Sing vooraf: Skrifberyming
2-4:1-3 (33: 1-3)
Ons hulp is in die Naam van
die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes,
genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur
die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm
146:1, 8
Geloofsbelydenis: Apostolicum
Wet
Psalm
40:4
Gebed
Psalm 149:1, 2
Skriflesing:
Genesis 50
Teks:
Genesis 50:19c
Maar Josef het hulle geantwoord:
Moenie bevrees wees nie; want is ek in die plek van God? (Genesis 50:19
AFR53)
. . .
Is ek in die plek van God?
- Net God oordeel en straf.
- Net Hy kan en mag dit doen.
Ons
word verlos van die straf van God en kry ’n ewige toekoms
deur die bemiddeling van ons God en Here, Jesus Christus. Hy het
vooruitgegaan en maak vir ons plek gereed om ons in die ewige lewe by
Hom te ontvang.
Die
agtergrond van die gedeelte wat ons gelees het, is die volgende:
- Jakob is dood en begrawe. Na die begrafnis keer alles meteens weer
terug na normaal toe.
- Dadelik het Josef se broers voor die werklikheid gestaan dat hulle bang
was dat Josef hom dalk op hulle sou wreek oor al die kwaad wat hulle
hom aangedoen het.
- Solank as wat hulle vader geleef het, was hulle nie te bekommerd
daaroor dat Josef iets aan hulle sou doen nie, want hulle het geweet
dat hulle vader vir hulle ’n voorspraak was by Josef. En
hulle het geweet dat Josef ter wille van hulle vader geen kwaad aan
hulle sou doen nie.
Maar
nou het die omstandighede verander. Wat gaan nou met hulle gebeur?
Josef se broers was bang dat hy dalk met hulle sou doen soos wat hulle
destyds met hom gedoen het.
- Is dit nie waar dat ’n mens altyd die wraak van ander vrees
oor die onreg wat jy iemand aangedoen het nie?
- Meer nog: Vrees ons nie die wraak van die Here oor ons sondes nie? Dit
is sekerlik so dat elke mens die een of ander tyd in sy lewe wonder of
die Here hom nie sal verwerp soos wat hy die Here tydens sy lewe
verwerp het nie.
Daarom
het Josef se broers allerhande planne beraam om van sy wraak af weg te
kom. Hulle was so onder die indruk van Josef se onderkoningskap dat
hulle heeltemal bevrees geraak het.
- Hulle was te bang om self voor hom te verskyn.
- Daarom stuur hulle toe ’n gesant om met Josef te gaan praat.
Eintlik
moes hierdie gesant op Josef se gevoel gaan speel. Hulle het vir Josef
drie dinge laat weet:
- Hulle herinner hom daaraan dat hulle vader, toe hy nog gelewe het,
gesê het dat Josef hulle tog moet vergewe. Hulle oorlede
vader moes dus as ’t ware uit sy graf uit Josef se hart
sagmaak!
- Tweedens laat weet hulle dat Josef moet onthou dat hulle dieselfde God
dien ‑ die God van Jakob.
- Derdens laat hulle weet dat hulle bereid is om Josef se slawe te wees.
Hy moet net nie wraak neem op hulle nie.
Al
was hierdie gesantskap wat gestuur is hoe huigelagtig ook al, dit het
tog hulle berou en bekering bewys! Dit is iets baie belangriks wat ons
moet raaksien. Staan ons nie vanoggend in dieselfde verhouding voor die
Here as ons Nagmaal vier nie? Daar is ’n sterk trek van
ooreenkoms tussen ons en Josef se broers.
- Ons kom sit tog aan die Here se tafel as berouvolle sondaars, wat by
die Here kom smeek vir genade en met die voorneme om te bekeer waar ons
verkeerd doen.
- Toe hulle hoor dat hy hulle boodskap goed ontvang het, het hulle self
na hom toe gegaan en voor Hom neergeval. Hulle sou hom dien, as hy
hulle net sou spaar.
- Terwyl ons aan die Nagmaaltafel hoor dat God ons sondes in Jesus
Christus vergewe het, moet ons nie ook met ’n gevoel van
blywende bekering en boetvaardigheid voor God wees nie?
Die
Nagmaal gee juis die vertroue dat dit wat ons alles teen God oortree en
gesondig het, oorkom kan word. Jesus Christus het daarvoor gesterf. Hy
was die Middelaar tussen ons en God wat ons met God versoen het, omdat
Hy die straf vir die sondes wat ons van God skei, self gedra het.
Dit
is waar die Christusprediking in die gelese gedeelte inpas:
- Josef sê dat hy nie die Here is nie.
- Maar, sê hy, die Here het hom gebruik om Egipte te red.
- Hy is dus die middelaar wat deur God gestuur is.
- Meer as dit kon Josef ook nie wees nie, want die regte Messias was God
en Middelaar.
In
Josef se verduideliking sien ons die doel van God met Jesus Christus
vir ons.
- Josef moes Egipte toe om voorsiening te maak vir die groot hongersnood.
- Hy moes sorg dat die Egiptenare genoeg graan opberg sodat die volk van
God ook daardeur in die lewe gehou kon word.
- Hy moes vooruitgaan, sodat hy vir hulle ’n beskermde blyplek
kon gaan voorberei.
- Sonder die vyandskap van sy broers sou hy nooit in hierdie posisie kon
kom nie.
- Josef sien dus dat die Here sy broers se aggressie teen hom gebruik het
om redding vir sy volk te bewerk.
Dit
is asof mens al klaar van Christus praat,
- want Hy moes voosiening maak vir die groot dag van God se oordeel.
- Hy moes plek regmaak waar ons kan woon wanneer hierdie wêreld
se tyd uitgeloop het.
- Daarvoor moes Hy deur die smarte van die wêreld gaan.
- Uiteindelik word Jesus ook deur die haat van sy eie mense uit die
wêreld uitgeban.
Dit gebeur met Jesus
net baie erger as met Josef.
- Josef gaan as ’n slaaf na Egipteland toe.
- Later maak die Here – deur sy beskikking – van
Josef die onderkoning van die land, sodat hy kan regeer.
- Met Jesus gaan dit erger! Jesus moet sterf:
- Hy hang aan die kruis as ’n verwerpte tussen die hemel en die
aarde. Verwerp op die aarde, en ook nie ontvang in die hemel nie.
- Eers na sy dood vaar Hy hemel toe en neem sy plek in die hemel in aan
die regterhand van God.
In
die raad van die Here is dit so beplan dat ons sondige optrede teen die
Seun van God uiteindelik ons redding bewerk.
- Jesus oorwin die dood. Hy staan op uit die dood.
- En Hy skenk aan ons wat in Hom glo, dieselfde voorregte: Hy laat ons
ook opstaan uit die dood en lewe tot in ewigheid.
- Nie uit onsself nie, maar soos Josef se broers deur sy genade geleef
het, verwerf ons God se genade in Jesus Christus.
Terwyl
ons nou vandag weer die dood van ons Here gedenk, laat ons ootmoedig en
met ’n gesindheid wat gerig is op bekering, lewe. En laat ons
sorg dat hierdie houding by ons een van opregtheid is.
Josef
het met groot hartseer uitgeroep: Is ek in die plek van God?
- Nee hy was nie in die plek van God nie, daarom begin die volgende
hoofstuk in die Bybel vertel dat Josef se verlossingswerk nie blywend
was nie. Daar het farao’s aan bewind gekom wat Josef en sy
werk nie meer onthou net nie. Hulle het die volk toe verdruk.
- Ons verlosser is God. Daarom is sy verlossingswerk blywend.Sy genade
sal nooit van ons af weggaan nie. Laat ons dan in getrouheid en
waarheid die Here met ons hele lewe dien, want Hy verseker u nou aan sy
tafel dat Hy aan u die ewige lewe en ’n ewige blyplek gee.
Amen.
Gebed
Psalm
145:1, 2, 12
Formulier
Psalm
23:1, 3
Af tafel toe:
Tydens
Nagmaal: Psalm 116; Psalm 118
Slotgebed
Slotpsalm:
147:1, 2, 4
Die genade van die Here Jesus
Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees
bly by u almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: Nagmaal 13 November 2005
(oggend)
Lees
aan tafel:
| 1.
Johannes 14:2vv | 5. 2 Petrus 3:10-13vv | 9.
1 Tessalonisense 1:10vv |
| 2.
Openbaring 8:3vv | 6. 1 Petrus 1:4vv | 10.
Kolossense 1:5vv |
| 3. 1 Johannes
5:14vv | 7. Hebreërs 8:1vv | 11.
Filippense 3:20vv |
| 4.
Hebreërs 5:7vv | 8. Hebreërs 4:14vv | |