Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 146:1, 8.
Geloofsbelydenis
Wet
Psalm 19:4
Gebed.
Psalm 81:1, 4, 12.
Skriflesing: Jeremia 1.
Teks: Jeremia 1: 10
Kyk,
Ek stel jou vandag aan oor nasies en oor koninkryke om af te breek en
uit te roei, om te vernietig en plat te slaan, te bou en te vestig.
Het u al daaraan gedink dat Kersfees 'n gebeurtenis is wat daarvan
getuig dat die Here Jesus gebore moes word om te doen waarvoor Hy uit
die ewigheid van die voortyd bestem is?
- Kersfees getuig daarvan dat God vir sy Seun ‘n roeping in sy Raad
vasgelê het.
- Hierdie roeping was dat Hy mens moes word, foutloos en sondeloos
moes lewe en die toorn van God as gevolg van die mense se sondes moes
dra. sodat al die uitverkorenes se sondes met God versoen kon word.
Kom ons ondersoek saam die Skrifgedeelte wat ons saamgelees het. Ons
gee aandag aan die volgende twee aspekte:
1. Jeremia se voorafbestemming
2. God se bystand
1. Jeremia se voorafbestemming
Die Here roep Jeremia as profeet. Hy motiveer baie duidelik waarom Hy
dit doen:
- Hy sê dat Hy Jeremia al geken het voordat sy moeder hom in
die wêreld gebring het.
- Let op hoe die Here dit Self sê: Die Here het Jeremia nie
maar net geken omdat Hy geweet het dat daar so iemand soos Jeremia sou
wees nie. Die Here het hom self gemaak.
Die Here het hom ook as iemand spesiaals gemaak: die Here het hom
gemaak om 'n profeet van die nasies te wees.
- Vir hierdie doel het die Here Jeremia ook al gewy nog voordat hy
gebore was.
- In die 1933 vertaling staan nog dat die Here hom geheilig het,
m.a.w. geheilig het om nou, nadat hy gebore is en opgegroei het, sy
profeet te wees.
Daar is iets wat baie belangrik is in hierdie saak:
- Dit is dat u daarop moet let dat dit nie Jeremia se kwaliteite is
wat veroorsaak het dat hy 'n profeet geword het nie.
- Hy het sy gawes en kwaliteite as mens gehad omdat die Here vooraf
besluit het dat Jeremia 'n profeet moet wees, en hom daarvolgens
geskape het.
Daar is baie dinge in die roeping van Jeremia (en ook in die dinge wat
die Here vooraf beplan het) wat baie ooreenkom met die van Jesus
Christus.
- Jeremia word byvoorbeeld voor sy geboorte reeds deur die Here
beplan en voorberei vir sy lewenstaak.
- Net so word Jesus Christus eeue voor die tyd reeds voorspel:
- nie net dat Hy eendag sal kom lewe op die aarde nie,
- maar selfs wat Hy alles sal doen,
- bv. dat Hy blindes en kreupeles sal genees;
- en natuurlik veral dat Hy ons sondes sal dra.
- Jeremia word ook nie net na sy eie volk toe gestuur nie!
- Hy word na alle volke toe gestuur, net soos wat Jesus Christus
later gekom het om almal wat die Vader Hom gegee het, te verlos.
- En hierdie mense wat die Vader aan Hom gegee het, was uit alle
volke nasies en tale, maar net soos Jeremia het Jesus Christus ook by
die Jode moes begin.
Dit was nog nooit vir iemand maklik om te gaan doen wat die Here van
hom vra nie, want die duiwel het altyd die een of ander klip wat hy in
die pad rol. Hy sorg dat ons altyd iewers teen pyn of vrees vasloop
wanneer ons aan die Here gehoorsaam moet wees. Jeremia ervaar dieselfde
pyne rondom die uitlewing van sy roeping as wat alle mense ervaar.
Hy kla by die Here dat hy nie goed kan praat nie,
en dat hy ook nog jonk is.
Hy voel dat hy onbekwaam is vir die taak wat die Here nou op hom
lê, want hy sien nie kans om te gaan doen wat die Here van hom
vra nie.
Toe wys die Here hom op die ander kant van dieselfde saak. Die Here
sê toe dat Jeremia moet gaan na na wie toe die Here hom ookal sal
stuur. Hy moet nie bang wees nie, want die Here is by hom!
- Die Here sal hom red wanneer daar moeilikheid kom (v. 7, 8).
- Daar was net een Boodskapper wat nie hierop aanspraak kon maak
nie, en dit was Jesus Christus toe Hy aan die kruis gehang het en dit
uitgeroep het dat God Hom verlaat het.
Daar is natuurlik 'n goeie rede voor, want dit was deel van die angs en
straf wat Jesus moes dra vir al ons sondes:
- sodat God ons aan die een kant ons sondes kan vergewe,
- maar dat Hy aan die ander kant weer nooit van ons af weggaan nie.
- Jesus het die aand voor sy gevangeneming al geweet dat Hy deur
geweldige eensaamheid en angs sou gaan wanneer Hy gevang en
verhoor en verraai en uiteindelik verwerp sou word.
- Hy het geweet van al die pyn wat Hy sou moes deurmaak as Hy deur
die soldate daar aan die kruis vasgeslaan en daarna regop gehys sou
word sodat die kruis ingeplant kon word.
- Daarom het Hy bloed gesweet van angs toe Hy gebid het dat hierdie
beker by Hom moes verbygaan.
Die feit dat Jeremia bang was, onderstreep maar net dat hy uit ervaring
geweet het dat die profete van die Here in geweldige konflikte beland
het. Jesus het dit ook deurgegaan, en elke ware gelowige sal dit
deurleef dat eerlike uitlewing van jou geloof teenkanting en vyandskap
op jou hals haal.
- Daarom beloof die Here dat Hy sy dienaars nooit alleen sal laat
nie.
- Watter gevaar daar ookal mag dreig ‑ Hy sal die wat
aan Hom behoort, bevry.
Daarom stel die Here Jeremia aan oor die volke. Dis asof die Here hom
aanstel as aanvoerder oor die Woordverkondiging van daardie tyd.
- Hy moet aan die volke die wil van die Almagtige verkondig.
- Vers 10 sê presies wat die inhoud van sy Woordverkondiging
moet wees:
- Hy moet oordeel preek sodat die mense (volke) tot bekering kan
kom.
- Hy moet uitruk en omgooi.
- Hy moet hulle sondes reguit aankondig
- en hy moet die fondamente van valsheid en afgodsaanbidding
onder hulle uitruk.
- Jeremia moet vernietig en verwoes, sê die Here. Hy moet
die oordeel van die Here aankondig op 'n manier dat dit die tekens van
vernietiging en verwoesting vir die mense wat daarna luister teken.
- Die volk moet hoor dat daar buite die Here om net dood is, en
dat daar nie 'n kans is dat enige een van hulle gaan oorleef as hulle
nie tot bekering kom nie.
Jeremia se prediking is dus nie net oordeel nie, dis ook genade, want
hy kry die opdrag om ook te bou en te plant.
- In sy prediking moet hy duidelik die genade van God aankondig vir
die wat in die Here gevestig word ‑ geplant en gebou word.
- Ons sou in Nuwe Testamentiese taal kon sê dat dit hier gaan
oor die wat tot bekering kom.
- Vir sulke mense is daar 'n duidelike heilstoekoms, want hulle
word in die genade van die Here meer, soos 'n boom steeds groter groei,
of soos 'n gebou wat al hoër opgebou word.
2. God se bystand
Daarom sien Jeremia twee visioene.
- Die eerste een is die van 'n amandeltak.
- Die amandelboom bot die eerste van al die vrugtebome in
Palestina. Terwyl al die ander bome nog slaap, blom hierdie bome reeds
met oorvloed van bloeisels.
- Die Here noem hierdie boom omdat dit die simbool is daarvan dat
die Here wakker is oor sy woord, om sy beloftes tot uitvoering te
bring.
- Dit beteken dat Hy die beloftes van genade sal vervul oor die
wat tot bekering kom en in Hom meer word.
- Die oordeelskant van Jeremia se prediking is ook waar. Die Here
laat hom 'n kokende pot sien wat van die Noorde af oor Jerusalem en
Juda uitgegooi word.
- Dit het toe so gebeur: Jerusalem is uiteindelik vanuit die
Noorde beleër en verwoes.
- Omdat die volk nie tot bekering wou kom nie, het die Here toe
met die oordeelsprofesie van Jeremia, dat Hy gaan uitruk en omgooi en
vernietig en verwoes, deurgegaan.
Dit het dalk tyd geword dat ons in die tydsgewrig waarin ons lewe hier
rondom Kersfees vanuit die perspektief van die roeping en profesie van
Jeremia aan die dinge wat in ons tyd gebeur, dink.
- Dink daaroor dat God eeue lank beloof het dat die Messias sou
kom. Die belofte van sy koms het twee duidelik onderskeibare elemente
gehad.
- Die een was dat Hy sou kom tot verlossing en versoening vir die
wat in Hom glo.
- Hy sou met allerhande wonders sy Goddelike almag openbaar
‑ siekes gesondmaak, blindes weer laat sien, ens.
- Al hierdie dinge was reeds 'n voorspel van die uiteindelike
herskepping wat deur Hom tot stand gebring sal word.
Dit is asof ons in die voorspellings wat in die Ou Testament staan, en
in die dinge wat toe later in die geskiedenis gebeur het, die woorde
van die Here in Jeremia 1: 5 kan hoor
Voordat ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en
voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig; Ek het
jou tot 'n profeet vir die nasies gemaak.
Soos wat Jeremia bestem was om die profeet van die Nasies te wees, is
Jesus van die begin af bestem om die Messias te wees.
- Moet net nie dink dat almal deur hierdie "goeie" dade van Jesus
beïndruk was nie.
- In die woorde van die Here aan Jeremia het ons 'n profesie van
die gesindheid waarmee Jesus se prediking en werke ontvang sou word.
- Hulle het dikwels probeer om Hom dood te maak.
- Net so baie keer was daar twisgesprekke teen Jesus.
- Hulle het voortdurend geleentheid gesoek om Hom aan te kla.
Hier klink die woord van die Here in Jeremia 1: 7, 8 weer in ons ore:
...want
na wie Ek jou ookal stuur, moet jy gaan; en wat Ek jou ook al beveel
moet jy spreek. Wees nie vir hulle bevrees nie, want Ek is met jou om
jou uit te red...
Daarom moet ons ook in Kerstyd dink aan die oordeel wat kom deur die
geboorte en kruis van Jesus Christus!
- Hy het nie net gesterf sodat mense gered kan word nie.
- Hy Self het eenkeer gesê dat Hy gekom het om verdeeldheid
te bring.
As u mooi daaraan dink, sal u besef dat Jesus se verlossing oor die
mense wat in Hom glo, nou nie beteken dat al die ander mense maar net
meteens neutraal word nie.
- Die een groep kan net gered word as die ander vernietig word deur
die Here se oordeel.
- Dis waarom die Here sê dat daar vernietig en omgegooi moet
word.
- Dit wat die Here vir Jeremia gesê het, het die Here
natuurlik aan Jesus self voltrek.
- Jesus is gekruisig (daarin lê tog iets van uitruk en
omgooi) sodat Hy die straf moes dra wat God oor ons reguit
aangekondig het.
- Jesus moes sterf sodat die oordeel van God die fondamente van
valsheid en afgodsaanbidding onder ons kon uitruk.
Jeremia moes die oordeel van die Here aankondig op 'n manier dat dit
die tekens van vernietiging en verwoesting vir die mense wat daarna
luister teken.
- Almal die wat om die kruis gestaan het ‑ en ook ons
wat dit vandag lees en hoor ‑ het dit gesien en ervaar hoe
hierdie profesie van vernietiging oor Jesus Christus waar geword
het.
- Hy het hierdie straf van God gedra, sodat ons kan lewe.
Die Here Jesus se geboorte en dood verkondig dat daar buite die Here
Jesus om net dood is, en dat daar nie 'n kans is dat enige een van ons
gaan oorleef as ons nie tot bekering kom, en glo dat Christus gebore is
sodat Hy as mens die straf vir ons sondes gedra het nie.
Kom ons kyk wat gaan van hierdie teks in die toekoms in word:
- As die mense in Jesus se tyd al so opstandig was teen die
Evangelie, hoeveel te meer gaan dit nie in ons tyd so wees nie.
- En die mense wat nou onverskrokke moet glo en lewe in hierdie
evangelie is u.
- Die Here het u ook voor u geboorte reeds bestem om gelowiges te
wees ‑ net soos Jeremia.
- En net soos Jeremia is u ook voor geboorte reeds met die gawes
toegerus om vir die Here te kan lewe, en in u aanbidding aan Hom
volkome gehoorsaam te wees.
- Jesus se kruisdood is die waarborg daarvoor, want sy sterwe
en opstanding is die waarborg vir u geloof en verlossing, maar ook dat
u die gawes en vermoëns sal hê om onder die swaarste
omstandighede te kan aanhou glo.
Dis wat dit beteken dat daar ook gebou en geplant word. In ons tyd doen
die Heilige Gees hierdie dinge in opvolging van die kruisverdienste van
Jesus Christus.
- U gaan net soos Jeremia en ook Jesus Christus uitgelewer word aan
allerhande soorte bedreigings terwille van u geloof.
- Maar dan moet u weet dat die Here u nie sal verlaat nie
‑ al staan u teen wie ookal.
Laat Kersfees u weer versterk en mag u dan opnuut besef dat Jesus
gebore is om teen die magte van die hel uitgelewer te wees sodat Hy
hulle kon verslaan, sodat u nou in die ware geloof kan volhard tot eer
van die Drie-Enige God.
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm 89:1, 6.
Die HERE sal jou seën en jou behoed;
Die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig
wees;
Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 23 Desember 2001.