Sing vooraf: Psalm 91:7
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 18:1, 20
Psalm 130:2
Gebed
Psalm 9:7, 9
Skriflesing: Hooglied
1
Teks:
Hooglied 1:3; Kategismus Sondag 12
U salf is aangenaam van geur, u naam is soos salf wat uitgegiet is;
daarom het die jonkvroue u lief. (Hooglied 1:3 AFR53)
Daar is ‘n baie sterk ooreenkoms tussen ‘n vrou en
haar man in die huwelik, en die Here Jesus Christus en sy Kerk in die
opset van God se koninkryk.
- Soos wat ‘n bruid met haar hele hart verlang na haar man, so
moet die Kerk – dit is al die gelowiges – met hulle
hele hart en met al hulle kragte na die Here Jesus Christus verlang.
- En soos wat ‘n vrou by die huwelik die naam en die blyplek
van haar man aannneem, so kry die Kerk die Naam van die Here Jesus
Christus en blyplek in God se koninkryk – op die nuwe aarde.
In Efesiërs 5 van vers 22 af word die verhouding van
‘n vrou teenoor haar man beskryf.
- In die gedeelte word geskryf dat die vrou aan die man onderdanig moet
wees, want die man is oor die vrou gestel soos wat die Here Jesus
Christus oor die kerk gestel is.
- Die man word net reguit aangesê om sy vrou lief te
hê, want God het die Kerk altyd lief. Die man het geen keuse
nie – hy moet doen soos God doen.
- Die huwelik is dus die simbool van die verhouding tussen God en sy Kerk.
Daarna vergelyk die Efesiërbrief die heiligheid binne die
huwelik met dit wat deur die sakrament van die heilige doop uitgebeeld
word.
- Die doop is die simbool daarvan dat die verhouding tussen die Kerk en
die Here volmaak is, omdat die Kerk se sondes deur die Here Jesus
Christus weggewas is.
Daarna staan daar in die Bybel:
Hierdie verborgenheid is groot, maar ek sê dit met die oog op
Christus en die gemeente. (Efesiërs 5:32 AFR53)
Dit gebeur dus werklik soos dit in die boek Hooglied geskryf staan:
U salf is aangenaam van geur, u naam is soos salf wat uitgegiet is; . .
. (Hooglied 1:3 AFR53)
Die Naam van die Here Jesus Christus word so letterlik oor ons
uitgestort dat ons selfs sy Naam dra: Christene.
Die Here Jesus Christus is tot drie ampte gesalf: Profeet, Priester en
Koning.
- Hy leer en onderrig, verlos en vertroos en Hy neem ons as sy onderdane
aan.
- Die gemeente moet dit glo en bely: die Christus van God wat tot al drie
hierdie ampte gesalf is.
Die moderne mans gaan dadelik vra: Wat kan die Here Jesus Christus in
hierdie drievoudige amp vir my doen?
Die antwoord is: Alles wat vir ons verlossing nodig is!
- Deur sy Profeetskap verlig Hy ons harte en ons verstand.
- Hy skenk die Woord van God aan ons. Hy maak dat ons die lus het om die
Bybel te lees en te verstaan.
- Jesus Christus die Profeet het die verborgenheid van God se Raadsplan
aan ons bekend kom maak: Hy openbaar dat God se raad is dat Hy ons
verlos en met God versoen deur sy dood.
- Die Here Jesus Christus, die Priester, is ons Verlosser.
- Heel eerste omdat Hy aan die kruis vir ons gesterf het.
- Met hierdie offerdaad van Hom het Hy ons van die straf en die smet van
ons sondes vrygemaak – want die offerdaad was juis dat Hy
daarvoor gesterf het.
- Die Priester is ook die Trooster wat God se vrede aan ons gee. Hy gee
die innerlike vrede dat ons kan weet dat ons uitverkorenes is wat vir
ewig aan God behoort en deur sy offer bestem is vir die ewige lewe.
God die Heilige Gees werk ook op hierdie vlak, want Hy skenk die geloof
en die vaste wete dat ons salig is. God die Heilige Gees werk in en
deur al drie die ampte van die Here Jesus Christus.
- Hy bewerk insig in ons verstand as ons luister na die verkondiging van
God se Woord (profeties).
- Hy skenk die innerlike troos en sekerheid dat die Hoogste Priester van
God ons deur sy offer met God versoen het.
- Die Heilige Gees laat ons verstaan dat die kruisdood juis my persoon
raak! Ek is persoonlik daarby betrokke, want dis my verlossing en my
saligheid wat daar bewerk en verseker is!
- Die Here Jesus ons ewige Koning heilig ons sodat ons burgers van sy
koninkryk kan wees.
Omdat ons die dinge weet – dis aan ons geopenbaar –
moet ons die naam Christen met eer en waardigheid dra. Dit bring ons by
ons verantwoordelikheid:
- Ons moet kennis hê van alles wat aan ons geopenbaar is. Ons
moet die inhoud van die Bybel in ons verstand in kry.
- Omdat ons God die Heilige Gees as Leidsman het, moet ons nie kla dat
die Bybel te moeilik is om te verstaan nie.
- Die Gees van God lei ons – Hy doen nie ons werk vir ons nie,
want Hy is nie ons slaaf nie!
- Hy lei ons sodat ons die insig het om ons geloofswerk self te kan doen!
Geloofsprestasies kom nie vanself nie. Ons moet ons daarin oefen
– dit werk net soos liggaamlike fiksheid.
- Ons moet leer om in die krag van die Here Jesus te lewe.
-
·Ons moet Hom daagliks beter leer ken uit sy Woord onder die leiding van
God die Heilige Gees.
Vergeet ons nie soms dat ons geloofsoorwinnings die ander geloofsgenote
ook kan versterk nie?
- Die vraag is spesifiek gerig aan die wat altyd net kla.
- Geloof is nie net ‘n alleensaak tussen my/jou en die Here
nie. Gelowiges put ook krag uit mekaar se vroomheid.
Dan is daar ook nog dit dat ons moet besef dat ons almal beklee is met
die drie ampte van die Here Jesus Christus – want ons is
Christene.
- Elkeen van ons is priester wat liefdesdiens en barmhartigheid moet doen.
- Ons moet almal bid.
- Ons moet almal ons hele lewe as ‘n dankoffer aan God wy.
- Net so is ons elkeen ook profeet.
- Ons moet getuig van die Here Jesus.
- Ons hoef nie in ‘n erediens op ‘n preekstoel te
staan en preek soos ‘n dominee om ‘n getuie vir die
Here Jesus en sy verlossingswerk te wees nie.
- Ons hele lewe moet getuig dat ons God se eer uitdra met woord en daad.
Ons moet tog praat oor godsdiens en oor dit wat in die Bybel staan.
- Daar is nie een mens wat nie koning van die Here is nie.
- Hy het nie verniet vir Adam gesê dat hy die aarde moet bewerk
en bewaak nie.
- In al ons handel en wandel moet dit dus duidelik wees dat ons besig is
om God se koningskap in sy Naam uit te oefen.
- NB Die Here het nooit sy gesag aan ons oorgedra nie – al wat
Hy gedoen het, was om sy wil aan ons te openbaar sodat ons sy gesag kan
uitoefen.
- Ons moet dus ook in die Here se Naam sy koningskap oor die werke van
die Satan uitoefen.
Iemand wat nie die beeld van God vertoon nie, kan tog nie verwag om in
die hiernamaals by God gehuisves te word nie.
Kom ons kyk saam na wat in ons belydenisskrifte hieroor geskryf staan
– in die Heidelbergse Kategismus Sondag 12.
Vraag 31: Waarom word Hy Christus, wat Gesalfde beteken, genoem?
Antwoord: Omdat Hy deur God die Vader bestem en aangestel en met die
Heilige Gees gesalf is (a) tot ons hoogste Profeet en Leraar (b), wat
aan ons die verborge raad en wil van God aangaande ons verlossing ten
volle bekend gemaak het (c); tot ons enigste Hoëpriester (d),
wat ons met die enige offer van sy liggaam verlos het (e) en met sy
voorbidding gedurigdeur by die Vader vir ons intree (f); tot ons ewige
Koning, wat ons met sy Woord en Gees regeer en ons by die verlossing
wat verwerf is, beskerm en bewaar (g).
(a)Ps 45:8; Heb 1:9; Jes 61:1; Luk 4:18. (b) Deut 18:15; Hand 3:22;
7:37; Jes 55:4. (c) Joh 1:18; 15:15. (d) Ps 110:4. (e) Heb 10:12, 14;
9:12, 14, 28. (f) Rom 8:34; Heb 9:24; 1 Joh 2:1; Rom 5:9, l0. (g) Ps
2:6; Sag 9:9; Matt 1:5; Luk l:33; Matt 28:18; Joh 10:28 Op 12:10, 11.
Vraag 32: Waarom word jy 'n Christen genoem (a)?
Antwoord: Omdat ek deur die geloof 'n lid van Christus is (b) en
daardeur deel aan sy salwing het (c) sodat ek sy Naam kan bely (d),
myself as 'n lewende dankoffer aan Hom kan toewy (e) en in hierdie lewe
met 'n vrye gewete teen die sonde en die duiwel kan stry (f) en hierna
met Christus in ewigheid oor alle skepsels kan regeer (g).
(a)Hand 11:26. (b) 1 Kor 6:15. (c) 1 Joh 2:27; Hand 2:17. (d) Matt
10:32; Rom 10:10. (e) Rom I2:1; 1 Pet 2:5, 9; Op 1:6; 5:8, 10. (f) 1
Pet 2:11; Rom 6:12, 13;. Gal 5:16, 17; Ef 6:11;
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 2:1
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk
Bellville
Datum: 2 April 2006
(aand)