Sing vooraf: Skrifberyming 1-1:2, 3
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 73:10, 11
Gebed
Psalm 31:17
Skriflesing: Hebreërs
13
Teks:
Hebreërs 13:20, 21; Kategismus Sondag 30
Mag die God van die vrede, wat die groot Herder van die skape, naamlik
onse Here Jesus Christus, deur die bloed van die ewige testament uit
die dode teruggebring het, julle volmaak in elke goeie werk, om sy wil
te doen, deur in julle te werk wat welbehaaglik is voor Hom deur Jesus
Christus aan wie die heerlikheid toekom tot in alle ewigheid! Amen.
(Hebreërs 13:20-21 AFR53)
Geen mens kan glo en aanhou glo as die Here nie hierdie geloof in hom
vestig en ook bevestig nie.
- Ons kan nie vir mekaar glo nie, maar
ons kan wel vir mekaar bid.
- Dit is presies wat in hierdie gedeelte
gebeur: Die skrywer bid dat die gemeente se geloof versterk moet word.
- Dit is baie opvallend hoe en waardeur
die gemeente se geloof versterk moet word: Die God van vrede moet dit
doen, en Hy doen dit deur die middelaarswerk van Jesus Christus.
Die gelowiges reageer daarop deur twee dinge te doen:
- Hulle doen goeie werke wat vir God
welbehaaglik is;
- en hulle gee aan Jesus Christus die
eer.
Kom ons gee aandag aan die volgende sake:
1. Wat glo ons van die offerande van Christus?
2. Waar pas selfondersoek by die offerande van Christus?
1. Wat glo ons van die offerande van Christus?
Die Here Jesus het aan die kruis gesterf tot verlossing vir die mense
wat almal in Hom glo.
- Dit is ook mense oor wie Hy sy Heilige
Gees uitgestort het sodat hulle biddend kan leef, en Hom ook onder die
leiding van sy Gees sal dien en vereer.
Een van die middele wat Hy gegee het om ons sy kruisoffer te laat
verstaan, is die viering van die Heilige Nagmaal.
- Dit het Hy ingestel as ’n
maaltyd, nie as ’n voortdurende offer, soos wat die offers in
die Ou Testament was wat elke keer herhaal moes word nie.
- Daar staan in Hebreërs 7:27,
28 dat die Seun van God die ware Hoëpriester was en dat Hy net
een offer gebring het, en dit was toe Hy Homself geoffer het.
- Die gedagte dat elke Nagmaal weer
’n offer is (of kan wees) is dus heeltemal onbybels.
Die maaltyd by die Heilige Nagmaal vestig ons geloof op die offer van
Christus. Dit is ’n herinneringsmaaltyd en dit is ook
’n gemeenskapsmaaltyd.
- By hierdie maaltyd word ons geleer dat
ons volkome versoening van al ons sondes ontvang het van Jesus Christus
ons Here af.
- Die sakrament beeld dit sigbaar uit
dat ons fisies deel het aan die verlossingswerk van die Here Jesus.
- Ons het inderdaad aan die Nagmaaltafel
gemeenskap met die Here Jesus Christus en met die ander gereddes deur
die Here Jesus Christus.
Die feit is dat Jesus self by sowel die breek van die brood as by die
neem van die beker konstateer dat die versoening wat Hy oor ons sondes
bewerk het, volkome is.
- Dit beteken dat sy versoening oor ons
absoluut volmaak is.
- Dit beteken dat ons geen eie bydrae
hoef te maak vir ons saligheid nie, want sy bydrae is volkome.
- Dit beteken ook dat ons by niemand of
niks anders hulp hoef te soek nie (en ook nie kan soek nie).
Daarom is die bedoeling dat hierdie maaltyd ons met ’n baie
groot en diep innerlike vreugde moet volmaak.
- Die bedoeling is ook verder dat die
gelowige wat aan die Nagmaaltafel aansit, en die Here Jesus werklik
ken, dit geestelik sal ervaar dat hy/sy ingelyf is in ’n
lewende en ’n ewige gemeenskap met Jesus Christus.
- Die ware gelowige sal aan die
Nagmaaltafel die vrede ervaar dat hy weer van nuuts af glo dat niks en
niemand hom van God kan vervreem nie.
2. Waar pas selfondersoek by die offerande van Christus?
By Nagmaal het ons met die belangrike saak te doen dat dit vir ons tot
’n seën is as ons die Nagmaal reg gebruik, maar dat
dit sonde is as ons dit verkeerd gebruik.
- Vir die mense wat met ’n
ware geloof hulle deelgenootskap in die verbond beleef, is die Nagmaal
tot ’n seën omdat dit vir hulle ’n sigbare
bewys is dat hulle en nog ander deel in die verlossingsgemeenskap met
die Here.
- Maar enigeen kan nie in ’n
verhouding van gemeenskap met die Here staan nie.
- Daarom moet elke Nagmaalganger homself eers deeglik ondersoek.
- Nou help dit ook nie veel as jy jouself ondersoek, en daarby bly dit
nie.
- Jy moet sleg voel oor die verkeerde dinge wat jy by jouself kry.
Die kennis wat ons opdoen oor ons sondes moet by ons die besef wakker
maak dat dit stry teen die heiligheid van God, en ook teen die
heiligheid wat Hy weer in ons bewerk het deur die soendood van sy Seun
Jesus Christus.
- Die evangelie beloof juis aan die een
wat berou het, volkome vergifnis van sy sondes.
Dié dinge alles saam behoort ons te beweeg om weer vreugde
in ons heiligmaking te ervaar.
- Selfondersoek is dus selfontdekking met ’n lewe wat daarna
volg waarin daar gebreek word met jou sonde.
- Selfondersoek saam met berou en
bekering werk altyd groei in die geloof.
Enigiemand wat eerlik na homself kyk, sien by homself tekens van die
dood – nie net in sy sonde self nie, maar ook in sy eie
gesindheid teenoor sy sondes.
Elke ware gelowige se berou grond in twee dinge:
- Die eerste is dat hy weet dat hy die
heiligheid van God skend.
- Die tweede is dat hy ook besef dat Christus nie gemeenskap hou met
mense wat hom nie gelowig wil aanvaar en dien nie.
Daarom is die opdrag van die Here aan die kerk ook so skerp, naamlik
dat diegene wat nie tot bekering wil kom nie, doodgewoon van die
Nagmaal af weggehou moet word.
- Die afhouding van die Nagmaal af moet
hulle gewete dringender met hulle laat praat sodat hulle van hulle
sondes afstand kan doen.
Dit is hier waar die Nagmaal versterkend intree.
- Alle mense doen sonde, maar almal
volhard nie daarin nie – hulle stry teen die sonde en al
verloor hulle dikwels daarteen, staan hulle tog op uit die sonde.
- Die Nagmaal leer aan sulke mense dat
God ook vergewe.
- Soveel dat Hy selfs sy Seun laat sterf het om sondaars se sondes te
straf sodat hulle nie as gevolg van hulle sondes deur sy oordeel
vernietig sal word nie.
Maar dan bly die eis dat sulke mense werklik opreg en voluit teen die
sonde moet veg.
- Die troos van die Nagmaal maak dat ons
weer in Christus se krag kan opstaan, en dat ons ook weer na sy stem
wil luister.
- Dan het ons weer moed om verder te
lewe.
- By die nagmaal ervaar ons die mildheid
en sagtheid van God se liefde – ook die geluk van sy genade.
Kom ons lees saam wat ons belydenis ons hiervan leer in die
Heidelbergse Kategismus Sondag 30:
80 Vraag: Wat is die onderskeid tussen die nagmaal van die Here en die
Roomse mis?
Antwoord: Die nagmaal betuig aan ons dat ons volkome vergewing van al
ons sondes het, ter wille van die enige offer van Jesus Christus wat Hy
self eens en vir altyd aan die kruis volbring het (a), en dat ons deur
die Heilige Gees in Christus ingelyf word (b), wat nou na sy menslike
natuur in die hemel aan die regterhand van die Vader (c) is en daar
deur ons aanbid wil word (d). Die Roomse mis, daarenteen, leer dat die
lewendes en die gestorwenes nie deur die lyding van Christus vergewing
van sondes het nie, tensy Christus nog daagliks vir hulle deur die
priesters geoffer word. Verder dat Christus liggaamlik in die brood en
wyn aanwesig is en derhalwe daarin aanbid moet word. Die mis is dus in
wese niks anders nie as 'n verloëning van die enige offer en
lyding van Jesus Christus en 'n afgodery wat vervloek is (e).
(a) Heb 10:10, 12; 7:26, 27; 9:12, 25; Joh 19:30; Matt 26:28; Luk
22:19. (b) 1 Kor 10:16, 17; 6:17.
(c) Joh 20:17; Kol 3:1; Heb 1:3; 8:1. (d) Matt 6:20, 21; Joh 4:21; Luk
24:52; Hand 7:55; Kol 3:1; Fil 3:20; 1 Tess 1:10. (e) Heb 9:26;10:12,
14.
81 Vraag: Wie moet na die nagmaalstafel van die Here kom?
Antwoord: Hulle wat vanweë hulle sondes 'n afkeer van
hulleself het, maar tog vertrou dat dit hulle om Christus wil vergewe
is en dat die swakhede wat nog oor is, met sy lyding en sterwe bedek
is; en die wat ook begeer om hulle geloof hoe langer hoe meer te
versterk en hulle lewe te verbeter. Maar die huigelaars en die wat
hulle nie van harte tot God bekeer nie, eet en drink 'n veroordeling
oor hulleself (a).
(a) 1 Kor 11:28; 10:19-22.
82 Vraag: Moet die mense ook aan die nagmaal toegelaat word wat met
hulle belydenis en lewe wys dat hulle ongelowig en goddeloos is?
Antwoord: Nee, want so word die verbond van God ontheilig en sy toorn
oor die hele gemeente opgewek (a). Daarom is die Christelike kerk
volgens die bevel van Christus en sy apostels verplig om sulke mense
met die sleutels van die koninkryk van die hemel uit te sluit, totdat
hulle verbetering van hulle lewe bewys.
(a) 1 Kor 11:20, 34; Jes 1:11; 66:3; Jer 7:21; Ps 50:16.
Amen.
Slotgebed
Skrifberyming 2-4 (33)
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk
Bellville
Datum: 30 Julie 2006
(aand)