Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het. Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here
Jesus Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 66:4.
Gebed.
Psalm 38:1, 17.
Skriflesing: Jeremia 23
Teks: Kategismus Sondag
31. Jeremia 23: 29
Is my
woord nie so, soos 'n vuur, spreek die HERE, en soos 'n hamer wat 'n
rots vermorsel nie?
Jeremia is bitter teen die profete wat hulle eie drome aan die volk
vertel, en dit dan nogal uitgee vir God se Woord.
- In vers 11 sê hy dat sowel die profeet as die
priester goddeloos is.
- Hy gaan verder in vers 14 en vertel dat hierdie profete
owerspel pleeg en leuens vertel.
- Hulle versterk die hande van die kwaaddoeners en hulle
bekeer nie die wat verkeerd doen nie.
- Sulke optrede van kerklike leiers sê hy, is soos 'n
gebou wat met strooi en stene opgerig word, en daarom sal die woord van
die Here die strooi uitbrand en die klippe stukkend slaan. In
elke kerk moet die prediking baie suiwer wees, en dit moet presies wees
soos wat die Here se Woord ons leer, veral as ons onthou dat Jesus
Christus sy kerk deur sy Woord en Gees bewaar en vermeerder.
- Die prediking moet as 'n sleutel van die hemelryk hanteer
word, want Jesus het ook vir Petrus gesê dat die dinge wat deur
ons op die aarde gebind is, ook in die hemel gebonde sal wees. En wat
ons op die aarde ontbind, ook in die hemel ontbonde sal wees.
Die Here het inderwaarheid twee sleutels aan die kerk gegee waarmee
daar oop- en toegesluit moet word.
- Die belangrikste een is die prediking
- en die ander een is die kerklike tug.
- Die tug moet hom ook op die Woord beroep.
Die eerste funksie van die sleutels wat die Here aan die kerk
toevertrou, is dat dit die ware gelowiges in die koninkryk van God moet
insluit.
- Dit is nie waar dat alle mense deel is van God se koninkryk nie.
- Kolossense 1: 13 leer baie duidelik dat ons van nature buite
die saligheid is en dat die Here ons uit die duisternis uit oorbring in
die lig van sy heerlikheid.
- Hier pas die eredienste en die prediking in, want dit is die
middel wat die Heilige Gees gebruik om mense uit die ryk van die duiwel
in die ryk van God inbring.
- Ware prediking lei die mens tot die besef van sy verlorenheid
en tot opregte berou en smart oor sy sonde.
- Die verkondiging van die Woord van die Here leer die mens hoe
om tot bekering te kom.
Dit is wat Jeremia bedoel het toe hy gesê het dat die woord van
die Here soos 'n vuur is wat strooi verbrand, en dat dit is soos 'n
hamer wat verbrysel. Daarom moet mens die verkondiging van die Here se
Woord versigtig en baie korrek gebruik.
In die kerk van die Here kan verkeerde dinge nie goedgepraat word nie.
Maar daar moet ook nie net oordeel gepreek word nie.
- Die regte prediking moet so wees dat die volle heil aan die
gelowiges verkondig word.
- Dit beteken dat daar as't ware 'n oopsluit-aksie moet wees waar
die gelowiges kan hoor dat hulle sondes vergewe is en dat hulle op
sterkte van die verdienste van Jesus Christus toegang tot die hemel
het.
- Maar dan moet dit uit die Bybel baie duidelik aangetoon word dat
hierdie verlossing onlosmaaklik vasgemaak is aan ons geloof, m.a.w. of
ons die volle Woord van God onder die voorspraak en leiding van die
Heilige Gees aanneem.
Lidmate moet in die prediking van God se Woord die Here se krag om die
hemelryk oop of toe te sluit ervaar.
- Ons lees in 2 Korintiërs 2:16 dat hierdie prediking die ware
gelowige se geloof versterk, maar dat dit die ongelowige verhard.
- Dink aan Farao wat die openbaring van God se almag gesien en
ervaar het, maar wat onbekeerlik gebly het.
- Farao het ondergegaan in sy onbekeerlikheid, maar met die sondaar
wat tot bekering kom, is dit anders. Hy word deur God in liefde terug
ontvang.
Die Here roep ons gemeente om Hom op die wolke te verwag. Die wederkoms
is die openbaring van die Here se verlossing wat oor ons werklik word
en met daardie gebeurtenis in volle vervulling gaan. Die koms en die
wederkoms van die Here preek genade: Jesus Christus het vir jou sondes
gesterf sodat jy nuut en ewig in God se koninkryk kan lewe. Dit preek
presies wat in die Ou Testament staan. Daar staan:
- Bekeer jou, of word verdelg.
- Genade en vrede vir jou as jy glo.
- Oordeel as jy God verwerp.
Die Here preek ook oordeel:
- Die wat die Here nie aanvaar en aanbid nie, deel nie in die
versoening wat Hy bewerk nie, en gaan daarom hel toe.
- Dit het dieselfde element as die tug, naamlik dat dit jou vermaan
om tot bekering te kom as jou lewe getuig van verharding in die sonde.
Daar staan in 1 Tessalonisense 1: 7, 8 dat die Here Jesus en sy engele
in vuur en vlam kom. Hulle gaan oor almal wat God nie geken het
nie en wat nie aan die evangelie van Jesus Christus gehoorsaam was nie,
wraak uitoefen.
- Die optrede van die Here het al 'n aanloop in die geskiedenis van
die kerk op die aarde, omdat die kerk deur die tug almal wat nie wil
glo nie, en wat onbekeerlik bly, moet uitban.
- Ook hierin kom die optrede van die Here na vore: Sy oordeel
is soos 'n hamer wat stukkend slaan waar daar verset teen Hom is.
Die tug het ook, net soos die prediking, 'n oopsluit en 'n toesluit
funksie.
- Die wat in onbekeerlikheid volhard word uitgesluit. * Maar die
wat 'n bekeringslewe lei, word ingesluit in die gemeenskap met die kerk
van die Here.
- Die tug verkondig dat die wat voortdurend van hulle sondes bekeer
word, deur die Here ontvang word in die gemeenskap van die Heiliges.
Die mense van Jeremia se tyd het vir die profete gesê: ons wil
sagte woorde hoor. Ons wil nie hoor dat God ons bedreig nie.
- Dit kan nie so in die ware kerk gebeur nie, want die Woord van
die Here is somtyds geweldig hard en pynlik, sodat die ware gelowige
dan tot bekering sal kom.
- Dink aan Paulus wat deur die woord van God in die stof
neergeslaan is en wat hom verblind het, sodat hy sy verset teen die
Here kon omkeer in totale diens aan die Here.
Die prediking en die tug het nog iets in gemeen.
- Altwee laat mense na 'n kant toe val.
- Dit haal hulle uit hulle besluiteloosheid uit, sodat hulle hulle
ware kleure kan wys.
- Die wat glo, kom daadwerklik tot bekering.
- Die wat nie glo nie, word heeltemal verhard en breek hulle
bande met die Here.
Daarom moet ons in die tyd waarin ons nou is, baie aandag gee aan die
liefde van die Here.
- Die Woord van God preek dat die Here al die wat berou het oor
hulle sondes en wat hulle verset teen die magte van die duiwel, troetel
in sy almag en liefde.
- Die Evangelie van die Here Jesus Christus bevestig dat ons sy
eiendom is wat in die ewigheid deur sy heerlikheid oorspoel gaan word.
Kom ons gee aandag aan God se prediking van genade, maar terselfdertyd
ook sy bevel tot voortdurende gehoorsaamheid. Kom ons lees Kategismus
Sondag 31 saam. Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm 121:1, 4.
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 16 Desember 2001.