Sing vooraf: Psalm 4:3; Psalm 40:3; Psalm 66:6;;
Ons begin hierdie ontmoeting met God deur openlik teenoor mekaar en teenoor God te
verklaar:
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige
werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 118:1, 13.
Geloofsbelydenis: Nicea.
Na die wet bely ons voor God ons sondeskuld en bid om vergewing van ons sondes
met Ps. 40:4.
Wet
Psalm 40:4
Gebed.
Doksologie:
-
Aanbidding:
-
Skuldbelydenis:
-
-
Dank:
-
Smeking vir die nood van die gemeente en voorbidding vir die kerk,
owerhede en sondige wêreld, asook die beroep op die beloftes van God
-
Algemene bede:
-
Verligting van die Gees ter wille van die Woorddiens:
Amen.
Psalm 51:8;
Skriflesing: Genesis 22.
Teks: Genesis
22:2
Toe sê Hy: Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak, en gaan na die
land Moría en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal aanwys.
(Genesis 22:2 AFR53)
Broeders en susters, almal van ons wat hier bymekaar is, was al in 'n toestand waar ons baie
graag iets wou gehad het, of iets wou gedoen het, maar die Here het dit nie vir ons moontlik
gemaak nie. Of die Here het ons gedwing om 'n geleentheid by ons te laat verbygaan wat -
volgens ons oordeel - vir ons baie voordeel sou ingehou het.
Waarom gebeur sulke dinge?
- Die antwoord is baie eenvoudig, al is dit nie altyd maklik om op daardie oomblik die hele
saak in sy perspektief te sien nie.
- En daarby is dit gewoonlik baie moeilik om op daardie oomblik die regte ding te doen.
Die antwoord is dit:
- God het ons juis geskape om tot Sy eer te lewe, en daarom is dit Sy reg om ons geloof te
toets.
- Dit is ook Sy reg om te toets of ons selfs dit wat vir ons die dierbaarste is, sal
prysgee, net om Hom lief te hê en te dien.
- Hy doen dit onder andere deur hierdie soort van situasies.
Kyk nou teen hierdie agtergrond na die gedeelte wat ons saam gelees het. Dit is een
van die stukkies geskiedenis wat ons almal so goed ken dat dit lankal sy hele betekenis vir ons
verloor het.
- Ons weet Abraham moes sy seun gaan offer - maar wat daarvan?
- Hierdie stukkie geskiedenis raak baie meer dinge as net 'n ou man van ongeveer 115 jaar
wat op 'n ver reis gegaan het om sy 15-jarige seun te gaan doodmaak.
- Dit vertel van iemand se liefde vir God - 'n liefde wat so groot is dat hy sy kind gaan
keelafsny en aan stukke sny omdat God dit van hom vra.
- Maar dit vertel ook van iemand wat geglo het dat by God alles moontlik is - en dat God
ook iets aan hierdie situasie kon doen, solank hy net in gehoorsaamheid doen wat God vra.
- En dit vertel dat enige besluit wat ons neem en vas van plan is om dit te doen, in God se
raad tel as 'n daad wat ons uitgevoer het
Kom ons kyk na die dinge wat nie in die verhaal hier beskryf is nie, maar juis die dinge
wat betekenis gehad het en wat ook die betekenis van hierdie dag gemaak het.
- Jare gelede al, het die Here aan Abraham belowe dat God uit hom 'n baie groot nasie sal
verwek, waarvan die nasate feitlik nie berekenbaar sal wees nie (soos die sterre en soos die
sand van die see).
- Intussen gaan Abraham se kragte verby. Sy vrou is omtrent ses jaar jonger as hy en
mettertyd het sy ook al haar moontlikheid om kinders te hê, verloor.
Dan kom daar later uit moedeloosheid van hulle kant af 'n menslike ingryping om die
belofte van God te probeer verwerklik.
- Abraham verwek Ismael by Hagar.
- Maar dis nie die kind wat die Here in gedagte gehad het nie.
- Ismael kan nie die seën van die verbond kry en dit verder dra nie.
Dink nou net vir eers aan die nodelose toestand waarin die twee mense was:
- Die Here verseker hulle oor en oor dat Hy hulle liefhet, en die Here koppel ook in 'n
sekere sin die bewys daarvan aan die feit dat hulle 'n eie kind sal hê.
- Maar God wil ook van sy kant af hê dat hulle moet weet en glo dat die onmoontlike by Hom
moontlik is, en nou kom hierdie kind nie.
- Dit wat hulle so begeer, bly buite hulle bereik.
Maar wanneer Abraham 100 jaar is, en Sara 94, dan besluit God dat die dag aangebreek
het.
- Hy wil baie duidelik wys dat sy liefde nie vasgemaak is aan die normale reëls soos ons
dit ken en voorskryf nie.
- Hy kan selfs gee waar dit menslik gesien, totaal onmoontlik is.
Ons weet nie hoe lank na hierdie wonderlike vervulling van God se liefde aan die twee
oumense dit was nie, toe kom God weer na hulle toe.
- Die HERE beveel Abraham dat hy hierdie seun van hom moet vat en na die berg Moria toe
gaan. Hy moet die kind daar as 'n brandoffer gaan offer.
- Verplaas jouself in die situasie om te kan verstaan:
-
- Jy is Abraham, en jy moet jou oudste seun/dogter gaan doodmaak, aan stukke sny, en
die liggaam dan aan die brand steek.
- Jou kind moet in vlamme en rook opgaan omdat dit God se wil is.
- Hoe gaan jy voel - en sal jy dit vir die Here doen?
Kyk net hoe stapel die Bybel die gegewens rondom die kind op:
- Jou seun.
- Jou enigste.
- Isak.
- Hy wat jy liefhet.
Die Here loop Abraham se gedagtes vooruit in hierdie noukeurige beskrywing!
Hoe groot/oud is die kind?
- Waarskynlik kon Isak nie jonger as ongeveer 15 jaar kon gewees het nie, want hy moes die
hout dra waarop hy geoffer sou word.
- Hy moes dus al taamlik sterk gewees het.
- Maar sy ouderdom is glad nie van belang nie - die saak wat van belang is, is dat dit vir
Abraham gelyk het asof alles wat die Here nou uiteindelik tot stand gebring het, net hier
weer tot niet gemaak word.
Van God se kant af weet ons dat Hy wou kyk hoe groot Abraham se geloof is.
- God wou kyk of Abraham onder die grootste druk, en selfs onder die moeilikste
omstandighede, nog na Hom sal luister.
- Abraham moes bewys lewer dat hy bereid is om enige iets prys te gee - as dit tot God se
eer is!
Hier het ons die antwoord op die vraag waarom sulke dinge met mense gebeur dat hulle voor
keuses en opofferinge te staan kom, wat amper te veel vra om die regte ding te doen.
- God toets ons geloof.
- God toets altwee die fasette van die geloof met 'n situasie soos hierdie een waarin
Abraham was. Die kennis en die vertroue.
-
- Abraham se kennis word getoets omdat hy mos moes geweet het dat God nooit sy beloftes
verbreek nie.
- Daarby sy vertroue op God, omdat God al hoeveel kere aan hom bewys het dat Hy uit
enige situasie weer herstel kan bewerk.
- Verder ook die vertroue dat God mos 'n God van liefde en ordelikheid is.
Abraham het baie goed geweet dat God nie van menseoffers hou nie. Hy het dan tussen
die heidene gewoon wat menseoffers aan hulle afgode gebring het, en hy was baie goed
daarvan bewus dat God hierin 'n weersin het.
- Hy moes dus ook in hierdie saak vertroue in God gehad het.
En laat ons dit nou ook maar besef - as God Abraham een keer kon beproef, op hierdie
manier, kon God hom baie meer kere ook beproef het. Nie net vir hom nie, ook vir
ons!
Kom ons benader hierdie saak van nog 'n kant af, net ter wille daarvan om die saak van geloof
helder te stel.
- Twyfel ons aan die Here (twyfel is die teenoorgestelde van vertroue)?
- As die sonde al so in ons lewe deurgesous het dat ons alles wat God doen, bevraagteken,
dan sal ons twyfel teenoor God beleef.
- Dan sal ons teen God in opstand kom omdat God nie doen soos wat ons dink Hy moet nie.
- En dan sal ons kwaad word en weier om dit wat tussen ons en God staan, weg te vat.
Intussen is Abraham en Isak op pad na die offerplek, Moria, toe.
- Moria is die plek waarvolgens 2 Kronieke 3:1 Salomo later sy tempel gebou het.
- Op een van dieselfde berg se pieke is Jesus baie jare later gekruisig.
Toe hulle daar aankom, laat Abraham die bediendes almal alleen agter en hy gaan verder met
sy seun.
- Hy wou waarskynlik nie hê dat hulle getuies moet wees as hy sy seun doodmaak nie.
- Dit is ook waarskynlik waarom hy nie vir hulle gesê het wat die doel van sy hele sending
was nie.
Later het Isak ook vir sy pa gevra waar die dier is wat hulle gaan offer.
- Abraham het toe geantwoord: God voorsien die lam wat geoffer moet word.
- In hierdie antwoord is die diepte van Abraham se geloof.
-
- Hy het nie maar net sommer so gesê om Isak stil te maak nie.
- Hy het regtig geglo dat die Here iets sal bewerk wat die toestand sal red.
- Daarom het hy toe die kind vasgebind en op die hout laat lê met die doel om hom dood te
steek en te slag.
- Hierdie besluit van hom tel by God dat dit inderdaad gebeur het dat Abraham sy kind
geslag en geoffer het.
Luister na Hebreërs 11:17:
Deur die geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer;
ja, hy wat die beloftes ontvang het, het sy eniggeborene geoffer, (Hebreërs 11:17
AFR53)
En in vers 18 staan iets baie belangriks geskryf, naamlik dat Abraham gedink het dat God Isak
weer sou lewendig maak as hy hom geoffer het.
Vers 18:
aan wie gesê is: In Isak sal jou nageslag genoem word - want hy
het gereken dat God mag het om selfs uit die dode op te wek; (Hebreërs 11:18
AFR53)
Gemeente van die Here, hoe reageer ons op geloofsbeproewings?
- God het Abraham geseën deur sy seun se lewe te spaar.
- Die oplossing van die hele saak is juis in die offer en in die opoffering self geleë,
want die oomblik toe Abraham sy seun moes doodsteek, het God hom gekeer.
- Toe het God inderdaad 'n bok gegee wat daar staan: Iets anders wat in sy seun
se plek 'n dankbaarheidsoffer kon word.
- Dit was ook sodat Abraham God diep uit sy hart uit kon dank dat God hom so seën dat sy
geloof nie geknak het nie en sy seun nog steeds lewe.
- Die ram was die "offer-in-die-plek-van" wat aan Isak sy lewe teruggegee het.
-
- Maar eers was daar die voorwaarde dat sy pa in die beproewing van sy geloof dit wat
vir hom die dierbaarste was, moes prysgee.
- Toe was God se reaksie daarop: Nou weet Ek dat jy God vrees! Hierop het
God sy beloftes aan Abraham herhaal.
Dieselfde geld ons.
- Die kruis van Christus staan op Golgota - Hy moes alles prysgee, sodat ons wat geen
beproewing kan weerstaan nie, deur Hom van ons doodstraf verlos kan word.
- Dit is nou ook baie maklik om na die tyd te sê dat Jesus gesterf het sodat ons gered kan word, maar solank ons dan ook net besef dat dit ook juis was
omdat ons die verkeerde nie kan nie en ook nie wou prysgee nie.
Net soos Abraham, staan ons nou ook ná die tyd in die lig van Christus se beloftes.
- Die beloftes is genade en ewige lewe en volmaaktheid in die hiernamaals.
- Dit is dat ons op die nuwe aarde by God sal wees en dat ons van al ons sondes vrygespreek
is.
Laat hierdie beloftes ons beweeg om soos Abraham alles prys te gee elke keer wanneer ons
in hierdie situasie kom waar die regte en die verkeerde voor ons staan. Almal weet dat
die verkeerde dan die aanloklikste lyk, maar ons ontvang meer terug, omdat ons God kan
verheerlik met ons weerstand teen die kwaad.
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm 107:10
Die HERE sal jou seën en jou behoed;
Die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 8 Mei 2005 (oggend)