Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 23:1, 2
Geloofsbelydenis
Wet
Psalm 73:12
Gebed
Psalm 22:4
Skriflesing: Haggai 1
Teks: Haggai 1:13
Daarop het Haggai, die boodskapper van die HERE, kragtens die boodskap van die HERE, met die volk gespreek en gesê: Ek is met julle, spreek die HERE (Haggai 1:13 AFR53).
Ons ervaar gewoonlik die swaarkry wat oor ons kom, as baie negatief. Dalk is dit nodig dat ons weer kyk na die doel waarvoor die Here swaarkry oor mense gebruik.
- Die Here gebruik negatiewe dinge soos swaarkry en lyding baie positief in gelowiges se lewens. Aan die begin ervaar hulle dit nie so nie, maar later is die resultaat daarvan altyd baie baie goed.
- Die Here het byvoorbeeld in Haggai se tyd allerhande vorms van swaarkry en hartseer in mense se lewens gebruik om hulle in die kring van sy liefde te laat inbeweeg.
Kom ons gaan ondersoek hierdie stuk openbaringsgeskiedenis vanuit die volgende twee gesigspunte:
1. Die Here en die (heiden)volke van die wêreld
2. Die Here en die leiers van die (gelowige) volk
1. Die Here en die (heiden)volke van die wêreld
Om hierdie gedeelte in die Bybel behoorlik te kan verstaan moet ons eers gaan kyk na die praktiese lewe soos wat dit in die alledaagse geskiedenis afgespeel het in Haggai se tyd.
- Ons weet bitter min Haggai.
-
- Ons weet net dat hy en die profeet Sagaria tydgenote is.
- Die Bybel vermeld van Sagaria spesiaal dat hy uit die priesterlike geslag is, maar van Haggai word net gesê dat hy ’n profeet is.
- In hulle twee se tyd was Josua/Jesua (AFR83) die eerste hoëpriester van die herstelde Israel.
- Ons weet nie hoe en waar die Here Haggai geroep het nie.
-
- Maar ons vermoed dat hy al baie oud was toe hy hierdie profesie aan die volk voorgedra het.
- Die vermoede is gegrond op iets wat hy sê in hoofstuk 2:3:
-
- Hy praat daar op so ’n manier van die tempel van Salomo dat dit lyk asof hy die tempel self nog geken het.
- Hy het met ander woorde die tempel gesien voordat dit ongeveer 70 jaar tevore vernietig is.
Dit beteken iets dat ons sy ouderdom in ag neem, want daaruit is dit duidelik dat hy sy volk se hele geskiedenis saam met hulle deurgemaak het – godsdiensgeskiedenis sowel as die alledaagse geskiedenis.
- Hy kan dus baie goed oordeel oor alles wat hulle reg gedoen het en oor alles wat hulle verkeerd gedoen het.
- Die bejaarde persone wat in ons tyd dikwels so verstote voel, kan hieruit leer dat die Here hulle wysheid en lewensinsig hoog waardeer en goed gebruik in die lewe van die gelowiges.
Saam met die insig in die besondere plek wat Haggai in die geloofsgeskiedenis van Israel inneem, moet ons verder kyk na die verhouding tussen die Here en die heidenvolke in al hierdie gebeurtenisse.
- Babilonië en sy regeerders, die land waarin die Jode (Esegiël, Daniël e.a.) as ballinge gewoon het, is in die jaar 539 v.C. deur Kores verower.
- Nou was dit nie meer die Babiloniese ryk nie – dit het nou die Persiese ryk geword.
- Kores, die nuwe koning, staan ook bekend as Cyrus.
-
- Hy het nie in die Here geglo nie, en was ’n heiden.
- Tog het die Here hierdie man gebruik om sy genade oor die uitverkore volk te bevestig.
Nadat Kores een jaar aan bewind was in Babel (in die jaar 538), het hy die Jode toestemming gegee om na hulle land toe terug te gaan.
- Dit moes ’n besluit gewees het wat die volke van sy tyd geweldig geskok het, want dit was ’n totaal revolusionêre besluit.
- Dit was nie net revolusionêr omdat aan ’n slawevolk hulle vryheid gegee is nie, maar ook omdat dit aan die Joodse volk die reg gegee het om hulle eie godsdiens te mag beoefen.
Mens sou nou dink dat die Jode oor hulle voete sou val om terug te gaan na hulle land toe, maar dit was nie so nie. Die Jode het nie haastig op hierdie besluit gereageer nie.
- Hulle het eers ’n jaar later – in die jaar 537 v.C. – begin teruggaan na die land van hulle voorouers toe.
- U moet onthou dat hulle Palestina net deur oorlewering geken het, want almal van hulle wat jonger as 70 jaar oud was, is in Babilonië gebore.
-
- Hulle het Palestina nog nooit gesien nie.
- Hulle het maar by mense soos Esegiël en Daniël en Haggai gehoor hoe die land van hulle voorouers lyk.
Na ’n jaar het daar twee leiers na vore gekom wat die Jode georganiseer het – Serubabel en Esra.
- Ons ken Serubbabel ook nog onder ’n ander naam: Sesbassar (Esra 1:8). Serubabel en Esra het ’n groep van ongeveer 55 000 mense bymekaargemaak en die reis na Palestina aangepak.
Die klomp was vol moed en het ook inderdaad, toe hulle in die land aankom, dadelik gaan kyk waar die tempelterrein was, en die brandofferaltaar herstel.
- Die volk het hulle geloofserns gewys deur weer die daaglikse offerkultus in te stel.
- In hierdie tyd het Esra ook al die hoeksteen van die tempel gelê. Dit was alles afgehandel in die voorjaar van 536 v. C. Toe steek alles vas, want die volk het hulle vasgeloop teen die weerstand van die Samaritane.
Nou moet ons die saak ontleed en kyk hoeveel geloofsenergie die volk in hierdie poging tot herstel van hulle godsdiens en hulle volk ingesit het.
- Dan kom mens op die skokkende feite af dat die volk self net die energie ingesit het waaruit hulle self voordeel kon trek.
- Meer as dit wou hulle nie doen nie.
-
- Miskien moet ons die vraag vra of hulle geloof opreg genoeg was dat hulle meer kon doen (?!), want die altaar wat hulle herstel het, was op aanbeveling van ’n heidense koning. En nog met sy geld ook!
- Solank as wat hulle godsdiens aan geen toets onderwerp was nie, het hulle die vlag hoog gehou, maar die oomblik toe hulle op politieke gebied weerstand van die Samaritane kry, toe vou hulle godsdiens op.
-
- Dit was so erg dat die Jode tot die jaar 520 v.C. niks verder gebou het nie. Alles het solied vasgesteek. Dit is ’n tydperk van ongeveer 16 jaar.
Hoeveel droefheid moes die Here nie beleef het oor hierdie volk van Hom wat eers vir die wêreld gekyk het voordat hulle kans gesien het om Hom te vereer nie?
- Tog bly sy liefde by hierdie volk.
- In die Persiese ryk het die Here Kores in die jaar 529 v.C. weggeneem en in sy plek het Kambuses koning geword.
-
- Hy was die Jode ook goedgesind in die sin dat die vergunning steeds gestaan het dat hulle die tempel en die stad moet herbou.
- In die jaar 521 v.C. word hierdie man deur die Here se wil vervang met ’n ander heidense koning wie se naam Darius was.
- Darius moes in die begin van sy regering eers ’n paar opstande onderdruk wat onder sy voorganger se regering al begin het, maar in die jaar 520 v.C. was alles in die ryk weer rustig en onder beheer.
- Toe beskik die Here dit so dat Darius besondere aandag aan die Jode gee.
-
- Hy het hulle aangemoedig om tog hulle tempel en hulle stad te herbou.
- Hy het sover gegaan dat hy toestemming gegee het dat die tempel herbou is met ondersteuning uit die staatskas.
2. Die Here en die leiers van die (gelowige) volk
Kyk net hoe groot is die liefde van die Here! Toe die uitverkore volk van die Here te swak of te sleg was om Hom te dien soos wat Hy van hulle gevra het, het die Here ’n heiden gestuur om hulle feitlik te dwing om dit te doen. Toe kon hulle darem die werk voltooi in die maand Maart van die jaar 515 v.C.
Dit lyk nou na ’n verhaal wat uiterlik so mooi geëindig het. Alles is mos nou reg, waaroor sal daar enige bekommernis wees? Kom ons gaan kyk eers na die binnewerke van hierdie stuk geskiedenis.
- Dan kom ons agter dat hierdie volk baie traag en onverantwoordelik in hulle geloofslewe was.
- Die Here het die volste rede gehad om hulle doodgewoon uit te delg sodat hulle nie meer bestaan het nie.
- Maar Hy het dit nie gedoen nie. Hy het met hulle aangehou werk totdat hulle sy liefde leer ken het.
- En – dit is belangrik – in hierdie proses het Hy swaarkry en lyding oor die volk laat kom as ’n middel om hulle uit hulle ongeloof en swakheid en onverantwoordelikheid te gaan uithaal.
Kyk hoe het die saak tussen die Here en die uitverkore volk verloop:
- Die volk het oor jare al hoe meer vrysinnig en ongelowig geword.
- Na jare se waarskuwings deur verskillende profete kom daar geen bekering nie.
Dan kom die oorlog met die Babiloniërs en die Ballingskap. Dit is swaarkry en lyding.
- Het u al gedink hoeveel vrouens se mans en kinders in hierdie oorlog doodgemaak is, en hulle het nie eers geweet wat van hulle geliefdes se liggame geword het nie.
- Dan praat ons nie eers van die honger en dors en al die mishandeling wat oor dié gekom het wat Babel toe aangejaag is nie.
In Babel gebeur daar ’n soort van ’n uitsorteringsproses.
- Die ongelowige Jode gaan heeltemal in die Babiloniërs op.
-
- Uiteindelik het daardie groep na baie jare ook weggeraak omdat hulle in die ander volke ingetrou het en deur daardie volke geabsorbeer is.
- Teenoor hulle was daar ’n ander groep wat in hierdie tyd liewer swaargekry het maar hulle eie geloof en karakter behou het.
-
- Dit was baie bitter tye vir daardie mense. Ons lees dat hulle hulle siters aan die wilgerbome daar langs die rivier in Babel opgehang het en vir mekaar gesê het dat hulle nie die Here se psalms daar in die vreemde kan sing nie.
- Hulle was dus geestelik geweldig ontsteld.
Toe kom sommiges van hulle terug – nie na ’n land wat oorloop van melk en heuning nie, maar na ashope en ruïnes toe.
- Hier moet hulle weer ’n volk herbou, en moet hulle ’n land herbou.
- Die toestande het tot moedeloosheid gelei, want alle soorte teëspoed tref hulle.
-
- Die plaaslike inwoners val hulle aan en dreig hulle met die dood. Hulle kan nie eers in die nag gerus slaap nie; daar moet altyd wagte uitgesit word.
- Bedags moet hulle in lewensgevaar boumateriaal buitekant die stad gaan haal.
- Hulle moet selfs wanneer hulle bou, hulle wapens by hulle hê.
- Hierdie mense het regtig baie spanning gedra. Swaarkry staan in groot letters oor hulle lewens geskryf.
In hulleself was daar nog meer pyn, want die profete het hulle altyddeur loop en verwyt dat hulle die pyn en lyding verdien, want hulle het dit oor hulleself gebring.
- Haggai sê duidelik en reguit vir hulle dat hulle die bouery nie klaarkry nie omdat die slapheid in hulleself lê.
-
- Hulle het nie meer die regte ywer vir die Here nie. Hulle glo maar so effens na buitekant toe, want hulle hou darem die môre- en die aandoffer. Maar dit is ook al.
Daar is vandag ook mense wat glo dat jy met jou geloofsoortuigings maar ’n lae profiel moet hou, want netnou maak jy ander mense kwaad. En dan kan hulle – net soos hierdie Jode – nie verstaan waarom daar so baie hartseer oor hulle kom nie.
Kyk nou net hoe groot is die Here se liefde. Hy roep hierdie baie ou man nader om weer die regte ywer by die volk te laat wakker word.
- Haggai (en saam met hom Sagaria) spoor die volk aan om weer te begin werk vir die Here.
- Hulle plaas die straf van die Here oor die volk in perspektief:
-
- Die straf is om hulle daaraan te herinner dat die Here hulle nog liefhet.
- Hy sal hulle aanhou uitlewer aan dinge wat onplesierig is, totdat hulle besef dat die genade van die Here baie heerliker is as die trane en hartseer van sy straf.
- Dan sal daar bekering kom en sal die Here sy liefde oor hulle oopvou.
Dit is ook mos ons teksvers (Haggai 1: 13):
Daarop het Haggai, die boodskapper van die HERE, kragtens die boodskap van die HERE, met die volk gespreek en gesê: Ek is met julle, spreek die HERE.
Dit is die belangrike ding: In hulle hartseer hoor hulle die Here se woorde:
Ek is met julle, sê die Here!
Die oorsaak van al die ellendes lê by hulleself. Die hele volk is betrokke – die leiers ingesluit. Dit was tye van verandering:
• Ten tye van die profesie van Haggai was die nuwe heidense regering nog maar net twee jaar in die stoel.
• Die volk word sterk geroskam, want die profeet wys hulle daarop dat hulle nie werklik ’n verskoning het vir hulle slapheid teenoor die Here nie, want hulle het in die tussentyd gesorg dat hulle eie welvaart so goed as moontlik gevestig word (Haggai 1:3, 4).
Hierdie vermaning beteken vir ons baie, want daarmee openbaar die Here dat baie van ons verskonings waardeloos is, omdat die klem in ons lewe verkeerd lê.
- Dit is waarom die Gees van die Here Haggai lei om die volk weer te laat dink oor hulle geskiedenis: Honger, dors, droogte en koue was deel van hulle lewe.
- Hulle moet daaraan dink:
-
- Waarom was al die swaarkry vir amper 100 jaar saam met hulle?
- Waarom het al hulle verwagtinge elke keer skipbreuk gely?
Lees vers 6 en 7 en 9 tot 11:
. . . julle het baie gesaai, maar min ingebring; julle het geëet, maar nie tot versadiging nie; julle het gedrink, maar nie genoeg gekry nie; julle het jul geklee, maar nie warm geword nie; en wie hom vir loon verhuur, verhuur hom om dit in ’n stukkende beurs te steek. So sê die HERE van die leërskare: Gee ag op wat julle wedervaar het! (Haggai 1:6-7 AFR53)
Julle het uitgesien na baie, en kyk, dit het min geword; en julle het dit in die huis gebring, maar Ek het dit weggeblaas. Waarom? spreek die HERE van die leërskare. Ter wille van my huis wat in puin lê, terwyl elkeen van julle vir sy eie huis hardloop. Daarom het die hemel bo julle die dou ingehou en die aarde het sy opbrings teruggehou. En Ek het droogte oor die land geroep en oor die berge en oor die koring en oor die mos en oor die olie en oor alles wat die grond oplewer; en oor die mense en oor die diere en oor alle arbeid van die hande. (Haggai 1:9-11 AFR53)
In vers 8 maak die Here ’n belofte: As sy volk die tempel herbou, met ander woorde hulle godsdiens opknap en Hom van harte dien soos wat Hy dit verlang, dan sal die Here sy seën vir hulle gee.
Wat gebeur nou? Die mense besef twee dinge tegelykertyd:
- Hulle besef die grootheid van die Here se genade
- en hulle verstaan die plek wat swaarkry in hulle lewens ingeneem het.
Al die swaarkry was om hulle terug te lei na die Here se liefde toe.
Die volk luister toe. Die Bybel openbaar dat die diepste grond vir hulle bekering geleë was in die feit dat die volk die Here gevrees het.
- Die woord vrees beteken nie hier iets soos angs nie.
- Dit beteken dat hulle die vermaning van die Here gelowig aangeneem het, en dat hulle tot bekering gekom het.
- Die vrees hou in dat hulle met skok besef het dat dit nog swaarder met hulle kan gaan as hulle nie hulle saak met die Here regmaak nie.
- Verder beteken dit dat hulle met eerbied vervuld geraak het vir God in sy hoë majesteit, en dat hulle in hulleself besef het dat hulle voortaan sy wil wil doen.
Die Heilige Gees het almal meteens in beweging gebring.
- Serubbabel die goewerneur, Josua/Jesua (AFR83) die hoëpriester en saam met hulle die hele volk. Dit was nie net ’n bekering van woorde nie.
- Dit was ’n bekering van daad. Hulle het op die daad aan die werk gespring om die tempel te voltooi.
Wat in hierdie stuk geskiedenis opval, is dat die Here Homself elke keer met die Naam JHWH noem.
- Dit is sy verbondsnaam.
- Hierdie naam onthou elke keer die Here se liefde vir sy uitverkorenes – al is hulle hoe verkeerd en hoe ver verdwaald.
- Die Here openbaar hier hoeveel liefde daar selfs in sy straf oor mense opgesluit lê – Hy straf tot bekering.
Dit laat ons met hierdie ernstige vraag: Waarom? Waarom verdelg die Here nie die mense nie. Hy het ’n klomp sondige Jode weggevoer na Babilonië toe en Hy het net so ’n sondige klomp weer teruggebring om Hom te kom dien. Hoekom?
- Omdat Hy in sy raad die doodstraf oor hulle – en alle gelowiges se sondes – toegeskryf het aan iemand anders – sy Seun Jesus Christus.
- Ons weet almal dat die Heilige Gees eers uitgestort is na die hemelvaart van ons Here.
- Maar ons moet besef dat die kruisiging en die effek daarvan so kragtig was dat dit vooruit al veranderinge in mense se harte kon bewerk – of soos wat dit hier in die Bybel geskryf staan: . . . die gees van . . . opgewek (Haggai 1:14).
- Die Gees van die Here gaan soek almal op vir wie se sondes deur Jesus betaal is.
- Hy wek hulle gees op tot bekering en terugkeer uit hulle sondes uit na die heerlikheid van die Here toe – al moet Hy oorlog gebruik, of politieke spanning, of droogte.
Daarom is dit so belangrik dat ons diep kyk na die betekenis van hierdie stuk geskiedenis, want dit het ’n besondere aanspraak op ons.
- Die Here leer nie hier dat daar nooit ellendes oor gelowiges kom nie.
- Hy openbaar wel dat Hy daar sal wees vir ons en dat Hy sal seën die oomblik as ons tot bekering kom.
- Die Here se liefde en die werking van sy Heilige Gees sal altyd by ons bly.
- Die Here kies nie vandag mense uit, en môre verstoot Hy hulle weer nie. Sy liefde bly vir altyd en konstant by sulke mense.
- Wat Hy wel doen, is om hulle, as hulle sondig, terug te tug in sy liefde in.
Almal van ons kry hierdie tye wanneer dit vir jou lyk asof daar nou net nie meer een enkele ding oorgebly het wat nog reg is nie.
- Dit kan baie moontlik beproewinge wees waarmee die Here die sterkte van jou geloof wil toets.
- Maar hou tog ook net daarmee rekening dat dit die Here se hand van liefde kan wees wat jou wil terugbeweeg in sy genade in.
Amen
Slotgebed.
Slotpsalm 9:1, 7
Die HERE sal jou seën en jou behoed;
Die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 25 Januarie 2004 (oggend)