Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Psalm 103: 1
Gebed
Psalm 102: 1
Teks: Kat. Sond. 27
Lees: Genesis 17: 1 - 14
(Hand. 2: 37 - 40; Mark. 10: 13 - 16; Kol. 2: 11 - 12)
Wanneer mens oor beginselsake praat, moet die Bybel die deurslag gee.
Maar let daarop dat ons nie vir die Bybel mag besluit wat moet hy
sê op die ter sake gedeeltes nie.
- Die Bybel moet self sy Woord spreek, en ons moet die feit van sy
spreke aanvaar sonder om dit te verdraai.
- Ons mag net geen menslike voorkeure enige rol in sulke sake laat
speel nie.
In hierdie lig kyk ons na wat die Bybel ons leer oor die doop.
1. Heel eerste kyk
ons na die rol wat die water in die Doop speel.
- Die water wat tydens die doopseremonie gebruik word, simboliseer
die bloed en die Gees van Jesus Christus.
- Daarom het die Roomse kerk baie lankal begin oordeel dat die Doop
onmisbaar is vir die saligheid.
- Hulle het geoordeel dat iemand wat nie gedoop is nie, nie in
die hemel kan kom nie, omdat 'n belangrike element van sy saligheid
ontbreek.
Die dwaling wat ons hier het, bestaan daarin dat hulle aan die water -
wat eers geheilig word - toorkrag toeken, waarmee die water dan die
sonde van die mens wegneem, en die genade aanbring oor hom.
Dis ook die dwaling wat ons in die laaste aantal jare toenemend
raakloop. Die Doop self word meteens saligmakend - terwyl dit nog nooit
saligmakend was nie.
- Die verwarring is hier omdat die teken (water) met die betekende
saak (teken van verlossing deur die bloed en Gees van Christus)
deurmekaargemaak word.
- Dit is dieselfde soos wanneer jy die werksman deurmekaarmaak met
sy gereedskap.
Daarom het ons voorouers deeglik ingegaan op die saak, en spesiaal
vraag 72 van die Kategismus uit die Bybel uitgewerk. Dieselfde
saak was toe al aan die gang. Wat was hulle bevinding?
- Die Doop was geen sondes af nie, net die bloed van Christus en
die Heilige Gees kan dit doen.
- Nêrens in die Bybel word aan die doopwater enige krag
toegeken nie.
- Net soos die bloed van bokke en bulle in die Ou Testamentiese
offers hoegenaamd geen sondes kon wegneem nie, net so min kan die
doopwater dit doen.
- Maar net soos wat die bloed van die offers gewys het na die bloed
van Christus, net so wys die water na sy bloed toe en na die reiniging
wat daaruit voorkom.
- Die seremonie het dan in die jongste dae betrekking op ouderdom
van die dopeling, en of hy ondergedompel word of besprenkel word.
- Daarom word die Doop oorskat as mens te veel waarde aan die
seremonie heg.
Die saak is dus baie duidelik:
- Net God alleen kan sondes wegneem.
- Alleen die bloed en Gees van Christus gee aan die Doop sy waarde.
2. In die tweede
plek gaan kyk ons na die versekering wat God vir ons gee.
Kyk hier na twee Bybelgedeeltes:
Markus 16: 16
Hy wat
glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal
veroordeel word.
Gal. 3: 27
…want
julle almal wat in Christus gedoop is, het jule met Christus
bekleë."
Die Here verseker hier redding en verlossing.
Maar dit gaan nie oor 'n uitwendige saak nie, dit gaan oor 'n inwendige
saak.
Dit is ook waarop die "met Christus beklee," sien.
God belowe iets, en ons moet dit wat die belofte bevat, aanneem.
Kom ons noem dit ander woorde: Ons moet glo.
Maar pasop, dit gaan beslis nie oor 'n beslissing wat die sondaar maak
nie, want daar staan in Titus 3: 5 die volgende geskryf:
...
nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar
na sy barmhartigheid het HY ons gered deur die bad van die wedergeboorte
en die vernuwing deur die Heilige Gees.
Hier word van die Doop gepraat. (Dis ook waar ons Kategismus die
vraag vandaan kry).
Maar let op!:
- Daar word van niks gepraat wat die dopeling doen nie, maar wel
van alles wat God doen.
- Hier word pertinent gesê dat ons NIKS doen nie.
Hier word 'n Goddelike bewys gegee aan die sondaar dat dit:
- nie die water is wat saak maak nie,
- maar wel die inwendige werking van die bloed en Gees van Jesus
Christus.
Met nadruk:
- nie op wat die mens doen nie,
- maar op wat God doen, val die klem.
As ons moes staatmaak op die mens se oortuiging, sou ons nooit iemand
kon doop nie, want ons is heeltemal verward in ons sondebeskouings en in
ons etiese uitkyk op die lewe.
- Die huidige dwaalleeraars staan juis daarop dat die dopeling
volwasse moet wees, sodat hy kan "weet" waaroor dit gaan, en dan ook
hierdie saak kan bely.
- Al is ‘n mens hoe volwasse, kan hy nog nie sondevrye en foutlose
beslissings maak nie.
- Daarby kan geen mens seker wees dat 'n ander mens nie huigel
wanneer hy belydenis van sy geloof doen nie. Net God weet dit.
- Daarom is dit moontlik dat selfs 'n volwassene in ongeregtigheid
die Sakrament kan ontvang.
God verhoed juis hierdie saak, en daarom verskuif Hy die klem weg van
die sondaar af na Hom toe, en na wat Hy gedoen het tot ons verlossing.
Weereens gaan dit nie oor die vorm van die saak nie, maar oor die wese.
Kom ons stel dit makliker:
- Die Doop self werk nie.
- God werk genade.
- Hy verseker dit net deur die Doop.
Dit is dus moontlik dat baie mense (volwassenes) wat gedoop is, nie in
die hemel sal wees nie. Veral dan ook diegene wat 'n valse Doop aanhang.
Ons vat hierdie punt saam: Dit is bygeloof wanneer ons die
uitwendige sake by die Doop oorskat, en die inwendige onderskat.
3. Nou gaan ons in
die DERDE plek kyk na die genadeverbond.
Dadelik maak ons die volgende stelling: As jy die kinderdoop
gering ag, bestry of verwerp, lê jy jou nadruk verkeerd, en laat
jou insig jou in die steek, want dan gaan dit oor die geloof van die
mens, en nie oor die liefde van God nie.
In Genesis 17 stel God sy genadeverbond met Abraham in.
'n Paar belangrike dinge word deur die Here gesê:
- Abraham en sy nageslag moet die verbond hou.
- Die teken van die verbond is die besnydenis.
- Die teken van die verbond moet op die agtste dag aangebring word.
Waarom nie aan volwassenes nie? Hulle weet mos waarom dit gaan! Juis
aan kinders, want God se beloftes gaan oor geslagte, en Hy doen sy Woord
altyd gestand, selfs al besef ons nie waaroor dit gaan nie.
Ons lees in Kolosense 2: 11 - 12 dat die besnydenis en die Doop
dieselfde inhoud het.
- Albei is verbonde van genade.
- Die Doop is net 'n vervulling van die besnydenis.
- Albei die Sakramente is uitwendig, maar verseker van die
inwendige genade wat God beloof, en toe bewerk het, en nou aan ons
toeken.
As die genadeverbond wat met Abraham opgerig word, eis dat die kinders
op die agtste dag besny moet word, is dit heeltemal voor die hand dat
die Doop wat 'n vervulling is van hierdie Ou Testamentiese verbond, ook
op die agtste dag bedien moet word.
Die vorm is anders, die bedeling is anders, maar die saak is presies
dieselfde.
Hierby moet in gedagte gehou word dat God se koninkryk nie net vir
volwassenes is nie, maar ook vir kinders.
- Dit raak ook die uitverkiesing.
- God verkies nie grootmense nie.
- Hy verkies mense uit nog voordat hulle gebore is - nog selfs voor
die skepping van hemel en aarde.
- Die Here het bv. vir Jeremia gesê: Voordat Ek jou
in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die
liggaam voortgekom het, het EK jou geheilig; Ek het jou tot 'n profeet
vir die nasies gemaak.
Veral omdat die Doop in die Bybel gekoppel word aan die werk van die
Heilige Gees, mag ons ook nie die werk van die Heilige Gees in kinders
onderskat nie.
- Kinders glo ook.
- Hulle ken ook die Here.
- Die Doop is nie 'n streep wat getrek moet word voordat die
Heilige Gees daar kan werk nie.
- Die werk van die Heilige Gees en die verlossing deur Jesus
Christus is nie minder aan kinders toegesê as aan volwassenes nie.
- En omdat dit afhang van iets wat ontvang word, en hoegenaamd nie
van eie prestasie nie, kan kinders en volwassenes gedoop word.
Die Here stel die verbond in met Abraham.
- Dadelik word hy en elke manlike lid van sy hele huishouding
besny.
- Daarna word elke seuntjie wat gebore word besny op die agtste
dag, want hy word in die verbond gebore.
Ons kry presies dieselfde met die Doop in die Nuwe Testament.
- Die eerste Jode wat gedoop was, was ook besny.
- Later word heidene ook gedoop, en dan is daar die Sinodesitting
van Handelinge 15, waar bepaal word dat besnydenis nie meer noodsaaklik
is saam met die Doop nie, want die Doop is die teken van die Nuwe
Verbond.
Teen hierdie agtergrond moet ons weer kyk na wat 'n Sakrament is.
- 'n Sakrament (ook die Doop) is 'n heilige, sigbare teken en 'n
seël.
- God het dit gegee om die Evangelie beter te laat verstaan.
Om dus volwassedoop te wil afdwing sal 'n dwaling wees, want in die
Nuwe Testament kry ons eers die proselietedoop.
- Dis mense wat oorgekom het na die Jode toe.
- In die Christendom was dit ook so met die eerste gedooptes.
- Hulle was volwassenes.
- Dan word huisgesinne gedoop: Ouers en kinders.
- Wanneer die Nuwe Verbond sy loop gekry het, dan word die
kinders gedoop.
Ons word almal in sondes ontvang en gebore. Klein en groot.
Ons word ook in Christus verlos : klein en groot.
- Laat ons daarom aan die Sakramente die erkenning verleen dat
hulle slegs dien om ons hieraan te herinner, en om ons dit beter te laat
verstaan.
- Laat ons erken dat hulle heilig is omdat God hulle ingestel het.
- En laat ons ook onthou dat dit God is wat sondes vergewe, sonder
dat ons hoegenaamd iets verdien in hierdie saak.
Laat ons dan nie ons eie menslike verdienste enigsins koppel aan die
gebruik en bediening van die Sakramente nie, want dan sou ons nie net
dwaal nie, maar selfs afbreuk doen aan God se heiligheid.
Amen.
Gebed.
Psalm 68: 1
Die genade van die Here Jesus Christus, en die liefde van
God en die gemeenskap van die Heilige Gees, gaan met u
almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 10 Desember 2001. Aanddiens