Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 145:1, 12.
Geloofsbelydenis
Wet
Psalm 38:1, 17.
Gebed.
Psalm 50:11.
Skriflesing:
Hebreërs 1.
Teks: Hebreërs 1:3
Hy,
wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en
alle dinge dra deur die woord van sy krag, nadat Hy deur Homself die
reiniging van ons sondes bewerk het, het gaan sit aan die regterhand
van die Majesteit in die hoogte,…
Die Here is 'n God van genade. Hy het ons ook lief en Hy het self
voorsiening gemaak dat al ons sondes gestraf en vergewe is in die
verdienste van Jesus Christus, ons Verlosser.
- Saam met Jesus Christus se versoening het ons ook nog die leiding
van God die Heilige Gees as gawe gekry.
- Daarom duld die Here dit nie dat iemand al hierdie genade vertrap
nie.
Ons gee in hierdie preek aandag aan die volgende:
1. Wie is Jesus Christus die Here?
2. Hoe word Hy aanbid?
1. Wie is Jesus Christus die Here?
Die Here Jesus openbaar Hom as volledig God en volledig mens. As mens
het Hy saam met ons op die aarde gelewe en gesterf om vir ons sondes
versoening te doen. Hy het met sy menslike liggaam weggevaar hemel toe.
Ons kry in die Efesiërbrief 'n lang lys van dinge wat God deur
Jesus Christus se kruisversoening aan ons gegee het:
- Ons ontvang geestelike seëninge.
- Ons is uitverkies om heilig te wees.
- Ons is verordineer tot kinders van God.
- Ons sondes is vergewe.
- Die Here Jesus begenadig ons met wysheid en insig.
- Hy openbaar dat ons bestemming is om sy heerlikheid te prys.
- Hy verseël ons met die Heilige Gees as sy eiendom.
- Hy verlos ons en laat ons die ewige lewe beërf.
Al hierdie dinge wat die Here vir ons gegee het, wys net hoe groot en
aanbiddingswaardig die Here is. Vir sulke groot genade moet die
gelowiges die Here bewonder en dank (vgl. Efesiërs 3: 14vv.;
Efesiërs 4: 1vv.).
Die feit is dat Jesus Christus die Seun van God nie meer ‘n mens op die
aarde is nie. Hoe en Wie is Hy nou?
- Hebreërs 1:3 openbaar dat Hy
- die afskynsel is van God se heerlikheid
- en die afdruksel van sy Wese.
- Hy dra alle dinge deur die woord van sy krag,
- Ons lees in Kolossense 1:18 dat Hy die Hoof van die liggaam,
naamlik die gemeente is.
- Hy is die begin,
- die Eersgeborene uit die dode.
- Hy is in alles die eerste.
- Efesiërs 1: 22 beklemtoon dit nog sterker dat God alle dinge
aan Jesus se voete onderwerp het, en Hom as Hoof bo alle dinge aan die
gemeente gegee het.
- Dit beteken dat God Hom openbaar as die God en Hoof van die
Kerk en van alles wat geskape is.
- Dit geld van sowel die sienlike as die geestelike wêreld
(Kolossense 1:16).
- Voor Jesus se hemelvaart het Hy aan die dissipels bekend gemaak
dat daar niks is wat buite sy mag lê nie. Sy presiese woorde aan
hulle was:
Aan My is gegee alle mag in die
hemel en op die aarde. (Matteus 28: 18; Hebreërs 2:
8; 1 Korintiërs 15: 27).
- Jesus Christus is ook God die Skepper (Kolossense 1: 16).
- Ons lees in Johannes 1:3 dat alle dinge deur Hom ontstaan het, en
dat sonder Hom nie een ding ontstaan het nie (Vgl. ook: Johannes 1:10;
Hebreërs 1:2).
- Alle dinge is deur Jesus en tot Jesus geskape.
- Daar moet dus iets tot ons deurdring dat Jesus God die Almagtige
is, en dat ons Hom nie sommer as ons gelyke kan behandel in ons
aanbidding nie.
- Ons kan Hom ook nie op enige profane manier aanbid nie.
Trouens, die Bybel openbaar dat Jesus God die Almagtige self is.
- Jesus self sê: “Ek en die Vader is een.” (Johannes 10:30).
- Die Bybel versterk hierdie uitspraak deur twee keer te sê
dat Jesus die Beeld van die onsienlike God is (Kolossense 1:15;
Filippense 2:6).
Van die ewigheid voor die skepping af was die Here Jesus al daar.
- Dink veral aan die woorde van Kolossense 1:17
Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand.
Die Here Jesus het nie sy gesag iewers in die verloop van die
geskiedenis in die hande gekry (of verloor) nie. Die Bybel openbaar aan
ons dat Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid
(Hebreërs 13:8).
- Hierdie almagtige Jesus word deur God as Hoof bo alle dinge aan
die gemeente gegee (v. 22).
- Ons moet dus weet dat die almag van Jesus Christus ons sal
beskerm, maar ook van ons verwag om Hom te aanbid met ‘n styl wat by sy
majesteit pas (vgl. hierby Handelinge 2: 36 en Filippense 2: 9 - 11).
2. Hoe word die Here Jesus aanbid?
Waarom openbaar die Heilige Gees al die dinge?
Hierdie ernstige misdaad dat die mense Jesus gekruisig het, word direk
aan geloofsdomheid toegeskryf.
- Direk voor hierdie vers skryf Paulus dat hierdie wysheid deur God
bestem is tot ons ewige heerlikheid.
- Dit ondersrteep hoe belangrik dit is om die Here Self te ken en
reg te aanbid (vgl. Efesiërs 1: 6, 12, 14).
Daar is sommer baie tekste in die Bybel waarin daar staan dat ons
onsself moet heilig voordat ons die Here gaan aanbid. Dit laat mens
wonder of almal van ons voorbereid is om die allerheiligste God te
ontmoet as ons gejaagd in die erediens instorm en tydens die diens nie
kan wag dat die dominee moet “Amen” sê nie.
Deur die eeue het die mense wat God se heiligheid werklik geken het,
voor Hom neergeval wanneer hulle Hom aanbid het.
- Soms was dit omdat hulle kragte bloot uit hulle liggame
uitgevloei het, omdat hulle nie voor sy heerlikheid kon staan nie
- soos Johannes op Patmos.
- Ander kere was dit om God te aanbid, want hulle kon nie eers
hulle arms optel nie. Hulle vrees en respek vir God het hulle op die
aarde platgedruk.
Dit geld alle skepsele: mense en engele. Ons lees dat die Gerubs en die
Serafs wat by die troon van God is hierdie selfde versigtigheid aan die
dag lê:
Serafs het bo Hom gestaan; elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy
sy aangesig bedek, en met twee het hy sy voete bedek, en met twee het
hy gevlieg (Jesaja 6:2).
Die serafs het mekaar telkens toegeroep:
"Heilig,
heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy
magtige teenwoordigheid." (Jesaja 6:3).
Jesaja het vir sy volk gesê
(8:13):
Die HERE van die leërskare Hom moet julle heilig, en
laat Hy julle vrees en Hy julle verskrikking wees!
Die 1983 vertaling lees:
Julle
moet die Here die Almagtige eer as die Heilige. Vir Hom moet julle
vrees en vir Hóm moet julle bang wees.
Ons moet besef dat die aanbidding in die hemel net ‘n voortsetting is
van ons aanbidding op die aarde.
- Ons moet besef ons dat jy nie die Here hier op een manier kan
aanbid, en eendag hierna op ‘n ander manier nie.
- Ons aanbidding op die aarde moet dus dieselfde huiwering in hom
hê as wat die engele in die hemele direk voor God se aanbidding
het.
Dit is waarom die Bybel ons leer dat ons die HERE onse God moet prys.
- Maar ons moet nie in ons aanbidding uitspattig en
wêrelds raak nie.
- Daar staan: Kom buig in aanbidding voor Hom: Hy is heilig!
(Psalm 99:5).
- Die Here openbaar baie duidelik dat Hy op 'n spesiale manier
geken wil word.
- Ons moet Hom ken soos wat Hy Hom in heerlikheid openbaar.
- Ons kan Hom nie maar ken en dien soos ons wil nie.
Die Here verwys eenkeer na mense wat baie verwaand is, en allerhande
uiterlike dinge doen wanneer hulle aanbid, maar nie hulle eie sondes
raaksien nie. Hy sê dan:
Hierdie mense is 'n rook in my neus, 'n vuur wat die hele dag brand.
(Jesaja 65:5).
Sulke mense maak die Here woedend. Hulle laat sy toorn losbreek.
As ons baie nugter oor hierdie dinge dink, besef ons waarom daar in die
Hebreërbrief geskryf staan dat dit vreeslik is om te val in die
hande van die lewende God (Hebreërs 10: 31).
- Dit is asof die Heilige Gees ons vir laas nog weer onder die
besef wil bring dat ons groot en ernstige moeilikheid gaan hê
wanneer ons die Here verag en Hom opsetlik verkeerd aanbid.
- Daarom sê Hy: Vreeslik is dit om te val in die hande van
die lewende God.
Anders gestel: Die volle krag van Jesus se kruisdood en van die werking
van die Heilige Gees is reeds oor ons gevestig.
- Ons is reeds uit die sonde uitgeruk en as nuwe mense in die
genade van God ingeplant.
- Daarom word die waarskuwing so ernstig gestel dat ons nie moet
dink dat ons ‘n wil het wat ons teenoor God se wil kan stel nie.
- Ons kan nie oor ons styl en manier van aanbid gaan besluit en dit
dan anders doen as wat die Here vir ons voorskryf nie.
Ons hoef nie te twyfel aan die vermoëns van hierdie krag van God
wat in ons werk nie.
Hoe aanbid ons? Met menslike gejuig, of met die grootste versigtigheid
en selfs vrees? Kom ons gaan kyk hoe het die Heilige Gees die mense van
die begin van ons tyd af gelei om te aanbid.
- Ons lees dat hulle in die tyd van Enos het die mense begin om die
Naam van die Here aan te roep Genesis 4:26). Daar word nie gesê
hoe hulle dit gedoen het nie.
- Later lees ons in Genesis 24:48 dat Abraham se slaaf sê:
...en
ek het my in aanbidding neergebuig voor die HERE en die HERE geloof,
die God van Abraham, my heer, wat my op die regte weg gelei het om die
dogter van my heer se broer vir sy seun te gaan haal.
- Daarvandaan af loop hierdie refrein deur die Bybel dat die mense
uit ontsag voor die Here neergebuig het om Hom te aanbid:
- Wanneer die hele volk die wolkkolom by die ingang van die tent
van ontmoeting sien staan, het elkeen by die ingang van sy tent gebuig
in aanbidding (Eksodus 33:10).
- Soms het die hele volk in ‘n vergadering saamgekom en gebuig
wanneer hulle aanbid:
- Terwyl die sang weerklink en die trompette skal, het die hele
gemeente in aanbidding gebuig. Dit het alles aangehou tot die offer
afgehandel was (2 Kronieke 29:28).
- Later is hierdie gebruik in die tempel ook voortgesit. Ons lees
byvoorbeeld in Psalms 99:5:
Verhef
die HERE onse God, en buig julle neer voor die voetbank van sy voete.
Heilig is Hy!
- In Psalm Psalms 132:7 staan dit nog duideliker geskryf:
Kom ons gaan sy woning binne,
kom ons buig daar in aanbidding voor Hom.
As ons deur die boek Openbaring lees, is daar verskillende plekke
waar daarna verwys word dat tot alle skepsele in die hemel voor die
Here neerval en aanbid:
- En die vier en twintig ouderlinge en die vier lewende wesens het
neergeval en God aanbid wat op die troon sit, en gesê: Amen,
Halleluja! (Openbaring 19:4).
- En die vier en twintig ouderlinge wat voor God op hulle trone
sit, het op hulle aangesig geval en God aanbid (Openbaring 11:16).
- En al die engele het rondom die troon en die ouderlinge en die
vier lewende wesens gestaan, en hulle het voor die troon op hulle
aangesig neergeval en God aanbid (Openbaring 7:11).
- En die vier lewende wesens het gesê: Amen! En die vier en
twintig ouderlinge het neergeval en Hom aanbid wat lewe tot in alle
ewigheid. (Openbaring 5:14; Openbaring 4:10).
Daar is een baie opvallende saak regdeur die Bybel, en dit is dat
die Heidene altyd baie raserig was wanneer hulle hulle afgode
aanbid het.
- ‘n Baie bekende voorbeeld is die Baälprofete wat ‘n hele dag
lank op Karmel geroep het en hulleself opgesweep het totdat hulle
hulleself later stukkend gesteek en stukkend gekerf het.
- Nog ‘n voorbeeld is Babel. Babel is die simbool van alles on
onregverdig is en uiteindelik is dit die vesting van die
Antichris. Ons lees in Jeremia 51:55 dat die Here Babel verwoes
en 'n einde maak aan sy geraas.
- Ons lees dat die gelowiges ook soms ook raserig geraak het by die
altaar. Hulle het dit laat klink soos ‘n feesdag (vir ons sal dit dalk
na ‘n baie goeie ding lyk!). Dan staan daar die volgende hieroor
geskryf:
- Die Here het sy altaar verwerp, sy heiligdom ontheilig, die mure
van haar paleise in die hand van die vyand oorgelewer; hulle het
gedruis gemaak in die huis van die HERE soos op 'n feesdag
(Klaagliedere 2:7).
- In die nuwe vertaling staan daar geskryf dat hulle in die huis
van die Here gejuig het asof dit sy volk is wat daar fees vier.
Hierdie voorbeelde sluit aan by die Here se openbaring reg van die
begin af, want Adam en Eva het die stem van die HERE God gehoor terwyl
Hy wandel in die tuin in die aandwindjie (Genesis 3:8).
Toe Elia in die grot op die berg was, was die Here nie in die groot en
sterk wind wat die berge geskeur en die rotse verbreek het voor die
HERE uit nie. Die HERE was ook nie in die aardbewing nie. Daarna was
die HERE ook nie in die vuur nie. Die Here was in die fluistering in
die windstilte (1 Konings 19:11, 12).
Met elke erediens moet ons die Here ook in hierdie styl aanbid.
- Ons kom bymekaar in eredienste, waar ons weer voor hierdie
Almagtige God gaan verskyn om Hom met huiwering en eerlike belydenis
van ons sondes te aanbid.
- Ons kom saam omdat sy verlossing elkeen van ons by die volheid
van God se almagtige verlossingsraad betrek.
Die Here het ons aan die kruis verlos met ‘n verlossing wat sy
Goddelike almag openbaar het.
- Hy het in die dood ingegaan met Goddelike beheersdheid en net so
het Hy met Goddelike besluitmag daaruit opgestaan.
- Deur sy kruisdood het Jesus Christus ons verordineer tot kinders
van God.
- Dit het gebeur omdat Hy ons ons sondes vergewe het en ons insig
verander het sodat ons met huiwering voor sy majesteit en heiligheid
kan verskyn.
Hy het ons in die lewe ingestuur met die Heilige Gees by ons.
- Die Heilige Gees begenadig ons met wysheid en insig.
- Die Here het ons verseël met die Heilige Gees as sy eiendom.
- Ons is dus inderdaad volgemaak met al die weldade van ons Hoof,
Jesus Christus.
- Daarom moet ons Hom nou-al dien soos wat ons dit saam met die
engele in die lewe na hierdie een gaan doen.
Geliefde gemeente, die Here se opdrag aan ons is baie duidelik:
- Aanbid Hom met eer, en respek!
- Kom ons verskyn voor sy troon soos wat die engele en die
troongeeste en die ouderlinge voor God se troon dit doen.
- Ons buig ons in die diepste eerbied voor die Here Jesus wat uit
die dood opgestaan het.
Laat ons altyd onthou waarom die Here hierdie magtige verlossingsdaad
uitgevoer het! Kom ek lees dit voor soos wat die Heilige Gees dit laat
neerskryf het:
Hy het gesterf sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem,
sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik
(Efesiërs 5:27).
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm 81: 1, 12
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 13 April 2003 (oggenddiens)