Sing vooraf: Psalm 105:5.
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde
geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 103: 1
Gebed.
- Doksologie:
- Aanbidding:
- Skuldbelydenis:
- Dank:
- Smeking
vir die nood van die gemeente
en voorbidding vir die kerk, owerhede en sondige wêreld,
asook die beroep op die beloftes van God
- Algemene
bede:
- Verligting van die Gees ter wille van
die Woorddiens:
Amen.
Psalm 102: 1
Skriflesing: Genesis
17 en Lukas 18:15, 16.
Teks: Genesis 17:4.
Kategismus Sondag 27.
Wat My aangaan, kyk, my verbond is met jou, en jy sal die vader van
’n menigte van nasies word. (Genesis 17:4 AFR53)
Dink net aan die atmosfeer van die oomblik: ‘n Nege
en negentig jarige man wag al vir vier en twintig jaar lank dat die
Here ‘n belofte moet waar maak.
- Toe Abram vyf en sewentig jaar oud was
het die Here hom belowe dat hy en sy vrou Sara ‘n kind sou
hê.
- Die Here het hom destyds ook belowe
dat hy ‘n baie groot nageslag sou hê.
Intussen verloop die tyd so lank, en hy moet net vertrou op die Here
se
uitspraak dat Hy die Almagtige is.
Nou verskyn die Here vir die vierde maal aan hom en verseker
hom:
kyk, my verbond is met jou, en jy sal die vader van ’n
menigte van nasies word.
Ons gaan in die preek aandag gee aan die volgende dinge:
1. Die versekering van God.
2. Die teken by die doop.
3. Die genadeverbond.
1. Die versekering van God.
Die HERE is die Oprigter van die verbond – Hy sê
tog duidelik dat sy verbond met Abraham is en sal wees.
- Die verbond kan baie kort beskryf word
as die Here se voorneme om genade aan sondige mense te bewys.
- In die Nuwe Testament word dit so
beskryf:
Kyk
wat ‘n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons
kinders van God genoem kan word! Om hierdie rede ken die
wêreld ons nie, omdat dit Hom nie geken het nie. (1
Johannes
3:1 AFR53)
Die verbond van die Here word deur tekens aan ons geopenbaar
- en terselfdertyd dien dit as openbaring dat die Here elke
oomblik by ons is.
- In die Nuwe Testament is die doop die
teken en seël van God se verlossende liefde en
alomteenwoordigheid oor ons.
- Let ook op die volgende twee
Bybelgedeeltes:
Markus 16: 16
Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie,
sal veroordeel word.
Galasiërs 3: 27
want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met
Christus
beklee.
Die Here verseker met hierdie woorde redding en verlossing.
- Dit gaan nie oor 'n uitwendige saak
nie, dit gaan oor 'n inwendige saak.
- Dit is ook waarop die woorde met
Christus beklee sien. God belowe iets, en ons moet dit wat
die belofte
bevat, aanneem.
- Kom ons noem dit anders: Ons moet glo.
Maar nou moet ons oppas. Dit gaan beslis nie oor 'n beslissing wat die
sondaar maak nie! Daar staan in Titus 3: 5 die volgende geskryf:
.. nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie,
maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die
wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees."
Hier word van die doop gepraat (dis ook waar die Kategismus die vraag
vandaan kry).
- Let op dat in hierdie gedeelte niks
staan van wat die dopeling doen nie. Hier word duidelik gesê
dat die mens niks doen nie.
- Hier word net vermeld wat God alles
doen.
- Hier word 'n goddelike bewys aan die
sondaar gegee dat dit nie die water is wat saak maak nie, maar wel die
inwendige werking van die bloed en Gees van Jesus Christus.
- Met nadruk: nie op wat die mens doen,
val die klem nie, maar op wat God doen.
As ons moes staat maak op die mens se oortuiging, sou ons geen mens
doop nie.
- Geen mens kan seker wees dat 'n ander
mens nie huigel wanneer hy belydenis van sy geloof doen nie. Net God
alleen ken die harte van mense.
- Die Here verhoed juis hierdie saak, en
daarom verskuif Hy die klem weg van die sondaar af na Hom toe, en na
wat Hy doen tot ons verlossing.
- Die doop is bloot die teken daarvan
dat God genade werk - Hy verseker dit deur die doop.
2. Die teken by die doop.
In die lig daarvan dat die Bybel aan ons openbaar wat die teken by die
doop moet wees, kyk ons na die rol wat die water in die doop
speel.
- Die water simboliseer die bloed en die
Gees van die Here Jesus Christus.
- Daarom
het die Roomse kerk lankal begin oordeel dat die doop onmisbaar is vir
die saligheid.
- Hulle het
(verkeerdelik) geleer dat iemand wat nie gedoop is nie, nie in die
hemel kan kom nie, omdat 'n belangrike element van sy saligheid
ontbreek.
- Die dwaling wat ons hier het, bestaan daarin dat hulle
aan die water,
wat eers deur hulle geheilig word, "toorkrag" toeken, waarmee die
water
dan die sonde van die mens wegneem, en die genade oor hom
aanbring.
- Dit is natuurlik nie waar nie. Jesus Christus maak ons
salig.
- Die doop is nie saligmakend nie, want as dit
saligmakend is, vervang
dit Jesus Christus.
- Die verwarring wat op hierdie punt aan die gang is, is
dat die teken
(water) met die betekende saak (teken van verlossing deur die bloed en
Gees van Jesus Christus) deurmekaargemaak word. Dit is dieselfde soos
wanneer jy 'n werksman met sy gereedskap deurmekaarmaak.
Dit is waarom ons voorouers deeglik op hierdie saak ingegaan het, en
die bevindinge uit die Bybel in vraag 72 van Kategismus neergeskryf
het. Die doop was geen sondes af nie, net die bloed van die Here Jesus
Christus, en die Heilige Gees kan dit doen.
- Die feit is dat nêrens in
die Bybel aan die doopwater enige krag toegeken word nie.
- Net soos die bloed van die bokke en
bulle in die Ou Testamentiese offers hoegenaamd geen sondes kon
wegneem
nie, net so min kan die doopwater dit doen.
- Maar die bloed van die offers het
almal gewys na die bloed van Christus ? net so wys
die water na sy bloed toe en na die reiniging wat daaruit
voortkom.
- Die saak is duidelik: net God alleen
kan sondes wegneem.
Daarom word die doop oorskat as mens te veel waarde aan die seremonie
heg. Dit is nie waar dat die doop betrekking het daarop of die
dopeling
oud of jonk is, en of hy ondergedompel of besprenkel word nie. Die
waarde van die doop is geleë in die verdienste van die Here
Jesus Christus.
3. Die genadeverbond.
As jy die kinderdoop minag of verwerp, lê jy die nadruk
verkeerd. Dan gaan dit nie oor die liefde van God nie, maar oor die
"bekwaamheid" van die mens.
In Genesis 17 stel God sy genadeverbond met Abraham in.
'n Paar belangrike dinge word deur die Here gesê:
- Abraham en sy nageslag moet die
verbond onderhou.
- Die teken van die verbond is die
besnydenis.
- Die teken van die verbond moet op die
agste dag toegeken word.
Dadelik val dit mens op dat dit nie oor volwassenes gaan nie, maar oor
kinders, want die verbond word deur God op die geslagte oorgedra, en
nie deur mense nie.
- Dit is ook waar Kolossense 2: 11, 12 inpas wat leer dat die
besnydenis
en die doop dieselfde inhoud het.
- Albei is
verbonde van genade. Die doop is net 'n vervulling van die
besnydenis.
- Albei die
sakramente is uitwendig, maar verseker van die inwendige genade wat
God
beloof het, en toe bewerk het, en nou aan ons toeken.
Daarom is dit voor die hand
liggend dat, omdat die besnydenis op die
agste dag moes plaasvind, die doop ook op die agste dag
bedien moet word. Dit is waarom ons die doop bedien sodra die moeder
in
staat is om saam met haar man voor God te verskyn om die doopsbelofte
af te lê.
Mens moet altyd onthou dat die doop ook die uitverkiesing raak.
- God verkies nie net grootmense nie.
- Hy verkies mense nog voordat hulle
gebore is ? selfs voor die skepping van die hemel
en die aarde. Die Here het bv. vir Jeremia gesê: Voordat Ek
jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit
die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig; Ek het jou tot 'n
profeet vir die nasies gemaak.
Kom ons som alles op: 'n Sakrament is 'n heilige, sigbare
teken en seël. God het dit self ingestel, en die doel daarvan
is dat ons die evangelie beter moet verstaan.
Ons word almal in sonde ontvang en gebore, en daarom het ons ook
geestelike gebreke:
- Ons insig skiet tekort - Almal s'n,
klein en groot.
- Ons word ook in Christus verlos: klein
en groot.
Laat ons daarom aan die sakramente die erkenning verleen wat hulle
toekom:
- Dat hulle slegs dien om ons aan ons verlossing deur die Here
Jesus
Christus te herinner, sodat ons dit beter kan verstaan.
- Laat ons ook erken dat die sakramente heilig is omdat God hulle
ingestel het.
- Laat ons dan dadelik onthou dat dit God is wat sondes vergewe,
sonder
dat 'n mens iets verdien in hierdie saak.
Kom ons kyk hoe verwoord ons belydenisskrifte hierdie dinge in die
Heidelbergse Kategismus Sondag 27:
Vraag 72: Is die uitwendige, waterbad self dan die afwassing
van die sonde?
Antwoord: Nee (a),
want alleen die bloed van Jesus Christus
en die Heilige Gees reinig ons van alle sondes (b).
(a)Matt 3:11; 1 Pet
3:21; Ef 5:26. (b) 1
Joh 1:7; 1 Kor 6:11.
Vraag 73: Waarom noem die Heilige Gees die doop dan die bad
van die wedergeboorte en die afwassing van die sondes?
Antwoord: God sê
dit nie sonder gewigtige rede
nie. Hy wil ons naamlik daarmee leer dat die bloed en Gees
van Christus ons sondes so wegneem soos die water die vuilheid van die
liggaam wegneem. Verder wil Hy ons veral deur hierdie
Goddelike waarborg en teken verseker dat ons net so werklik geestelik
van ons sondes gewas is as wat ons liggaam uitwendig met water gewas
word.
Vraag 74: Moet die jong kinders ook gedoop word?
Antwoord: Ja,
aangesien hulle net soos die volwassenes in die
verbond van God en sy gemeente ingesluit is (a). Ook aan
hulle word nie minder as aan die volwassenes deur die bloed van
Christus die verlossing van die sondes (b) en die Heilige Gees wat die
geloof werk (c), beloof nie. Daarom moet hulle ook deur die
doop as teken van die verbond in die Christelike kerk ingelyf en van
die kinders van die ongelowiges onderskei word (d). So is dit
in die Ou Verbond deur die besnydenis gedoen (e) in die plek waarvan
die nuwe Verbond die doop ingestel is (f).
(a)Gen 17:7. (b) Matt
19:14. (c) Luk
1:15; Ps 22:11; Jes 44:1-3; Hand
2:39. (d) Hand 10:.47. (e) Gen 17:14. (f)
Kol 2:11-I3.
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm 68: 1
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk
Bellville
Datum: 16 Julie 2006
(aand).