Sing vooraf: Psalm 145:5, 11
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Skrifberyming 1-1:3 (24:3)
Geloofsbelydenis: Nicea
Na die wet bely ons voor God ons sondeskuld en bid vir vergewing van
ons sondes met Psalm 4:2.
Wet
Psalm 4:2
Gebed
- Doksologie:
- Aanbidding:
- Skuldbelydenis:
- Vergifnis:
- Dank:
- Smeking vir die nood van die gemeente en voorbidding vir die kerk,
owerhede en sondige wêreld, asook die beroep op die beloftes
van God
- Algemene bede:
- Verligting van die Gees ter wille van die Woorddiens:
Amen.
Skrifberyming 1-2:2, 3 (nuut)
Skriflesing: Hebreërs
11
Teks:
Hebreërs 11:32
. . . en Jefta.
Mens ruk byna jou nek af as jy hierdie naam lees wat hier so uit pas
uit is.
- Hier is ’n lang lys van geloofshelde en van al hulle dade wat
hulle in die geloof volbring het.
- En dan meteens staan Jefta se naam ook hier.
Jefta! Die indruk wat mens van Jefta se lewensgeskiedenis kry uit die
boek Rigters, is alles behalwe van so ’n sprankelende aard
dat ons hom sommer so voetstoots saam met al hierdie helde sou opnoem.
- Jefta se ma was ’n hoer.
- Gilead was sy pa en na sy geboorte het Gilead hom oor hierdie kind
ontferm wat hy by die hoer verwek het.
- Maar Gilead se eie vrou het ook later kinders gebaar en toe het haar
kinders hierdie hoerkind weggejaag.
Hy is grootgemaak en opgevoed as ’n weggooimens.
- Dink net watter geweldige indruk dit op sy kindergemoed moes maak.
- Veral toe Gilead se ander kinders hom later wegjaag, juis sodat hy geen
sent van sy vader sou erf nie!
Daardie dag begin Jefta se bannelingloopbaan, wat ook nie juis geblink
het van roemryke prestasies nie.
- Van die sogenaamde “vroom mense” af het hy hom in
die land Tob gaan vestig. Dit was iewers in Sirië.
- Hier het hy ’n hele bende rondom hom vergader.
- Die Bybel
noem hulle “ligsinnige mense”.
- Inderwaarheid was dit mense met ’n uiters swak reputasie
– die skuim van die samelewing.
- Jefta en sy rebelletroepe het nie van wind gelewe nie – hulle
het geroof en gesteel om aan die lewe te bly.
Dit is van so ’n bende waarvan Jesus vertel in die gelykenis
van die barmhartige Samaritaan.
- Die rowers wat ’n man geslaan, beroof en toe half vermink aan
die kant van die pad laat lê het.
- So het Jefta en sy bende met roof en brandstigting in hulle
wêreld rondgetrek.
Die geskiedenis in Israel het mettertyd verander.
- Daar het ’n tyd aangebreek dat die Israeliete toe hierdie
onverskrokke bandietleier nodig gehad het om hulle volk van uitwissing
te red!
- Die Filistyne het van die weste af nader beweeg en die Ammoniete uit
die ooste.
- Tussen hierdie twee magtige volke van destyds sou Israel vasgedruk en
uitgewis word.
Daar was in hierdie tyd geen leier onder die vroom geledere van Israel
nie.
- Die enigste een waaraan hulle kon dink, was Jefta!
- Die een wat onder hulle uit weggejaag is.
- Die man wat uit ’n hoer gebore is en wat nou elke dag van
geweld lewe!
Dan leer ons Jefta van nog ’n kant af ken.
- Die oudstes kom maar op ’n taamlike wêreldse
sending by hom aan.
- Hulle soek ’n leier van daad en geweld.
- Niemand
van hulle beroep hulle op die Here of daarop dat Hy Jefta roep nie.
- Jefta
dink self ook beslis nie aan ’n roeping om sy volk te verlos
nie.
Jefta sien in hierdie geleentheid die kans van sy lewe.
- Hy sal hulle leërs aanvoer, maar slegs op die voorwaarde dat
hy die hoof van die volk van God moet word.
- Hulle moet hierdie prys beloof met ’n eed voor die Here!
En Jefta eis nie hierdie eed voor die Here omdat hy so danig vroom is
nie, maar omdat hy geweet het dat ’n Israeliet nie maklik op
sy woord teruggaan as hy ’n eed gesweer het nie.
- Die Naam van die Here was maar net vir hom ’n waarborg om die
hoogste sport in die lewe te bereik!
- So word die mees wêreldse onderhandelinge denkbaar bekragtig
in die Naam van die Here!
Deur selfliefde gedryf aanvaar Jefta die aanbod. Nie deur ’n
liefde vir God of liefde vir sy volk nie!
Maar ons leer ook ’n deug van Jefta.
- Hy was ’n skitterende diplomaat.
- Hy gaan dadelik konferensietafel toe.
- Hy
belê samesprekings met sy vyande.
- Hierdie
samesprekings bereik ’n dooie punt.
Maar ons leer Jefta ook ken in sy ongeloof en in sy heidense sieninge.
- Hy sluit die samesprekings af met die woorde dat die Israeliete hulle
land sal verdedig omdat hulle dit van die Here onvang het, net soos wat
hulle hulle land wat hulle van Kamos ontvang het, sal beskerm.
- Hy noem sommer die Here en ’n afgod in een asem!
Een van die teoloë stel dit sag:
- ‘n Werklike profeet van God sou die saak beslis anders gestel
het!
- Dit bewys in elk geval dat Jefta half heidens gedink het as hy Kamos en
Milkon, die afgode, net so magtig ag soos God.
Dan word ons tog effens stom as ons die woorde van die
Hebreërbrief lees:
. . . die tyd sou my ontbreek as ek sou vertel van Gideon, Barak en
Simson en Jefta; Dawid, Samuel en die profete!
Is Jefta dan ook onder die geloofshelde!
Jefta se ergste daad is nog nie eers vertel nie.
- In die oomblikke van sy benoudheid bid hy tot die Here. Maar hoe!
- Hy doen sommer wildweg ’n gelofte.
- Sterk op
die heidense trant bied hy vir God ’n menseoffer aan!
- Die eerste mens wat uit sy huis uitkom as hy terugkeer van die stryd
met Ammon, sal aan die Here behoort.
- Daardie persoon sal geoffer word!
Jefta het definitief nie gedink ’n dier, soos byvoorbeeld sy
hond, sou eerste by die huis uitkom nie, want ’n hond is
onrein en mag nie geoffer word nie! Miskien het hy gedink een van sy
slawe sou hom tegemoet kom, maar dan bly dit ’n menseoffer!
Jefta oorwin sy vyande en saam met hom beleef ons die verskriklike
oomblikke wanneer die hand van God op jou kom rus as gevolg van jou
oortredinge.
- Sy dogter kom uit die huis en hardloop hom tegemoet.
- Sy enigste kind – die enigste een wat sy nageslag kon
voortplant!
- Onthou dat dit in hierdie tyd dit ’n geweldige skande was om
geen kinders te hê nie!
Jefta, die eensame, staan daar in rou – verskrik en verlate
in sy alleenheid.
- Hy gaan sy enigste kind offer.
- En sy gaan kinderloos sterwe.
- Sy geslagslyn loop hier dood. Geen nageslag om hulle dapper grootvader
te onthou nie.
- Dis ’n baie duur prys om te betaal om die hoogste sport in
die lewe te kon bereik!
Dit was vir Jefta se dogter net so bitter. Sy vra vergunning om vir
twee maande haar maagdelike staat te gaan beween.
- Sy wil haar gaan uithuil omdat sy moet sterf sonder om selfs een kind
in die wêreld te bring.
- Haar lewe was dus – volgens die maatstawwe van haar tyd
– heeltemal doelloos.
- Want
hulle het geglo dat ’n vrou se hoogste roeping vervul word in
die kinders wat sy in die wêreld bring.
- So skryf
Paulus ook nog dat ’n vrou gered sal word in die kinders wat
sy baar.
Die hartseer van Jefta se onbesonne offer word verder onderstreep deur
die feit dat die Bybel in Rigters 11:39 verhaal dat die gelofte aan
haar voltrek is. Sy is geoffer.
En aan die end van twee maande het sy na haar vader teruggekom, en hy
het die gelofte wat deur hom gedoen is, aan haar voltrek; en sy het
geen man beken nie. En dit het ’n gewoonte geword in Israel
(Rigters 11:39 AFR53)
Dan sien ons Jefta weer.
- Heeltemal vernietig deur sy ambisie!
- Sy hele nageslag vernietig deur sy onnadenkendheid en sy verkeerde
geloof.
Kyk net wat het hy gedoen!
- Eerstens wou hy die Here met bymotiewe bevredig.
- Tweedens die gruwel van ’n menseoffer.
- Derdens die onreg wat hy sy dogter aangedoen het.
Ons sou hom as ’n onmens bestempel het. ’n
Ongelowige. ’n Antichris om soveel dade te doen wat God nie
aanstaan nie!
So ’n man se naam staan in die ry van heiliges! Hoe kan dit?!
- Dit kan, juis omdat die Here elkeen van ons in sy sonde gebruik.
- Juis omdat dit nie ons eie kragte is nie, daarom het ons almal hoop op
genade.
Dit is gelukkig nie al waarvan daar in die Bybel oor Jefta geskryf word
nie.
- Hy het nog ses jaar oor Israel regeer.
- En oor hierdie ses jaar swyg die Bybel.
- Met ander woorde, hierdie ses jaar het Jefta reg gelewe.
Jefta hou ook sy woord gestand. Sy ja is ten alle koste uitgevoer. Soos
die offer van sy dogter bewys!
- Daarom kan ons aanvaar dat hierdie offer van sy dogter ook tot die
inkeer van sy lewe gelei het.
- Daarom kon daar ses jaar volg waarin Jefta en sy persoon op die
agtergrond verdwyn en die Here se koninkryk op die voorgrond staan.
- In hierdie tyd het Jefta eers geleer wat roeping is, en kon hy met
oorgawe die weg van roepingsvervulling bewandel.
Jefta se dogter is ’n tipe van Christus daarin dat sy
onskuldig haar lewe as ’n offer moet gee vir ’n
ander se onbesonne sonde.
- Sy moes sterf vir haar vader se bekering soos wat Christus moes sterf
vir die bekering van baie mense.
Maar Jefta self is ook ’n tipe van Christus.
- Soos Christus hang die skande van ’n buite-egtelike kind ook
oor hom.
- Hy word ook soos die Here Jesus Christus deur sy broers en familie
verwerp.
- Hy moes ook soos die Here Jesus Christus uit sy land wegvlug om sy lewe
te behou.
Maar omdat Christus meer is as enige mens wat voor sy tyd ’n
afskaduwing van Hom was, gaan sy werk bokant dié van Jefta
uit.
- Jefta se dogter word geoffer vir sy sondes, maar Christus offer Homself
– nie vir sy sondes nie, maar vir ons s’n.
- Dit is juis hierdie offer van die Here Jesus Christus wat die woorde
van Hebreërs 11 moontlik maak, naamlik dat ’n
sondaar soos Jefta se naam ook tussen dié van die
geloofshelde staan!
- Die Here Jesus Christus sterf ook vir mense soos Jefta se roekelose
onbesonnenheid.
- Die Here Jesus Christus maak ook vir hom die deur oop na die heiligdom
van God toe.
Die troos van hierdie man se lewe is dat hy in sy sonde en swakheid
deur God in sy diens gebruik is.
- Verder ook dat sy ongeregtigheid hom vergewe is.
- Daarom kan ons ook die geloof hê dat ons name in die lys is
van dié wat die ewige lewe beërwe.
- Soos wat Jefta se naam daar verskyn deur die krag van Christus, so ook
myne en joune.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 138:2, 4
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk
Bellville
Datum: 6 Augustus 2006
(oggend)