Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 9:1, 9
Gebed.
Psalm 16:1, 5
Skriflesing: Hebreërs
9:15-28
Teks: Heidelbergse
Kategismus Sondag 17; Hebreërs 9:15
En
daarom is Hy Middelaar van ’n nuwe testament, sodat, terwyl daar ’n
dood plaasgevind het vir die verlossing van die oortredinge onder die
eerste testament, die wat geroepe is, die belofte van die ewige erfenis
kan ontvang. (Hebreërs 9:15 AFR53)
In hierdie gedeelte handel die Bybel oor die offer van Christus en die
krag daarvan.
- Deur die bloed van
die Here Jesus Christus het daar versoening vir ons sondes gekom.
- Deur hierdie
versoening gaan die Nuwe Testament in vervulling.
- Die testamentskap bevestig juis
die vastheid van die verlossingswerk van die Here Jesus.
- Die testament staan agter die
Hoëpriester en gee ons die versekering dat dit sy doel sal bereik.
Hierdie gedeelte stel dit baie duidelik dat die offer van Christus ‑ sy
priesterswerk ‑ heeltemal eenmalig was.
- Hy was net een keer
die losprys. Nie een van ons kan Hom dit nadoen nie.
- God het van Hom
verwag om in elke opsig gehoorsaam te wees tot die dood toe. Sy dood
aan die kruis op Golgota.
Die aanslag van die duiwel op Jesus se gehoorsaamheid aan sy goddelike
opdrag staan so beskryf in Lukas 4: 5 vv.:
Toe
bring die duiwel Hom op 'n hoë berg en wys Hom al die
koninkryke van die wêreld in 'n oomblik se tyd. En die
duiwel sê vir Hom: Ek sal U al hierdie mag gee en hulle
heerlikheid, want dis aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek
wil. As U my dan aanbid, sal alles aan U behoort!
Die Satan se aanslag op Jesus was ongelooflik skerp en op ‘n uiters
moeilike tydstip!
- Hy het Jesus
gekonfronteer omdat hy werklik geglo het dat die Here hom sal aanbid
eerder as om te sterf.
- Daarom is Jesus se
dood so 'n totale opskudding. Want toe het dit wat die duiwel as
onwaarskynlik beskou het, gebeur.
- Dit wat tot op
daardie stadium heeltemal onmoontlik was omdat niemand dit nog ooit kon
regkry nie, gebeur die derde dag daarna: Jesus staan op uit die
dood! Die eerste en enigste mens in die geskiedenis staan in eie
krag uit die dood op en word weer lewendig.
Wat opvallend is, is die angstigheid wat daar by die ongelowiges was om
hierdie dinge van die mense af weg te hou.
- Die Romeinse
owerhede en die owerpriesters was almal van hierdie opstanding bewus.
- Die wagte het vir
hulle die waarheid gaan vertel. Maar die wagte kry die opdrag om
teen die waarheid in te getuig dat die liggaam van Jesus gesteel is.
Die Here se raad word egter nie deur mense gekeer nie, en daarom gaan
die apostel Paulus met hierdie nuus die wêreld in.
- Sommige kere het die
heidene hom uitgelag, soos die keer met die Areopagustoespraak:
- Die Grieke wou dit nie maklik glo
nie, al het hulle baie aandagtig geluister en aanvanklik gedink dat
Paulus die verstandigste man is waarna hulle nog geluister het.
- Maar toe hy vertel het dat die
dood oorwin is omdat Jesus, die mens wat ook God is, die dood
oorwin het, het die hele arena se mense in 'n lagbui uitgebars en vir
Paulus gesê dat hy hulle anderdag weer kan kom toespreek.
- Die Jode het nie
baie beter gevaar nie. Daarom het hy ook later gesê dat die
opstanding van die Here Jesus vir die Jode 'n struikelblok is.
- Dit was elke keer wanneer hulle
dit gehoor het, van nuuts af 'n kwesplek.
- Die destydse Joodse Raad het
Jesus veroordeel en die volk het geskreeu dat sy bloed op hulle en
hulle kinders moet wees.
Luister wat God leer. Romeine 6:6, 8 leer dat God ons
liefhet. Daarom wou Hy ons nie in die hande van die Satan laat,
waar ons onsself laat beland het met die sondeval nie. Hy het sy
Seun gestuur om die dood vir ons te oorwin, sodat ons weer God se
genade kan ervaar.
…aangesien
ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die
liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die
sonde sou dien nie. Want hy wat gesterf het, is geregverdig van
die sonde. As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat
ons ook saam met Hom sal lewe, (Romeine 6:6-8 AFR53)
Toe ons nog swak was, het Jesus op die regte tyd vir die sondaars
gesterf. Daarom staan daar in Romeine 14: 9 die volgende:
Want
hiervoor het Christus ook gesterwe en opgestaan en weer lewend
geword, om oor dode sowel as lewende te heers. (Romeine 14:9
AFR53)
Dit beteken dat ons nou ook deur Hom regeer word. Dan kan die
dood en die graf nie die laaste sê oor ons hê nie, want
Jesus lewe dan, en Hy regeer uit die hemel oor sy gelowiges.
Jesus het mos gesê dat Hy lewe en ons sal lewe (Johannes
14:19).
- Dit beteken dat ons
lewe inderdaad eers in sy volle werklikheid na hierdie aardse lewe
begin.
- Dit word ook baie
sterk onderstreep deur Efesiërs 2:4 ‑ 6 waar daar geskryf staan
dat ons al reeds saam met Christus opgewek is, en reeds saam met Hom in
die hemel is.
- Ons lewe na die dood
is so seker deur God gewaarborg dat ons beskou word asof ons nou‑al
reeds in die hiernamaals is. Daar staan nie dat ons eers eendag
daar sal kom nie.
- Die feit is so
oorweldigend sterk dat die Bybel leer dat ons reeds saam met Christus
daar is.
Ons moet in hierdie aardse bestaan seker almal sterf. Maar u moet
nie die dood vrees nie. God self gee u gemoedsrus, want Hy neem
die vrees vir die dood weg.
- Die dood word gevolg
deur die opstanding.
- Daarvan is die
opstanding van Jesus u bewys.
Dit is natuurlik so dat die ongelowiges nie hierdie troos het nie.
- Die wat nie in Jesus
Christus en sy opstanding glo nie, gaan nie in die vreugde van die Here
se hiernamaals in nie.
- Vir hulle is die
dood 'n deur waardeur hulle in die ewige smarte ingaan.U moet egter in
die Here glo, en bekeerd lewe, want u deel in die
verlossing van die Here Jesus Christus. U is verlos van die dood.
Deur Jesus Christus leef u tot in ewigheid.
Kom ons kyk wat ons hiervan bely in Kategismus Sondag 17
Vraag 45: Watter nut het die
opstanding van Christus vir ons?
Antwoord: Ten eerste het
Hy deur sy opstanding die dood oorwin
sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het,
deelagtig kon maak (a). Ten tweede word ons nou ook deur sy krag
tot 'n nuwe lewe opgewek (b). Ten derde is die opstanding van
Christus vir ons n betroubare waarborg van ons salige opstanding (c).
(a)Rom 4:25; 1 Pet 1:3; 1
Kor 15:16. (b) Rom
6:4; Kol 3:1, 5; Ef2:5, 6. (c) 1 Kor 15:20, 21.
Amen
Slotgebed.
Skrifberyming 5-4:2, 3, 5, 6,
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 24-10-04 (aand)