Sing vooraf:
Psalm 48:1, 4; Psalm 24:4;
Psalm 47:4.
Kom ons begin hierdie ontmoeting met
God deur openlik teenoor mekaar en
teenoor God te verklaar:
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 33:1, 7.
Geloofsbelydenis: Nicea.
Na die wet bely ons voor God ons
sondeskuld en bid om vergewing van ons
sondes met Ps 103:1, 2
Wet
Psalm 103:1, 2.
Gebed.
- Doksologie:
- Aanbidding:
- Skuldbelydenis:
- Dank:
- Smeking vir
die nood van die gemeente
en voorbidding vir die kerk, owerhede en sondige wêreld,
asook die beroep op die beloftes van God
- Algemene
bede:
- Verligting
van die Gees ter wille van
die Woorddiens:
Amen.
Psalm 89:7
Skriflesing: Jesaja 33
Teks:
Kategismus Sondag 48;
Jesaja 33:22
Want
die HERE is ons Regter, die HERE is ons Aanvoerder, die HERE is
ons Koning: Hy sal ons verlos. (Jesaja 33:22 AFR53)
Die HERE is ons Koning en Hy sal ons red. Die Here regeer en
Hy het 'n Koninkryk. Ons bid in die Onse Vader ook dat die
Vader wat in die hemele is, sy koninkryk moet laat kom. Die
"Onse Vader" sluit dus by die profesie van Jesaja aan. Solank
ons net altyd onthou dat die Here God 'n Drie‑Enige God is, en dat die
dinge wat Vader van Homself aan ons geopenbaar het, ook waar is van die
Seun en die Heilige
Gees.
Ons gee in hierdie preek aandag aan die volgende sake:
- Jesus is die Koning van God se koninkryk.
- Wat bid ons oor die koninkryk van God.
- Die oorwinning oor die duiwel.
1. Jesus is die Koning van God
se koninkryk.
Jesus Christus regeer oor die Koninkryk van die Vader.
- Voor sy geboorte op aarde is daar al
aangekondig dat Hy die Seun van die Allerhoogste genoem sou word.
- Aan Hom sal die Here God die troon van
sy vader Dawid gee, en Hy sal Koning wees tot in ewigheid, en aan sy
koninkryk sal daar geen einde wees nie.
- Dit is natuurlik 'n belofte wat die
Here aan Dawid gemaak het, wat so in vervulling gaan.
Die betekenis hiervan vir ons is dat ons aan Jesus Christus behoort.
- Daarom is ons deel van hierdie
koninkryk wat oor die grense van tyd en volke heen span.
- Nou is die vraag: Is ons
bewus hiervan, en in watter mate onderwerp ons ons aan hierdie Koning
wat beslis magtiger is as enige mag waarvan ons in ons bestaan bewus is.
Kom ons bekyk hierdie saak uit 'n gelowige oogpunt en dan praat ons in
bekende geloofstaal oor hierdie groot saak, en kyk hoever bly ons nog
by, of hoever het ons al afgestomp geraak.
Eerste praat ons oor die Koning wat regeer.
- Ons erken Jesus Christus as die ewige
Koning van die kerk.
- Ons bely dat sy heerskappy so wyd en
omvattend is dat daar nie een dingetjie is wat nie daaronder val nie.
- Ons glo dat Hy die Koning is wat deur
die hele Ou Testament belowe is, en toe gekom het.
- Ons glo ook dat Hy weer kom, om dan sy
koninkryk in volmaaktheid tot in ewigheid te vestig.
- Daar staan in Lukas 1: 32 geskryf dat Jesus Christus groot sal
wees -
Die betekenis daarvan is dat Jesus God is van hemel en aarde, en dat
ons dit met sy wederkoms ten volle sal sien.
Ons glo veral dat Hy ons ‑ sy uitverkorenes ‑ met die mag van sy genade
tot bekering beweeg.
- Hy doen dit deur sy Woord en Gees.
- Ons lees sy Woord, en ons hoor dit, en terselfdertyd onderwerp
sy
Gees ons aan Hom, sodat ons uit ons hart uit aan Hom gehoorsaam wil
wees.
Daarom is dit voor die hand liggend dat die regering van die Koning
Jesus Christus op twee maniere deur mense ontvang sal word.
- Die wat Hom haat sal dadelik voel dat
hulle bedreig word, want hulle wil nie aan Hom gehoorsaam wees nie, en
hulle wil ook nie aan die beperkinge van sy wil onderwerp wees nie.
- Die ware gelowige, aan die ander kant,
waardeer die regering van hierdie Koning, omdat hy daarin die waarborg
en die sekerheid van alle dinge sien.
- Hierdie mens ervaar 'n salige gevoel van blydskap in sy hart,
omdat
hy weet dat sy lewe en sy toekoms veilig is, en dat selfs sy daaglikse
lewe gewaarborg word deur die krag en wysheid van hierdie ewige
Regeerder.
- Die opregte gelowige ervaar ook die regering en die koningskp
van die
Here Jesus Christus al hoe meer, want hy voel hoe die Here hom
toenemend aan Hom onderwerp.
- En dit beweeg die gelowige om homself al hoe meer aan die Here
te
onderwerp; om al hoe meer sy sondes af te sterf, en saam met
alles te groei in sy geloof, sodat daar in hom 'n lewe wat groei na die
volmaakte toe tot stand kom.
2. Wat bid ons oor die Koninkryk
van God.
Hoe volmaakter ons word, en probeer om so te word, hoe meer besef ons
die
gevaar waarin ons lewe.
- Ons is werklik in gevaar, want hierdie
gedeelte van ons lewe het 'n groot veld van onsigbare dinge.
En in daardie onsigbare wêreld is daar kragte waarteen ons
ons moeilik kan versit.
- Daarom moet ons bid vir
bewaring. Ons moet bid vir beskerming onder God se krag.
- Ons moet ook bid dat die Here ons moet
help in ons swakhede, sodat ons die sonde kan oorwin.
Dus: dat God se koninkryk moet kom.
As ons bid dat ons in God se vrede bewaar wil word, en ook dat dit
daadwerklik in ons lewe gesien moet word, dan raak dit twee tydperke.
- Dit raak ons lewe nou,
- maar dit raak ook die hiernamaals.
- Die een tydvak loop altyd oor in die
ander.
- Eintlik is dit nie twee tydperke nie,
maar een tydperk wat in twee verskillende fases onderskei word.
As ons in die Hiernamaals in God se koninkryk wil wees, dan moet ons in
hierdie lewe die kwaad weerstaan.
- Dit kan alleen gebeur as God ons
bewaar teen die skadelike werking van die satan.
- Ons alleen met ons kragte beteken nie
veel teen die duiwel nie.
Ons bid ook dat die Here sy kerk
moet bewaar en vermeerder, want daar
is mense wat oor hierdie sake eenders voel en eenders glo.
- Ons bid dat die Here ons almal wat so
glo, moet saamvoeg, sodat ons saam kan stry. Dit is ook hoe
die kerk groei.
- Ons weet ook dat die kerk die
middelpunt van God se verbond is, en daarom ook van sy koninkryk, want
binne die kerk is die mense met wie God sy genadeverbond opgerig het in
Jesus Christus.
- Dis die mense wat glo in God se liefde
en beskerming.
God se koninkryk kom ook deur ons kennis.
- Daarom moet ons bid dat die Here ons
kennis moet vermeerder, sodat ons die waarheid mag ken.
- En as ons dit wat ons moet ken, nie
ken nie, dat ons dan na die waarheid toe mag beweeg.
Al die dinge gebeur op verskillende maniere, maar almal word gewerk
deur die Heilige Gees, en vir die kerk is die belangrikste een die vrug
op die prediking.
3. Die oorwinning oor die duiwel.
Ons lees in Johannes 12:31 en 16:11 dat die koning van die kerk, Jesus
Christus sê dat die owerste van hierdie wêreld
uitgedryf moet word, en ook uitgedryf sal word.
Nou is
dit die oordeel van hierdie wêreld, nou sal die
owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word. (Johannes
12:31 AFR53)
…
en van geregtigheid, omdat Ek na my Vader gaan en julle My
nie meer sal sien nie; en van oordeel, omdat die owerste van
hierdie wêreld geoordeel is. (Johannes 16:10-11 AFR53)
Dit het toe ook so gebeur dat die Here Jesus met sy kruisdood die
duiwel oorwin het, en ook nog daagliks beheer.
Maar dit is ook so dat ons steeds met die duiwel in konflik
is. Want die Here Jesus gebruik ons ook in ons bekering om
die duiwel se werke te beperk.
- Bekering se een kant is dat die mens
die aanslae van die duiwel oor hom oorwin, breek met die sonde, en
terugkeer in die geloof na God toe.
- Dit kan ons alleen doen as ons weet
waaroor dit gaan, in God se Woord en in sy openbaring. Dit is
ook waaroor die prediking gaan.
Vrug op die prediking is dus heel eenvoudig dat ons deur die prediking
die openbaring van God in sy almag, genade en oordeel leer.
- In die Woordverkondiging hoor ons by
die Here wat Hy van ons verwag, en Hoe Hy ons toerus om bepaalde dinge
te kan doen, en dat ons dit dan inderdaad gaan uitvoer.
- Sodoende beweeg ons al hoe verder weg
van verkeerde en lelike dinge af, en beweeg ons al hoe meer op die pad
van heiligheid.
So kom die koninkryk van God ‑ nie in alle opsigte sigbaar nie, maar
beslis, en ook in ons lewens.
- Eerste omdat God self sy koninkryk bou,
- maar tweedens ook omdat die Here ons
daarin gebruik.
Ons lewe nou nog in 'n stadium waarin die koninkryk van God gebou word.
- Hy rig dit eers volmaak op met die
einde van ons tyd wanneer Hy op die wolke verskyn.
- Daardie oomblik gaan die kerk, wat nou
nog strydend is, oor in die triomferende kerk ‑ die kerk in sy
oorwinning.
Die roem vir die oorwinning is nie die mense s'n nie, maar
dié van die Koning van die kerk, want sy regering het die
vervulling moontlik gemaak.
- In sy regeerwerk is die beslissende
oomblikke van die kerk se oorwinning altyd sy eie werk ‑ veral die
soensverdienste aan die kruis, en die doodsoorwinning met sy
opstanding.
As die Koning van die Kerk op die wolke kom, is ons volmaak en lewe ons
ewig, met soveel heerlikheid wat ons oorspoel dat geen mens dit kan
oorvertel nie. Broeders en susters, hoe raak hierdie dinge u?
- Glo die dinge, en ervaar dit
ook in u lewens.
- Dis tog wat ons bely in Kategismus
Sondag 48, kom ons lees dit saam.
Vraag 123: Wat is die tweede
bede?
Antwoord: Laat u koninkryk
kom. Dit is: Regeer ons
so deur u Woord en Gees dat ons ons hoe langer hoe meer aan U onderwerp
(a). Bewaar u kerk en laat dit groei (b). Vernietig
die werke van die duiwel, elke mag wat teen U opstaan, en alle
kwaadwillige planne wat teen u heilige Woord bedink word (c), totdat
die volkomenheid van u ryk kom (d), waarin U alles in almal sal wees
(e).
(a)Ps 143:10; 119:5; Matt
6:33. (b) Ps
51:20; 112:6. (c) 1 Joh 3:8; Rom
16:20. (d) Op 22:20; Rom 8:22, 23. (e) 1
Kor 15:28.
Amen.
Slotgebed.
Skrifberyming 28B.
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr.
M.J. du Plessis
Gereformeerde
Kerk Bellville
Datum:
22 Mei 2005 (oggend).