Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Skrifberyming 2:2, 3 (4-2:2, 3)
Gebed
Psalm 89:2, 3
Skriflesing:
Hebreërs 6
Teks:
Hebreërs
6:16; Kategismus Sondag 37
Want
mense sweer by een wat meer is, en die eed van bevestiging is vir
hulle die einde van alle teëspraak. (Heb. 6:16 AFR53)
Die skrywer van die Hebreërbrief skryf hierdie brief vir Christene wat
uit die Jodendom gekom het. Dat hierdie deel van God se kerk nie sonder
probleme was nie, is uit die brief baie duidelik.
- Hulle was geneig om net by die Ou Testament, en dan
veral die dinge rondom Moses, vas te steek.
- Daarom word hulle baie skerp aangespreek dat hulle
nie moet bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie.
Hulle moet vorentoe beweeg in hulle geloof – hulle moet na die
volmaaktheid toe, want hulle het vasgesteek.
- Alles het vir hulle daaroor gegaan dat hulle elke
keer weer tot bekering kan kom uit hulle dooie werke, sodat hulle weer
in God kan glo.
- Daarmee saam het hulle so swaar klem gelê op die
leer van die doop en van die handoplegging en van die opstanding van
die dode en van die ewige oordeel dat daar in hulle lewens baie dinge
begin skeefloop het.
Wat het dan skeefgeloop?
- Van hulle het soms in ongeloof verval, en dan het
die persoon maar net weer tot bekering gekom – en gedink dis nou alles
weer goed.
- Daarom skryf die Heilige Gees vir hulle dat dit
onmoontlik is om die wat eenmaal verlig geword het – en die hemelse
gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, en die goeie
woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld, en
toe afvallig geword het – weer deur bekering vernuut kan word.
- Die Here gee die rede: Sulke mense het ten opsigte
van hulleself die Seun van God weer gekruisig en openlik tot skande
gemaak.
Dit ruk mens as jy dink dat iemand wat ongelowig raak die Here Jesus
tot skande maak, en dat die Here dit so ernstig beskou dat Hy weier dat
so ’n persoon weer tot bekering kan kom.
U kan net dink watter twyfel en onsekerheid daar nou in sulke mense se
gemoed moet ontstaan as hulle so ’n geweldige kwaai vermaning kry!
Daarom het hulle begin wonder wie van hulle dan die paal gaan haal. Wie
kan gered word as die uitoefening van jou geloof so ’n swaar saak
geword het?
Daarom gee die Here vir die mense ’n vaste troos. Die ware gelowiges
kan met ’n versekerdheid op hoop lewe. Daar is twee dinge wat God gegee
het, wat alle moeilikheid in die lewe versag: Sy belofte en sy eed.
- Sy belofte is dat Hy ons ons sondes sal vergewe
omdat Hy ons liefhet.
- God se belofte is dat Hy nie onregverdig is om ons
werk en die liefdesarbeid wat ons gedoen het vir sy Naam te vergeet
nie.
- Dit stel ’n eis aan ons: ons moet nie traag word
nie, en ons moet dieselfde ywer vertoon om te kom tot die volkome
sekerheid van die hoop tot die einde toe.
- Die Bybel leer duidelik wat die inhoud van die hoop
is: Ons is erfgename van die belofte (vers 9-12).
- Die tweede is sy eed: Sy eed is die versekering dat
ons op sy beloftes kan staatmaak.
Tot hier is dit maklik. Maar nou gaan ons lewe elke dag aan, net soos
die Hebreërs s’n. In ons lewe word daar op sekere tye van ons gevra om
’n eed te sweer.
- Wat maak ons nou? Mag ons en wat is die verband
tussen ons eed en die eed wat die Here gesweer het?
- As ons aan God en sy beloftes dink wat Hy met ’n
eed bevestig het, dan besef ons dadelik dat, wat die eed betref, ons
ons deur God moet laat leer.
- Omdat die eed vir God so belangrik is soos sy eie
Wese, is dit die enigste manier hoe ons die eed reg sal kan gebruik
soos God dit ingestel het en soos wat dit sy eer dien.
Dit is ter wille van die sonde wat ons voortdurend bekruip, nodig dat
ons onsself ten opsigte van die eed en die gebruik daarvan moet
oriënteer.
- Dit sou die ideaal wees as die waarheid oral
gepraat en geen verkeerde ding iewers gedoen word nie.
- As ons nie in sonde geval het nie, sou dit presies
so gewees het.
Die waarheid is dat ons hele lewe ver van volkome waarheid af lê. Ons
samelewing is deurtrek van onwaarheid en bedrog. Maar deur God se
goedheid is daar nog waarheid.
- Daarom is die eed nodig. Dit is om mense wat so
ingesluk geraak het in onwaarheid, voor die troon van God neer te sit
sodat die teenwoordigheid van God hulle dwing om die waarheid te praat.
- Iemand wat ’n eed aflê, moet dus die Here aanroep
en aanbid. Hy beroep hom dus op die heilige teenwoordigheid van God
sodat die Here self kan instaan vir die waarheid wat hierdie persoon
praat.
Daarom mag die owerheid die eed gebruik om die leuen te beveg en die
waarheid te bevorder.
Natuurlik is die gevaar daar dat skyngelowiges die Naam en
teenwoordigheid van God sal misbruik om daarmee steeds te probeer om
die leuen toe te smeer. Sulke mense moet maar dink aan die woorde van
Hebreërs 10:31:
Vreeslik
is dit om te val in die hande van die lewende God.
Die Here het die eed altyd gebruik om die waarheid te bevestig. Dit wat
die Here so bevestig het, het dan ook altyd gebeur. ’n Goeie voorbeeld
is hoe die Israeliete die land Kanaän in die hande gekry het. Josua
21:43:
So het
die HERE dan die hele land aan Israel gegee wat Hy hulle vaders
met ’n eed beloof het om hulle te gee; en hulle het dit in besit geneem
en daarin gaan woon.
Dit illustreer die doel van die eed baie duidelik:
- Die eed is ’n steunpilaar van die waarheid.
- Omdat dit belangrik is dat die waarheid in die
kerklike en die sosiale lewe geopenbaar moet word, word die eed
daarvoor gebruik – maar dan mag dit alleenlik gebruik word soos die
Here dit gebruik.
- Enige ander gebruik van die eed sal deur die Here
gestraf word.
- Die eed stel ook die mag van God teenoor die mag
van die duisternis.
- Dit gaan nie net oor lig of die waarheid praat nie
– dit gaan oor die openbaring van watter van hierdie magte in jou werk
en by wie jy jou skaar.
Dit verklaar waarom die eed deur God as heilig beskou word. Die Here sê
onomwonde dat Hy ’n strafsaak aan het met iemand wat ’n eed breek of ’n
valse eed aflê.
Want
hy het die eed geminag deur die verbond te verbreek; en kyk, hy
het sy hand gegee en tog al hierdie dinge gedoen; hy sal nie ontvlug
nie. Daarom, so sê die Here HERE: So waar as Ek leef, Ek sal gewis my
eed wat hy geminag het, en my verbond wat hy verbreek het, op sy hoof
laat neerkom. (Eseg. 17:18, 19).
Die beginsel is duidelik:
• Die Here laat nie sy teenwoordigheid en sy
heiligheid inroep om daarmee ’n leuen te vertel nie, want dit beteken
dat jy die Wese van God betrek by dit wat eie is aan die duiwel.
• Daarmee kan God, kragtens die feit dat Hy ’n
heilige en regverdige God is, nie vir lief neem nie. Dink hier aan wat
die profeet Sagaria sê:
En
julle moet nie mekaar se onheil in jul hart versin nie, en nie die
valse eed liefhê nie. Want dit alles haat Ek, spreek die HERE. (Sag.
8:17 AFR53)
Die uitspraak laat ons besef dat dit ’n baie ou probleem is dat mense
sukkel om die waarheid te praat en dat hulle leuens gebruik om mekaar
te onderkruip.
’n Eed is nie ’n gebed nie.
- Die eerste aanvoeling is dat die gebed ’n gesprek
met God is, en dat eedswering ook ’n gesprek met God is, want die
teenwoordigheid van die Here word ingeroep.
- Eedswering is egter iets anders as ’n gebed.
- Gebed is ’n gesprek met God waarin God geloof en
verheerlik word.
- Die Here se hulp word ook gevra waar daar nood is
en Hy word gedank vir seëninge en uitkoms wat Hy gegee het.
- Wanneer ’n eed afgelê word, word dit wat vir God
waar is, bevestig.
- Die Bybel stel ’n vaste reël wanneer dit oor die
waarheid gaan: Daar moet iemand wees wat daarvan kan getuig. Met ander
woorde daar moet mense wees wat daarvoor kan instaan dat die saak
waarvoor hulle ingeroep word, werklik is soos wat dit gestel word:
. . .
maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam,
sodat in die mond van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan. (Matt.
18:16 AFR53)
Dit is
die derde keer dat ek na julle toe kom. In die mond van twee of
drie getuies sal elke woord vasstaan. (2 Kor. 13:1 AFR53)
Wat is die hoogste doel van die eed? Om die eer van God te bevestig.
Die eed moet die eer van God bevestig by elkeen wat dit gebruik – die
owerheid, die kerk of enige mens.
Die absoluutheid van die eer van God kom ook daarin na vore dat ons by
niks of niemand anders mag sweer nie. Die rede is voor die hand
liggend:
- Engele en mense – en trouens die hele skepping –
het in sonde geval.
- Net God is volmaak en sondeloos en verhewe bo al
wat verkeerd is.
- Daarom moet alle ede by sy Naam geneem word.
Die Here beveel dit ook so in Deuteronomium 6:13:
Jy
moet die HERE jou God vrees en Hom dien; en by sy Naam moet jy
sweer. (Deut. 6:13 AFR53)
Die feit dat die Here ons beveel om by sy Naam te sweer, beteken nie
dat ons nou sommer vir enige ding by sy Naam mag sweer nie. Ons het ’n
voorbeeld waar ’n kerkleier dit gedoen het, en ernstig sonde daarmee
gedoen het. Dit het gebeur tydens die Here Jesus se verhoor:
Maar
Jesus het stilgebly. En die hoëpriester antwoord en sê vir Hom: Ek
besweer U by die lewende God dat U vir ons sê of U die Christus, die
Seun van God, is? (Matt. 26:63 AFR53)
Daar is ook nog die bekende voorbeeld van ’n vals eed wat gesweer is
deur Saul! En die leuens wat daarna die onopregtheid van hierdie eed
bevestig het!
En
Saul het na Jónatan geluister, en Saul het gesweer: So waar as die
HERE leef, hy sal nie gedood word nie! (1 Sam. 19:6 AFR53)
Ons is natuurlik anders, omdat ons Christene is! Ons is dit nie uit ons
eie keuse nie – God het ons dit gemaak in Christus. Hy het daaroor ook
’n eed gesweer!
. . .
maar Hy met eedswering deur die Een wat aan Hom gesê het: Die
Here het gesweer en dit sal Hom nie berou nie: U is priester vir ewig
volgens die orde van Melgisédek – (Heb. 7:21 AFR53)
Hierdie Priesterskap waaroor God gesweer het, was dat Jesus Priester
sou wees om vir God ’n offer te bring tot versoening van God se
uitverkorenes. Dis juis hoe ons versoen is deur die Here Jesus
Christus. (NGB art 21).
- Ons glo dat Jesus Christus – kragtens ’n eed deur
God – ’n ewige Hoëpriester is volgens die orde van Melgisedek.
- Die inhoud van hierdie eed was dat Jesus Christus
Homself in ons naam voor sy Vader gestel het om sy toorn met volledige
betaling te stil deur Homself aan die kruishout te offer. Hy het sy
kosbare bloed tot afwassing van ons sondes uitgestort soos die profete
dit voorspel het.
- Hy het na liggaam en siel as
regverdige vir die
onregverdiges gely (1 Pet. 3:18); Hy het die verskriklike straf wat ons
sondes verdien, ervaar, sodat sy sweet soos bloeddruppels geword het
wat op die grond val (Luk. 22:44) en Hy het uitgeroep: “My God, my God,
waarom het U my verlaat?” (Matt. 27:46).
- Dit alles het Hy ter wille van die vergewing van
ons sondes gely. Ons sê daarom tereg
saam met die apostel Paulus dat
ons met julle oor niks praat nie as oor Jesus Christus en wel oor Hom
as gekruisigde (1 Kor. 2:2); dat
ons alles as waardeloos beskou, want
om Christus Jesus, ons Here, te ken oortref alles in waarde.
Natuurlik beteken dit nie dat ons nou maar kan sweer en ede aflê en
weet dat as ons daarmee ’n fout maak, God die Vader ons dit in sy ewige
Priester Jesus Christus sal vergewe nie! Aangesien sy Naam heilig is,
behoort ons op elke moontlike wyse daarteen te waak dat dit nie lyk
asof ons dit minag of op ander wyses ’n geleentheid bied om dit te
minag nie.
- Dit beteken juis dat ons kragtens ons verlossing
die saak van eedswering sal verstaan en respekteer – dat ons dit reg
sal gebruik.
- Dit beteken dat die versoening in Christus ons
verbied om die Naam van God te misbruik, nie alleen deur meineed te
pleeg nie, maar ook deur onnodig te sweer.
- Prakties beteken dit dat ons die Naam van God
wettig sal gebruik as ons ’n eed moet aflê.
- Dit is wanneer ons God se Naam weens ’n gegronde
rede gebruik.
- Ten eerste om God se eer te verkondig. Die doel
daarvan moet wees dat Hy in heerlikheid moet verskyn.
- Tweedens bevestiging van die waarheid.
- Verder ook wanneer ’n saak van soveel belang is dat
dit betaamlik is om ’n eed af te lê, om die wedersydse liefde en
eensgesindheid tussen mense te beskerm (aldus Calvyn – verwerk
aangebied)
Kom ons kyk wat leer ons belydenis hieroor – Kategismus Sondag 37:
Vraag 101: Mag ’n mens ook
godvresend by die Naam van God ’n eed sweer?
Antwoord: Ja, as die owerheid
dit van sy onderdane eis of as die nood
dit vereis om daardeur trou en waarheid te bevestig. Dit moet dan tot
eer van God en tot heil van ons naaste gedoen word. Sodanige eedswering
is op die Woord van God gegrond (a), en die gelowiges in die Ou en Nuwe
Verbond het dit reg gebruik (b).
(a) Deut 6:13; 10:20; Jes 48:1; Heb 6:16. (b) Gen 21:24; 31:53; Jos
9:15; 1 Sam 24:23; 2 Sam 3:35; 1 Kon 1:29; Rom 1:9; 9:1; 2 Kor 1:23.
Vraag 102: Mag ’n mens ook by
die heiliges of by ander skepsels sweer?
Antwoord: Nee, want om ’n regte
eed te sweer, beteken dat ek God
aanroep as die enigste kenner van die hart om vir die waarheid
getuienis te gee en my te straf as ek vals sweer (a). Hierdie eer kom
geen skepsel toe nie (b).
(a) 2 Kor l:23; Rom 9:1. (b) Matt 5:34-36; Jak 5:12.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 132:1, 5
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 15 Februarie 2004 (aand)