Sing vooraf: Psalm 71:10, 14
Kom ons begin hierdie ontmoeting met God deur openlik teenoor mekaar en
teenoor God te verklaar:
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige
werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 66:1, 6
Gebed
Psalm 34:8
Skriflesing: Genesis 19
Teks:
Genesis 19:23, 24; Kategismus Sondag 5
Die son het oor die aarde opgegaan toe Lot in Soar aankom. En die Here het
swawel en vuur oor Sodom en Gomorra laat reën van die Here uit die hemel, (Genesis
19:23-24 AFR53)
Hierdie gebeurtenis het iets simbolies ten opsigte van dit wat met die gelowige gebeur:
Terwyl die mens uit die verstikkende donker en rook van sy sonde uitvlug,
breek die lig van God se genade oor hom.
Iets hiervan is ook waar van die wederkoms van Jesus Christus:
- Die ongelowiges gaan dit beleef as ’n stormagtige dag van oordeel omdat die donker wolke
van die hel oor hulle gaan toeslaan.
- Die gelowiges gaan dieselfde dag ervaar as ’n helder dag waarop die heerlikheid van die
Here oor hulle deurbreek en hulle in die volle lig van sy genade instap.
Ons gaan kyk na die geaardheid van die mens en hoe hulle met die Here omgaan vanuit die
volgende gesigspunte:
1. Dit begin lig word (vr. 12)
2. Daar is mense vir wie dit nog skemer is (vr. 13, 14)
3. Die opkoms van die son (vr. 15)
1. Dit begin lig word (vr. 12)
Die mens self is eintlik niks anders nie as ’n skepsel wat in die donker lewe en wat donker
veroorsaak, want elke mens se hele lewe is deurspek met sonde en moedswilligheid.
- Alle mense is van nature meer geneig om die duiwel bly te maak met hulle werke as wat
hulle in staat is om die Here volmaak te dien.
- Dink maar net hoe moeilik dit vir ons is om in God se majesteit te glo.
-
- Wie van ons bewe van angs voor die Here – veral as ons sonde doen?
- Wie van ons vrees regtig die toorn van die Here? Die onbekeerlikheid waarmee ons soms
lewe, getuig nie daarvan dat ons bang is dat die toorn van die Here ons in die hel kan
laat beland nie.
Ons behoort met opregte kommer te vra of daar ’n manier is waarop ons van die Here se
straf kan vrykom, en in sy genade aangeneem kan word.
- Kan ’n mens in die toorn van die Here beland as gevolg van jou sondes, maar dan tog weer
daarna in genade aangeneem word?
- Dit is nie genoeg om net van jou sondes te weet nie.
- Die groot kwelling is hoe ek van die sondes ontslae kan raak sodat ek nie hopeloos hoef
te sterf nie.
Dit is waar die lig begin deurbreek.
- Wanneer die sonde gestraf kan word, word dit voor die Here weggeneem.
- God is in sy Wese absoluut regverdig en daarom kan die sonde nie anders hanteer word as
om gestraf te word nie, en daarom voorsien dieselfde geregtigheid van God dat sonde wat
eenkeer gestraf is, nie weer teen iemand gehou word nie.
Die probleem verdonker weer as ons besef dat onsself nie hierdie straf van God oor ons
sondes kan dra nie. Trouens, as ons enigsins kon,
- sou ons mos geen probleem met die oordeel van die Here gehad het nie, en
- dan was die hel ook nie ’n kwessie nie.
Die probleem verlig darem weer omdat ons besef dat:
- ons weer in die genade van God opgeneem word as iemand anders die straf dra en in ons
plek aan die geregtigheid van God voldoen.
- As ons iemand anders kan kry wat die straf van God oor ons sondes kan dra, sal die Here
die hoogste straf, naamlik die hel, nie aan ons voltrek nie.
Dit is nie so ’n vergesogte idee om na te jaag nie, want dit is presies waaroor die hele
evangelie gaan:
maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe
ons nog sondaars was. (Romeine 5:8 AFR53)
Jesaja het dit ook al voorspel:
Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die
Here het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom. (Jesaja 53:6
AFR53)
Die feit is:
- In Jesus Christus het God die Here ons uit die dood waarin ons sondes ons gestort het,
lewend gemaak en ons weer ware geregtigheid geleer.
- Die gevolg daarvan is dat ons nou voor God se oordeel regverdig word.
- Dit is in hierdie verband baie belangrik om die profesie van Sagaria te onthou toe
Johannes gebore is:
En jy, kindjie, sal ’n profeet van die Allerhoogste genoem word, want jy sal
voor die aangesig van die Here uitgaan om sy weë reg te maak; om kennis van saligheid aan sy
volk te gee in die vergifnis van hulle sondes, deur die innige barmhartigheid van onse God
waarmee die opgaande Lig uit die hoogte ons besoek het, om te skyn oor die wat in duisternis
en doodskaduwee sit, om ons voete na die pad van vrede te rig. (Lukas 1:76-80
AFR53)
2. Daar is mense vir wie dit nog skemer is (vr. 13, 14)
In elke mens is daar ’n stryd.
- Dit help nie om oor uiters belangrike dinge soos hierdie dogmaties te filosofeer en te
maak asof ons so in die Bybel glo en so geweldig onder die invloed van die Heilige Gees is
dat ons as ’t ware al heilig geword het nie. Dit is nie waar nie.
- Elkeen van ons het elke dag ’n stryd teen onsself en teen die duiwel aan die gang, want
daar is baie geleenthede wanneer verkeerde dinge vir ons so aanloklik is dat ons juis hierdie
verkeerde dinge doen.
- Daar is geen mens wat so volmaak is dat die eise van die evangelie en hyself nie soms met
mekaar in konflik kom nie.
Die punt is net dat alle mense wat nie hierdie punt bereik het waar hulle besef dat hulle
nie op hulleself kan steun nie, God nie vrees nie.
- Dit is waarom daar talle mense is wat meen dat God hulle iets skuld omdat hulle met hulle
goeie werke by die Here ’n krediet kan verwerf.
- Solank as wat jy die verlossing aan jouself toeskryf, beroof jy die Here van sy eer en
kan jy nie in die ewige saligheid ingaan nie.
- Op hierdie punt moet ons baie versigtig beweeg, want daar is baie gelowe wat leer dat
hulle die versoening wat deur Jesus Christus bewerk is, self kan aanwend soos hulle goeddink
(Pelagianisme).
Die mens wat in homself vir redding gaan soek is totaal verlore. Luister na wat Johannes
skryf in sy evangelie (3:18, 19):
Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is
alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie. En
dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis
liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos. (Johannes 3:18-19 AFR53)
Matteus verwys een plek na iets wat Jesaja gesê het (Matteus 13:14, 15 en Jesaja 6:9-10):
En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê: Met die gehoor sal
julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie. Want die
hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë
het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met
die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie. (Matteus 13:14-15
AFR53)
Die feit dat Jesaja hierdie dinge vir Juda gesê het, is die Here se openbaring dat daar mense
onder die sogenaamde gelowiges is wat die Here nie dien nie, en wat hulle verlossing ook nie by
Hom soek nie – al maak hulle asof hulle dit doen.
- Sulke mense het niks wat hulle met God kan versoen nie.
- Dit onderstreep net weer die punt dat geen mens se verlossing uit homself gebore kan word
nie, want die straf van God oor sy sondes gaan hom vernietig.
- Offerdiere kan ook nie die toorn van die Here dra nie – die Ou Testament het dit al
geleer. Daarom moes die offers oor en oor gebring word.
- ’n Engel kan ook nie versoening bewerk nie, want die van hulle wat teen die Here gesondig
het, is reeds uit die hemel uitgedryf en die wat nie gesondig het nie, verskyn in elk geval
met huiwering voor sy troon. Hulle bedek selfs hulle voete en oë as hulle voor die Here
verskyn.
Die punt is net dat mense wat nie ’n middelaar by die Here self gaan soek nie, op geen
enkele manier verlos kan word nie, want in die skepping is daar niemand wat as verlosser vir
die mens en sy sonde kan optree nie.
3. Die opkoms van die son (vr. 15).
As daar in die hele skepping nie ’n middelaar vir die mens se sondes is nie, beteken dit nie
dat daar hoegenaamd geen middelaar is nie.
- Daar is ’n Middelaar, maar Hy is van buite die skepping. Hy is nie geskape nie.
- Die Bybel leer dat Hy van ewigheid af is en dat Hy Lig uit Lig is.
- Hy is wel tydens die verloop van ons geskiedenis as ’n mens gebore omdat Hy ’n mens se
liggaam aangeneem het.
Hierdie Verlosser is van die skepping af deur die Here voorspel.
- Hy het dit laat opskryf deur bepaalde mense wat oor baie eeue gelewe het, en so het Hy sy
Woord – ons Bybel – vir ons tot stand gebring.
- Die Here het die Verlosser baie presies aangekondig – sy koms, sy geboorte, sy kruisiging
en opstanding, alles.
Al die aankondigings het een ding gemeen gehad:
- Al hierdie aankondigings het teruggewys na God self toe, want by die Here alleen was die
mag om hierdie beloofde verlossing te kon bewerk.
- Die Here alleen kan die geweld van sy toorn dra.
- Hy alleen kan die dood ingaan en weer daar uitkom sonder dat daar enige letsel aan Hom
is.
- Hy alleen kon die mag van die hel verslaan dat hulle van angs en vrees voor Hom sidder en
Hom smeek om hulle nie voor hulle tyd te pynig nie.
So het die son van God se geregtigheid oor ons opgegaan:
- Jesus is gebore en Hy het ons straf voor God gedra.
- Hy het ons heeltemal met God versoen.
- Hierdie Middelaar is genoegsaam.
-
- Daar hoef niks by sy verdienste bygevoeg te word om ons saligheid te bewerk nie.
- Al wat Hy vra is net ons aanbidding in volkome gehoorsaamheid aan Hom. Natuurlik
sluit dit ons belydenis in dat Hy en alleen Hy ewig God is.
So gebeur dit dat ons wat onsself in totale duisternis ingestort het, weer in die lig van
God se genade warm gemaak kan word.
Kom ons lees Kategismus Sondag 5 saam.
Vraag 12: Aangesien ons volgens die regverdige oordeel van God die tydelike en
ewige straf verdien het, hoe kan ons van hierdie straf bevry en weer in genade aangeneem
word?
Antwoord: God wil dat daar aan sy geregtigheid voldoen word (a). Daarom
moet ons óf deur onsself óf deur ’n ander ten volle betaal (b).
(a)Gen 2:27; Eks 23:7; Eseg 18:4; Matt 5:26; 2 Tess 1:6; Luk 16:2. (b) Rom
8:4.
Vraag 13: Kan ons deur onsself betaal?
Antwoord: Nee, glad nie; ons maak juis ons skuld elke dag nog groter
(a).
(a)Job 9:2; 15:15, 16; 4:18, 19; Ps 130:3; Matt 6:12; 18:25;
16:26.
Vraag 14: Kan enige ander skepsel vir ons betaal?
Antwoord: Nee, want Ten eerste wil God aan geen ander skepsel die skuld
straf wat die mens gemaak het nie (a). Ten tweede kan geen gewone skepsel die las van die ewige
toorn van God teen die sonde dra en ander skepsels daarvan verlos nie (b).
(a)Eseg 18:4; Gen 3:17. (b) Nah 1:6; Ps 130:3.
Vraag 15: Hoe ’n middelaar en verlosser moet ons dan soek?
Antwoord: So een wat ’n ware (a) en regverdige (b) mens is, maar
nogtans ook sterker as alle skepsels is, dit wil sê wat terselfdertyd ware God is (c).
(a)1 Kor 15:21: (b) Heb 7:26. (c) Jes 7:14; 9:5; Jer 23:6; Luk
11:22.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 86:1
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige
Gees bly by u almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 31 Julie 2005 (aand)