Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 66:6
Gebed
Psalm 116:1, 8
Skriflesing:
Genesis 19
Teks:
Genesis
19:23; Kategismus Sondag 5
Die
son het oor die aarde opgegaan toe Lot in Soar aankom. En die HERE
het swawel en vuur oor Sodom en Gomorra laat reën van die HERE uit
die hemel, (Genesis 19:23-24 AFR53)
Hierdie gebeurtenis het iets simbolies ten opsigte van dit wat met die
gelowige gebeur:
- Terwyl die mens uit die verstikkende donker en rook
van sy sonde uitvlug, breek die lig van God se genade oor hom deur.
- Iets hiervan is ook waar van die wederkoms van
Jesus Christus, want die ongelowiges gaan dit beleef as ’n stormagtige
dag van oordeel omdat die donker wolke van die hel oor hulle gaan
toeslaan, terwyl die gelowiges dieselfde dag gaan ervaar as ’n helder
dag waarop die heerlikheid van die Here oor hulle deurbreek en hulle in
die volle lig van sy genade instap.
Ons gaan kyk na die geaardheid van die mens en hoe hulle met die Here
omgaan vanuit die volgende gesigspunte:
1. Dit begin lig word (v. 12).
2. Daar is mense vir wie dit nog
skemer is (v. 13, 14).
3. Die opkoms van die son (v. 15).
1. Dit begin lig word (v. 12).
Die mens self is eintlik niks anders nie as ’n skepsel wat in die
donker lewe en wat donker veroorsaak, want elke mens se hele lewe is
deurspek met sonde en moedswilligheid. Alle mense is van nature meer
geneig om die duiwel bly te maak met hulle werke as wat hulle in staat
is om die Here volmaak te dien.
Dink maar net hoe moeilik dit vir ons is om in God se majesteit te glo.
- Wie van ons bewe van angs voor die Here – veral as
ons sonde doen?
- Wie van ons vrees regtig die toorn van die Here –
die onbekeerlikheid waarmee ons soms lewe, getuig nie daarvan dat ons
bang is dat die toorn van die Here ons in die hel kan laat beland nie.
- Kan ’n mens in die toorn van die Here beland as
gevolg van jou sondes, maar dan tog weer daarna in genade aangeneem
word?
Ons behoort met opregte kommer te vra of daar ’n manier is waarop ons
van die Here se straf kan vrykom, en in sy genade aangeneem kan word.
- Dit is nie genoeg om net van ons sondes te weet
nie.
- Die groot kwelling is hoe ek van die sondes ontslae
kan raak sodat ek nie hopeloos hoef te sterf nie.
Dit is waar die lig begin deurbreek. Wanneer die sonde gestraf kan
word, word dit voor die Here weggeneem.
- God is in sy Wese absoluut regverdig en daarom kan
die sonde nie anders hanteer word as om gestraf te word nie, en daarom
voorsien dieselfde geregtigheid van God dat sonde wat een keer gestraf
is, nie weer teen iemand gehou word nie.
- Die probleem verdonker weer as ons besef dat
onsself nie hierdie straf van God oor ons sondes kan dra nie – trouens
as ons enigsins kon, sou ons mos geen probleem met die oordeel van die
Here gehad het nie, en dan was die hel ook nie ’n kwessie nie.
- Die probleem word darem weer verlig as ons eers
besef dat ons weer in die genade van God opgeneem kan word as iemand
anders die straf dra en in ons plek aan die geregtigheid van God
voldoen. As ons iemand anders kan kry wat die straf van God oor ons
sondes kan dra, sal die Here die hoogste straf, naamlik die hel, nie
oor ons voltrek nie.
Dit is nie so ’n vergesogte idee om na te jaag nie, want dit is presies
waaroor die hele evangelie gaan:
maar
God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf
het toe ons nog sondaars was. (Romeine 5:8 AFR53)
Jesaja het dit ook al voorspel:
Ons
almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop;
maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.
(Jesaja 53:6 AFR53)
In Jesus Christus het God die Here ons uit die dood waarin ons sondes
ons gestort het, lewend gemaak en ons weer ware geregtigheid geleer.
Die gevolg daarvan is dat ons nou geregverdig kan word. Dit is in
hierdie verband baie belangrik om die profesie van Sagaria te onthou
toe Johannes gebore is:
En jy,
kindjie, sal ’n profeet van die Allerhoogste genoem word, want
jy sal voor die aangesig van die Here uitgaan om sy weë reg te
maak; om kennis van saligheid aan sy volk te gee in die vergifnis van
hulle sondes, deur die innige barmhartigheid van onse God waarmee die
opgaande Lig uit die hoogte ons besoek het, om te skyn oor die wat in
duisternis en doodskaduwee sit, om ons voete na die pad van vrede te
rig. (Lukas 1:76-79 AFR53)
So kry ons verlossing deur die vergifnis van ons sondes danksy die
genadige ontferming van ons God. Soos die môreson sal Hy opgaan
en uit die hoogte op ons afstraal, om lig te bring aan die wat in
duisternis en in die skaduwee van die dood lewe, om ons voetstappe te
rig op die pad van vrede.
2. Daar is mense vir wie dit nog
skemer is (v. 13, 14).
In elke mens is daar ’n stryd. Dit help nie om oor uiters belangrike
dinge soos hierdie dogmaties te filosofeer en te maak asof ons so in
die Bybel glo en so geweldig onder die invloed van die Heilige Gees is
dat ons as ’t ware al heilig geword het nie. Dit is nie waar nie.
- Elkeen van ons het elke dag ’n stryd teen onsself
en teen die duiwel aan die gang, want daar is baie geleenthede wat
verkeerde dinge vir ons so aanloklik is dat ons juis hierdie verkeerde
dinge doen.
- Daar is geen mens wat so volmaak is dat die eise
van die evangelie en hyself nie soms met mekaar in konflik kom nie.
Die punt is net dat alle mense wat nie hierdie punt bereik het waar
hulle besef dat hulle nie op hulleself kan steun nie, God nie vrees
nie.
- Dit is waarom daar mense is wat meen dat God hulle
iets skuld omdat hulle met hulle goeie werke by die Here ’n krediet kan
verwerf.
- Solank as wat jy die verlossing aan jouself
toeskryf, beroof jy die Here van sy eer en kan jy nie in die ewige
saligheid ingaan nie.
- Op hierdie punt moet ons baie versigtig beweeg,
want daar is baie gelowe wat leer dat hulle die versoening wat deur
Jesus Christus bewerk is, self kan aanwend soos hulle goeddink
(Pelagianisme).
Die mens wat in homself vir redding gaan soek, is totaal verlore.
Luister na wat Johannes skryf in sy evangelie (3:18, 19):
Hy wat
in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is
alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die
eniggebore Seun van God nie. En dit is die oordeel: dat die lig in die
wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as
die lig; want hulle werke was boos. (Johannes 3:18-19 AFR53)
Matteus verwys op een plek na iets wat Jesaja gesê het:
En aan
hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê: Met die
gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en
kyk, en glad nie sien nie. Want die hart van hierdie volk het stomp
geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het
hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en
met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle
genees nie. (Matteus 13:14, 15 AFR53)
En Hy het gespreek: Gaan sê aan
hierdie volk: Hoor altyddeur,
maar verstaan nie, en sien altyddeur, maar bemerk nie.
Maak die hart van hierdie volk vet en
maak hulle ore swaar en bestryk
hulle oë, sodat hulle nie sien met hul oë en met hul ore nie
hoor en hul hart nie verstaan nie, en hulle hul nie bekeer en gesond
word nie. (Jesaja 6:9-10 AFR53)
Die feit dat Jesaja hierdie dinge vir Juda gesê het, is die Here
se openbaring dat daar mense onder die sogenaamde gelowiges is wat die
Here nie dien nie, en wat hulle verlossing ook nie by Hom soek nie – al
maak hulle asof hulle dit doen. Sulke mense het niks wat hulle met God
kan versoen nie.
- Dit onderstreep net weer die punt dat geen mens se
verlossing uit homself gebore kan word nie, want die straf van God oor
sy sondes gaan hom vernietig. Offerdiere kan ook nie die toorn van die
Here dra nie – die Ou Testament het dit al geleer. Daarom moes die
offers oor en oor gebring word.
- ’n Engel kan ook nie versoening bewerk nie, want
die van hulle wat teen die Here gesondig het, is reeds uit die hemel
uitgedryf en die wat nie gesondig het nie, verskyn in elk geval met
huiwering voor sy troon. Hulle bedek selfs hulle voete en oë as
hulle voor die Here verskyn.
Die punt is net dat mense wat nie ’n middelaar by die Here self gaan
soek nie, op geen enkele manier verlos kan word nie, want in die
skepping is daar niemand wat as verlosser vir die mens en sy sonde kan
optree nie.
3. Die opkoms van die son (v. 15).
As daar in die hele skepping nie ’n middelaar vir die mens se sondes is
nie, beteken dit nie dat daar hoegenaamd geen middelaar is nie.
- Daar is ’n Middelaar, maar Hy is van buite die
skepping. Hy is nie geskape nie. Die Bybel leer dat Hy van ewigheid af
is en dat Hy Lig uit Lig is. Hy is wel tydens die verloop van ons
geskiedenis as ’n mens gebore omdat Hy ’n mens se liggaam aangeneem het.
- Hierdie Verlosser is van die skepping af deur die
Here voorspel. Hy het dit laat opskryf deur bepaalde mense wat oor baie
eeue gelewe het, en so het Hy sy Woord – ons Bybel – vir ons tot stand
gebring. Die Here het die Verlosser baie presies aangekondig: sy koms,
sy geboorte, sy kruisiging en opstanding – alles.
Al die aankondigings het een ding gemeen gehad – elkeen het teruggewys
na God self toe, want by die Here alleen was die mag om hierdie
beloofde verlossing te kon bewerk.
- Die Here alleen kan die geweld van sy toorn dra.
- Hy alleen kan die dood ingaan en weer daar uitkom
sonder dat daar enige letsel aan Hom is.
- Hy alleen kon die mag van die hel verslaan dat
hulle van angs en vrees voor Hom sidder en Hom smeek om hulle nie voor
hulle tyd te pynig nie.
So het die son van God se geregtigheid oor ons opgegaan:
- Jesus is gebore en Hy het ons straf voor God gedra.
Hy het ons volkome met God versoen.
- Hierdie Middelaar is genoegsaam. Daar hoef niks by
sy verdienste bygevoeg te word om ons saligheid te bewerk nie.
- Al wat Hy vra, is net ons aanbidding in volkome
gehoorsaamheid aan Hom. Natuurlik sluit dit ons belydenis in dat Hy –
en alleen Hy – ewig God is.
So gebeur dit dat ons wat onsself in totale duisternis gestort het,
weer in die lig van God se genade warm gemaak kan word.
Kom ons lees Kategismus Sondag 5 saam.
Vraag 12: Aangesien ons volgens
die regverdige oordeel van God die
tydelike en ewige straf verdien het, hoe kan ons van hierdie straf
bevry en weer in genade aangeneem word?
Antwoord: God wil dat daar aan
sy geregtigheid voldoen word (a). Daarom
moet ons óf deur onsself óf deur ’n ander ten volle
betaal (b).
(a)Gen 2:27; Eks 23:7; Eseg 18:4; Matt 5:26; 2 Tess 1:6; Luk 16:2. (b)
Rom 8:4.
Vraag 13: Kan ons deur onsself
betaal?
Antwoord: Nee, glad nie; ons
maak juis ons skuld elke dag nog groter
(a).
(a)Job 9:2; 15:15, 16; 4:18, 19; Ps 130:3; Matt 6:12; 18:25; 16:26.
Vraag 14: Kan enige ander
skepsel vir ons betaal?
Antwoord: Nee, want Ten eerste
wil God aan geen ander skepsel die skuld
straf wat die mens gemaak het nie (a). Ten tweede kan geen gewone
skepsel die las van die ewige toorn van God teen die sonde dra en ander
skepsels daarvan verlos nie (b).
(a)Eseg 18:4; Gen 3:17. (b) Nah 1:6; Ps 130:3.
Vraag 15: Hoe ’n middelaar en
verlosser moet ons dan soek?
Antwoord: So een wat ’n ware
(a) en regverdige (b) mens is, maar
nogtans ook sterker as alle skepsels is, dit wil sê wat
terselfdertyd ware God is (c).
(a)1 Kor 15:21: (b) Heb 7:26. (c) Jes 7:14; 9:5; Jer 23:6; Luk 11:22.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 145:2, 4, 12
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 22 Augustus 2004 (aand)