Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 22:1, 11
Geloofsbelydenis
Wet
Psalm 4:3
Gebed
Psalm 33:7
Skriflesing:
Haggai 1
Teks:
Haggai 1:9c
. . .
ter wille van my huis wat in puin lê, terwyl elkeen van julle vir
sy eie huis hardloop.
’n Verkeerde beskouing van God se sake kan lelike nagevolge hê.
In hierdie gedeelte lees ons van ’n volk wat verkeerd beslis het oor ’n
saak en daaroor gebuk moes gaan onder die oordeel van God.
- Hulle het geoordeel dat die tyd nog nie ryp was om God se bevel
om die tempel te bou uit te voer nie, en is swaar gestraf vir hierdie
dwaling.
- En ons kan met reg sê dat hulle oordeel hulle nog verder in
die steek gelaat het toe hulle gedink het dat die strawwe juis die
aanduiding was dat die tyd nog nie ryp was om die tempel te bou nie.
Net so kan ons ook dikwels met ons beslissings meer skade as goed doen
aan die koninkryk van God.
1. Die historiese agtergrond
2. Die konflik
3. Die simboliek van hierdie
geskiedenis
1. Die historiese agtergrond
In die jaar 537 voor Christus het ’n klein groepie Jode in
Palestina aangekom. Hulle was ballinge wat met die toestemming van
Kores die Pers teruggekeer het na die erfland wat hulle van die Here
ontvang het.
- Hulle aanvoerder was Serubbabel, ’n nakomeling van Jojagin – met
ander woorde ’n nasaat van koning Dawid.
- Saam met hulle was daar twee profete – Haggai en Sagaria.
Hierdie twee profete het al twee uitdruklik verkondig dat dit ’n opdrag
van die Here is om die tempel en Jerusalem te herbou.
- Die volk het op daardie stadium baie duidelik verstaan wat die
opdrag van die Here inhou, want hulle het dadelik begin en die
brandofferaltaar herstel.
- Hulle het ook onmiddellik die daaglikse offerkultus weer ingestel.
In die voorjaar van die volgende jaar (536) het hulle die hoeksteen van
die tempel gelê.
- Alle middele was tot hulle beskikking, want dit was ’n
uitdruklike bevel van die Persiese koning dat die herbou van die tempel
uit die staatskas betaal moes word.
- Die Jode het, uit hierdie oogpunt gesien, die minimum onkoste
gehad.
Hulle het egter uit ’n ander oord teëspoed ondervind.
- Die Samaritane het teen hulle gewerk.
- So het dit gebeur dat die tempelbou heeltemal tot ’n stilstand
gekom het tot die jaar 520. Dit was vir sestien jaar.
Dis egter nou nie iets waarteen ons ons moet vaskyk nie.
- Die groep uitverkorenes wat hier teruggekeer het, is in hierdie
geskiedenis die simbool van die kerk van die Here.
- In die boek Sagaria verwys die Here na hulle as sy uitverkorenes
wat Hy soos ’n stuk brandhout uit die vuur geruk het.
Dit is belangrik dat ons die openbaringselement in hierdie saak begryp,
want dit raak ons ook! Omdat hulle die kerk van die Here is, moes hulle
stryd en teenstand verwag het.
- Want waar die kerk van die Here is, daar is stryd!
- Die kerk en die gelowiges kan nooit sonder aanvegtinge wees nie,
want ons moet die stryd voer vir God se koninkryk.
- Ons moenie altyd so kla as ons iets oorkom nie – die kerk moet
juis allerhande dinge oorkom, sodat sy kan veg teen die aanslae van die
Satan!
In daardie tyd het Haggai en Sagaria toe gepreek en die volk aangespoor
om die tempel te herbou.
- Volgens Haggai se prediking is dit baie duidelik dat die faktore
van buite af nie so groot was dat dit die tempelbou tot ’n stilstand
moes dwing nie.
- Baie duidelik stel hy dit dat die volk ’n verkeerde siening van
sake gehad het: Hulle eerste verantwoordelikheid het hulle eie huis
geword, en nie die huis van God nie.
- Wat verder die laksheid van die volk in hierdie tyd demonstreer,
is die feit dat hulle toe van 520 af tot in Maart 515 die hele tempel
kon restoureer.
As hulle vroeër al gemotiveer was, sou dinge vir hulle baie
makliker verloop het.
Dit is die agtergrond en die geskiedenis rondom die prediking van die
profeet Haggai.
- Dit is waarom sy prediking die klem dra dat dit nou tyd raak dat
die volk dinge in die regte perspektief moet begin sien.
- Hulle moet hulle nalatigheid laat staan en begin om die tempel te
herbou.
Ons moet natuurlik besef dat hierdie opwekking van Haggai nie net vir
die volk alleen bedoel is nie.
- Dis ook gerig tot Serubbabel die aanvoerder
- en tot Josua die hoëpriester.
Want ’n volk is tot nie veel beters in staat as waartoe sy leiers hom
voer nie! Daarom word die twee manne aan die begin van die Godspraak op
hulle name genoem!
2. Die konflik
In vers 2 begin Haggai eers die dinge baie duidelik stel.
So
spreek die Here van die Leërskare: Hierdie volk sê: . . .
Hy beklemtoon dit dat hier twee verskillende standpunte in die saak
betrokke is:
- Die standpunt van God: So sê die Here van die
Leërskare . . .
- En die standpunt van die volk: Hierdie volk sê . . .
Die saak van God is dat die Here 17 jaar tevore die uitdruklike opdrag
gegee het dat die tempel herbou moet word.
- Dit het tot nou toe nog nie gebeur nie, want die volk het hulle
eie siening van sake gehad.
- Hulle het hulle eie oordeel gaan vel oor die opdrag van God.
- Hulle het ook die tyd en die uitvoering self gaan bepaal.
Dit staan baie duidelik waar daar geskryf is:
Hierdie
volk sê: Nog het die tyd nie gekom nie, die tyd dat die huis van
die Here gebou moet word nie.
Die volk was almal daar. Elkeen het hierdie dag die preek van Haggai
gehoor, want hy het dit gelewer op die feesvieringe van nuwemaansdag.
Dit was die 29ste Augustus in die jaar 520 v.C. Die hele volk was vir
die feesvieringe by die heiligdom bymekaar.
Met een sin word hulle redenasies vir hulle laksheid die grond
ingeslaan.
- Uit die geskiedenis is hulle motivering baie duidelik: Hulle het
gesê hulle het die teenkanting van die Samaritane.
- Hulle het gesê dat hulle maar min is.
- Daar het nie so baie Israeliete teruggekeer uit Babel nie.
- Hulle krag is – in getalle bereken – maar skraal.
- Hulle het verder geredeneer dat die ekonomiese toestande maar
baie swak is.
- Hulle het die laaste jare baie misoeste en droogtes beleef.
- Volgens hulle oordeel was dit heeltemal genoeg rede om God se
opdrag nie uit te voer nie!
Dan hoor ons hoe hard en skerp die Here met die volk werk.
- God bewys aan hulle dat hulle oordeel op drogredenasies berus. En
op oneerlikheid!
- Hulle lieg eintlik vir God, want hulle woon self in goeie huise
vir daardie tyd.
- Die geld en die middele is dus daar!
- Maar hulle wil dit nie vir God se huis aanwend nie!
- Hulle wil dit net vir hulleself hou!
Vers 4:
Is dit
vir julle wel tyd om self in betimmerde huise te woon, terwyl hierdie
huis in puin lê?
So word God se beslissing teenoor die van die mense gestel.
- Met snydende skerpte word hulle oordeel oor die saak as verkeerd
aangedui. God dink anders!
- Met dié vraag dui die Here aan dat die volk eintlik goed
weet wat die regte tyd is, want hulle bewys dit met hulle ywer vir
hulleself – maar hulle ywer is baie ver weg as dit by diens aan God kom!
- Die fondament van die tempel was jare tevore al gelê,
maar die ywer het ontbreek omdat die volk hulle deur verkeerde waardes
laat lei het.
3. Die simboliek van hierdie
geskiedenis
Nou moet u mooi oplet na die simboliek van al die dinge.
- Die volk van God is die kerk – die uitverkorenes.
- Hulle het wel die offers onderhou.
- Maar die uiterlike het kortgekom – die gebou waar hulle God moes
dien.
- Dié moes in stand gehou word.
- Dis hier baie duidelik dat die uiterlike vertoon van God se
kerk ook nodig is, want die kerkgebou wat die volk moes oprig, preek na
buite toe die bestaan en die instandhouding van God se ewige koninkryk.
- Dit preek die wederkoms, want dit preek die nuwe Jerusalem.
- Dis waarom hierdie volk die ou Jerusalem moes herbou.
Die saak het hier ’n dubbelde betekenis.
- Die Jerusalem wat hier herbou word, voorspel die nuwe Jerusalem
wat deur God self gebou gaan word met die wederkoms.
- Die tempelgebou simboliseer die teenwoordigheid van God, want
prakties is alles vandag nog net soos wat dit was in die tyd van
Haggai:
- Die kerkgebou is prakties die plek waar God tot sy volk spreek.
- Dis die plek waar die kerk as ’n eenheid vergader in gemeenskap
met God.
Natuurlik praat God met ons elkeen waar ons ook al alleen is:
- In ons eie gebede en in ons huisgodsdiens.
- Maar die tempel is die plek waar die eenheid van God se kerk en
sy uitverkorenes tot openbaring kom.
Daarom moes die tempel herbou word.
- Die offers wat elkeen van hulle elke dag na die altaar toe
gebring het, was nie vir God genoeg nie.
- Die Here wil hê sy volk se waardes moet reg wees. Met ander
woorde dit moet in ooreenstemming wees met die waardes van die ewige
koninkryk.
- Daarom die straf omdat Israel se oordeel hulle in die steek
gelaat het!
Vers 5 en 6 kan nie anders nie; dit moet verwys na die dinge wat die
volk die vorige 16 jaar belewe het! Die profeet herinner die volk aan
hulle rampe en teëspoed en al die ongeluk wat hulle getref het.
- Hy weet baie goed dat dit een van hulle argumente is waarom hulle
nie die tempel herbou het nie.
- Maar nou toon hy aan dat dit juis die straf was omdat hulle nie
hulle plig gedoen het nie.
Hulle oordeel oor al die ellendes was verkeerd.
- Dit was nie beskik om hulle van hulle werk te weerhou nie; dit
was juis die straf omdat hulle nie wou luister nie!
- Die resultaat van die afgelope oes was nog vars in hulle geheue.
- Hulle druiwe was so swak dat hulle nie eers vrolik en dronk
geword het van die wyn wat hulle daarvan gemaak het nie.
- Die oes was so skraal dat hulle nie kan eet tot hulle versadig
was nie.
- Die profeet laat hulle verstaan dat dit juis die karigheid
van hulle verantwoordelikheidsbesef is wat hulle laat dink dat dit die
soort van seën is wat hulle van die Here kan verwag.
- Juis omdat verantwoordelikheid en diens aan God by hulle
ontbreek het, daarom het die rampe oor hulle gekom!
Vers 7 en 8 is nou ’n oproep van God af: Kyk na wat julle wedervaar het!
Klim
op die berg en bring hout en bou die huis, dan sal Ek ’n welgevalle
hê en my verheerlik, sê die Here.
Daarmee sal die vloek van God oor hulle opgehef word.
In vers 9 sê die Here weer dat die straf was omdat hulle elkeen
gehardloop het vir sy eie huis. Elkeen was fluks om tot sy eie voordeel
dinge te doen, maar vir God was hulle traag.
Dan beskryf die Here die gevolg van hierdie preek van Haggai.
- Serubbabel en Josua, die hoëpriester, het meteens die sake
in die regte perspektief gesien.
- Hulle en die hele oorblyfsel van die volk het gehoor gegee,
só staan dit geskryf.
- Die bekering was daar!
- En hulle was meteens vervul met vrees vir die Here.
- Dadelik het hulle begin werk.
Daarmee vertel die Bybel sommer ook wat die gevolge is van bekering op
die prediking.
Ons leef nou. En elke oomblik moet ons eie oordeel beslis wat God van
ons verwag, en wat ons optrede teenoor God moet wees. Kom ons toets
onsself aan eenvoudige dingetjies:
- Kerkbesoek: Is dit nie so dat ons ook hardloop vir ons eie huis
nie? Ons is nie laat vir enige van ons sosiale afsprake nie, maar vir
die afspraak wat God met ons het, daag ons baie keer nie eers op nie.
- By ons huise staan daar dikwels voorwerpe van weelde – soms
luuksheid, selfs meer as wat ons nodig het. Terwyl sommige van ons se
kerklike bydrae die absolute minimum is wat ons kan afstaan!
Laat ons oordeel ons nie ook in die steek nie? Oordeel ons as gemeente
van die Here altyd reg oor wat die kerk van die Here is – is ons volk
van God?
- Ons is juis geroep en verkies deur die Here en Hy het ons
voorsien van die getuienis dat ons die besondere gawe van die geloof
het. Waarom is ons getuienis dan so skraps – en dikwels aan die
verkeerde kant van die waarheid? Soos byvoorbeeld dat ons onsself
gelowiges noem, maar ons verwerp groot dele van die inhoud van die
Bybel, soos byvoorbeeld die uitverkiesing!
- Pas ons die liefde toe soos God wil hê dat ons moet?
Gemeentelede: Broeder en suster in die Here, is u werklik besig om God
te dien in hierdie kerk?
- Waarom is baie van ons se geloofslewe dan so dun en oppervlakkig
ondeurdag?
- Waarom leer ’n klomp van ons nie vir ons kinders die Bybel nie –
en ken self nie die inhoud van die binneblaaie van die Bybel nie?
- Waarom bid party van ons so min?
- Waarom kan lidmate so maklik vir die kerkraad sê dat hulle
uit die kerk sal weggaan as ons hulle vermaan?
Is dit nie dalk omdat u daarmee bely dat u juis nie in die kerk behoort
nie? Verstaan u dat dit dalk net is hoe u uself blootstel, naamlik dat
u oordeel oor wat waar en wat onwaar is heeltemal van die merk af is?
Baie van ons is koud in die geloof, en koud teenoor die kerk omdat ons
waardes verkeerd is.
Onthou net, daar sal ’n dag kom wanneer u soos die hoëpriester
Josua alleen voor God sal staan. En aan u regterhand sal die Satan
staan wat God sal herinner aan al u ongeregtighede teenoor God.
Daarna
het Hy my Josua, die hoëpriester, laat sien, terwyl hy voor die
Engel van die HERE staan, en die Satan aan sy regterhand staan om hom
aan te klae (Sagaria 3:1).
Watter reg sal u dan hê as die saak blyk dat u in die lewe
gehardloop het vir u eie huis (vir u eie saak en vir die saak van
menswees), en God se huis (sy eer, wil en opdragte) in puin laat
lê het.
Jesus het as die tweede Adam voor ’n proefgebod gestaan. Hy het
duidelik die keuse gehad dat Hy sy eie menslike saak kon dien en die
kruis misloop. Hy kon hardloop vir sy eie huis (in die woorde van ons
teksvers), want Hy het baie duidelik in die versoeking van die duiwel
die moontlikheid gehad om die kruis vry te spring.
- Maar Hy het juis verkies om te sterf, sodat Hy daarmee God se
huis uit die puin kon oprig.
- Hy het ook die Heilige Gees teruggestuur, sodat ons nie meer ’n
verskoning het nie, want die Gees van God laat ons baie goed weet wat
reg is, en wat verkeerd is.
Daar is iets in Jesus se lewe en iets in ons lewe wat verband hou met
mekaar: Dis die een woord mense. Maar let op die verskil in
hantering:
- Die tyd waarin ons lewe stel mense voorop: ons besluite, ons
insigte en ons eie verwaandheid en vermoëns.
- Hierdie wêreld van ons stel ‘n baie fisiese verlossing
wat glad geen tyd oorleef nie voorop.
- In ons tyd word ons geleer dat die mens homself moet dien
en gelukkig maak
- Die Here Jesus het ook mense vooropgestel: Hulle saligheid,
verlossing en hulle ewige lewe.
- Die Here Jesus het vir mense ‘n verlossing gegee wat deur die
grense van die fisiese en die ewigheid breek.
- Die Here Jesus het niks vir Homself gedoen nie. Hy het
Homself laat martel en stukkend slaan en laat kruisig - vir
ander mense: ons.
- Hy het vir die wat Hy verlos ‘n lewe gegee wat toekoms het van
nie net voor ons voete lê nie, maar wat van ons voete af oor die
berge in die horison in tot verby die wederkoms na die ewige troon van
God toe loop.
- Al wat Jesus hiervoor eis is gehoorsaamheid, liefde en suiwer
aanbidding.
As ons lou en koud is in die diens aan God, kan ons nie verwag om die
oordeel van God te ontkom nie. Ons sal dan gestraf word, omdat
ons oordeel verkeerd was: Omdat ons beslis het dat ons sal hardloop vir
die wêreld, en daardeur liewer God en sy koninkryk teruggeskuif
het.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 39:3
Die HERE sal jou seën en jou behoed;
Die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 18 Januarie 2004 (oggend)