Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde
geskapehet. Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die
Here Jesus Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 18:1, 15.
Geloofsbelydenis
Wet
Psalm 16:4.
Gebed.
Psalm 2:1.
Skriflesing: Hebreërs 11
Teks: Hebreërs 11:39
...en
alhoewel hulle almal deur die geloof getuienis ontvang het, het hulle
die belofte nie verkry nie..
Die krag van hierdie hoofstuk in die Bybel, is dat dit ons laat sien
hoe'n gelowige se geloof hom/haar deur al die haak en skuurplekke van
die lewe dra - hoe dit prakties in ons lewe tot uiting kom.
- Verder is hierdie hoofstuk ook daar om aan ons te bewys dat 'n
werklike gelowige se geloof al hoe sterker word namate daar deur die
Satan en sy werke druk op hom uitgeoefen word.
- Hoe slegter die wêreld is, hoe beter is die gelowiges.
Hoofstuk 10 eindig met die woorde dat daar vir ons geen onttrekking van
die verderf moontlik is nie.
- Al wat moontlik is vir die gelowige, is juis die stryd teen die
verderf in die geloof, tot behoud van die lewe.
- As jy jou van die swaar en die stryd van die lewe onttrek, is jy
dadelik nalatig in jou geloof.
Die gelowige moet besef dat die Here bepaalde beloftes maak in sy
Woord. Maar al hierdie beloftes word nie oor ons vervul, sonder dat ons
verantwoordelikheid tot die maksimum toe ontgin word nie.
- Die Hebreërs moet hulle nou nie self gaan staan en bejammer
oor al hulle swaarkry nie, want daar is mense wat al swaarder gekry het
as hulle.
- Daar is selfs mense wat gesterf het, sonder dat hulle ooit in
hulle lewe op die aarde die vervulling van die beloftes gesien het wat
teenoor hulle gemaak is!
In hoofstuk 10 het die skrywer aan die mense verduidelik dat die
oordeel oor Christene is wat hulle aan die stryd van die lewe onttrek.
Hy verduidelik dat 'n mens selfs onder die grootste druk jou geloof kan
behou. Maar meer nog: dat jy selfs onder die grootste spanning die
beste werke kan voortbring!
Hoofstuk 11 volg waarin die skrywer aan die mense bewys dat dit wel so
is dat die geloof 'n drywende krag is wat 'n mens wat onder druk
verkeer, kan aanspoor tot volharding.
- Terselfdertyd herinner hy die lesers van sy brief ook daaraan dat
daar al sulke mense gelewe het.
- Hy noem hulle name, en die werke wat hulle gedoen het.
Hoofstuk 12 begin verhaal hoe hierdie mense, van wie in hoofstuk 11
gepraat is, die Christene dophou en aanspoor in hul stryd. As ons
Hebreërs 11 so plaas, kan ons die inhoud goed verstaan.
- In hoofstuk 12 word van hierdie mense vertel dat hulle die stryd
oorwin het.
- Watter stryd? Dit is die geloofstryd.
- Die geloofstryd bestaan daarin dat die Here aan hulle sekere
beloftes gegee het, en sekere getuienisse - maar in
hulle aardse lewe het hulle dit nooit ontvang nie. Of soos ons teksvers
dit stel: Alhoewel hulle almal deur die geloof getuienis ontvang het,
het hulle die belofte nie verkry nie.
Hoe het hulle dan as oorwinnaars uit die stryd getree? Vir ons lyk
hulle meer na verloorders, want hulle het dan nie die beloftes verkry
nie! Dis nie spekulasie dat hulle het nie die beloftes verkry het
nie, die Here sê self dat hulle nie die beloftes verkry het nie!
- Hulle oorwinning, sê die skrywer, het daarin bestaan dat
hulle ondanks al hierdie moeite nog steeds die beste geloofswerke
gelewer het. M.a.w. almal kon sien dat hulle oorwinnaars is.
- Hulle het toe die beloftes verkry!
- Vers 40 leer dit aan ons: Die Here het iets beters oor
ons beskik. o So ook vers 38: Die wêreld was hulle nie werd
nie! Die Here het hierdie beloftes beter vir hulle in die hemel
gegee.
- Die Here het dus wel die beloftes gegee, maar soveel beter, want
op die aarde sou die beloftes saam met die tyd verbygegaan het.
- Daarom het die Here hulle weggeneem, en hierdie beloftes in die
hemel aan hulle gegee.
Hoofstuk 11 gee die motivering van hierdie vers. Vers een stel die saak
al kort en beslis: die geloof is 'n vaste vertroue, en hierdeur het die
mense in die ou tyd getuienis ontvang.
- Die eerste bewys is Abel.
- Abel het van God die getuienis ontvang dat hy regverdig is,
maar in sy lewe het hy nie hierdie regverdigheid ontvang nie!
- Hy het presies die teenoorgestelde gekry. Kaïn het hom
doodgeslaan!
- Maar, skryf die skrywer, selfs nadat hy doodgeslaan is, het
Abel nog met dieselfde geloof in sy regverdigheid - wat God aan hom
gegee het - gespreek.
- Die Bybel verwys hier daarna dat die Here vir Kaïn gaan
sê dat die bloed van sy broer van die aarde af na die Here roep!
- Natuurlik het Abel se bloed geroep dat hy regverdig was, en dat
Kaïn hom doodgeslaan het!
- Die Here handhaaf hierdie nadoodse appél van Abel op grond
van die getuienis wat God self aan hom gegee het.
- So word dit eerste van Abel waar, dat hy getuienis ontvang het
dat hy regverdig is, maar in hierdie lewe is die belofte nie oor hom
bewaarheid nie!
- Die tweede voorbeeld is Henog.
- In sy lewe het hy die getuienis ontvang dat hy die Here behaag
het.
- Maar op die aarde sou hy dit nie sien nie.
- Die Here het hom doodeenvoudig van die aarde af weggeneem na
die hemel toe - die Here wou hom die bitterheid van
die dood spaar.
- Hy het iets beters gekry: sy beloftes is in die hemel vervul.
- Later kom die skrywer by een van die treffendste voorbeelde, nl.
Abraham.
- Abraham het doodeenvoudig in die geloof weggetrek van 'n hoogs
ontwikkelde stad en sy mense af, weg na 'n land toe wat die Here hom
sou aanwys.
- En wat hierdie man se wegtrekkery as 'n geloofsdaad kwalifiseer,
is dat hy nie eers geweet het waarheen hy op pad is nie!
- En aan hierdie selfde man het die Here ook beloof dat Hy van
hom 'n groot volk sal maak.
- Wanneer Abraham reeds 'n hoë ouderdom het, sien ons dat hy
en sy vrou nog geen kind het nie - maar dat Abraham nog
vashou aan die belofte.
- Sowel Abraham as Sara se geloof het in hierdie opsig op
verskillende stadia gedaan geraak, want ons lees in die Ou Testament
dat sowel Abraham as Sara die belofte van God uitgelag het.
- Eers het Abraham dit gedoen toe die Here dit vir hom vertel
het - hy was toe vyf-en-sewentig jaar oud.
- Sara het gelag toe sy nege-en-tagtig jaar oud was -
sy het gedink dat dit onmoontlik is dat sy op so 'n hoë ouderdom
'n seun in die wêreld sou bring!
- Maar tog staan hier in Hebreërs dat Sara se geloof op grond
van hierdie belofte so sterk was, dat sy wel die beloofde seun in die
lewe gebring het.
- Van die belofte van 'n groot nageslag en van die erfland, sien
Abraham in sy lewe niks. Dit is dus van hom ook waar dat alhoewel hy
deur die geloof die getuienis ontvang het, hy tog die belofte nie
verkry het nie!
- Die Bybelskrywer vertel ook hier dat die Israeliete op grond van
die belofte van Abraham en Isak en Jakob toe uit Egipte weg is. o Hulle
wou die land van hulle erfdeel gaan inneem.
- Maar hulle verwagtinge was verkeerd. Hulle het verwag dat die
Here vir hulle 'n stad sou berei.
- Moses het die volk uitgelei, maar hy het die vervulling van die
belofte nooit gesmaak nie, want hy is dood voordat hulle die land se
grense oorgesteek het.
- Tog het hy volgehou soos een wat die onsienlike sien.
- Sy werke is gedryf deur sy geloof!
Die skrywer besef egter dat 'n mens die saak nou verkeerd kan verstaan.
Dit is nie die Here se manier van werk met alle mense nie.
- Daar is sommiges wat sekere beloftes wat aan hulle gemaak is, wel
in hierdie lewe reeds kry.
- Vers 33 verhaal dat daar baie is wat koninkryke verower het in
die geloof, en hulle beloftes dus verkry het!
- Ander het selfs die bekke van leeus toegestop! Ongetwyfeld
verwys die skrywer hier na Gideon en sy klein bende se
oorlogsresultate, en na Daniël in die leeukuil!
- Daar word ook vertel van vroue wat deur die geloof hulle dooies
teruggekry het. Dit is nou weer 'n verwysing na die opwekkings wat
Elisa en Elia gedoen het.
Maar dis nie oor hierdie mense wat die skrywer wil praat nie. Hy wil
juis oor die ander praat wat geweldige worstelinge deurgemaak het, ter
wille van die beloftes, maar dit toe nooit gekry het nie. Dis die
mense van vers 36 & 37. Hulle is gefolter en gestenig en stukkend
gesaag en met die swaard aan stukke gekap.
Nou moet u nie glo dat dit net gelowiges uit die Nuwe Testament is wat
ter wille van hulle geloof gestenig is nie!
- Ons lees in 2 Kronieke 24:20 vv. dat die priester Sagaria voor
die volk gaan staan het. Die Gees van die Here was op hom.
- Hy het vir die Israeliete gevra waarom hulle aanhou om die
gebooie van God te oortree!
- Die volk was so woedend omdat hy hulle vermaan het, dat hulle
hom in die voorhof van die tempel met klippe doodgegooi het!
- Dis uit sulkes wat die wolk van getuies (12:1) bestaan! Mense wat
die getuienis gehad het, maar die beloftes nooit vervul gesien het nie!
1 Petrus 4:12 stel dieselfde saak:
Ons
moet glad nie verbaas wees oor die vuurgloed van vervolging oor ons
nie, want dit dien tot beproewing. Dit sal ook verskerp namate ons met
blydskap die openbaring van Jesus Christus se wederkoms verwag.
Die troos hierby is nou Jesus se woorde in Johannes 16:33: In die
wêreld sal julle verdrukking hê, maar hou goeie moed, want
Ek het die wêreld oorwin.
Hierdie gedagte kom ook na vore in Hebreërs 12:38. ... die wêreld was hulle nie werd nie
... Dis asof die skrywer wil sê: Dis geen wonder dat die
gelowiges sulke verskriklike dinge staan en oorkom het nie! Want hulle
hoort nie tuis in die wêreld nie.
- Die beloftes aan hulle kan nie in die wêreld van sonde
vervul word nie, want dan is dit nie blywend nie!
- Hierdie vers slaan terug op vers 13, waar daar geskryf staan dat
hulle almal in die geloof gesterf het sonder om die beloftes te verkry.
Maar hulle het dit uit die verte gesien en begroet, en hulle het bely
dat hulle vreemdelinge en bywoners op die aarde was.
Die aarde was hulle nie werd nie, daarom het hulle beloftes vevul
geraak in 'n wêreld waar hulle permanente verblyfreg gehad het.
In die hemel waar hulle ook nie bywoners is nie. Hulle het wel die
belofte gehad.
Ons leef nou onder die belofte van die wederkoms. Die Christusprediking
van hierdie gedeelte is dit, dat Hy die verwagte Belofte is.
- Die getuies van die Ou Testament het geglo dat Hy gaan kom om te
bly.
- En toe die belofte van sy koms vevul is, het Hy so gekom dat Hy
onaanvaarbaar was - want die mense het ander standaarde vir die
koms van die Messias gestel as wat God gehad het.
Christus kom met die belofte dat Hy die Koning is van God se koninkryk,
maar dit word in sy lewe op die aarde ook nie bewaarheid nie.
- Dit is waarom ons die Satan saam met Hom kry na sy doop. Die
Satan versoek Jesus om af te wyk van die beloftes van God.
- Hy, die Satan, sal die koningskap aan Christus gee, as Jesus hom
net wil aanbid.
- Dan weier Jesus, want die belofte van God is dat in die ryk van
Jesus die Satan ook onderwerp sal wees. Daar sal die Satan geen
voorwaardes of beloftes kan maak nie
- Daarom jaag Jesus die Satan weg.
Golgotha het gekom. Jesus het gesterf, en tot op daardie stadium het Hy
nog nie die troon langs sy Vader ingeneem nie. Waarom nie? Omdat
hierdie wêreld Hom nie werd was nie - soos dit hier geskryf
staan. Hy sou uit die dood opstaan en in die woning van sy Vader vir
ons gaan plek voorberei, omdat God vir ons iets beters beskik het (40).
Hierdie hoofstuk se geloofshelde was almal profete wat vooruit met
hulle eie lewens geprofeteer het hoe Jesus se lewe gaan wees.
- In sy aardse lewe sou die beloftes nie vervul word nie. Maar DEUR
sy lewe sou wel vervul word.
- Want deur sy lewe plant Jesus die Kerk.
- Deur sy lewe en optredes vervul Hy die beloftes.
- Deur sy sterwe oorwin Hy die dood.
- Deur sy hemelvaart voorsien Hy aan ons die plek waar die
beloftes aan ons vervul kan word. Deur sy krag sorg Hy ook dat die
beloftes aan ons vervul word - ons wat bereid is om te stry
- al word ons beloftes nie in hierdie lewe reeds 'n werklikheid nie.
Juis omdat die beloftes van Christus nie in hierdie lewe nie, maar in
die beter lewe vir ons beskik word. In die lewe in God se koninkryk.
Ons lewens moet getuig dat ons leef en teen elke verkeerde mag stry
soos mense wat die onsienlike sien. Dit moet die gesindheid wees
waarmee ons die koms van die Here herdenk, en waarmee ons sy wederkoms
inwag.
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm 73:10.
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 16 Desember 2001.