Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Skrifberyming 45:1, 9, 12.
Gebed.
Psalm 66:2.
Skriflesing: Jesaja
30:1-26
Teks: Jesaja 30:
9
Want dit is ‘n wederstrewige
volk, leuenagtige kinders,
kinders wat die wet van die HERE nie wil hoor nie;
10
wat aan die sieners sê: Sien
nie! en aan die profete:
Profeteer vir ons nie wat reg is nie; spreek vleitaal vir ons,
profeteer bedrieëry;
11
wyk af van die weg, buig af van die
pad, laat die Heilige van Israel
voor ons aangesig verdwyn!
En dan die wending:
18
En daarom sal die Here met ongeduld
daarop wag om julle genadig te
wees, en daarom sal Hy Hom verhef om Hom oor julle te ontferm ...
20
Die Here gee julle wel brood van
benoudheid en water van bedruktheid,
maar jou leraars sal hulle nie langer verberg nie—maar jou
oë sal jou leraars sien;
21
en jou ore sal ‘n woord agter
jou hoor wat sê: Dit
is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links
wil gaan.
Hierdie gedeelte openbaar die Woord van die Here se tipiese
tweesnydendheid:
- Dit begin met oordeel omdat die volk so hardnekkig teen die Here
is.
- Dit eindig weer met God se Genade. Die HERE sê selfs in
vers
18 dat Hy met ongeduld wag om Sy volk genadig te wees.
Verse 9-11 is by die wending van 2004/2005 steeds uiters aktueel.
- Ons tyd is vol van valse sieners en profete wat hulle laat mislei
deur
mense (ons) na die mond te praat.
- In die nuwe jaar bly dit steeds die roeping van leraars
(rigtingwysers
wat self die regte pad moet volg) om onvermoeid aan ons hardhorendes te
sê: “Dit is die weg,
wandel
daarop!”
- Maar elke gelowige het ook hierin ‘n
verantwoordelikheid, want ons word deur die Heilige Gees
begenadig om te kan sien en doen wat God vra.
Ons ondersoek hierdie stuk openbaringsgeskiedenis van twee kante af:
1. Wederstrewigheid teen die Here.
2. Die pad lê oop na God toe!
1. Wederstrewigheid teen die Here.
Hierdie profesie maak gebruik van ‘n belangrike woordspeling:
dit lê in die woord weg (pad).
- Aan die een kant verwys die woord weg na die pad
Egipte toe. Juda het politieke hulp gaan soek by Egipte.
- Die
seën en die genade van die Here is nie op daardie pad nie.
- Die Here
sê dat Egipte se hulp ydel en leeg is.
- Die volk
het hulle probleem baie aards benader. Hulle het gedink dat
die Here nie kan help nie, hulle moet mense kry wat ‘n sterk
weermag het en wat hulle kan help veg.
- So het
hulle die helpende hand van God uitgeskuif en Hom met ‘n
fisiese weermag vervang.
- Die woord weg
verwys ook na die verkeerde pad waarop die volk besig is
om met hulle geloof te loop. Daar is nie seën en
genade van God op hierdie pad nie.
- Vers 10
beskryf hoe die mense hulle eie koers inslaan -
hulle gaan op die verkeerde weg! Hulle eiewilligheid eis dat
die profeet se profesie hom moet skik na hulle wense
- in plaas van die omgekeerde.
- Hulle kon
dit nie verdra dat die profeet gesigte gehad het wat met die waarheid
ooreengekom het nie.
Maar julle het die
nasireërs wyn laat drink en aan die profete
bevel gegee en gesê: Julle mag nie profeteer nie! (Amos
2:12
AFR53)
- Die
probleem was toe - en is vandag ook
- dat die mense wat verdwaal, hulle eie waardes as die
enigste en as die korrektes beskou:
- Mense wat net wil hoor wat hulle vlei en hulle eie standpunte
ondersteun, bring vanself valse profete op die voorgrond.
- Dink maar aan die volgende uitspraak in die Bybel van
Miga
wat ’n tydgenoot van Jesaja is, en hoor net wat preek hy:
As
iemand wind nawandel en bedrieglik lieg en sê: Ek sal vir
jou profeteer by wyn en sterk drank—dan sou hy vir hierdie
volk ‘n profeet wees! (Miga 2:11 AFR53)
In vers 11 is die
aandrang van die Here baie sterk op die onbekeerde
volk:
- Wyk af van die weg, buig af van die pad!
- Terselfdertyd is die taak van die leraars dat hulle openlik en
onbevrees die ware weg moet aandui (verse 20 en 21) - "Dit is
die weg, wandel daarop!".
- Hulle moet sorg dat hulle vry is van valsheid en verkeerde
invloede.
Inderdaad getuig Jesaja daarvan dat die Here hom aangesê het
om hom los te maak van die invloede en sienings en lewenswyse van die
volk:
Want
so het die HERE met my gespreek toe sy hand my oorweldig het en Hy
my vermaan het om nie te wandel op die weg van hierdie volk nie,
… (Jesaja 8:11 AFR53)
- Daarom speel dit daarop toe dat die volk moet omdraai en ‘n
ander weg inslaan: die weg van bekering. Daar is
seën en genade. As die volk daardie weg inslaan, sal dinge
gebeur:
En
daarom sal die Here met ongeduld daarop wag om julle genadig te
wees, en daarom sal Hy Hom verhef om Hom oor julle ontferm ...
Die Here het ’n eenvoudige geloofspad van hulle verwag,
naamlik dat hulle net opreg tot Hom moet bid, en dan sou Hy hulle
verlos van die druk van die leërs uit die Noorde.
- Van hulle kant af het hulle nie die vertroue in die Here gehad
nie.
- Hulle het geoordeel dat dit meer prakties en effektief sou wees
as
hulle by 'n buurstaat met 'n sterk weermag sou gaan aanklop vir hulp.
Hulle is toe na Egipte toe.
Die Here se gevoel was kennelik
anders as hulle s'n, want Hy
kwalifiseer hulle optrede as ongehoorsaamheid - die verkeerde pad.
- Hy verwyt hulle hulle optrede, want Hy sê die dinge wat
hulle
doen is nie uit My nie en nie uit My Gees nie en om sonde op sonde te
stapel.
- Daarom distansieer die Here Hom van hulle optrede.
Het u gedink hoe die Here mense wat met hulle gehoorsaamheid van die
pad af is, ervaar? Wat het Hy byvoorbeeld gedink van hierdie volk van
Juda? Die Here het bitter ervaring van hierdie volk. Onthou dat dit
gaan oor hulle verhouding met die Here.
- Hulle is weerbarstig en oneerlik teenoor die Here.
- Hulle het nuwe wette en nuwe godsdiensreëls. Hulle hou hulle
vreemd van die Here af (vgl. Jesaja 1: 10; 8: 16).
- Hulle stel nie in die waarheid belang nie. Hulle wil dinge hoor
wat
hulle wil hoor, soos om gevlei te word (vgl. Amos 2: 12).
- Hulle eis om mislei te word. In vers 11 kry die profeet twee keer
opdrag om in sy prediking van die Here af weg te buig.
- Die profeet kry selfs die opdrag om die Heilige van Israel (dis
God die
Here!) voor hulle aangesig te laat verdwyn.
Wat gebeur met die kerk? Hulle was toe die kerk! Die Here openbaar dat
kerk nie meer kerk is as die ware God nie meer die Koning en Heerser
van die kerk is nie.
Die belangrike fout was dat daar
verandering in hierdie mense se
geloofsrigting ingetree het. Die verandering het bestaan in die
verwerping van die inhoud van die Woord van die Here.
2. Die pad lê oop na God toe!
Dit gaan oor die pad wat ons
inslaan. Dit gaan daaroor of ons
bereid is om ’n nuwe pad in te slaan as ons weet ons is op
die pad van sonde. Die Here Jesus Christus het dit ook gepreek:
Jesus
antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand
kom na die Vader behalwe deur My nie. (Johannes 14:6 AFR53)
Hierby sluit Jesus aan by hierdie uitsprake met die woorde:
En
waar Ek heengaan, weet julle en die weg ken julle. (Johannes
14:4)
Dit was hierop wat Jesus die uitspraak gemaak het dat hy die weg en die waarheid en die lewe
is; dat Hy alleen die Weg
is hoe iemand na die Vader toe kan gaan.
Later is die Christelike geloof die
Weg genoem (Handelinge 9:2).
Al die dinge beteken dat wanneer ons sonde doen, die Here ons nie
verwerp nie. Sy liefde is so groot dat daar by Hom altyd vergewing van
sondes is as ons tot bekering kom en van ons sondes afstand doen.
Die Here het dat Jesaja dit ’n hele paar keer vir die kerkvolk
sê, soos onder andere in die volgende uitspraak:
En
dáár sal ’n grootpad wees en ’n weg wat die
heilige weg genoem sal word; geen onreine sal daarop voorttrek nie,
maar vir húlle sal dit wees; wie die weg bewandel - selfs die
dwase sal nie dwaal nie. (Jesaja 35:8 AFR53)
Die gebeur met dinge wat ons in verantwoordelikheid en met sweet moet
doen:
’n
Stem van een wat roep: Berei in die woestyn die weg van die HERE; maak
gelyk in die wildernis ’n grootpad vir onse God! (Jesaja
40:3 AFR53)
Luister hoe laat die Heilige Gees Jesaja se woorde laat eggo deur die
tye wat kom. Luister na die woord welgeluksalig.
Eers Jesaja se woorde en daarna die
refrein:
En
daarom sal die HERE met ongeduld daarop wag om julle genadig te
wees, en daarom sal Hy Hom verhef om Hom oor julle te ontferm; want die
HERE is ’n God van die gerig. Welgeluksalig almal wat op Hom
wag! (Jesaja 30:18 )
Welgeluksalig
is julle wat by alle waters saai, wat die voet van os en
esel vry laat loop! (Jesaja 32:20).
Later weer:
Welgeluksalig
is die mens wat dit doen en die mensekind wat daaraan
vashou; wat die sabbat hou, sodat hy dit nie ontheilig nie, en sy hand
terughou, dat dit geen kwaad doen nie. (Jesaja 56:2)
Ons hoor dit nog ’n keer nadat die Here Jesus ons met God
versoen het:
Welgeluksalig
is hulle wie se ongeregtighede vergewe en wie se sondes
bedek is. Welgeluksalig is die man aan wie die Here die sonde
nie toereken nie. (Romeine 4:7, 8)
Juda wou nie die regte pad loop nie. Toe loop dinge tussen hulle en die
Here skeef. Let op hoe die straf aangekondig word. Juda se sondeskuld
is soos 'n skeur bo in 'n muur.
- Die muur kan nog 'n tyd lank staan. Vir 'n toeskouer mag die
skeur
oppervlakkig wees en nie gevaarlik lyk nie.
- Die kenner oordeel egter anders. Hy sien die werklike gevaar.
- Hierdie stuk muur hang na die buitekant toe oor. Hy sien dat dit
gaan
uitval na buitekant toe. Dan stort die hele muur inmekaar.
Die beeld is baie
belangrik:
- Die verval in die kerk kom nie
van buite af nie. Dit kom van binne af.
- Dit is nie magte van buite af wat die kerk vernietig nie. Dit is
die
kerk self wat sy pad verkeerd loop en van binne af sy waardes prysgee.
- Dit
gebeur as die kerk die waardes van die magte buite die kerk as sy eie
aanneem.
- As gevolg
daarvan kom die krake en tree die verval in.
- Mettertyd stort die kerk soos hierdie
muur heeltemal inmekaar.
Daar kom 'n tweede beeld by wat alle misverstand uit die weg ruim. Die
verkeerde pad laat die kerk in duie stort soos 'n kleipot wat val en
aan duisende skerwe spat.
- Die pot breek so flenters dat die skerwe nie eers vir 'n
minderwaardige
werkie, soos om as van die kaggel af op te tel, of om helder water van
modderwater af te skep, gebruik kan word nie.
Uit die Koninkryksoogpunt gesien, is 'n kerk wat so verval het, niks
anders nie as 'n volslae ruïne.
- Tog bewaar die Here hulle en reik Hy na hulle toe uit. Die deur
is oop
sodat hulle weer kan terugkom.
- Dit gebeur wanneer ons weer op Hom vertrou. Die beginsel is dat
die weg
wat wat ons inslaan, in ’n totale vertroue op God moet
omslaan.
Die Here het hierdie merkwaardige
eienskap dat Hy nie haat nie.
- Hy wil altyd liefhê.
- Daarom Verander Hy hierdie strafaankondiging in 'n genadeprofesie.
- In vers 18 hoor ons hoe mooi die Here sy sorg oor die vromes
aankondig.
Die vervulling van hierdie profesie oor ons is anders as oor Juda omdat
die Here die deel van die profesie wat op ons betrekking het anders tot
vervulling laat kom.
- Ons word ook skuldig bevind aan al die sondes wat ons gedoen het,
en
veral ook al die kere wat ons die pad verloor het en ons geloof in
allerhande standpunte en dinge wat ons gedoen het, verval
het. Maar ons word nie vernietigend gestraf nie!
- Die gretigheid van die Here om ons te verlos, kom tot vervulling
daarin
dat Hy sy Seun in ons wêreld instuur om soos ons deur die
dood te gaan. Maar Hy hanteer die dood anders as ons. Hy verslaan die
dood.
- Daarna word die Heilige Gees op die kerk uitgestort, sodat ons
die pad
van verlossing kan ken en daarop kan loop.
Nou is ons in 'n herstelde verhouding met God. In vers 1 verwys die
Here juis na Juda as sy kinders (inderdaad stout kinders).
- Ons is God se kinders deur Jesus Christus.
- Kinders wat vrygekoop is van die sondes en wat deur die Gees van
die
Here verander word van sondaars af na mense wat deur 'n bekeringslewe
al hoe gehoorsamer aan God lewe. Mense wat die pad na God se troon toe
ken:
Terwyl
ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te
gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons
ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees,
(Hebreërs 10:19-20 AFR53)
Ons kry genade. Maar verskillend van Juda: Die genade wat aan ons bewys
word verskil op verskillende punte met die genade wat aan hulle bewys
is:
- Die genade wat ons kry is nie 'n aardse genade soos hulle s'n
nie.
Hulle s'n was aards, want hulle het na hulle land toe teruggegaan.
- Ons gaan
na 'n nuwe aarde toe.
- Hulle s'n was op 'n manier tydelik, want toe hulle teruggegaan
het na
Kanaän toe, was hulle nog steeds aan sonde blootgestel.
- Ons
genade is ewig want ons is dan by God self, en sy koninkryk is juis 'n
nuwe bedeling van volmaaktheid wat hierdie ou bedeling van sonde en
gebrokenheid vervang.
- Ons word ook nie soos hulle eers gestraf voor ons genade kry nie.
- Jesus
Christus word in ons plek gestraf. Trouens Hy is reeds gestraf en is
reeds besig om die nuwe woonplek voor te berei.
Die jaar wissel nou. Daarom is dit juis die tyd om baie goed te kyk na
foute van die verlede om om te sien en te hoor wat ons nou anders moet
doen om dinge reg te doen!
Die belangrike fout wat Juda gemaak het - en wat in
ons tyd weer gemaak word - is dat daar verandering in mense
se geloofsrigting intree. Die verandering het bestaan in die verwerping
van die inhoud van die Woord van die Here.
Daarom behoort ons lewe nie so te wees dat die Here van dinge wat ons
doen, sê:
- dat dit nie uit Hom is nie
- en dat dit nie uit sy Gees is nie
- en dat dit sonde op sonde is nie.
Dit was mos wat die Here van Juda se dinge gesê het.
Die situasie met ons is so dat die Gees van God in ons woon. Ons kan
verkeerde dinge doen, maar dan kan dit net gebeur as ons teen die
inwerking van die Heilige Gees in beur.
- Ons leef dus in 'n genadetyd, want die Verlosser het reeds sy
werk tot
ons verlossing aan die kruis volbring.
- Die Heilige Gees is alreeds oor die kerk uitgestort.
Ons het die verantwoordelikheid dat ons lewe geregtigheid op
geregtigheid moet wees.Kom ons dra sorg dat ons doen en late daarvan
getuig dat ons die pad ken: die weg na die ewige troon van God
toe. Ons lewe in Christus en gelei deur God die Heilige Gees.
Amen.
Gebed.
Slotgebed.
Slotpsalm 103:9
Die HERE sal jou seën en jou behoed;
Die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig
wees;
Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr.
M.J. du Plessis
Gereformeerde
Kerk Bellville
Datum:
31 Desember 2004 (Oujaarsaand)
Jesaja
26:8 AFR53 Ook in die weg
van u oordele
het ons U verwag, o HERE! Tot u Naam en
tot u gedenknaam gaan die begeerte van ons siel uit.
Handelinge 16:17 Sy het Paulus en ons gevolg en geskreeu en
gesê: Hierdie manne is dienaars van God, die Allerhoogste, en
hulle verkondig aan julle die weg
van verlossing.
Handelinge 18:25 Hy het onderrig ontvang in die weg van die Here; en vurig van
gees, het hy gespreek en die dinge aangaande die Here noukeurig geleer,
alhoewel hy net van die doop van Johannes geweet het.
Handelinge 18:26 En hy het vrymoediglik in die sinagoge begin
spreek; maar nadat Aquila en Priscílla hom gehoor het, het hulle
hom by hulle geneem en hom noukeuriger die
weg van God uitgelê.
Handelinge 19:9 Maar toe sommige hulle verhard en ongehoorsaam
was en voor die menigte aanhou kwaadspreek van die Weg, het hy van hulle weggegaan
en die dissipels afsonderlik geneem en elke dag in die skool van
’n sekere Tiránnus samesprekinge gehou.
Handelinge 19:23 En omtrent hierdie tyd het daar geen klein
opskudding met betrekking tot die Weg
ontstaan nie.
Handelinge 24:14 Maar dit erken ek voor u dat ek volgens die Weg wat hulle sekte noem, so die
God van my vaders dien, terwyl ek alles glo wat in die wet en in die
profete geskrywe is,
Handelinge 24:22 Toe Felix dit hoor, het hy hulle saak uitgestel,
alhoewel hy noukeurig genoeg met die dinge van die Weg bekend was; en hy het
gesê: Wanneer Lísias, die owerste oor duisend, afkom, sal
ek julle saak ten volle ondersoek.
Romeine 3:17 en die weg
van vrede ken hulle nie.
2 Korintiërs 11:29 Wie is swak en ek is nie swak nie? Aan
wie word ’n struikelblok in die
weg gelê en ek is nie aan die brand nie?
Hebreërs 9:8 waarmee die Heilige Gees dít duidelik
maak, dat die weg na die
heiligdom nog nie geopen is so lank as die eerste tabernakel nog
standhou nie.
2 Petrus 2:2 en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle
ontwil sal die weg van die
waarheid gelaster word;
2 Petrus 2:15 Hulle het die regte pad verlaat en verdwaal, en die weg gevolg van Bíleam,
die seun van Beor, wat die loon van ongeregtigheid liefgehad het,
Judas 1:11 Wee hulle, want hulle het die weg van Kain bewandel en om loon
hulleself in die verleiding van Bíleam gestort en in die verset
van Korag omgekom.