Sing vooraf: 146:1, 3, 8.
Ons begin hierdie ontmoeting met God deur openlik teenoor
mekaar en teenoor God te verklaar:
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige
werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 145:1, 2.
Geloofsbelydenis: Apostolicum
Na die wet bely ons voor God ons sondeskuld en bid vir
vergewing van ons sondes met Ps. 40:4.
Wet
Psalm 40:4
Gebed.
Psalm 150:1
Skriflesing: Handelinge 18.
Teks: Handelinge
18:10
…want Ek is met jou, en niemand sal die hand aan jou slaan
om jou kwaad aan te doen nie, want Ek het baie mense in hierdie stad. (Handelinge
18:10 AFR53)
Een van die dinge wat met Nagmaal gebeur, is dat die Here ons versterk om elke dag van ons lewe
in ons geloofstryd te kan aanhou volhard.
In die gedeelte in Handelinge 18 het ons 'n voorbeeld van praktiese geloofstryd en die Here se
beskerming oor so 'n gelowige wat die Here van harte dien.
Ons gee aan die saak aandag uit drie verskillende gesigspunte:
1. Korinte en sy mense.
2. Paulus se prediking.
3. Die Here se voorsiening.
1. Korinte en sy mense.
Korinte is in een opsig eintlik 'n baie ou stad, maar in 'n ander opsig was Korinte in Paulua
se tyd weer 'n jong stad.
- Dis 'n ou stad omdat dit al in die klassieke tyd van Griekeland bekend was, maar die stad
is in die jaar 146 v.C. totaal verwoes. Al wat daarvan oorgebly het was 'n groot puinhoop.
- In die jaar 44 n.C. het Caesar die stad egter weer herbou.
-
- Hy het 'n paar goeie redes gehad om dit te doen, want daar was 'n goeie hawe, en hy
moes iewers in Griekeland nog 'n plek hê waar hy Romeinse garnisoene kon vestig, net vir
ingeval daar in daardie gebied 'n opstand teen sy regering mag kom.
- Daarom het hy die "nuwe" dorpie bevolk met Romeinse koloniste.
Dit beteken dat daar in Korinte mense van alle volke en van alle soorte heidense
godsdienste gebly het.
- Onder andere was Afrodite, die godin van die liefde daar aanbid.
- Dit was een van die stede wat die swakste sedes gehad het van daardie tyd.
- Van die besigheidskant af gesien, was dit 'n lewendige stad, want daar was baie lewe en
baie werk, 'n klomp handelspaaie wat ook 'n lewendige geldmark tot gevolg gehad het.
Soos wat Paulus maar op elke plek maak, doen hy ook hier: Hy gaan soek sy eerste kontak
met die Jode.
- Hy loop toe 'n Jood raak wat dieselfde beroep het as hy, en dadelik begin die twee saam
werk. Paulus het sommer by hulle gebly ook, want daardie dae was jou werkplek en jou blyplek
meestal dieselfde plek.
- As mens enige afleidings uit die Jood se naam kan maak, lyk dit of hy (of ten minste sy
ouers) nie te vas aan die Joodse geloof gewees het nie, want hy het 'n Latynse naam:Akwilla.
-
- Hy is ook in die Romeinse provinsie Pontus, in die noorde van Klein-Asië, gebore.
- Sy vrou het ook 'n Latynse naam. Haar naam is Prisca. Paulus noem haar die meeste van
die kere op 'n verkleiningsvorm van haar naam:Priscilla.
Akwila en Priscilla was twee merkwaardige mense want hulle name kom 'n hele paar keer in
die Nuwe Testament voor in verband met die uitbreiding van die kerk van die Here.
- Hulle was blykbaar lief om te trek, want elke keer as ons van hulle lees, bly hulle op 'n
ander plek, en dan het hulle 'n huisgemeente rondom hulle bymekaargemaak (Handelinge 18:26;
Romeine 16:3 - 5; 1 Kor. 16:19; 2 Timoteus 4:19).
2. Paulus se prediking.
Deur die week het Paulus saam met Akwila tente gemaak en allerhande leerwerk gedoen.
- Maar elke Sabbat was hy in die sinagoge.
- Hier het hy met die mense geredeneer en hulle probeer oorhaal tot die geloof in Jesus
Christus.
- Paulus het dus aangehou werk en preek sonder om een enkele dag van die week te rus.
Toe Silas en Timoteus van Macedonië af kom, het die saak verander.
- Hulle twee het blykbaar gaan werk vir 'n inkomste, sodat Paulus elke dag van die week kon
sinagoge toe gaan en mense probeer oortuig van die evangelie van Jesus Christus.
- Enkeles van die Korintiërs het wel tot bekering gekom, soos bv. Crispus, die hoof van die
sinagoge.
- Maar die meerderheid van die mense in die sinagoge het gelaster teen Paulus se prediking.
Dis nie uit die oorspronklike teks duidelik teen wie hulle gelaster het nie. Daar staan
net dat hulle gelaster het.
- Daarom sal u oplet dat die 1933 vertaling vertaal dat hulle godslasterlike dinge gesê
het,
- terwyl die 1983 vertaling sê dat hulle Paulus beledig het.
- Dit wat hulle sou gesê het sou in elk geval teen die eer van die Here gemik gewees het.
So gebeur dit dat Paulus se werksaamheid in die sinagoge afgesluit word. Die gesprekke
daar was vir die apostel baie teleurstellend.
- Op tipies Joodse manier trek hy sy bo-kleed uit en skud die stof daarvan af in die
sinagoge.
- Paulus sê toe vir hulle dat hulle bloed op hulle eie hoof is (of, soos die 1983 vertaling
dit stel: As julle verlore gaan, is dit julle eie skuld!).
-
- Hy verwys hier na Esegiël 3:17vv. waar die Here sê dat hy die profeet roep om 'n wag
te wees oor die huis van Israel.
- As hy iemand wat verkeerd doen nie waarsku nie, gaan die Here daardie persoon se
bloed van die profeet eis.
- Maar as hy die persoon waarsku, en die persoon kom nie tot bekering nie, gaan die
Here die goddelose se bloed van homself eis.
Paulus voel dat hy die Jode nou genoeg vertel het van Jesus Christus.
- As hulle nie wil glo nie, dan is dit hulle eie skuld dat hulle verlore gaan.
- Hy doen dan wat die Here Jesus self in Matteus 10:14 gesê het, naamlik as iemand jou en
jou prediking nie ontvang nie, skud dan die stof van daardie plek van jou af.
3. Die Here se voorsiening.
Paulus gaan toe weg. Nie na 'n ander stad toe nie. Hy het nog steeds in Korinte gebly, maar sy
preekplek het een gebou aangeskuif:
- Hy het net langs die sinagoge in die huis van Titius Justus begin preek.
- Hy was 'n Romein wat eers 'n heiden was, maar wat ook nou tot bekering gekom het.
- So het die evangelie dan na die heidene toe gegaan.
Dan gebeur daar 'n interessante ding. Die hoof van die sinagoge, Crispus, en sy hele huis
kom tot bekering.
- Blykbaar was die druk op Crispus te groot dat hy 'n christen kon word en dan nog steeds
in die sinagoge gaan bid waar hy die hoof was.
- Maar toe die saamkomplek van die Christene verskuif na Titius Justus se huis toe,
toe het Crispus sy pad oopgesien om met die Jode te breek, en hy en sy hele huisgesin het toe
tot bekering gekom.
- Hy is een van die min mense wat deur Paulus self gedoop is (1 Korintiërs 1:14).
- So ontstaan die eerste huisgemeente daar in Korinte in die barre heidendom.
Dit is duidelik dat daar geweldig druk en spanning op Paulus was, want die Here verskyn in
die nag op 'n besondere manier aan hom.
- As mens logies sou probeer dink wat alles deur Paulus se gedagtes moes gaan, is dit
moontlik dat hy bang was dat daar ook weer vervolging sou uitbreek soos wat op die ander
plekke gebeur het.
- Soveel te meer omdat sy eerste pogings onder die heidene ook nie baie sukses opgelewer
het nie.
Die bedoeling van die Here se verskyning is baie duidelik: Moenie bang wees nie!
- Moet ook nie dat mense en hulle aanslag op jou jou tot stilswye dwing nie. Hou aan preek.
- Die Here belowe hom ook dat niemand hom kan aanval of kwaad aandoen nie, want die
Here Self is by hom.
- Paulus het toe nog 'n jaar en ses maande daar gebly en gepreek.
Op daardie stadium laat die Here iets gebeur wat prakties aan Paulus openbaar het hoe die
beskerming van die Here werk. Dit sluit direk aan by die openbaring van die Here dat niemand
Paulus kan kwaad aandoen nie, omdat die Here hom bewaar.
- Die Romeinse owerheid het 'n nuwe goewerneur oor Griekeland aangestel. Dit was 'n man met
die naam Gallio.
- Sy naam was eintlik Anneus Novatus, maar 'n man met die naam Junius Gallio het hom as
seun aangeneem en grootgemaak, en dis toe waar die naam waarop die Bybel hom noem vandaan
kom.
- Hierdie nuwe goewerneur was 'n broer van die bekende wysgeer Seneca, wat weer op sy beurt
die leermeester van Nero was.
- Dit lyk dus asof Gallio se aanstelling bloot 'n "baantjie vir boetie" storie was.
Gallio was glad nie 'n man met goeie kwaliteite nie.
- Hy was slap van geaardheid en het ook gely aan swak gesondheid.
- Nadat hy 18 maande lank goewerneur was het Nero hom gedwing om 'n beker met gif te drink
en so het hy aan sy einde gekom.
Die klomp Jode het aan die einde van die 18 maande wat Paulus in Korinte was soos een man
teen hom opgestaan en hom voor die regbank van hierdie bogenoemde Gallio gebring.
- Die Here het dit so beskik dat Paulus nie eers kans gekry het om homself te verdedig nie:
-
- Al die Jode is deur die soldate, wat as 'n soort polisiemag diens gedoen het by die
hofsaal, uitmekaar gejaag en Paulus was vry.
- Soos wat dit gaan met mense wat teen die Here opstaan, was hierdie klomp Jode dadelik na
die neerlaag bitterlik verdeeld onder mekaar.
-
- Hulle het die nuwe hoof van die Sinagoge, Sosthenes, getakel en goed afgeransel
- terwyl die goewerneur sit en toekyk, maar te sleg was om iets daaraan te doen.
- Dit bevestig net die bewaring van die Here oor Paulus. In sy geval het die Here die Jode
laat verjaag sonder dat iemand hom skade kon aandoen.
Die betekenis van die Nagmaal sluit in sekere opsigte baie sterk aan by hierdie gebeure
wat Paulus in Korinte getref het.
- Die eerste is dat elkeen van ons, net soos Paulus, geroep is om ons geloof ook teenoor
ander mense uit te lewe.
- Net soos Paulus het ons ook baie keer mense wat ons teëgaan wanneer ons ons beginsels wil
of moet uitleef.
- Daar is nie ware gelowiges wat nie konstant onder druk kom wanneer dit gaan oor hulle
geloof en hulle verhouding met die Here nie.
-
- Soms voel dit asof ons maar moet laat gaan, want mens raak so moedeloos om aanhoudend
teen die prikkels te skop.
- Maar dan bevestig die Here aan ons presies soos aan Paulus dat Hy met ons is, en dat
ons nie ons geloofsroeping moet laat buig of verslap nie.
God het sy Seun laat sterf sodat Hy die straf gedra het vir kere wat ons nie in staat was
om sonde uit ons lewens te weer nie.
- Maar die kruisdood het 'n verdere betekenis, en dit is dat Jesus nou aan ons die
oorwinning gee om altyd getuies van sy Naam te wees.
- Soveel te meer omdat die Heilige Gees ook nog sy leiding in ons lewens vestig na die
Here se hemelvaart.
Die Here roep u om vandag die heilige Nagmaal te kom vier, sodat Hy weer op 'n sigbare en
"proe-bare" manier aan u kan bevestig
- dat u aan Hom behoort,
- en dat Hy kragtens sy goddelike alomteenwoordigheid nooit van u af wyk nie.
Hy het ook gesterf sodat daar geen mag in die hemel of op die aarde is wat u van Hom kan
vervreem nie.
- Die Here het dit eers vir Paulus gesê en toe met 'n gebeurtenis aan hom bewys!
- Dieselfde belofte geld ook vir elkeen van ons, en met dieselfde krag sal die Here ons ook
net so beskerm - sonder dat een van ons nodig sal hê om onsself te verdedig.
Strek u dus daarna uit om aan die Nagmaaltafel te kom aansit, waar die Here u sekerlik
weer aan u geloofsroeping gaan herinner, maar waar Hy veral u verlossing en sy voortdurende
hulp en beskerming aan u gaan bevestig.
Ons het dit almal nodig, sodat ons in hierdie tyd van verwarring en geloofsvervlakking die
spoor van die ware geloof kan hou.
Amen.
Gebed
Psalm 149:1
Nagmaalsformulier.
Psalm 23:1-3
Af tafel toe:
Tydens Nagmaal: Psalm 116
Psalm
118
Slotpsalm 89:1
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige
Gees bly by u almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 28 Augustus 2005. (oggend)