Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm
Geloofsbelydenis
Wet
Psalm
Skrifberyming
Gebed.
Psalm 2:3.
Skriflesing:
Teks: Genesis 39:
- Na sy bevordering in sy eienaar se huis het dié se vrou
na Josef gekyk en vir hom gesê: "Kom slaap by my."
- Sy het dag vir dag by Josef aangehou, maar hy het bly weier om
by haar te gaan slaap.
- Toe gryp Potifar se vrou hom aan sy klere en sê: "Kom
lê by my." Maar Josef het buitentoe gevlug, terwyl sy 'n stuk van
sy klere in haar hand bly hou.
1933AV:
- Kom hou gemeenskap met my.
- en hy na haar nie wou luister om by haar te lê om met
haar gemeenskap te hou nie,...
- Toe gryp sy hom aan sy kleed en sê: Kom hou gemeenskap
met my.
Die duiwel het met 'n knaende metode probeer om die kerk se toekoms in
'n krisis te kry. Hy het probeer om die man wat deur die Here beskik was
om as mens vir die toekoms van sy kerk voorsiening te maak, se roeping
en uitlewing van sy roeping in die spervuur te bring.
Ons kyk in hierdie preek na twee belangrike dinge:
1. Die Kerk in 'n krisis.
2. Die Here voorsien.
1. Die Kerk in 'n krisis.
Ons het nie in die eerste plek in hierdie geskiedenis te doen met 'n
seksverhaal van 'n wellustige vrou nie. Daar was iets baie groters op
die spel: dit was 'n stryd tussen die gestuurde van die Here en die mag
van die hel.
- Die Here het sy verbond Abraham en met Isak en toe weer met Jakob
opgerig.
- Die gedeelte wat ons gelees het, is 'n deel van die stryd wat
hierdie verbondsvolk teen die duiwel moes voer, en hoe die Here hulle
bewaar het.
Kom ons kyk eers na die karakters in hierdie openbaring. Dan sal u die
gebeurtenis self beter verstaan.
- Josef is die hoofkarakter.
- Opvallend in hierdie gedeelte is die refrein dat die HERE met
Josef is en hom seën.
- Die Here seën selfs vir Potifar ter wille van Josef.
Daaruit kom ons duidelik agter dat die Here 'n besondere band met Josef
gehad het, en inderdaad is dit ook so.
- Op hierdie stadium was die Here besig om Josef te gebruik om in
'n baie groter opset voorsiening te maak vir die gelowiges (die Kerk!)
van die Here.
- Om dit te kan verstaan, moet ons eers teruggaan op die spore
waarmee Josef Egipte toe gekom het, en gaan kyk hoe dit op daardie
stadium by sy ouerhuis gelyk het.
Die gevaar sy familie (die steeds groter wordende kerkvolk) gestaan
het, was dat hulle so met die heidendom deurmekaar geraak het, dat hulle
die Here kon vergeet en afsterf. Daarom het die Here voorsiening getref
dat hulle bewaar kon bly.
Die probleme van hulle geloofsvoortbestaan het daarin na vore gekom dat
die Bybel openbaar dat Jakob baie probleme met sy kinders gehad het.
- Dina het met die heidene begin deurmekaar loop.
- Die Bybel sê dat sy die dogters van die land wou leer
ken.
- Sy wou dus meer weet van hulle godsdiens en kultuur en het met
hulle begin meng.
- Die resultaat was dat een van die seuns van die heidene haar
toe leer ken het (Genesis 10:17).
- Die Here het toe die plan verhinder, maar in die optrede van
Jakob se kinders leer ons hulle oneerlikheid ken.
- Hulle was glad nie meer so gelowig as wat hulle behoort te
gewees het nie.
- Hulle sluit met hierdie heidene 'n verbond in die Naam van die
Here, maar tog gaan Simeon en Levi en moor die hele stad uit.
- As ons kyk na hulle motiewe vir die moord, het hulle hulle nie
vir hulle agterbaksheid daarop beroep dat die Here hulle opdrag gegee
het om nie met die Hewiete te meng nie (- as hulle dit maar gedoen
het!).
- Hulle motief vir die moord was die verkragting van hulle
suster.
- Dit het dus glad nie oor hulle geloof gegaan nie.
- Dit het suiwer gegaan oor hulle persoonlike emosies.
- Die ander broers is nie onskuldig nie, want hulle het toe ewe
geweteloos die stad gaan plunder.
- Ons lees verder dat Jakob se gesin afgode ook met hulle saamgedra
het.
- Voordat Jakob na Bet-el gegaan het, het hy eers sy gesin
gesuiwer van die vreemde gode wat hulle by hulle gehad het.
- Hy het dit begrawe onder die terpentynboom by Sigem (Genesis
6).
- Die neiging na onsuiwer geloof en afval van die Here af het dus
die hele tyd oor hierdie familie gehang.
- Die grootste moeilikheid het toe gekom by geloofsvermenging.
- Die seuns van Jakob was nie kieskeurig as dit by hulle
huwelikke gekom het nie.
- Die sonde van Ruben met Bilha was baie ernstiger as die een van
Sigem met Dina (Genesis 22).
- Van die ander broers het met heidense vroue getrou.
- Die Bybel vertel dat Simeon (wat Hemor en sy mense uitgeroei het)
self ook met 'n kanaänitiese vrou getrou het (Genesis 46:1).
- Juda het dit ook gedoen (Genesis 38).
- Miskien mag ons daaruit aflei dat die ander broers dit ook gedoen
het.
- Meestal sien ons Jakob se seuns in mekaar se geselsskap, maar een
keer het Juda 'n tyd lank die familie verlaat en 'n vriendskap gesluit
met Hira 'n man van Adullam.
- In die tyd toe hy daar gebly het, het hy met 'n
kanaänitiese vrou getrou. Maar luister hoe die Here dit beskryf:
- Daar het Juda vir Bat Sua, 'n Kanaänitiese meisie,
raakgeloop en met haar getrou. Hy het met haar gemeenskap gehad,...
(Genesis 38:2).
- Hoe geslaagd was hierdie huwelik met die heidense vrou? Juda het
drie kinders by haar gehad: Er, Onan en Sela.
- Er en Onan is altwee deur die Here doodgemaak omdat hulle Hom
mishaag het.
2. Die Here voorsien.
Om hierdie volk te red het die Here Josef as plekbereider vooruit
gestuur.
- In hierdie geskiedenis het ons iets van 'n voorspel van Jesus
Christus se werk waar hy plek gereedmaak om sy volk in ewigheid te kan
ontvang in sy koninkryk.
- Daarom is Josef se werk (roeping) inderdaad 'n styltipe van van
Jesus Christus se werk as Plekbereider.
Meteens is die gebeurtenis rondom Potifar se vrou nie meer net die
optrede van 'n wellustige vrou wat 'n man probeer vang nie.
- Dit is inderdaad 'n stryd tussen twee magte wat baie groter is as
ons: die magte van die hel wat sy swaard kruis met 'n onderdaan van die
koninkryk van God.
- Ons verstaan dat die Here in hierdie geskiedenis openbaar dat
elke ware gelowige se roeping deur die duiwel in die spervuur gebring
gaan word.
Josef se roeping word in hierdie gebeurtenis getoets. Dit is 'n
gebeurtenis wat baie dieselfde is as die versoeking wat die Here Jesus
na sy doop in die woestyn deurgemaak het.
- Die beginsel in altwee gevalle is dieselfde: as die duiwel die
een wat deur God gestuur is se koningsbeeld kan knak, verloor daardie
mens sy posisie as middelaar vir God se volk.
- Daarom het die duiwel probeer om Jesus te verlei om die gemak van
wêreldheerser te kies eerder as om te sterf aan die kruis.
- Die duiwel se versoeking in die Paradys was dieselfde:
- Kom hou gemeenskap met my. Waarom wil julle so diep en laag
voor God buig? Kom hou gemeenskap met my en geniet die lewe. Eet van die
vrugte wat vir julle verbied is en word soos God, want julle sal baie
kennis en vreugde hê.
- Die versoeking vir Josef was dieselfde: kom hou gemeenskap met
my. Waarom sal jy die streng reëls van die geloof toepas en die
lewe by jou laat verbygaan? Kom geniet die lewe, dit het baie vreugde
wat dit jou kan bied.
Dit bring ons by die werklike diepte van die saak waaroor dit gaan. Wat
is "gemeenskap" en wat beteken dit vir die Here?
- Vir God beteken dit: "een word met," en "totaal deel word van".
- Daarom is hierdie daad vir God die simbool van die omgang tussen
Hom en sy kerk. Dit is in 'n sekere sin profeties en 'n voorspel van ons
omgang met God in die hiernamaals. Daarom gebruik die Here hierdie
woord om die verhouding tussen Hom en mense uit te beeld.
As Potifar se vrou Josef probeer nader lok, probeer sy om hom uit sy
verhouding met God uit te lok in 'n ander verhouding in waar hy nie met
God omgaan nie.
- Baie oorvereenvoudig gestel: die wêreld probeer die kerk
(gelowiges) uit hulle roeping uittrek in 'n nuwe baan in waar hulle
hulle roeping mis en in die skande by God kom.
Wat is ons roeping as kerk vandag?
- Die Here verwag dat ons alle bande met verkeerde
dinge moet breek.
- As ons dit nie doen nie, gaan Hy ons saam met
mense wat sonde doen straf.
- Hy stel dit baie skerp in die boek Openbaring:
En ek het 'n ander stem uit die hemel hoor sê:
Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes
mag hê en van haar plae ontvang nie (...nie aan haar sondes deel
kry...) (18:4).
Dieselfde ding staan in Efesiërs 5:11 geskryf:
... en hou nie gemeenskap met die onvrugbare
werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer.
Ons moet ook nie ewe mooi bely dat ons die Here ken, en dan in ons
daaglikse lewe losgespeek raak nie:
As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die
duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie. Maar as
ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met
mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle
sonde (1 Johannes 1:6, 7).
Die opdrag is:
- Hou gemeenskap met God - maar weet dan wat dit beteken.
- Moenie met die wêreld gemeenskap hou nie, want dit beteken
doodgewoon ewige vernietiging.
Die Bybel spel die pad van gemeenskap met die Here vir ons uit:
- Ons moet in die eredienste en as gelowiges saamkom en saam bid.
- Dan het ons gemeenskap met die Vader en met sy Seun, Jesus
Christus (1 Johannes 1:3).
Natuurlik is 'n lewe waarin ons gemeenskap met die Drie-Enige God het,
nie 'n maklike lewe nie.
- Dit is 'n lewe waarin ons die volle geweld van die duiwel in
hierdie lewe sal ervaar.
- Hy het ons Here Jesus laat ly.
- Hy het Hom versoek.
- Hy het Hom baie skande en skade in hierdie lewe aangedoen.
- En dit was alles die wraak van die Satan omdat hy nie die Here
Jesus ooit kon beweeg om sonde te doen nie.
Die Bybel is daaroor baie duidelik dat ons daarop voorbereid moet wees
dat dit presies die styl van die Satan met ons is.
- Hy roep ons om met hom gemeenskap te hê. As ons dit nie
doen nie, probeer hy ons vernietig - soos dit met Josef
gebeur het.
- Toe hy nie wou nie, het Potifar se vrou hom belieg en het Josef
in die tronk beland.
Ons moet pasop dat ons nie as gelowiges aan die roepstem van die
wêreld toegee nie.
- Die wêreld bied 'n oënskynlike vreugde aan 'n mens,
maar die vreugde is baie vlak en dun.
- Die groot saak wat mens moet onthou is dat daar 'n probleem is
wanneer hierdie kortstondige vreugde verby is.
Dink nou mooi wat van Josef sou geword het as hy wel met Potifar se
vrou gemeenskap gehad het. Die vreugde van die oomblik sou maar gou
verby gewees het.
- Maar dan sou Josef enersyds die seën van die Here verloor
het,
- want die Here sou hom gestraf het.
- Andersyds sou hy die seën van die wêreld ook verloor
het.
- Iewers sou Potifar die saak agtergekom het, en dan sou hy Josef
tereggestel het.
- Baie prakties: As Josef die vreugde wat hom aangebied is, sou
gebruik, sou hy daarna vasgevang gewees het in die greep van die dood en
die ewige dood.
Die Here Jesus is deur presies hierdie oefening.
- Hy kon aan die versoeking van die duiwel toegegee het en koning
van die aarde geword het, maar dan was ons steeds verlore, en dan moes
die duiwel die plek van God inneem.
- Jesus kon baie populêr en roemryk gewees het as Hy wou,
want Hy het die mag gehad om dit te doen.
- Hy kon maklik die engele opgeroep het, en die wagte wat Hom kom
arresteer het, laat doodmaak het. Hy het ook glad nie nodig gehad om aan
die kruis te gaan sterf nie.
Tog kies Hy die pad van lyding. Dit is 'n pad van eensaamheid en 'n
pad waar Hy die haat van ander mense op sy hals haal. Maar dit is 'n pad
wat reguit is en eerlik en wat die guns van God wegdra. Dit is ons pad
ook.
Die roepstem van die wêreld is daar:
- Kom hou gemeenskap met my.
- Laat vaar jou beginsels.
- Laat vaar jou strengheid en kom leef loslyf saam met ons. Dis
lekker om jou lewe te geniet en alles daaruit te haal.
Maar dan moet u 'n paar dinge onthou:
- Die lewe saam met die Here is nie sonder vreugde en vrede nie.
Dit is net 'n anderssoortige vreugde, want dit hou vir altyd en dit dra
die seën en blydskap van God weg.
- Die vreugde wat die wêreld bied, is altyd met sonde
deurmekaar.
- Dit is 'n soort van vreugde wat kort-kort onklaar trap, want
die skepper daarvan is te kortsienig om iets blywends tot stand te
bring.
- Die dinge wat hy aanbied is altyd 'n alternatief op die
waarheid - soos Potifar se vrou met Josef: Kom hou
gemeenskap met my!
Die Here verwag van ons om deur die soort van ding te kan sien, want
die Heilige Gees bewerk juis inderdaad hierdie soort van insig in ons.
En Hy dra ons wanneer ons deur verwerping deur ander mense en alleenheid
gaan. Hy laat ons hoor wat die Here sê:
... moet ook nie met die sondes van ander gemeenskap
hê nie. Hou jou rein (1 Timoteus 5:22).
Dit is nodig dat ons deur al hierdie soort van lyding gaan, want as ons
nie gemeenskap met die lyding van die Here Jesus het nie, sal ons nooit
blydskap kan verstaan nie, en sal ons ook nie kan jubel wanneer die Here
sy heerlikheid openbaar nie (1 Petrus 4:13)
Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van
Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy
wederkoms in heerlikheid.
Dit is waarom die Here ons aan die einde van elke erediens verseker dat
Hy steeds met ons gemeenskap het deur die Heilige Gees wat by ons bly:
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van
God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees (2
Korintiërs 13:13).
Amen.
Slotgebed.
Skrifberyming 47.
Die HERE sal jou seën en jou behoed;
Die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig
wees;
Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 11 Augustus 2002