Vooraf:
Psalm 103: 10, 11; Psalm 68:9; Psalm 89:1, 3; Skrifberyming 4-6.
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 103: 1, 2, 3.
Gebed.
Psalm 31:1, 17
Skriflesing:
Jeremia 1
Teks:
Jeremia 1: 11
Wat
sien jy Jeremia? En ek
antwoord: Ek sien 'n amandeltak.
Jesus Christus is gebore om aan ons die ewige opstanding uit die dood
en die ewige volmaakte herskepping en die ewige lewe te
gee; en dit - verniet! Kyk na Hom wat die lewe
gee - selfs wanneer alles om ons na die dood lyk!
Die amandelboom groei wild in die hele Klein Asië,
Sirië en Mesopotamië. In die omgewing van die berg
Sinaï het daar baie van die bome in die woestyn voorgekom.
- Dit is die eerste vrugteboom
wat in Palestina bloei. Die amandelboom blom en bot in
Palestina in Januarie. In die vroeë voorjaar is die
amandelboom oortrek met groot hangende sneeuwit blomme.
- Onder moeilke omstandighede
het die boom steeds sy vrugte gegee - die vrugte
was ‘n baie kosbare handelsartikel. Daarom word die
boom gebruik as die simbool van mense se gehoorsaamheid en Godsvrug.
Wat ook belangrik is, is dat ons wat Afrikaans praat, gaan kyk na die
betekenis van die name vir die amandelboom in Hebreeus, want as ons dit
doen, kom ons agter dat net die noem van die naam
“amandelboom” in Hebreeus ‘n baie groot
simboliese waarde in hulle geloofswoordeskat gehad het.
- Die eerste naam vir die boom
beteken: om
wakker te wees.
- Die Hebreeuse naam beteken
dat dit die eerste boom is wat uit die winterslaap wakker word. Die
betekenis van die amandelboom in Jeremia se gesig is dat die Here altyd
wakker is oor sy uitverkorenes ‑ ook
wanneer hulle dood lê in hulle sondes, soos wat die velde in
die winterdood rondom die bloeiende amandelboom lê.
- Die
boom is dus die simbool van ontwakende lewe: uiteindelik
simboliseer dit die opstanding uit die dood onder die kragtige hand van
die Here.
- Die tweede naam vir die boom
is “loez”
wat die oorspronklike naam vir die dorp Bet-el was: Huis
van God.
Die Here laat Jeremia twee beelde sien. Die een is van die amandelboom
en die ander een 'n kokende pot.
- Die Here gebruik die
amandelboom as leermiddel van genade ‑ daar het juis voor Jeremia se
huis 'n amandelboom gestaan.
- Omdat die amandelboom eerste
blom en bot, is dit die simbool van trou: die Here is wakker oor sy
uitverkorenes, en Hy voer sy Woord uit.
- Die beeld het dus die troos
daarin dat God nie sy uitverkorenes laat verlore gaan nie,
want Hy is in sy heerlikheid oor hulle en by hulle.
Die Here gebruik al vroeg in sy openbaring die beeld van amandelblomme.
- Toe Moses die opdrag gekry
het om die groot kandelaar met die sewe staanders te maak, het die Here
al vir hom gesê dat hy amandelblomme en knoppe moet maak wat
teen die arms van die kandelaar geheg moet word. Ons lees dit in
Eksodus 25: 33, 34; 37: 19, 20.
- Toe die twispunt ontstaan
het oor wie die werklike hoëpriester van die Here is, het die
Here Aäron se staf (wat van amandelhout was) oornag laat
bloei. Hierin het die Here die voortgang van sy verbond en van sy
roeping oor mense openbaar.
- In Prediker 12: 5 word die
beeld van die amandelboom wat blom gebruik as 'n teëstelling
met die rouklaers op die straat as die mens doodgaan. Die
dood word uiteindelik vervang met die ewige lewe, want uit die winter
se dood bloei ons in die ewige lewe in:
Ook
sal hy bang wees vir
’n hoogte, en verskriklike dinge sal op die pad wees! En die
amandelboom sal in bloei staan, en die sprinkaan sal homself met moeite
voortsleep, en die kapperkruid nutteloos wees; want die mens gaan na sy
ewige huis, en die rouklaers sal op die straat rondgaan.
(Prediker 12:5 AFR53)
- Die amandelboom wat daar in
blom staan, is die teken van die ewige heerlikheid van God wat die mens
inwag by sy dood. Die boom is in die Ou Testament die simbool van God
se trou.
Die tweede beeld (die kokende pot) karakteriseer die inhoud van die
woord van God wat deur Jeremia gepreek moet word. God se oordeel en
genade is dus aan mekaar verbind!
In die gedeelte wat ons saam gelees het, word die beeld dadelik
losgelaat, en die werklikheid tree in. Dit word in
kontrasterende dinge beskryf:
- Daar gaan onheil losbreek
oor al die inwoners van die land (v. 14 ‑ 16). Maar die Here is
nie
ongenadig en wreed, omdat Hy nou maar net lostrek en straf nie.
- Vers 16 gee die motivering
waarom die ellendes gaan kom.
- Die volk van die Here se
geloof het ondergegaan. Hulle het nie meer geglo nie.
- Dit was ook nie net 'n
kwessie dat hulle nie geglo het nie, hulle het afgode
aanbid, m.a.w.
die Here weggestoot vir iets anders wat hulle in sy plek geplaas het.
Dis waarom die Here hulle so straf.
Wat is die verband tussen die amandelboom en die kokende pot?
- Die verband is dat die Here
nog steeds genadig is oor hierdie sondige volk. Hy gaan hulle straf,
maar selfs in die straf staan sy genade voorop.
- Hy stuur selfs vir Jeremia
om teen al hulle haat en ongeduldigheid vir hulle te gaan
preek ‑ so groot is God se genade.
Dit is presies die Christusprediking:
- Die dood van die winter
lê om Jeremia. Die ellendes van die
wêreld lê oop om ons. Maar in die donkerte
van die nag breek die hemele oop en in die helderste lig sing die
engele
ons verlossing uit! Die amandelboom se blomme het
oopgegaan: die beeld het werklikheid geword! Die
verlosser is gebore vir die mense in wie God ‘n welbehae het.
- Die reddende genade wat die
uitverkorenes - reeds in die oordeel wat oor hulle
voltrek is - ervaar het, het al heengewys na Jesus
Christus toe wat ons met God sou versoen.
- Die amandeltak is die teken
dat God wakker is oor ons ‑ so wakker dat Hyself
verlossing voorsien. So wakker dat Hy sy Seun stuur om ons sondestraf
te dra.
Daarom kom die
Here Jesus na ons wêreld toe. Daarom word
Hy gebore vir stukkende mense wat gesimboliseer word deur ‘n
onverstandige en wrede Herodes en deur arm skaapwagters en deur mense
wat ‘n verwagting van ‘n ewige koning in hulle
ronddra, soos die wyses uit die Ooste.
Jesus bly ook nie in die doderyk nie. Hy staan op uit die dood, soos
die amandeltak wat swaar en sneeuwit bloei terwyl die res van die veld
nog dood lê in die winterkoue.
- Wat belangrik is, is dat Hy
tussen ons gebore word, sodat Hy later vir ons kan sterf.
- Daarmee maak Hy dat ons deur
sy kruisdood deel kry in hierdie ewige lewe wat Hy van ewigheid af in
Homself het.
- Die ewige lewe in die
koninkryk van God is oorspoel van die Drie-Enige God se heerlikheid
soos wat die amandeltak oorspoel is met 'n oorvloed van blomme.
Wat is die eskatologiese moment (verwysing na die toekoms) waarvan hier
sprake is?
- Die toekoms van hierdie teks
is dat die stryd oor die gelowiges gaan toeneem. Die wêreld
gaan al hoe bleker in sy wintersellendes om ons lê.
Maar daarmee saam sal die bottyd van die Amandelblom sterker uitgespeel
word teen hierdie troostelose agtergrond wanneer die Here Jesus met sy
Wederkoms in die volle helderheid van sy heerlikheid oor ons oopbreek.
Die Here leer hierdie dinge op baie plekke in die Bybel.
- Maar ons moet ons nie self
gaan verstik in ons bewustheid van alles wat sleg is en altyd verkeerd
gaan nie. Ons moet ons verheug in die heerlikheid van die
Amandeltak wat juis as die dinge op hulle ergste is, sy volle
heerlikheid oor ons laat blom en ons opneem in hierdie heerlikheid.
- Die Here Jesus het sy
reddende genade reeds oor ons laat skyn in sy geboorte.
Daardie nag het die engele gesing dat die geboorte van die kindjie wat
in ‘n krip lê, tot die redding was van ons in wie
God ‘n welbehae het. Jesus Christus red ons.
Vir
wie word die Here Jesus gebore?
Vir ons.
- Vir mense wat lelike dinge
doen, en soms in hulle geloof heeltemal die spoor verloor.
- Vir mense wie se insig en
begeertes baie keer meer tot hulle ondergang lei as wat dit dien om
hulle sterker te maak in hulle aanbidding.
- Mense wat in die meeste van
hulle aanbidding en geloofsake maar sterk onbekwaam is.
Kyk na Jeremia. In Jeremia 1 word die roeping van die profeet beskryf.
Ons lees dat hy 'n Benjaminiet is uit die ryk van Juda. Sy pa, Hilkia,
is een van die priesters wat by Anatot was.
Ons eerste gedagte sou wees dat Jeremia seker as profeet geroep was
omdat sy agtergrond reg is, want as sy pa 'n priester was, sou hy seker
iets van preekwerk verstaan en geweet het. Hy was seker
iemand wat alles van die sonde en van regverdigheid af geweet het, en
wat presies geweet het hoe om sulke dinge te hanteer. So sou
ons redeneer.
- Maar tog is juis dit nie
waar nie. Een saak staan baie sterk uit, en dit is dat Jeremia nie
geroep word as gevolg van die gawes wat hy besit, of as gevolg van sy
agtergrond nie.
- Die dag toe die Here Jeremia
geroep het, was die eerste ding wat die Here gedoen het, dat Hy vir
Jeremia presies vertel het waar Jeremia in sy raadsplan behoort.
- Die Here het vir hom
vertel dat Hy Jeremia al geken het lank voordat die Here Jeremia in sy
moeder se liggaam gemaak het.
- Dit is al die eerste ding
wat elke mens moet onthou: die Here skep jou om te bestaan
‑ jy kom nie tot stand as gevolg van die wil van twee mense
nie.
- Die Here sê
verder dat hy Jeremia al geheilig het voordat hy selfs gebore was. Die
feit is dat Jeremia tydens die proses waarmee hy geskape is, begenadig
word met gawes om sy roeping te kan uitvoer.
Die koms van die Here Jesus in ons wêreld in, het
‘n bepaalde uitwerking op die wat Hom as hulle Verlosser
aanvaar:
- Die Here maak jou 'n
ysterpilaar (in die woorde van ons teks). Jy kan swaar gewig dra, en jy
sal nie breek nie.
- Jy sal teen enige stormloop
kan bly staan, want die Here maak jou geloof dat jy nie is soos 'n
kilpmuur wat met 'n stromram stukkend gestamp, of omgegooi kan word nie.
- Jy is 'n bronsmuur. 'n
Soliede stuk metaal wat teen daardie tipe aanslag ondeurdringbaar is.
- Elke keer is die Here se
woorde soos 'n refrein in ons ore. Die Amandeltak blom om ons te red!
Hier is twee sake wat baie sterk uitstaan:
- Die eerste is dat die Here
ons letterlik maak om te kan doen wat Hy later in ons lewens van ons
vra.
- Die tweede is dat Hy
deurentyd met ons bly, en dat Hy ons voortdurend bystaan met sy
reddende genade.
- Uiteindelik word die genade
van God 'n werklikheid in die verlossing wanneer ons deur Jesus
Christus se genade voor God se oordeelstroon vrygespreek word.
- Die volmaakte vervulling kom
sekerlik eers wanneer Jesus Christus op die wolke kom. Wanneer die Here
in goddelike eer op die horison verskyn, en elkeen van ons ons vrugte
lewer in die lig van sy genade.
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm Psalm 118:2, 7.
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr.
M.J. du Plessis
Gereformeerde
Kerk Bellville
Datum:
Kersdag 2004