Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskapehet. Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen
.

Lofpsalm 18:1, 15.

Geloofsbelydenis

Wet

Psalm 16:4.

Gebed.

Psalm 2:1.

Skriflesing: Hebreërs 11

Teks:  Hebreërs 11:39

...en alhoewel hulle almal deur die geloof getuienis ontvang het, het hulle die belofte nie verkry nie..

Die krag van hierdie hoofstuk in die Bybel, is dat dit ons laat sien hoe'n gelowige se geloof hom/haar deur al die haak en skuurplekke van die lewe dra  -  hoe dit prakties in ons lewe tot uiting kom.
Die gelowige moet besef dat die Here bepaalde beloftes maak in sy Woord. Maar al hierdie beloftes word nie oor ons vervul, sonder dat ons verantwoordelikheid tot die maksimum toe ontgin word nie.
In hoofstuk 10 het die skrywer aan die mense verduidelik dat die oordeel oor Christene is wat hulle aan die stryd van die lewe onttrek. Hy verduidelik dat 'n mens selfs onder die grootste druk jou geloof kan behou. Maar meer nog: dat jy selfs onder die grootste spanning die beste werke kan voortbring!

Hoofstuk 11 volg waarin die skrywer aan die mense bewys dat dit wel so is dat die geloof 'n drywende krag is wat 'n mens wat onder druk verkeer, kan aanspoor tot volharding.
Hoofstuk 12 begin verhaal hoe hierdie mense, van wie in hoofstuk 11 gepraat is, die Christene dophou en aanspoor in hul stryd.  As ons Hebreërs 11 so plaas, kan ons die inhoud goed verstaan.
Hoe het hulle dan as oorwinnaars uit die stryd getree? Vir ons lyk hulle meer na verloorders, want hulle het dan nie die beloftes verkry nie!  Dis nie spekulasie dat hulle het nie die beloftes verkry het nie, die Here sê self dat hulle nie die beloftes verkry het nie!
Hoofstuk 11 gee die motivering van hierdie vers. Vers een stel die saak al kort en beslis: die geloof is 'n vaste vertroue, en hierdeur het die mense in die ou tyd getuienis ontvang.
Die skrywer besef egter dat 'n mens die saak nou verkeerd kan verstaan. Dit is nie die Here se manier van werk met alle mense nie. Maar dis nie oor hierdie mense wat die skrywer wil praat nie. Hy wil juis oor die ander praat wat geweldige worstelinge deurgemaak het, ter wille van  die beloftes, maar dit toe nooit gekry het nie. Dis die mense van vers 36 & 37. Hulle is gefolter en gestenig en stukkend gesaag en met die swaard aan stukke gekap.

Nou moet u nie glo dat dit net gelowiges uit die Nuwe Testament is wat ter wille van hulle geloof gestenig is nie!
1 Petrus 4:12 stel dieselfde saak: 

Ons moet glad nie verbaas wees oor die vuurgloed van vervolging oor ons nie, want dit dien tot beproewing. Dit sal ook verskerp namate ons met blydskap die openbaring van Jesus Christus se wederkoms verwag.

Die troos hierby is nou Jesus se woorde in Johannes 16:33: In die wêreld sal julle verdrukking hê, maar hou goeie moed, want Ek het die wêreld oorwin.

Hierdie gedagte kom ook na vore in Hebreërs 12:38. ... die wêreld was hulle nie werd nie ... Dis asof die skrywer wil sê: Dis geen wonder dat die gelowiges sulke verskriklike dinge staan en oorkom het nie! Want hulle hoort nie tuis in die wêreld nie.
Die aarde was hulle nie werd nie, daarom het hulle beloftes vevul geraak in 'n wêreld waar hulle permanente verblyfreg gehad het. In die hemel waar hulle ook nie bywoners is nie. Hulle het wel die belofte gehad.  

Ons leef nou onder die belofte van die wederkoms. Die Christusprediking van hierdie gedeelte is dit, dat Hy die verwagte Belofte is.
Christus kom met die belofte dat Hy die Koning is van God se koninkryk, maar dit word in sy lewe op die aarde ook nie bewaarheid nie.
Golgotha het gekom. Jesus het gesterf, en tot op daardie stadium het Hy nog nie die troon langs sy Vader ingeneem nie. Waarom nie? Omdat hierdie wêreld Hom nie werd was nie - soos dit hier geskryf staan. Hy sou uit die dood opstaan en in die woning van sy Vader vir ons gaan plek voorberei, omdat God vir ons iets beters beskik het (40).

Hierdie hoofstuk se geloofshelde was almal profete wat vooruit met hulle eie lewens geprofeteer het hoe Jesus se lewe gaan wees.
Ons lewens moet getuig dat ons leef en teen elke verkeerde mag stry soos mense wat die onsienlike sien.  Dit moet die gesindheid wees waarmee ons die koms van die Here herdenk, en waarmee ons sy wederkoms inwag.
Amen.

Slotgebed.

Slotpsalm  73:10.

Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.

Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 16 Desember 2001.