Sing vooraf: Psalm 146:6
Ons begin hierdie ontmoeting met God deur openlik teenoor mekaar en teenoor
God te verklaar:
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige
werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 63:2
Gebed
Psalm 73:10
Skriflesing: Hebreërs 7
Teks:
Hebreërs 7:25-28; Kategismus Sondag 6
Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd
leef om vir hulle in te tree. Want so ’n hoëpriester was vir ons gepas, een wat heilig,
onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars is, en wat hoër as die hemele geword het; wat
nie elke dag nodig het, soos die hoëpriesters, om eers vir sy eie sondes offers te bring en
dan vir dié van die volk nie. Want dit het Hy net een maal gedoen toe Hy Homself geoffer het.
Want die wet stel as hoëpriesters aan mense met swakhede, maar die woord van die eedswering
wat ná die wet gekom het, stel die Seun aan, wat vir ewig volmaak is. (Hebreërs
7:25-28 AFR53)
Hoe meer erns ’n mens met sy godsdiens maak, soveel meer besef hy hoeveel hy werklik sondig, en
in watter swak toestand hy voor God is. Maar, hoe heerlik is dit om in hierdie toestand
verseker te mag wees dat ons? nog steeds verlos is in die Here Jesus Christus!
Ons gee aandag aan die volgende aspekte van ons Middelaar:
1. Die mensheid van die Middelaar
2. Die Godheid van die Middelaar
3. Waar laat dit ons?
1. Die mensheid van die Middelaar
Baie gelowiges (o.a. Luther) het geweldig daarmee geworstel oor hoe ’n mens in sy sondes kan
vrykom van die gerig van God. Is so iets moontlik?
- Nadat daar baie saamgeworstel is, en Bybelstudie gedoen is deur gelowiges oor ’n lang
tydperk (o.a. die Sinode van Dordrecht 1618/19), is die antwoord op hierdie vrae saamgevat in
ons belydenis: God het ’n Middelaar en Verlosser aangewys om mense van God
se oordeel te verlos. (NGB 26)
Regdeur die Bybel is daar ’n belangrike eis wat deur God se regverdigheid gestel
word:
- Daar is net verlossing en vergewing moontlik as God iemand/iets gestraf het, sodat daar
aan die Goddelike reg voldoen is.
- Geen mens of dier kan hierdie oordeel van die Here deurstaan nie, en daarom het God self
’n Verlosser aangewys om ons van sy oordeel te verlos.
Die Here openbaar van Genesis 3:15 af dat die aangewysde Verlosser ’n waaragtige en
regverdige mens is (vr. 16).
- Dit moet so wees omdat God se raad vereis dat die Een wat ons verlos, ’n mens moes wees,
want dit is mense wat daagliks teen die wil en heiligheid van God oortree.
- Ons lees daarvan dat die Verlosser ’n mens was in o.a. 1 Timoteus 2:5:
Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens
Christus Jesus, (1 Timoteus 2:5 AFR53)
Die definisie van die Verlosser is baie duidelik:
- Hy was waaragtig God,
- maar Hy was ook waaragtig mens.
- Daarom noem die Bybel Hom in hierdie vers die mens Christus
Jesus.
Lank voor die koms van die Verlosser het die Here die werk van die Verlosser gesimboliseer
deur onder andere al die offers wat vir eeue lank gebring moes word.
- Die offers was eintlik net profesieë:
-
- Hulle self kon nooit enige sondes vergewe nie: hulle het maar net vorentoe gewys na
die volmaakte offer toe wat op pad was.
- · Die offers was ook nie volmaak nie.
-
- Die priesters wat geoffer het, was sondaars, en die diere wat geoffer is, was ook
almal onder die vloek wat die Here oor die skepping uitgespreek het.
- Daarteenoor het die Here vereis dat die offer wat ons sondes moes vergewe, ’n mens moes
wees, sodat die eie soort vir sy sondes kon betaal.
- Hierdie mens moes volmaak wees.
Daar is baie meer dinge wat by die Verlosser ’n rol gespeel het wat bepaal het dat Hy ’n
mens moes wees. Kom ons kyk na enkele van hierdie dinge:
- Die feit dat dit ’n mens was wat die val en verderf van die mensdom bewerk het, is
bepalend daarvoor dat dit dan uiteraard ook ’n mens moes wees wat die herstel moes bewerk.
- Dit was ook een van die baie dinge wat die Here Jesus met sy versoeningsdood bewerk het:
-
- Hy het die gelowige mensdom opgehef uit die noute van die Satan se heerskappy waarin
hulle gestort is deur die eerste mens: Adam.
- Dit was ’n mens (Adam) wat teen die Satan die onderspit gedelf het, daarom moes dit ’n
mens wees wat (as mens) die Satan verslaan en die doodsbande om ons losknoop, sodat ons met
die opstanding uit die dood daaruit kan losbreek.
- Die Verlosser moes ook aan dieselfde natuur (menslike natuur) as ons onderwerp wees,
sodat hierdie natuur weer sy verhouding van gehoorsaamheid met die Skepper herstel kon kry.
- Daarby moes die Verlosser ’n menslike priester wees, sodat Hy met die amptelike gesag van
’n Hoëpriester van God ’n offer kon bring.
Dit is nie genoeg dat die Middelaar net ’n mens was nie.
- Hy moes heeltemal smetvry wees – anders sou dit die saak net vererger het.
-
- Geen mens wat vuil is van sy sondes kan vir ’n ander mens betaal nie.
- God kan tog nie in sy heerlikheid ook ’n sondaarmens wees nie, want dit is in konflik met
sy heiligheid.
- Dit is belangrik om dit te besef, want die Middelaar moes ook God self wees. God en
sondes is nie versoenbaar nie.
2. Die Godheid van die Middelaar
Hebreërs 7 openbaar die mensdom se verhaal.
- Net na die skepping het die mens in sonde geval.
- Daarom was die Here verplig om die werkverbond met die mensdom te sluit. Dit is waarom Hy
sy Tien Gebooie gegee het.
- Die onderhouding van die wet het misluk, want die mense kon dit nie hou nie.
Daarom moes die Here ’n ander verbond sluit – die genadeverbond.
- Vers 22 verwys daarna: in sover het Jesus van ’n beter verbond borg
geword. (Hebreërs 7:22 AFR53)
- Vers 25 volg dit op met die openbaring dat almal wat deur hierdie Priester na God toe
gaan, volkome gered word.
Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd
leef om vir hulle in te tree. (Hebreërs 7:25 AFR53)
- Die motivering in vers 26 is dat Hy as mens heilig, onskuldig, onbesmet en afgeskeie van
die sondaars was.
Want so ’n hoëpriester was vir ons gepas, een wat heilig, onskuldig,
onbesmet, afgeskeie van die sondaars is, en wat hoër as die hemele geword het;
(Hebreërs 7:26 AFR53)
1 Timoteus 2:5 openbaar dat die Verlosser ook God moes wees. Hy wás ook waaragtig God. Dit was
nie sommer sonder rede nie. Kom ons kyk na ’n aantal van die redes:
- Geen mens sal ooit kan verstaan hoe geweldig en vernietigend die toorn van die Here is
nie.
-
- Die Middelaar moes God wees om hierdie toorn te kon dra sonder om vernietig te word.
- Die Middelaar moes ook waaragtig God wees sodat Hy die doodstraf van God oor die mense
kon hersien.
-
- Dit sou ons niks gebaat het as ons sondes vergewe is, en ons nog steeds moes sterf
nie.
- Die Middelaar moes juis in staat wees om weer vir ons die ewige lewe te kon verwerf.
- Hy moes verder ook God wees sodat Hy die ewige lewe kan voorberei en aanbied.
-
- Dit is die betekenis daarvan dat Hy sê dat Hy gaan om plek gereed te maak in die
ewige Vaderhuis.
- Hy moet ook God wees om al die verlossing en bevryding van sondestraf te kon toepas op
almal wat daarby betrek is.
-
- Dit doen die Here Jesus met sy voortdurende voorbidding vir ons by die Vader.
- Elke keer wanneer ons sondig, tree Hy vir ons in by die Vader – nou nog elke oomblik.
- Daarom kan ons in die lewende hoop leef en sterf dat die Middelaar weer kom. Hierdie keer
nie weer as ’n mens nie, maar as die Regter van die ewigheid.
-
- Hy gaan dan sy verlostes by Hom op die nuwe aarde bymekaarmaak.
- Iewers in ons belydenis word hierdie gebeurtenis beskryf met die woorde:
“. . . en vir ons die geregtigheid en die lewe te kan verwerf en
teruggee”.
3. Waar laat dit ons?
U moet besef dat ons in die hiernamaals baie anders gaan wees as wat ons nou is. Die Bybel leer
dat die Middelaar vir ons wysheid, regverdigheid, heiligmaking en verlossing gee. Dit beteken
dat ons volmaak sal wees.
Dit stel ons egter voor sekere eise wat ons in hierdie lewe sal moet nakom:
- Hierdie verlossing gee vir ons die vermoë om te kan onderskei tussen waarheid en
valsheid.
- Dit stel ons in staat om te kan wegbeweeg van die slegte af en om die goeie te doen. Ons
hele lewe kan dus anders word.
- ’n Deel van die onderskeiding is ook dat dit ons aan ons sondes ontdek. Ons moet by ’n
eerlike sondebesef uitkom, anders kan ons nie die regte verlossingsbesef hê nie.
Hebreërs 7 vertel die volle openbaring dat hierdie Hoëpriester geleef en gesterf het. Dit
vertel hoe Hy die verlossing van die wêreld gewaarborg het.
Dit laat ons agter met die besef van die verbysterende grootheid van God se genade.
- Al is my sondes hoe groot, ek sal nie verlore gaan nie.
- Jesus Christus kyk nie na my sondes nie – Hy kyk na my as ’n verloste en ’n nuutgemaakte
deur sy bloed.
- Daarom het sy Heilige Gees ons ook vanaand weer saamgeroep om sy genade aan ons te kom
verkondig.
Glo dit en gaan leef in die krag van sy genade.
Kom ons lees Kategismus Sondag 6 saam:
Vraag 16: Waarom moet hy ’n ware en regverdige mens wees?
Antwoord: Omdat die geregtigheid van God eis dat die menslike natuur
wat gesondig het, vir die sonde moet betaal (a). Maar die mens wat self sondaar is, kan nie vir
ander betaal nie (b).
(a) Eseg 18:4, 20; Rom 5:18; 1 Kor 15:21; Heb 2:14-16. (b) Heb2:26, 27; Ps
49:8; 1 Pet 3:18.
Vraag 17: Waarom moet hy terselfdertyd ware God wees?
Antwoord: Om deur die krag van sy Godheid (a) die las van die toorn van
God (b) aan sy mensheid te kon dra (c) en vir ons die geregtigheid en die lewe te kan verwerf
en teruggee (d).
(a) Jes 9:5; 63:3. (b) Deut 4:24; Nah 1:6; Ps 130:3. (c) Jes 53:4, 11. (d) Jes
53:5, 11.
Vraag 18: Wie is hierdie Middelaar wat terselfdertyd ware God (a) en ware (b)
regverdige mens is (c)?
Antwoord: Ons Here Jesus Christus (d), wat God vir ons tot wysheid,
geregtigheid, heiligmaking en volkome verlossing gegee het (e).
(a) 1 Joh 5:20; Rom 9:5; 8:3; Gal 4:4; Jes 9:6; Jer 23:6; Mal 3:1. (b) Luk
1:42; 2:6, 7; Rom 1:3; 9:5; Fil 2:7; Heb 2:14, 16, 17; 4:15. (c) Jes 53:9, 11; Jer 23:5; Luk
1:35; Joh 8:46; Heb 4:15; 7:26; 1 Pet 1:19; 2:22, 3:18. (d) l Tim 2:5; Matt 1:23; 1 Tim 3:16;
Luk 2:11; Heb 2:9.(e) 1 Kor 1:30.
Vraag 19: Waaruit weet jy dit?
Antwoord: Uit die heilige evangelie, wat God self aanvanklik in die
paradys bekend gemaak het (a). Daarna het Hy dit deur die heilige aartsvaders (b) en profete
(c) laat verkondig en deur die offers en ander seremonies van die wet laat uitbeeld; (d).
Eindelik het Hy dit deur sy eniggebore Seun vervul (e).
(a) Gen 3:15. (b) Gen 22:18; 12:3; 49:10. (c) Jes 53; 42:1-4; 43:25; 49:5, 6,
22, 23; Jer 23:5, 6; 31:32, 33; 32:39-41, Miga 7:18-20; Hand 10:43; 3:22-24; Rom 1:2; Heb 1:1.
(d) Heb 10:1, 7; Kol 2:7; Joh 5:46.
(e) Rom 10:4; Gal 4:4; 3:24; Kol 2:17.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 150:1
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige
Gees bly by u almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 7 Augustus 2005 (aand)