Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 145: 1, 4, 5, 12.
Geloofsbelydenis
Wet
Psalm 103:9.
Gebed.
Psalm 9:1, 7, 8.
Doop
Psalm 105:5
Skriflesing: Hebreërs 10
Teks: Hebreërs 10:
26
Want
as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang
het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie,...
Om waarlik ‘n gelowige te wees, is nie vir sissies nie! Dit stel
geweldige eise aan die wat die Here opreg dien en wil dien.
- Daarom versterk die Here ons geloof en verseker ons weer van
nuuts af van ons versoening en heiligmaking deur die kruisdood van ons
Here Jesus Christus.
- Die Here bedien elke keer hierdie evangelie aan ons sodat ons
juis in die besef van God se groot genade oor ons vorentoe moet lewe.
Iemand wat onder die besef van God se genade lewe, is iemand wat dit
vermy om sonde te doen.
- Dit is iemand wat in sy lewe baie fyn lyne trek en 'n duidelike
onderskeid tref tussen reg en verkeerd.
- Natuurlik is dit so dat geen mens volmaak kan lewe nie, en dat
elkeen van ons nog steeds sondes sal doen.
- Die klem val egter daarop dat ons so nugter met die genade van
die Here werk dat ons alle berekende sondes uit ons lewens uitsny.
Die Here is nie onverbiddelik as iemand ‘n fout maak nie. Die Here maak
dit in die Ou Testamentiese wette baie duidelik:
- Die wette wat deur Moses gegee is, maak onderskeid tussen
opsetlike of moedswillige sondes en sondes wat nie moedswillig gepleeg
word nie.
- Daaruit weet ons dat daar iets soos moedswillige sondes is en
sondes waarin ons onberekend beland. Die skrywer van die
Hebreërbrief sluit hierby aan.
- Sowel Hebreërs 5: 2 as Hebreërs 9: 7 vermeld dat daar
sondes is wat in onwetendheid gedoen word, en waarvoor daar offers tot
vergifnis gebring word.
maar in die tweede die
hoëpriester alleen, een maal in die jaar, nie sonder bloed nie,
wat hy offer vir homself en vir die sondes van die volk uit
onwetendheid begaan - (Hebreërs 9:7 AFR1953)
- Aan die ander kant is dit volgens Numeri 15: 30 so dat sonde
wat met berekende moedswilligheid gedoen is, is op geen manier vergewe
is nie. Sulke mense moes uitgeroei word. Daar was geen offer wat vir so
'n mens versoening kon doen nie.
30
"Maar die landsburger of vreemdeling wat moedswillig sondig, doen My,
die Here, oneer aan en hy moet van sy volk afgesny word.
30 Maar die siel wat iets
moedswillig doen, van die kinders van die land of van die vreemdelinge,
hy versmaad die HERE; en dié siel moet uitgeroei word onder sy
volk uit.
31 Omdat hy die woord van die Here
verag het en sy gebooie verbreek het, moet so iemand doodgemaak word;
hy moet die straf vir sy sonde dra."
In die Nuwe Testament staan daardie tipe sondes bekend as sondes teen
die Heilige Gees. Luister hoe skerp word dit beskryf in Hebreërs
6: 4 - 8:
- Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en
die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, en
die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige
wêreld, en afvallig geword het - om die weer tot bekering te
vernuwe, ...
In kort staan hier dat dit onmoontlik is dat iemand wat teen die
Heilige Gees gesondig het, weer tot bekering kan kom.
- Sonde teen die Heilige Gees kan net gebeur nadat daar die
aanvanklike verligting deur die Heilige Gees was.
Ons was almal vanoggend getuies van hoe die Here sy verbond met ‘n kind
bevestig het.
- Die ouers het met ‘n belofte (=eed) teenoor die Drie-Enige God
onderneem om hierdie kind tot sy eer op te voed.
- Ouers wat hulle doopsbelofte vergeet en nie nakom nie, oortree
dus moedswillig teen ‘n belofte wat hulle onder die verligting deur die
Heilige Gees aan God gedoen het.
- Die kennis wat in 'n mens se verstand ingaan, laat nooit jou hart
onbewoë nie.
- Die omgekeerde is ook waar: Iemand wat God ken en bely, se
verstand is deeglik bewus van wat vir die Here goed en sleg is.
- Iemand wat moedswillig/berekend/opsetlik sonde doen, kan dus
net iemand wees wat die waarheid ken.
- Dit kan net iemand wees wat by God die Heilige Gees geleer het
wat reg en verkeerd is, en dan doelbewus teen hierdie onderrig ingaan.
Dit is ook nie asof dit nou vir die eerste keer so gebeur nie. Dit was
nog altyd die geval.
- Die Here trek 'n verband tussen die Ou Verbond en die Nuwe
Verbond.
- In die Ou Verbond was daar nie 'n offer vir sulke sondes nie, en
net so voorsien die offer van Jesus Christus ook nie vir sulke sondes
nie.
Saamgevat:
- Iemand wat weet wat reg en verkeerd is en dan opsetlik teen die
waarheid bly ingaan sodat hy in sonde leef, kry te doen met die swaar
straf van die Here.
- Hy kan daarop reken dat dit met hom sleg sal gaan in die
hiernamaals.
- Sulke mense verval in die oordeel van die Here.
Die oordeel van die Here word beskryf as 'n verskriklike verwagting van
oordeel en 'n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer. Dit is 'n
aanhaling uit Jesaja 26: 11 (letterlik volgens Septuaginta).
- Daar is 'n tydsverskil tussen die aanhaling in Hebreërs en
die een in Jesaja.
- Jesaja verwys na 'n bepaalde oordeel wat in die tyd gebeur het.
- Hebreërs verwys na die eindoordeel.
- Waarskynlik hoort die twee bymekaar omdat die een 'n voorspel
van die ander is.
Weer vergelyk die skrywer die tye en die raad van die Here met mekaar.
Hoe was dit vroeër?
- In die Ou Verbond was dit so dat as iemand die wet van Moses
oortree het en twee of drie getuies het daarvoor ingestaan, dan is die
persoon doodgemaak (Numeri 35: 30; Deut. 17: 6).
- Daar was vir moedswilligheid bitter min genade.
- Hoe sal dit in die nuwe bedeling wees? Die Here gee die antwoord
in 'n vraag wat aan ons as gelowiges gevra word: ...hoeveel swaarder straf, dink julle, sal
hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die
testament waardeur hy geheilig is, onrein geag, en die Gees van genade
gesmaad het (v. 29, vgl. ook Hebr. 2: 3).
Die straf is swaarder, maar daar is 'n rede voor.
- Die Here se openbaring is baie helderder as in die Ou Testament.
- Die straf in die nuwe bedeling moet swaarder wees as die straf
van die ou bedeling, want die Nuwe Verbond se openbaring is baie ryker
as die van die ou Verbond.
- Die deelnemers aan die nuwe verbond moet weet dat hulle nie
moedswillig teen die Here kan ingaan nie.
- Die Here doen selfs 'n beroep op hulle insig dat hulle self moet
toegee dat dit nie anders kan nie.
Die Bybel koppel hier die vertrapping van die bloed van Christus en
versmading van die Heilige Gees aan mekaar.
- Moedswillige sonde is 'n vertrapping van die Seun van God: dus
van Jesus Christus.
- Dit is terselfdertyd 'n verwerping van die hele daad van die Here
waar die bloed (kruisdood) van Jesus Christus versoening en
heiligmaking vir ons verwerf het.
Die Here Jesus se bloed is die draer van die Nuwe Testament.
- Die bloed van Jesus is heilig en gewyd, want dit het die Nuwe
Testament geldig gemaak en daarmee die saligheid oor sondeverlore
sondaars laat skyn.
- Vanselfsprekend is die verwerping van die versoening en
heiligmaking deur die Here Jesus Christus 'n veragting van die Heilige
Gees en sy werk in ons.
- In kort kom dit daarop neer dat jy God self aanrand as jy die
Middelaar en sy werk aanrand.
Daar is net een manier hoe dit gebeur, en dit is wanneer daar 'n gebrek
aan sondebesef is. Daar mag nooit 'n gebrek aan sondebesef by die
gelowige wees nie.
Dit is presies waar voortdurende selfondersoek en daaglikse bekering
inpas.
- Ons geloof is vandag weer deur bediening van die doop aan ‘n
verbondskind van die Here versterk.
- Hy het ons weer verseker dat ons volkome deel in sy
verlossingsraad.
- Dit sluit al die weldade van die Here Jesus Christus in.
- Dit sluit ook die inwoning van God die Heilige Gees in.
Laat ons aan die Here gehoorsaam wees, en met die wysheid van die
Heilige Gees elke oomblik en elke gebeurtenis van ons lewens toets.
- Dit is die enigste manier hoe ons nie ook iewers - soos die teen
wie hier gewaarsku word –
- die bloed waarmee ons heilig gemaak is sal verag
- en teen die Heilige Gees sal sondig nie.
Daarom moet ons deur die Gees lewe, want daar is vir ons 'n offer vir
ons sondes gebring.
- Dit is 'n offer wat die volle krag van God se genade oor ons
oopvlek.
- Dit is ook 'n offer wat ons lei om elke dag heiliger te lewe en
geen plek te maak vir enige sondes nie.
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm 146:1, 8.
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 20 Julie 2003.