die Here is.
Die Nylgeskiedenis en die kruis lê nou al baie ver agter die rug.
Maar die gevolge van albei leef voort.
- Die verharding soos
wat dit by Farao was, leef nog by baie. Hy het die Here nie geken nie,
en hy wou die Here ook nie ken nie. En hulle word almal soos hy
vernietig. Eintlik vernietig hulle hulleself in en deur hulle ongeloof
– soos Farao.
- Maar die volk van
die Here het Hom geken en hulle is nie vernietig nie. Hulle het getrek.
Daardie trekvolk was die simbool van ons almal wat deur Jesus Christus
se bloed geheilig word, en wat die Here ons lewe lank dien.
Kom ons sien nie net die Here se werke nie. Ons slyp ons
geloofstoerusting en ons sien deur die Here se werke Homself as ons God
en Verlosser raak.
Kom ons almal gooi skouer aan die wiel met ons geloof en met ons hele
gemeente se geloofsprestasies. Kom ons verbeter.
- Ons kyk na mekaar en
skerp mekaar op. Kom ons almal maak dit ’n saak om aan mekaar aandag te
gee.
- Ons los dit nie net
vir die kerkraad en die diakens om die dooies onder ons te bearbei dat
hulle weer die lewe van die Gees van God in hulle kan terugkry nie.
- Ons gee self aandag
aan dié onder ons wat uitsak en skerp mekaar op tot meelewing en
om in ons geloof te presteer.
Kom ons wees wat die Here Jesus Christus ons gemaak het deur sy bloed –
’n hemelse gemeente wat God van harte dien.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 2:6
Die HERE sal jou seën en jou behoed;
Die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 26 September 2004 (aand)