Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 72:11
Geloofsbelydenis
Wet
Psalm 90:9
Gebed
Psalm 73:10
Skriflesing:
Haggai 2
Teks:
Haggai 2:9
Die
toekomstige heerlikheid van hierdie huis sal groter wees as die vroeëre.
Waar gaan die Here met ons heen?
- Die volk het in Haggai se tyd baie sterk die oordeel van die Here
gehoor as hulle van die pad af wegdraai wat Hy aanwys.
- Maar hulle is ook deur die Here getroos dat Hy hulle God sal bly.
Daarom die vraag: Waar eindig die Here met ons op die dag van die
wederkoms as ons aan Hom gehoorsaam is?
Die dag wanneer die Here Jesus weer kom, is in ’n sekere sin ’n
vervullingsdag. Ons kan sê dat die wankelbare dinge van hierdie wêreld
op daardie dag verbygegaan het.
- Op daardie dag gaan ons Verlosser se vaste oorwinning oor die
dood, en alles wat in lyn daarmee lê, oor in die oprigting van sy ewige
en volmaakte.
- Dan verstaan ons eers wat die Here Jesus gedoen het toe Hy die
toekomstige koninkryk van God vir ons ’n werklikheid gemaak het.
In die gedeelte wat uit Haggai gelees is, sien ons ’n baie moedelose
Israelitiese volk.
Dan kom die Here na hulle toe, en praat hulle weer moed in.
- Hulle moet die tempel herbou – hulle moet net weer fisies aan die
werk kom vir die Here.
- Hierdie herboude tempel is vir hulle die simbool van die
werklikheid van God se beloftes vir hulle toekoms.
Hulle verantwoordelikheid word nie deur hierdie belofte tot niet gemaak
nie.
- Niks gaan uit die lug val nie.
- Die Here se opdrag is dat hulle moet hard werk en moed hou, want
Hy is met hulle.
Hierdie woorde gryp terug na ’n belofte wat baie eeue oud was, want by
Sinaï het die Here met hulle ’n verbond gesluit en gesê:
Julle is My volk en Ek is julle God.
Daar het hulle ook ’n teken ontvang dat die Here onder hulle woon omdat
hulle sy volk is.
- Die tabernakel van die Here is tussen hulle opgeslaan.
- Later, nadat hulle al in die beloofde land ingetrek het, was die
tabernakel se tyd verby, en het die tempel die simbool geword van God
se teenwoordigheid.
Intussen het die volk se godsdiens ook versleg, en hulle het ’n simbool
daarvan ontvang:
- Hulle tempel is verwoes en hulle is weggevoer na Babel.
- Die simbool van God se inwoning is vernietig.
Dis in hierdie toestand wat ons die volk aantref in hulle eertydse
hoofstad.
- Hulle het met ontsetting uitgevind dat hulle in ’n wêreld leef
waar daar niks vasstaan nie. Alles beweeg.
- Van hulle eertydse hoofstad is niks oor nie. Koninkryke het
intussen gekom en gegaan.
Maar dan die troos: Die Here is weer by hulle!
- Die bewys daarvan is dat die tempel herbou gaan word.
- Die tempel het egter die betekenis verloor wat die vroeër gehad
het.
- Nou het dit ’n profesie geword wat vervul sou word.
- Dit word die teken van ’n nuwe koninkryk waar dinge nie weer so
veranderlik en onstabiel gaan wees nie.
- In die heel verste sien dit op die koninkryk in die hiernamaals.
Daarom sê die Here in vers 5:
My
Gees sal met julle bly, wees nie bevrees nie.
Die Here verseker daarmee sy persoonlike sorg oor sy mense.
- Hy sal hulle lei en regeer met sy Gees.
- Vir die klompie Jode wat daar tussen Jerusalem se murasies gesit
het, het dit die belofte ingehou dat die Here met sy Gees aan hulle die
krag en besieling sal gee om die tempel te berbou.
Die profesie loop op na ’n klimaks toe.
- Voordat hierdie nuwe koninkryk van God kom, gaan die Here eers
die huidige hemel en aarde skud.
- Alles wat aards is, gaan geskud word totdat dit val.
- Dan kom daar ’n nuwe skepping – ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde.
- Hierdie tempel wat hulle moet bou, is die simbool van daardie
dinge.
- Soos wat die afgebreekte tempel nuut herbou word, so sal God na
die ou aarde ’n nuwe tot stand bring.
Ons weet dat hierdie herskepping sy waarborg het in die dood en in die
opstanding van die Here Jesus Christus.
- Daarom het ons ook iets van die tekens gesien die dag van die
kruisiging toe daar ook ’n aardbewing was en die rotse geskeur het, en
dooies opgestaan het uit die grafte.
- Helder oordag het die son sy vermoë verloor om lig op die aarde
te skyn.
In vers 22 gee die Here nog verdere toeligting op die gebeure wat die
heilsryk van die Messias sal voorafgaan:
En Ek
sal die koningstrone omverwerp, en die mag van die heidense koninkryke
verdelg.
Die Here voorspel dus dat die wêreld onstabiel gaan raak – wat
inderdaad ook die direkte gevolg van die kruiswerk van die Here Jesus
is.
- Dit is waarom die een koninkryk na die ander opstaan en weer val.
- Die Here neem elke keer die troon van hulle af weg, want hulle is
heidennasies wat in hulle magsvertoon nie teen God se regering kan
standhou nie.
Kyk na die genade wat hierin geopenbaar word: Die ongelowiges sal nooit
in der ewigheid ’n mag op die aarde kan vestig wat blywend sal wees
nie.
- Die genade is juis dat Jesus gesterf en opgestaan het sodat die
mag van die wêreld voortdurend sal verbrokkel totdat die koninkryk van
God finaal kom en gevestig word met die wederkoms.
- Sy kruisiging was die begin van die versplintering van alle mag
wat hom teen God probeer verhef, omdat Jesus se dood die beslissende
oorwinning oor die duiwel en sy ryk was.
- Die kruisiging van die Here Jesus was sodat Hy met sy dood die
koms van ’n onwankelbare koninkryk kon waarborg.
- ’n Koninkryk waar God Almagtig in ewige vrede heers.
- ’n Koninkryk wat nooit sal wankel nie.
Ons is dikwels gespanne en wanneer ons oor die toekoms praat, doen ons
dit dikwels met ’n donker gemoed. Ons sê ook dat alles vir ons so
verkeerd lyk. Maar dit moet juis so wees!
- Ons wêreld beleef tans in die natuur uiterstes in droogte en
oorstromings, en in die mensewêreld beleef ons oraloor opstande en
terreur.
- Die feit dat die wêreld in hierdie toestand is, bewys dat die
ingrype van God oor die wêreld in vervulling gaan.
- Daarmee sê God dat die oorwinning wat Jesus met sy kruisiging
en opstanding behaal het, nou besig is om finaal oor die wêreld in
vervulling te gaan.
- Wanneer die Here Jesus op die wolke verskyn, gaan Hy alle volke
se mag en gesag van hulle af wegneem, want in die koninkryk van God is
daar net plek vir een troon.
- Die Here Jesus regeer reeds van die troon van God af: Hy is nou
besig om die koms van die koninkryk van God finaal te vestig volgens sy
beloftes.
Dis ook waarin die rykdom van die kruisiging lê.
- Die kruisiging was sodat die Here Jesus ons straf voor God gedra
het, dat ons nie saam met die wêreld in sy wankelmoedigheid voor die
toorn van God ineenstort nie.
- Die kruisiging van die Here Jesus was sodat ons deel kan wees van
hulle wat op die nuwe aarde kan aanbid.
Haggai leer dat God onder sy volk kom woon. Dit klink dan onmoontlik,
want ons is almal sterflik en sondig, hoe kan God wat ewig lewe onder
ons kom woon?
- Weereens deur die kruisiging, want deur die kruisiging het dit
moontlik geword dat Jesus vir ons die dood oorwin het.
- Anders gestel: Hy het aan ons die ewige lewe gegee, sodat ons wel
tot in ewigheid by God mag lewe as Hy by ons woon.
- Die kruisiging het die beloftes van God se inwoning onder ons
verder waar gemaak omdat die Heilige Gees oor die kerk uitgestort is.
- So naby is God aan ons dat Hy ons met sy Gees regeer om in die
ware geloof te volhard en ons uit te strek na die ewige lewe by Hom.
Op die dag van die wederkoms bereik die genade en versoening van God sy
hoogste vervulling.
- Genade omdat God se verlossingsbeloftes toe ’n werklikheid geword
het in die kruisdood van Jesus Christus, want met sy dood het Hy die
toorn van God oor ons sondes gedra sodat ons nie in die oordeel
vernietig sou word nie.
- Genade omdat sy dood ons van die dood verlos het.
Die betekenis van die kruisdood staan skerp as ons na Haggai se woorde
luister: Die toekomstige heerlikheid van hierdie huis sal groter wees
as die vroeëre.
- Nie net omdat Christus daarin is nie.
- Ook omdat die nuwe tempel en sy inwoners deur die bloed van
Christus herskep word tot volmaaktheid.
- En ook herskep word tot ’n tempel en ’n volk waar God woon en
regeer.
Ons het deur die kruisdood ’n koninklike priesterdom geword wat die
wederkoms van ons Verlosser inwag.
- Die tweede keer kom die Here Jesus Christus nie weer om te sterf
sodat ons kan lewe, soos die eerste keer nie.
- Die tweede keer kom Hy om te oordeel.
- Die tweede keer kom die Here Jesus Christus om die wat sy dood
gelowig aanvaar het, tot verlossing in sy onwankelbare koninkryk op te
neem.
- Die tweede keer kom die Here Jesus Christus om die wat nie hulle
verlossing deur sy dood en opstanding verwag het nie, te verdelg sodat
hulle geen aandeel in sy ewige koninkryk sal hê nie.
Dit laat ons verstaan waarom die apostel Petrus ons nie net ’n
koninklike priesterdom noem nie, maar terselfdertyd ook ’n heilige volk
(1 Petrus 2:9).
- Ons word dit alles omdat die Here vir ons gekruisig is, en die
skuldbrief van ons sondes aan sy kruis vasgeslaan was – so stel Paulus
dit.
- Hy het gesterf sodat ons in heilige volmaaktheid kan lewe tot in
ewigheid.
Amen.
Slotgebed
Skrifberyming 9:1, 5
Aflegging van belydenis van geloof – Yvonne Louw
Psalm 134:4
Die HERE sal jou seën en jou behoed;
Die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 1 Februarie 2004 (oggend)