Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 146:1,8
Gebed
Psalm 25:1,2
Skriflesing:
Hosea 1
Teks:
Hosea 1:9
En Hy
het gesê: Noem hom Lo-Ammi, want julle is nie my volk nie,
en Ek sal nie julle s’n wees nie (Hosea 1:9, AFR53).
Dit was maar ’n baie treurige toestand waarin ons was voordat die
geboorte van Christus plaasgevind het.
- Ons was verwerptes – uit eie optrede.
- Ons was nie meer God se volk nie, want ons
gehoorsaamheid was by die duiwel in plaas van by God.
Maar God kon sy woede en toorn straf, en daarmee die deur terug oopmaak.
- Die geboorte van Christus – Kersfees – was die
begin van God se straf om versoening oor sy toorn te bewerk.
- Dit was hoe die hoop op die Verlosser en ook die
verlossing self, wat al die eeue deur beloof is, ‘n werklikheid geword
het.
In die gedeelte wat ons voorgelees het, het ons te doen met ’n profeet
wat deur die Here beveel is om met ’n hoervrou te gaan trou. Die Here
wou gehad het dat hierdie man moes voel hoe ’n man voel as sy wettige
vrou hom verlaat, en hoe hy voel oor hierdie vrou wat hy liefhet, maar
wat sy liefde vertrap deur agter ander mans aan te loop.
Hier is simboliek in hierdie stuk geskiedenis:
- Die Joodse volk staan hier vir die uitverkore kerk
van God deur die eeue.
- Hulle staan vir die sondaars wat lank voor hulle
was, en ook vir ons wat in die voetspore van die sonde sou volg.
- Hulle staan vir die uitverkorenes wat die Here
alleen moes aanbid, maar wat die Here verlaat en vergeet, en wat met ’n
verkeerde lewe dikwels van die Here af weg beweeg.
- Die betekenis van hierdie gedeelte is dit: Hosea
stel die Here voor, en sy owerspelige vrou die Jode – en ook ons – wat
die Here verlaat.
- Die Here voel baie seer oor hierdie saak, want Hy
sien die verhouding tussen Hom en sy uitverkorenes soos die verhouding
tussen ’n man en ’n vrou.
- En nou het die uitverkorenes – die vrou – haar man
(die Here) verlaat, en agter ander mans aan gehoereer.
Dan word daar uit hierdie huwelik van Hosea ’n seun gebore. Hy kry die
naam Jisreël.
- Die naam beteken dat daar iets is wat met oorlog en
doodslag gewreek gaan word.
- Met hierdie naam word daar aan die ontroue vrou
gesê dat hierdie sonde van haar gewreek gaan word.
- Dit geld dus ook ons en ons sondes.
Die prediking van Hosea gaan dus oor die hele wêreld wat met God
versoen gaan word.
Dit preek dat ons al van die Paradys af die Here verlaat het, en aan
die duiwel gehoorsaam was, en dat die Here ons ongehoorsaamheid gaan
straf om daardeur weer die verhouding tussen ons en Hom te versoen.
Daarna word daar ’n tweede kindjie vir Hosea gebore. Haar naam is
Lo-Rugama.
- Dit beteken: Daar is geen ontferming te vinde nie.
- Die betekenis hiervan is tog baie duidelik.
- Vir Hosea se vrou het dit beteken dat haar man geen
ontferming meer met haar het nie, omdat sy met haar sondes volhard.
- Vir ons preek dit dat die Here met ons geduld
verloor het omdat ons ook nie van ons sondes bekeer word nie, maar
steeds in die kwaad volhard het van die skepping af, en dat ons nog
dikwels in goddelose oomblikke leef.
U sal ook oplet dat dit elke keer gaan oor die geboorte van ’n kind, en
dan ook nog oor die kind se naam.
Hierin word die koms en die werk van die Kind van God – Jesus Christus
– al voorspel.
Nou gebeur dit ook so vir Hosea en sy vrou dat daar weer ’n kindjie
gebore word: ’n Seuntjie met die naam Lo-Ammi.
- Die naam beteken: nie My volk nie!
- Vir Hosea se vrou het dit beteken dat sy nie meer
Hosea se vrou is nie.
- Lees maar hoofstuk 2:1. Daar sê Hosea vir sy
kinders die woorde:
- Twis met julle moeder, twis, want sy is nie my vrou
nie, en ek is nie haar man nie.
Vir Israel het dit beteken dat die hele verhouding tussen hulle en God
die Here nou verbreek en verby is. Hy is nie meer hulle God nie, en
hulle is nie meer sy volk nie.
Kyk hoe het die prediking al hoe skerper geword.
- Die eerste preek het gesê: Jy het gesondig,
en Ek gaan dit wreek.
- Daar was niemand wat wou luister nie.
- Die tweede preek was skerper en ook nader aan die
persoon: Julle wil nog nie luister nie, en nou het ek geen ontferming
meer met julle nie.
- Nou kom die Here met hierdie laaste preek: Alles
tussen julle en my is nou verby!
- Ek wil niks meer met julle te doen hê nie.
- Julle is nie meer My volk nie.
Dit is presies waar ons was.
WAS, want die genade van die
Here het die dinge verander.
In hoofstuk 2 vertel Hosea hoe hy hom op hierdie slegte vrou van hom
gaan wreek.
- Hy sê hy sal haar kaal uittrek, en haar voor
al die mans wat haar liefhet tot ’n skande maak.
- Hy sê dat hy weet dat nie een van die mans
die moed sal hê om haar te help nie.
- Dan sal sy daarna nie weer na een van hulle toe kan
teruggaan nie, want dan sal hulle niks met haar te doen wil hê
nie.
- Sy sal verplig wees om aan hom alleen getrou te
wees.
Hoor net hoe slaan die Christus-prediking deur. Dit is asof daar iets
van die Here se naakte kruisiging in hierdie oordeelswoorde vasgevang
is. In elk geval word die oordeel van die Here in hierdie woorde
vasgevang.
- Hy gaan ons sondes in die openbaar vergeld.
- En dit het ook gebeur.
- Dit het ook gebeur deur die geboorte van ’n
kindjie.
- Hier in vers 7 staan daar al geskryf dat die Here
sy volk gaan verlos deur die stam van Juda.
- Dit was die voorspelling dat die kind wat die
verlossing sou aanbring, uit die stam van Juda gebore sou word.
Dit het alles gebeur, en dit is ook wat ons in hierdie tyd herdenk.
- Daar is ’n kind uit die stam van Juda gebore: Jesus.
- Hy is onder die Joodse volk gebore. In Hom het God
vlees geword en hier by ons kom woon.
- En van sy geboorte af het Hy gely en smarte gedra.
Hierdie openbare vergelding waarvan die Here hier praat, is alles aan
Hom gedoen.
Eerste word hy uit ’n familie gebore met baie skandes in hulle
geskiedenis. Dan word Hy in ’n klein dorpie gebore, i.p.v. in die
grootste en rykste stad in die wêreld, waarvoor Hy gekom het.
- En in hierdie plekkie is daar geen blyplek waar Hy
gebore kon word nie.
- Hy het die eerste lewenslig in ’n stal gesien.
- Daarna moet sy ouers vlug om Hom aan die lewe te
hou.
Soos wat Hy grootgeword het, het die mense Hom gehaat en verag. So is
die openbare vergelding – wat aanvanklik oor Hosea se vrou voorspel is
– is aan Jesus bewaarheid. Die konsekwensies daarvan kry ons terug in
Hosea se kinders se name wat verander is: Let daarop dat nadat Hosea se
vrou gestraf is, die kinders ander name gekry het.
- Lo-Rugama se naam word nou net Rugama, wat beteken:
Ek sal My ontferm.
- Dit is mos nou waar, want God het Hom juis oor ons
ontferm omdat Hy Jesus gebore laat word het wat alle straf gedra het in
ons plek, sodat ons van die vloek van ons eie sondes verlos kon word,
en onbesmet voor God kan kom.
- Lo-Ammi word nou net Ammi. Dit beteken: My volk!
- En dit is waar, ons is nou God se volk, danksy
hierdie kind wat gebore is, en wat ons weer God se volk gemaak het.
Geliefdes, as ons terugdink aan die Here Jesus se koms na ons aarde toe
en die versoening wat Hy bewerk het, laat ons dan nie dink aan geskenke
en drank en uitspattighede soos wat in ons tyd eie is aan hierdie dag
nie.
Want dan vier ons Kersfees heeltemal verkeerd.Laat ons op daardie dag
onthou dat daar ’n kindjie gebore is wat ons van die duiwel af
vrygekoop het.
- Hy is gebore om te ly en uiteindelik te sterf omdat
al God se wraak oor al ons sondes op Hom alleen gewreek is.
- Die koms van die Here Jesus moet ons laat onthou
dat ons nie meer hoef te vrees oor ons hiernamaalse bestemming nie –
dié van ons wat waarlik in hierdie Jesus se verlossingswerk glo,
is weer deel van God se volk. God het oor ons ontferming.
Ons lewe is deur Jesus Christus verander van ’n tevergeefse een af na
een toe wat weer doel en sin het, naamlik om te lewe vir die Here: In
die taal van ons teks: dat ons as die kerk van die Here weer sy Bruid
kan wees!
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 84:1,2,6
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 21 Desember 2003 (aand)