Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 118:13, 14.
Geloofsbelydenis
Wet
Psalm 4:3.
Gebed.
Psalm 16:2.
Skriflesing:
Teks: Hebreërs 10: 22
...laat ons tot God nader met 'n opregte hart en met volle geloofsekerheid.
Die Here roep u op om in sy heiligdom in te kom in die verdienste van Jesus Christus, sodat u sy vaderlike goedheid oor u kan ervaar, en in sy lig kan lewe.
- Daarom roep Hy u op om in geloof, hoop en liefde te lewe
- nie sodat u met so 'n lewe in die heiligdom kan ingaan nie, maar omdat u reeds deur Jesus Christus toegang verkry het.
- nou nog onvolkome, maar wanneer Jesus weer op die wolke kom, vir ewig en volmaak.
1. Die verskil tussen die Hoëpriester van die Ou Testament en die Hoëpriester van die Nuwe Verbond.
2. Die toegang tot die hemel.
3. Hoe leef ‘n mens wat toegang het tot die heiligdom?
1. Die verskil tussen die hoëpriester van die Ou Testament en die Hoëpriester van die Nuwe Verbond.
Die hooftema van die boek Hebreërs is die Hoëpriesterswerk van Jesus Christus. Van vers 19 af openbaar die Here hoe die dinge vir die gelowige verander het van die ou verbond af na die nuwe een toe.
- In die ou verbond kon die gewone mens nie in die allerheiligste van God ingegaan het nie.
- Nou het ons vrymoedigheid om in die heiligdom in te gaan.
- Kyk na die versigtigheid wat deur die woord vrymoedigheid weergegee word.
- Daar is nie sprake van aanmatiging nie.
Die vrymoedigheid lê in dit wat deur die Hoëpriesterswerk van Jesus anders gemaak is as wat dit vroeër was.
- In die tyd van die ou verbond kon net die hoëpriester in die heilige der heilige van die tempel ingaan. Hy kon ook net een keer 'n jaar daar ingaan en dan met bloed wat hy moes gaan offer.
Dit staan ook so in hoofstuk 9: 7 geskryf:
... maar in die tweede (die die allerheiligste) die hoëpriester alleen, een maal in die jaar, nie sonder bloed nie, wat hy offer vir homself en vir die sondes van die volk...
- Die hoëpriester van die ou verbond wat in die heiligdom ingegaan het was daar as 'n verteenwoordiger van die volk, want die volk moes buite bly.
- Ons Hoëpriester Jesus Christus het die hele saak verander.
- Hy het in die heiligdom van God ingegaan as Voorloper.
- Hy het in die heiligdom ingegaan en aan die regterhand van God gaan plek inneem en daar bly Hy.
- Hy moet nie weer uitgaan soos die hoëpriester van die ou verbond nie.
- Ons Hoëpriester het ook daar ingegaan met offerbloed net soos die hoëpriester van die ou verbond.
- Maar dan met hierdie groot verskil dat dit nie die offerbloed van 'n dier was, wat net simbolies was nie. Jesus het daar ingegaan met sy eie liggaam en bloed as offer.
- Dit het die hele situasie vir die kerk omgekeer, want nou hoef ons nie meer soos die volk van die ou verbond buite te bly as die hoëpriester gaan offer nie. Ons gaan ook nou in.
Dis die verskil tussen die hoëpriester van die ou verbond wat 'n verteenwoordiger was en die Hoëpriester van die nuwe verbond, Jesus Christus, wat 'n Voorloper is, sodat sy volk Hom in die heiligdom kan volg.
2. Die toegang tot die hemel.
Vers 20 beskryf nou hoe die ingang tot die heiligdom in die hemel gebeur. Jesus het 'n pad ingewy. Ingewy beteken dat Hy vir ons 'n heilige pad vir gebruik oopgestel het.
laat ons toetree met 'n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van 'n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water. (Hebreërs 10:22 AFR1953)
Hierdie pad hemel toe is nuut.
- Dit is 'n toespeling op die offer van Jesus wat toe nog maar vars agter die rug was.
- Maar dit beteken ook dat hierdie nuwe pad gekom het om te bly.
Die betekenis van die woord "lewend" is treffend.
op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees, (Hebreërs 10:20 AFR1953)
Soos dit hier geskryf staan, beteken dit dat die pad ons lewend maak.
- Ons kan nie maar sommer net eiewillig die pad inslaan nie, en daarop loop waarheen ons wil nie.
- Ons word op die pad geplaas deur die Here Jesus Christus.
- Hierdie pad is nie 'n doodloopstraat in 'n mens se kragte nie - dis 'n pad wat reguit na die heiligdom in die hemel toe loop en wat voor die altaar van God eindig.
Die beskrywing van die pad openbaar dat Jesus altyd bly werk in die heiligdom van God.
- In die Ou Verbond het die voorhangsel die mense gekeer om nie in die heiligdom in te gaan nie.
- In die nuwe verbond is dit anders, die liggaam van Jesus neem ons in die heiligdom in, want sy bloed het ons versoen, sodat ons kan ingaan.
Die voorhangsel wat ons van God geskei het, is vervang met 'n pad wat ons na God toe neem.
- Die voorhangsel was juis die simbool van ons sondes daarom kon ons nie na God toe gaan nie.
- Jesus se liggaam het ons versoen, omdat Hy sonde gemaak is ter wille van ons. Al ons sondes is toe gestraf. Daarom is die ding wat ons van God geskei het nie meer daar nie.
Die saak word nog helderder gestel: Ons het 'n groot Priester oor die huis van God.
- Die Priester is groot, omdat hy sy werk volmaak gedoen het.
- Hy is groot omdat die ontmoeting tussen volk en God deur Hom gebeur.
- Ons het 'n Hoëpriester in die huis van God wat onmiddelik ons ontmoeting met God moontlik maak.
- Ons Hoëpriester is die ware Middelaar wat nie net een keer in 'n jaar, soos die aardse hoëpriester, met 'n dier se offerbloed in sy hande ons saak voor God gaan stel nie.
Ons het nou altyd en vryelik toegang na die heiligdom van God toe. Hy het sy plek by die troon van Heerlikheid ingeneem, en daar bid Hy vir ons by die Vader. Voortdurend word ons saak voor die Here gestel, sodat ons met vrymoedigheid self met ons gebede in die heiligdom van God mag ingaan.
3. Hoe leef ‘n mens wat toegang het tot die heiligdom?
Die Here rig 'n aantal oproepe op ons wat toegang tot sy heiligdom het. Let wel: Die oproepe is nie sodat ons dinge moet doen om toegang te verkry nie. Ons het klaar toegang: ons moet dit net met ons lewensstyl wys.
- Die eerste een is dat ons moet toetree met 'n waaragtige hart en in volle geloofsekerheid. Die Nuwe vertaling stel dit so: Laat ons na God toe gaan met 'n opregte hart en volle geloofsekerheid.
Dan is daar 'n belangrike sin by wat ek graag uit die Ou en die Nuwe vertaling vir u wil aanhaal. Dit wys na die doop toe:
- ..die harte deur besprenkeling gereinig van 'n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water. (OAV).
- Ons harte is immers gereinig van 'n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water. (NAV).
Die besprenkeling waarvan gepraat word, is die besprenkeling wat gebeur het wanneer iemand wat onrein was, na die priester toe gegaan het by die tempel dat die priester hom weer rein moet verklaar.
- Dan het die priester 'n hisopbossie gevat en dit in die water gedruk en die water oor die persoon wat onrein was, gesprinkel om aan te toon dat die persoon nou rein is.
- Die doop dra dieselfde simbool as hierdie besprenkelingshandeling uit die ou testamentiese bedeling.
- Die tweede deel van die sin is ook 'n sinspeling op die doop as daar gesê word dat die liggaam gewas is met rein water.
Ons word opgeroep om die Here in die gebed in sy heiligdom te ontmoet. Ons kan ingaan in die heiligdom, maar ons moet dit doen op die regte manier.
- Ons moet dit doen met 'n opregte hart en met volle geloofsekerheid.
- Ons moet begeer om in die heiligdom van God in te gaan, terwyl ons ons oë vestig op Jesus Christus.
- Ons kan, want ons moet onthou dat die smet wat die onsekerheid veroorsaak het, deur die bloed van Christus afgewas is.
U sien, die appèl op ons is dat ons toetrede tot die heiligdom van God eers goed is wanneer die reinigmaking van Jesus oorvloedig in ons lewens gestalte kry.
- Dan volg die tweede oproep.
- Hou die belydenis van die hoop vas, want die Hoëpriester wat dit beloof het, is getrou.
- Gaan voort om die Here Jesus as jou Verlosser te bely, soos wat jy ook doen.
- Jy gaan aangeval word oor hierdie belydenis, maar jy moet dit handhaaf sonder twyfel of aarseling.
- Almal moet duidelik en helder verstaan dat jy hierdie belydenis jou persoonlike en lewenseiendom gemaak het.
- Hierdie belydenis het die hoop van die ewige lewe. Dit het die hoop dat jy na jou aardse lewe volmaak in die koninkryk van God gaan instap.
Hierdie eerste twee oproepe gaan oor ons verhouding met die Here, en hoe ons met Hom gemeenskap beoefen. Altwee hierdie oproepe herinner ons aan die weldade wat die Here vir ons gegee het in Jesus Christus.
- Daarna is daar die derde oproep. Die skrywer van die Hebreërbrief werk met dieselfde drie dinge waarmee Paulus ook werk, naamlik met geloof, hoop en liefde. Die eerste twee oproepe het die geloof en die hoop van die ware gelowige (ons) geraak. Hierdie derde oproep raak die liefde.
- Hierdie derde oproep herinner ons daaraan dat ons nie alleen staan in die geloofswêreld nie.
- Jy is 'n lidmaat van 'n kerk, en daarom het jy as lidmaat ook 'n verpligting teenoor ander lidmate.
- Laat ons op mekaar ag gee. Laat ons na mekaar omsien, en laat ons mekaar aanspoor tot liefde en om goeie dade te doen.
- Ons moet op mekaar steun soveel te meer as een van ons in een of ander stryd beland.
Sonde en ondeugde bekruip enige mens. Dit vra nie wie of wat jy is nie.
- Nou rus die verpligting op jou as geredde in Jesus Christus om, as jy in die heilige troonsaal van God wil instap in die bloed van Christus, ook om te sien na jou medegelowiges.
- Sorg dat hulle wat saam met jou daar hoort, nie deur die werk van die duiwel oorval word nie.
Hierdie oproep raak ons almal direk. Ons moet mekaar bystaan en ag gee op mekaar se geloofslewens. Hierdie wisselwerking tussen gelowiges sal maak dat ons liefde vir God en vir mekaar juis in ons goeie werke na vore kom.
- Dan is daar die vierde oproep. Moenie julle kerk se onderlinge ooreenkomste versuim nie. Dit is 'n gedeelte in die Bybel waar die Here jou direk aansê om die eredienste te besoek.
Net soos nou in ons gemeente, was daar ook destyds onder die Hebreërs mense wat rondgefladder het in 'n onseker geloof. Hulle het ook 'n aantal lidmate gehad wat die eredienste wisselvallig bygewoon het.
Daarom staan hier geskryf dat ons mekaar moet vermaan on nie van die eredienste af weg te bly nie. Die woord vermaan veronderstel dat daar bekering daarop moet volg t.o.v. hierdie enkele oortreding en dat daar in die toekoms gereelde erediensbywoning sal wees.
Die vier oproepe eis dus van ons as ware gelowiges om met alke vorm van slapheid in ons geloofslewe te breek sodat ons in die heiligdom van God kan ingaan.
- Die teendeel is ook waar. As iemand hierdie dinge nie doen nie, kan hy nie toetree tot God se heiligdom nie, want dan het hy nie die werk van die Hoëpriester van God vir homself toegeëien nie.
- As ons nalatig is in al hierdie dinge, beteken dit nou nie dat ons maar net moet aanvaar dat ons hel toe gaan en dan maar boedel oorgee nie. Onthou altyd wat ons bely in die Dortse Leerreëls hoofstuk 5, punt 5: Ons bely daar dat 'n gelowige mens God soms met growwe sondes kan kwaadmaak, en dat hulle daardeur die Heilige Gees bedroef, en ook hulle eie godsdiensoefening versteur.
Dan volg daar presies die volgende woorde: "...en verloor hulle soms 'n tyd lank die besef van die genade. Dit gebeur totdat God, wanneer hulle deur 'n opregte berou op die regte pad terugkeer, weer die lig van sy vaderlike aangesig oor hulle laat skyn."
- Om in die heiligdom in die lig van God se vaderlike goedheid te gaan staan, moet daar by ons berou wees, en ook ware bekering.
- Ons hoef nie die straf vir hierdie sondes te dra nie, want die Hoëpriester wat daar in die heiligdom van God is, het die straf klaar gedra.
- Kom ons tree nou toe in die gebed, en ons spieël met ons lewens die feit dat ons die Heiligdom van God kan ingaan.
- En laat ons onthou dat die dag van die Here kom, wanneer ons finaal en vir ewig daar sal ingaan.
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm 66:2, 6.
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 2Junie 2002.