Sing vooraf: Psalm 4:2.
Kom ons begin hierdie ontmoeting met God deur openlik teenoor mekaar en
teenoor God te verklaar:
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige
werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 84:1, 2.
Gebed.
-
Doksologie:
-
Aanbidding:
-
Skuldbelydenis:
-
-
Dank:
-
Smeking vir die nood van die gemeente en voorbidding vir die kerk,
owerhede en sondige wêreld, asook die beroep op die beloftes van God
-
Algemene bede:
-
Verligting van die Gees ter wille van die Woorddiens:
Amen.
Psalm 19:7.
Skriflesing: Genesis 2 : 15 – 3 : 14
Teks: Kategismus
Sondag 3; Genesis 2:15
Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om
dit te bewerk en te bewaak. (Genesis 2:15 AFR53)
Die Here bring die hele skepping berekend en stelselmatig tot stand:
- Eers is dit ’n siedende massa waaruit Hy land laat kom - en dan maak Hy
lig - daarna plante en diere.
- So bou Hy die aarde en alles rondom die aarde op totdat die plek reg is dat mense daarop
kan woon en bly lewe - Hy noem dit ‘n Paradys!
- Hy het alles volmaak geskape sodat die mens daar kan bly om God ongesteurd te dien.
- Toe Hy dit alles gedoen het, het God begin met die skepping van die mens. Die Here het
Adam geskape en heel laaste as die hoogste kroon en afronding van sy skepping, die vrou: Eva
Ons gee vandag aandag aan die volgende sake:
1. Het die Here ons regtig volmaak geskape?
2. Wat het God van ons verwag?
3. Waar gaan God nou met my heen?
1. Het die Here ons regtig volmaak geskape?
Met die skepping van die mens openbaar die Here dat Hy ook op ’n ander manier kan skape as om
dit elke keer met sy almag tot stand te bring.
- Tot op daardie punt het God net elke keer ’n bevel gegee en dan het dinge presies so tot
stand gekom soos Hy vooraf beplan het dat dit sal wees.
- Ons weet niks van sy vooraf beplanning van die plante en diere nie.
- Al wat ons weet is net dat Hy elke keer ’n bevel gee dat die verskillende soorte plante
en daarna die verskillende soorte diere daar moet wees. En dan was hulle daar.
- Daarna het God inspeksie gedoen en gesien dat dit goed was.
Maar met die skepping van die mens is dit anders. God het nog ’n manier van tot
stand bring:
- Hy praat nie net nie, Hy bring ook op ’n teerder manier “met sy eie hande” dinge tot
stand.
- Dit was hoe Hy die mense in die lewe ingebring het!
Dié keer openbaar die Here iets van die vooraf beplanning en beraadslaging wat Hy met
Homself gehad het oor hoe Hy die mense tot stand wil bring en oor hoe hulle moet wees! God
sê:
En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat
hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele
aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. (Genesis 1:26 AFR53)
Hierdie skepsel wat God hier in gedagte het moet op die aarde van ’n baie hoër adel wees as die
res van die skepping. Hy openbaar en bevestig dit aan ons met die treffende woorde:
En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom
geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. (Genesis 1:27 AFR53)
In die Naam van God was daar nou regeerders op die aarde. Mense wat kon lewe tot in
ewigheid.
- In die skepping van die mens ontvang die skepping sy kroon: Die regeerder in die
Naam van God.
- Die hele skeppingswerk word toegespits op God se heerskappy oor die skepping deur God se
gemeenskapsbeoefening met die mens.
- Dit weet ons omdat daar net by die skepping van die mens verhaal word dat God beraadslaag
het, en dat God dan besluit dat die mens geskape word om te heers.
-
NB: Die skepping ontvang dus die sin vir sy bestaan in die skepping van
die mens, nl. dat dit moet ruimte gee vir die mens om gemeenskap met God te beoefen en om
daarin te woon.
Die vraag kom by ons op: As ons vandag so om ons rondkyk is daar bitter min mense
wat werklik voluit eerbaar is. Waarom het daar so baie mense so sleg geword?
- Het God ons dan so boos en verkeerd geskape? Was daar ’n fout of ’n defek iewers in ons
ingebou dat ons geword het soos wat ons is?
- Die antwoord is duidelik: Natuurlik nie.
-
- Want toe God die mense klaar geskape het, staan daar nie soos by die res van die
skepping dat God gesien het dat dit net “goed” is nie.
- God het na die hele skepping gaan kyk gesê dat dat dit “baie goed is”.
- God se beoordeling is volmaak. Hy sou nie ’n fout oorgeslaan of misgekyk het
nie. Hy sou ook nie ’n leuen vertel het en ’n swak plek in sy skepping op dié
manier toegesmeer het nie, want sy volmaaktheid en heiligheid laat nie toe dat Hy ’n
leuen vertel nie.
- Na die skepping van die mens het die skepping ten volle aan God se doel daarmee
beantwoord.
- Daar kan geen twyfel wees nie: God het die mens volmaak geskape. As ‘n
saak by God as “baie goed” bestempel word, dan is dit ongetwyfeld bo enige onvolmaaktheid
verhef.
Wat het ons anders gemaak as die res van die skepping?
- Die feit dat God die mens goed geskape het.
- En die feit dat die Here ons na sy ewebeeld geskape het.
- Dit beteken dat die Here ons gemaak het met eienskappe wat net Hy alleen het:
-
- Ware kennis
- en ware geregtigheid
- en ware heiligheid.
- God het dit spesifiek vir ons gegee sodat ons God ons Skepper
-
- reg kon ken,
- Hom van harte kon liefhê,
- en met Hom in die ewige saligheid kon lewe om Hom te loof en te prys.
Die mens was dus so aangelê dat hy volmaakte gemeenskap met God kon beoefen.
- Dit kom ook na vore in die manier waarop God die mens en sy skepping anders behandel as
dié van die res van die skepping.
- God kom soek die mense op en Hy praat met die mense.
- Die Here seën wel die diere ook en sê dat hulle moet vrugbaar wees en
vermenigvuldig. Let op: God seën hulle nie individueel nie. God seën by hulle alles
gelyk - oorkoepelend. (Genesis 1:22)
- Maar daardie parallelle seën oor die mense is anders:
En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en
vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls
van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip. (Genesis 1:28 AFR53)
In hierdie seën is ‘n persoonlike band tussen God en die mens.
- Die mens se seën word deur niks en niemand gedeel nie.
- Die Here gee aan hulle ‘n persoonlike taak, nl dat hulle in sy Naam die aarde moet
regeer.
2. Wat het God van ons verwag?
Wat het God nou van hierdie volmaakgeskape mens verwag?
- Die Here het van hom verwag dat hy moes antwoord op die werk en die stem van God.
- Die mens moet God se heerlikheid afskadu in die skepping.
-
- Dit moet hy doen op so ‘n manier dat dit duidelik is dat hyself onder die
heerskappy van God staan, en God se regering oor hom duidelik erken.
- Dit is wat gehoorsaamheid is.
Verder moet daar by die mens veral ‘n spontane dankbaarheidsuiting wees.
- Hy moet God voortdurend oor sy werk en sy goedheid loof. Dit is ook waarom die mens
geskape is om te kan praat, en die diere nie.
- Psalm 19 sê dat die hemele die werke van God se hande verkondig. Hoeveel te meer
was dit nie die werk van die mens nie. Die Bybel leer ons hierdie opregte gebed om God
te kan loof en prys:
Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees
voor U aangesig, o HERE, my Rots en my Verlosser. Ps. 19 : 5.
Intussen gebeur daar ’n baie slegte ding in die hemel. Een van die hoogste engele oorskry
sy grense en kom teen God in opstand. Esegiël 28 verwys in die beskrywing van die koning
van Tirus hierna:
Jy was ‘n gérub met uitgespreide vlerke wat beskut, en Ek het jou gestel op
‘n heilige berg; ‘n god was jy; jy het gewandel tussen vurige gesteentes. Jy was
volkome in jou weë van die dag af dat jy geskape is, totdat daar ongeregtigheid in jou gevind
is. (Esegiël 28:14-15 AFR53)
Hierdie gerub het soveel mag by God gekry dat hy besluit het dat Hy self God wil wees en dat
God hom moet dien! Toe kom hy in sy ongeregtigheid in opstand teen God. Van toe af
is sy naam ook verander: hy is nou die satan.
Hy het daar in die Paradys aangekom en sy ongeregtigheid aan die mense afgesmeer:
- hy het die mense verlei om hulle gemeenskapsband met God te verbreek.
- Die mens moes die erkenning van God se heerskappy oor hom skend. Hy moes sy
gehoorsaamheid aan God verwerp. As hulle dit doen, sou hulle self die status van goddelikheid
verwerf.
- In die proses word God as ‘n oneerlike voorgestel:
Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; maar
God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur
goed en kwaad te ken. (Genesis 3:4-5 AFR53)
Die feit dat God gesê het dat Hy die mens met die doodstraf sal straf vir ongehoorsaamheid,
word as ‘n leuen verklaar. En ons is daarna hard gestraf met die doodstraf waaraan ons
nie wou glo nie! Voor die sondeval was hierdie smarte van harde werk en die dood nie daar
nie.
In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die
aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.
(Genesis 3:19 AFR53)
Hier in die Paradys het die mens ‘n gevalle sondaar en ’n verraaier geword wat sy
gehoorsaamheid van God prysgegee het vir gehoorsaamheid aan die satan.
- Van toe af sien die Here ons baie onvleiend en Hy skuif sy Vaderskap oor ons van Hom af
weg!
- Dit staan baie duidelik geskrywe in Johannes 8:44
Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle
doen. Hy was ’n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar
in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ’n
leuenaar is en die vader daarvan. (Johannes 8:44 AFR53)
Die satan het sy gees van hoogmoed en opstand by Adam en Eva laat posvat.
- Hoogmoed omdat daar vir hulle geleer word dat hulle net so goed soos God sou word.
Hulle sou self ook gode wees en dus nie nodig hê om God te aanbid nie.
- Die gees van opstand teen God word daarin uitgebeeld dat die vrou dan met nuwe oë na die
vrugte van die boom kyk.
Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ’n lus was
vir die oë, ja, ’n boom wat ’n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy
vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet. (Genesis 3:6
AFR53)
Inderdaad het die twee se oë toe oopgegaan en hulle het kennis gehad!
- Maar hulle kennis was ‘n karikatuur van dit wat die satan beloof het!
- Hulle kon sien dat hulle naak is! Naaktheid het meteens vir hulle die deure van verkeerde
dinge oopgemaak en hulle het besef dat hulle nog nie vantevore sulke gedagtes oor naaktheid
gehad het nie. Daar was meteens ’n groot fout! Dit is die kennis wat hulle gekry het!
Hulle kennis was dat hulle nou in die diepste ellendes was en dat hulle hulleself van God
vervreem het. Daarom gaan kruip hulle weg!
- Hulle was bang, want i.p.v. om soos God te word, het hulle nou agtergekom dat hulle
allesbehalwe God is.
- Hulle het meteens van hulle onvermoëns bewus geword. In hulle het elke nasaat
meteens die smet en erfsonde van onbekwaamheid verwerf! Dis waarom mense vandag is soos
hulle is!
Die saak het baie versleg toe God met die twee mense kom afreken het.: God het die hele
skepping saam met die mens vervloek. Van daardie oomblik af lag die satan breed, want van
toe af buk die mens en die skepping onder die mens se onverantwoordelikheid:
En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou
en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie - vervloek
is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe.
(Genesis 3:17 AFR53)
3. Waar gaan God nou met my heen?
Vir diegene wat hierdie dinge weet en besef, het God dadelik genade.
- In die vloek wat God oor die slang uitgespreek het, het God al vir die mens sy
verlossing geprofeteer.
- Dit was nog voordat die vloek van God oor Adam en sy vrou uitgespreek is, dat die HERE
gesê het:
En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar
saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.
(Genesis 3:15 AFR53)
Dit is die heel eerste belofte dat Christus sal kom.
- Hy sou uit die mensgeslag gebore word, sodat Hy ook ‘n mens sal wees soos hierdie twee
wat nou net teen die satan verloor het.
- Maar daar is ‘n belangrike verskil: Hierdie Christus wat belowe word, gaan die satan
verwoes en ruïneer soos wat die satan die mens verwoes het. Hierdie tweede keer wanneer
satan teen ‘n mens te staan gaan kom, is die stryd vir hom verby.
Daarom lewe ons met hoop.
- Dit is so dat die mens nou van God vervreem geraak het, en dat hy nou net tot kwaad in
staat is.
- Maar daar is iets wat baie groter is as dit wat ook waar is! God het nie die mens na sy
beeld geskape sodat alles verlore moet wees nie. Daarom word daar gesê dat daar tog
verlossing moontlik is.
God die Vader het die mens volgens sy raadsplan geskape. Al het ons in sonde
geval, het God die Vader dit voorsien en ook reeds verlossing in die werk van sy Seun
voorsien. (Efesiërs 1:4).
- Die Here Jesus Christus het as almagtige God gekom en mens geword. Hy het ons verlossing
volbring.
- Hy is God self wat mens word en verslaan die satan as mens.
Toe die Here Jesus Christus teruggegaan het na die hemel toe, het Hy aan die gelowiges
belowe dat Hy ’n ander Trooster sal voorsien, vir die tyd wat Hy in die hemele
voorbereidingswerk doen: Hy belowe die uitstorting van God die Heilige Gees.
- God die Heilige Gees is elke oomblik alomteenwoordig op die aarde om die mense te lei.
- Ons gelowiges word deur die Heilige Gees so gelei dat ons teen die satan te velde trek,
en hom oorwin.
- So bou ons ook daardeur God se koninkryk.
Om te verander weg van die duiwel af (om die satan te verslaan!) is niks anders nie
as wedergeboorte.
- God die Heilige Gees gee ons hierdie lus en ywer om die satan te verslaan.
- Dit is die hoop wat ons het vir hierdie lewe en die toekomstige lewe.
- Ons kan deur die Gees van God gebore word tot ‘n nuwe lewe: ‘n Lewe waarin ons die kwaad
vermy en die goeie najaag, en weer met ons totale lewe aan God die eer gee.
So herstel God dit wat ons bederf het: Dit is die genade in ons Here Jesus
Christus.
- In hierdie lewe is dit nog nie ten volle geopenbaar nie, en kan dit ook nie altyd
duidelik gesien word nie.
- Maar met die wederkoms word al hierdie beloftes ten volle vervul wanneer ons weer met God
versamel word in heerlikheid. Weer soos in die Paradys voor die sondeval.
Maar die raad van God is genade en oordeel.
- Die Here Jesus Christus kom voltrek die skeiding waarvan die Here gepraat het in die
Paradys (Genesis 3:15).
-
- Die kruis is vir sommiges tot verlossing. Vir hierdie mense is Hy die Een uit
die vrou se saad wat die slang se kop vermorsel het.
- Maar vir ander is Hy tot oordeel, want hulle begeer om soos God te wees, en onderwerp
hulle aan die satan teen God.
Ons antwoord elkeen by onsself oor ons bekering en wedergeboorte in Jesus Christus:
- Is ons verantwoordelikhede teenoor God so onberispelik dat ons kan getuig dat ons in ‘n
band van persoonlike gemeenskap met Hom staan?
- Is u hele lewe toegespits op liefde vir God, of bly ons die genade van God verwerp, en is
ons in ons hoogmoed die heerser in ons eie klein wêreld?
Geliefdes, ons moet ons aan die Gees van God onderwerp.
- Ons moet ons daagliks van al die verkeerde bekeer.
- Ons moet luister na die Wet van God en dit uit dankbaarheid onderhou, want dit is met
baie luister vir ons volbring deur die Here Jesus Christus.
Daar is net een van twee moontlikhede:
- Of verwerp Christus, en word saam met die satan verdelg, want dit het Christus ook reeds
met goddelike almag volbring.
- Of dien Hom en word deur sy almag verlos.
Kom ons lees saam wat ons Belydenis in die Heidelbergse Kategismus hieroor te sê
het:
Vraag 6: Het God die mens dan so sondig en verkeerd
geskep?
Antwoord: Nee, God het die mens goed (a) en na sy ewebeeld geskep
(b). Dit beteken: in ware geregtigheid en heiligheid, sodat hy God sy Skepper reg
kon ken, Hom van harte kon liefhê en saam Hom in die ewige saligheid kon lewe om Hom te loof en
te prys (c).
a)Gen 1:31. (b) Gen I:26, 27. (c) Ef 4:24; Kol 3 2 Kor
3:18.
Vraag 7: Waar kom hierdie verdorwe natuur van mens dan
vandaan?
Antwoord: Van die val en ongehoorsaamheid van ons eerste ouers,
Adam en Eva, in die paradys (a). Daar het ons natuur so verdorwe geraak dat ons almal in
sonde ontvang en gebore word (b).
(a)Gen 3; Rom 5:12, 18, 19. (b) Ps 51:7; Gen
5:3
Vraag 8: Is ons so verdorwe dat ons glad nie in staat is om iets goeds
te doen nie en tot alle kwaad geneig is?
Antwoord: Ja (a), behalwe as ons deur die Gees van God weergebore
word (b).
(a)Gen 8:21;6:5; Job 14:4; 15:14, 16, 35; Joh 3:6; Jes
53:6. (b) Joh 3:3, 5;1 Kor 12:3; 2 Kor 3:5.
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm 32:1
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige
Gees bly by u almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 24 Julie 2005 (aand)