Aanddiens.
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 119:29.
Gebed.
Skrifberyming 27: 4.
Skriflesing: Handelinge 9
Teks: Handelinge 9:13
Maar Annanias antwoord: Here, ek het van baie mense aangaande hierdie man gehoor
Ons moet oor twee Sondae Nagmaal vier. Hoe sien die Here ons wanneer
ons na sy tafel toe kom? Kom ons gaan kyk na die mense van wie in
hierdie hoofstuk gepraat word.
Twee manne het die Here gedien: Paulus en Ananias.
- Altwee het die Here verkeerd gedien: elkeen met sy eie foute.
- Maar die Here het nie een van die twee verwerp nie.
- Die Here het aan altwee verskyn en altwee moes tot bekering kom,
sodat hulle saam die reguit pad van die verlossing in die Here Jesus
kon loop.
Let in die preek op na die volgende:
1. Paulus: Gelowig, maar vervolg die Here Jesus.
2. Ananias: Gelowig maar eiesinnig.
3. Die opvoedingswerk deur God.
1. Paulus: Gelowig, maar vervolg die Here Jesus.
Paulus het doodgemaak omdat hy gedink het dit is reg.
- Paulus was nie 'n heiden nie.
- Hy het die Here ook van harte gedien.
- Hy was 'n opgeleide Fariseër.
- Maar Hy het die balangrike deel van die Here se openbaring wat in sy tyd gebeur het, misgeloop:
- Hy het die Here Jesus nie geken nie.
- Dit sou beter wees om te sê dat hy die Here Jesus nie wou ken nie.
Daarom het Paulus die Christene vervolg.
- Christene was beskou as 'n nuwe sekte wat aan die opkom was en wat die ware kerk bedreig het. Ons sou ook so gedink het.
- Die Christene self het bygedra tot hierdie spanning, want hulle het hierdie nuwe geloof Die Weg genoem.
- Daarmee het hulle bedoel dat hulle die ware pad hemel toe ken - en dat die ander mense dit nie ken nie.
- U sou net so kwaad geword het as daar nou meteens 'n beweging
opstaan wat leer dat u, wat getroue kerklidmate is, die ware God nie
ken nie.
Teen hierdie agtergrond moet u Paulus se vervolging van die Christene sien:
- Hy het werklik die indruk gehad dat hy hulle moes vang en in die tronk gooi omdat hy daarmee die eer van die Here dien.
- Hy het gedink hy doen 'n baie goeie ding vir die Here en dat die Here bly is daaroor.
Die Here los Paulus nou nie dat hy maar net verlore gaan nie. Hy ruk
Paulus letterlik tot voor sy troon en openbaar Homself aan Paulus.
Saul, Saul, waarom vervolg jy My?
- Dit moes vir Paulus die verskriklikste skok van sy hele lewe
gewees het toe hy voor die Here verskyn en hy agterkom dat die Here nie
is Wie hy gedink het dat die Here is nie. Daarom sy woorde:
Wie is U Here?
Dan stuur die Here Paulus na Damaskus toe om daar te gaan wag vir sy verdere opdrag.
Kom ons som op:
- Paulus dien die Here, maar verkeerd.
- Die Here verskyn aan hom en bekeer hom.
- Die Here gee vir hom 'n opdrag oor wat hy vorentoe moet doen.
2. Ananias: Gelowig maar eiesinnig.
Die Here openbaar dat daar nog 'n hoofkarakter in hierdie gebeure is. Sy naam is Ananias.
- Hy is waarskynlik die dominee van die Christengemeente daar in Damaskus.
- Ons sou dink dat hy 'n baie oulike en goeie man is, want hy weet al wie is die Here Jesus.
- Hy het die Here Jesus ook al as sy Verlosser aangeneem en hy dien hom ook reeds van harte - so lyk 'n ware gelowige.
Maar, is dit waar?
- Die Here openbaar dat daar min verskil is tussen sy geloof en Paulus s'n.
- Sy dinge moet ook eers uitgestryk word, sodat hy meer diensbaar
aan die Here kan wees, want hy was onder die indruk dat hy in sy
mensheid kan kies wie lidmate van sy kerk kan wees en wie nie.
Die Here verskyn aan Annanias en sê vir hom dat hy na Paulus van
Tarsus toe moet gaan, want hy is besig om te bid. Die Bybel vertel dit
so:
In
Damaskus was daar 'n sekere volgeling van Jesus met die naam Ananias.
Die Here het hom in 'n gesig geroep: “Ananias!” “Hier is ek, Here," het
hy geantwoord. Toe sê die Here vir hom: “Staan op en gaan na die
straat wat genoem word Reguitstraat, en vra in die huis van Judas na 'n
man met die naam van Saulus van Tarsus, want kyk, hy bid.” (Handelinge 9:10, 11).
Annanias kry nie die Here se boodskap nie, want hy dink oor die Here se woorde soos wat hy dit uit sy mensheid wil verstaan:
- Hy weet Paulus sal bid, want hy is dan 'n Fariseër en daardie manne bid baie.
- Die gedeelte waar die Here sê dat hy 'n volgeling van Jesus is, hoor Ananias nie, want dit pas hom nie.
Hy het nie van Paulus gehou nie, want hy het gedink dat Palus 'n baie slegte mens is.
- Ananias het gedink Paulus is nie redbaar nie.
- Daarom argumenteer hy met die Here oor hierdie nuwe byvoeging tot die Christendom.
- Hy wys die Here daarop dat daar baie stories oor hierdie man in die omloop is.
- Hy is 'n man wat die christene baie kwaad aandoen.
Maar
Ananías antwoord: Here, ek het van baie mense aangaande hierdie
man gehoor hoeveel kwaad hy u heiliges in Jerusalem aangedoen het; (Handelinge 9:13 AFR1953)
Die Here wys Ananias daarop dat Hy Paulus uitverkies het om 'n werktuig
vir sy koninkryk te wees. Dit onderstreep elkeen van ons se
uitverkiesing ook:
Soos
God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur
die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word
met die bloed van Jesus Christus. Mag daar vir julle genade en vrede in
oorvloed wees! (1 Petrus 1:2).
Dit het Ananias laat verstaan dat God nie red volgens ons oordeel nie.
Hy red wie Hy uitverkies. Daarom het die Here 'n baie ernstiger gesprek
met Ananias gehad as wat Hy met Paulus gehad het.
- Die Here het hom reguit vertel dat die Here self die uitverkiesing hanteer, en daarin het Hy nie Ananias se hulp nodig nie.
- Hy het Paulus uitgekies om 'n werktuig in sy hand te wees.
- Prakties beteken dit dat die Here nie 'n gemeentelid se oordeel
nodig het om vir Hom te besluit wie se standaard goed genoeg is om
lidmate van sy kerk te wees en wie nie.
- Die Here het Ananias daarop gewys dat daar nog baie lyding vir Paulus voorlê.
- Hy het nog nie aan Paulus openbaar hoeveel hy sal moet ly ter
wille van die evangelie nie - wat verswyg word is dat Ananias moet
besef dat hy dit maklik het, want hy ly niks.
- Dan beveel die Here Ananias om te gaan en Paulus die hande te
gaan oplê. Dit is asof die Here se geduld met Ananias gedaan
raak, net soos wat dit met Moses gedaan geraak het toe hy so baie
teëgepraat het:
Maar
die Here sê vir hom: Gaan, want hy is vir My 'n uitverkore
werktuig om my Naam te dra voor nasies en konings en die kinders van
Israel (Handelinge 9:15).
Kom ons som op:
- Ananias dien die Here, maar verkeerd.
- Die Here verskyn aan hom en bekeer hom.
- Die Here gee vir hom 'n opdrag oor wat hy vorentoe moet doen.
Slotsom: Presies dieselfde dinge wat met Paulus gebeur het, het ook met Ananias gebeur.
3. Die opvoedingswerk deur God.
Kyk wat doen die Heilige Gees. Hy versoen mense met God en met mekaar.
Ananias moet juis na die man toe gaan vir wie hy die minste kans gesien
het. En wat gebeur daar by hierdie besoek?
- Hulle het saam erediens gehou! Paulus is tydens die geleentheid gedoop!
- Paulus is ook met die Heilige Gees vervul (Handelinge 9:17).
- Ananias is volgens vers 19 nie alleen na Paulus toe nie, hy het
die gemeentelede saamgeneem. Paulus het nog 'n paar dae saam met hulle
almal deurgebring voordat hy weer weggegaan het.
Daar is mede-christene selfs op plekke waar ons dit glad nie verwag
nie. Ons lees in 1 Petrus 5:13 dat daar selfs in Babilon 'n uitverkore
gemeente was.
- Die Bybel vertel altyd hoe sleg dit daar gegaan het.
- Selfs die eindoordeel beskryf hoe Babilon veroordeel word, en hoe
hierdie stad simbool is van die hel en al die magte wat verlore gaan.
- Maar tog is daar mense met wie ons moet assosieer omdat hulle dieselfde geloof as ons deel.
Wat is die boodskap van Handelinge 9 vir ons gemeente?
- Die Here leer ons dat ons almal foute het.
- Nie een van ons word egter weggejaag nie.
- Hy roep ons ook almal saam rondom sy Woord, en Hy bekeer almal van ons voortdurend terug na sy Woord toe.
- Dit is die een plek waar ons almal saam buig voor sy gesag.
Die Here roep ons nou ook almal op om na volgende week aan sy Nagmaaltafel te kom aansit.
- Die boodskap is dat almal wat is soos Paulus en Ananias opgeroep word om deur die Here versterk te word.
- Hy wil aan die tafel weer sy verlossingsboodskap en sy bevele daarrondom met ons opskerp.
Hy wil ons aan die Nagmaaltafel daaraan herinner:
- Dat Hy aan ons verskyn het in die persoon van sy Seun Jesus Christus.
- Dat Jesus Christus vir ons gesterf het sodat ons tot in ewigheid
kan lewe, omdat Hy gesterf het vir die kere wat ons die Here ook
verkeerd gedien het en ook sodat ons deur God die Heilige Gees verander
kan word tot volle en ware dienaars van die Here.
- Die Herhaal hierdie selfde opdrag in 1 Petrus 2:4:
Kom na Hom toe, die lewende steen, wat deur die mense afgekeur is, maar deur God vir die ereplek uitverkies is.
Die verlossingsproses was een van geweldige pyn.
- Jesus is verwerp deur die gelowiges.
- Hy is veroordeel en die doodsvonnis opgelê terwyl almal van
hulle geweet het dat Hy onskuldig was, maar hulle haat was so geweldig
dat dit alle rede oorheers het.
Die uitverkiesing van die Here maak die wat in Jesus glo, bymekaar. Dit
is waarom die Here ons almal weer saamroep na die sakrament van die
Heilige Nagmaal toe. Daarom staan dit ook in die Skrif:
Kyk, Ek lê in Sion 'n uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie. (1 Petrus 2:6).
In ons lewe val daar baie dinge voor wat dreig om ons te verlei dat ons nie die Here behoorlik kan dien nie.
- Die Here waarsku dat ons wat die Here Jesus ken en gehoorsaam
geen deel van ons liggame in diens van die sonde mag stel nie, want dit
maak ons 'n werktuig om goddeloosheid te bedrywe.
- Ons moet onsself in diens van God stel as mense wat dood was maar lewend gemaak is.
- Stel elke deel van ons liggame in diens van God as werktuig om te
doen wat God wil (Romeine 6:13).
Daarom moet ons in ons bekeringslewe wees wat die Here Jesus van ons
verwag om te wees. Dink aan die Here se woorde in Kolossense 3:12
Julle
is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het. Daarom moet julle
meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees.
Amen.
Gebed.
Skrifberyming 47.
Die HERE sal u seën en u behoed, die HERE sal sy aangesig oor u
laat skyn en u genadig wees. Die HERE sal sy aangesig oor u verhef en
aan u sy vrede gee.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 16 Februarie 2003.