Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 146:1, 6.
Gebed.
Psalm 147:1, 2.
Skriflesing: Jesaja 40.
Teks: Jesaja 40:27
Waarom
sê jy dan, o Jakob, en spreek jy, o Israel: My weg is vir
die HERE verborge, en my reg gaan by my God verby?
Ons reg het direk voor God gestaan in
Jesus Christus ons Verlossende
God. Hy het ons onreg met God versoen en die onvrede tussen ons
en God in vrede herstel. Hy kom aanstons om ons reg finaal te
vervul in die herskepping van die hemel en die aarde en ons opstanding
om volmaak toe te tree in sy koninkryk in.
Kom ons kyk hoe is hierdie hoofstuk aanmekaargesit:
- Die eerste deel is ‘n aankondiging dat Sion se
Koning aan die kom is. Die Koning kom spesifiek na Sion
toe! (vers 1-11)
- Die tweede gedeelte openbaar die grootheid en die
majesteit van God (vers 12-26)
- Die derde deel gee die vaste grond vir die kerk se
gemoedsrus (27-31)
Daar staan ‘n aankondiger wat dit hard uitroep dat God sê sy volk
moet getroos word. Met die volk van die Here word hier in die
eerste plek die stam van Juda bedoel. Jerusalem is hulle
stad waar hulle tempel was en waar hulle aanbid het.
En tog kom ons agter uit ‘n hele reeks woorde dat hier van heelwat meer
as net van Juda gepraat word:
- Sion en Jerusalem is dieselfde plek -
maar Sion is telkens die verwysing na die Nuwe Jerusalem in die
hiernamaalse
- Jakob is telkens die verwysing na die volk op die
aarde - veral dan die volk wat besig is om sondes te doen.
- Daarteenoor is Israel dikwels die verwysing
na die volk soos wat God hulle in sy genade herskep het (met verwysing
na die Jabbokgebeurtenis). Dus ook dikwels ‘n verwysing na die
uitverkore mensdom wat in die ewige koninkryk van God versamel sal wees.
Die troos van God word dus tydloos vir sy kerk toegeroep!
Die vraag is: Waarom het die kerk dan sulke besondere troos nodig?
- Toe die profesie voorgedra was, was Juda vervolg en
onder die druk van die Babiloniese leërs!
- ‘n Deel van die inhoud van die profesie was dan ook
juis dat hulle onder die druk van ‘n naderende Ballingskap staan as
gevolg van hulle swak verhouding met die Here.
- ‘n Groot deel van die volk was toe al klaar in
Ballingskap in ‘n vreemde land en baie van die stede van Juda was reeds
verlate.
Die troosboodskap was dus ‘n boodskap van herstel. Al straf die
Here, Hy vernietig nie die wat Hy liefhet nie. Hy sal die straf
op so ‘n manier voltrek dat daar redding sal wees!
Spreek
na die hart van Jerusalem, en roep haar toe dat haar stryd verby
is, dat haar skuld betaal is, dat sy uit die hand van die HERE dubbel
ontvang het vir al haar sondes. (vers 2).
Om “na iemand se hart te spreek”
beteken maar net dat jy sag en
vriendelik met iemand moet praat. Dis byna ‘n sinoniem van
“troos.”
Wat is die inhoud van die troos?
- Die volk se skuld is betaal.
- Dit klink nou eenvoudig, maar die woord wat daar in
die Bybel gebruik word, is ‘n woord wat eitlik beteken “om slawediens
te doen.”
- Dis iemand wat ‘n slaaf geword het omdat hy nie sy
skuld kon betaal nie en wat as slaaf moet werk om sy skuld te betaal.
Hierdie skuld is in die profesie betaal!
- Dit beteken dat die maat wat God daarvoor afgemeet
het, volgemeet is.
- Duidelik hoor ons die kruiswoord van die
Here Jesus aan die kruis:
Dit is volbring!
- Natuurlik is daar ‘n duidelike verband tussen
hierdie skuld wat betaal is in Jesaja en die verlossingsraad van God
wat volbring is aan die kruis.
Die profesie sinspeel daarop dat die Here nou op pad is na hierdie
verloste volk toe! Die aankondiger is die stem van een wat roep:
Berei
in die woestyn die weg van die HERE; maak gelyk in die wildernis
‘n grootpad vir onse God! (vers 3, 4.)
Die persoon wat voor die koning uit loop en aankondig dat die Koning op
pad is, hoor in hierdie woorde al die koms en die wederkoms van die
Ware Verlosser!
- Natuurlik hoor hy die aankondiging van die Here dat
Jerusalem herstel gaan word en dat die Ballinge uit Babel gaan
terugkeer na Jerusalem toe.
- Maar die gedeelte is ook ‘n uitbeelding daarvan dat
die aankondiger net so duidelik die finale koms van die Verlosser na
die Nuwe Jerusalem toe hoor!
- ‘n Stukkende wêreld moet herstel word.
Die herskepping slaan skerp deur in die woorde:
elke
dal moet opgevul en elke berg en heuwel klein gemaak word; en die
bult moet ‘n gelykte en die rotsagtige plekke ‘n laagte word (vers
4).
Hierdie woorde word net so gebruik in Lukas 1:76 om die werk van
Johannes die Doper aan te kondig! Hy was die wegbereider van die
Here Jesus Christus! Daarmee weet ons dat hierdie profesie
betrekking het op die versoening en herskepping soos dit deur die Here
Jesus Christus tot stand gebring sou word.
Die kerkvolk kry ‘n boodskap: Die Koning kom en alles moet voorberei
word dat die volk tot in ewigheid hulle God kan ontvang!
En die
heerlikheid van die HERE sal geopenbaar word, en alle vlees
tesame sal dit sien: want die mond van die HERE het dit gespreek (vers
5).
Hierin hoor ons ook duidelik die Nuwe Testamentiese aankondiging
Kyk,
Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom
deursteek het; (Openbaring 1:7)
Natuurlik lê die sentrale vervulling van hierdie belofte in die
koms van ons Here Jesus Christus wat die afskynsel van die heerlikheid
van God is. Hy is dus die volkome openbaring van hierdie
profesie! Dit staan in Hebreërs 1:3 geskryf:
Hy,
wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy
wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag, nadat Hy deur
Homself die reiniging van ons sondes bewerk het, het gaan sit aan die
regterhand van die Majesteit in die hoogte, (Hebreërs 1:3
AFR53)
Terug by Jesaja se profesie hoor hy ‘n stem praat wat sê hy moet
roep dat alle vlees gras is.
- Dit is die naderende God en Koning se stem
wat hy hoor en wat hom aansê om vir die mense te sê hoe
kragteloos en broos hulle is.
- In hulleself is die mens se bestaan uiters
kortstondig: Dit kom en gaan soos ‘n veldblom.
- Tog is die aankondiging nie vol haat en verwyt nie,
want die verganklikes word ook liefdevol “volk” genoem: Die Here
se eiendom.
Die profesie ontwikkel al hoe meer: Waar die profeet eers net die stem
van die Koning in die verte hoor, moet hy nou die stede van Juda
toeroep: “Hier is julle God!”
Hier is julle God!
Kyk,
die Here HERE sal kom as ‘n Sterke, en sy arm sal heers; kyk, sy
loon is by Hom, en sy beloning is voor sy aangesig.
Hy sal sy kudde laat wei soos ‘n
herder; Hy sal die lammers in sy arm
vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei.
(vers
10, 11)
Die Here is Niemand anders nie as die Verbondsgod! Hy openbaar
Homself as die Almagtige wat regeer en gesag uitoefen! Kan u dink
hoe hierdie oorlogsmoë, verslaande en verhongerde volk hierdie
woorde moes beluister?
- Hulle beleef nog die straf daarvan dat God hulle
verstoot het omdat hulle Hom nie wou aanbid en dien nie, en hier word
sy almag waarmee Hy sy vyande gaan verslaan en oorheers
aangekondig!
- Hy bring betaling saam: Sy loon is by Hom.
- Dit beteken dat hulle toe verstaan het waarom daar
vroeër vir hulle gesê is dat hulle skuld betaal is!
- Die Here self het dit kom betaal! Die Here
kom betaal vir diep skuldige mense ‘n genadeloon, sodat hulle van hulle
eie skuld en straf af kan loskom!
- Die Here gaan sy volk optel en teen sy bors
dra. Hy is omring met liefde en sorg oor die wat syne is, al is
hulle hoe verflenter deur die sonde.
Die volk kon dalk in hulle versukkelde toestand getwyfel het of dit
moontlik is dat die Here regtig so magtig is soos die profeet
sê.
- Hulle sien dan niks daarvan nie. Hulle sien
net die geweld van die dood en oorlog.
- Daarom laat die Here die profeet vir die volk die
grootheid van die Here skilder.
- Die bedoeling is dat die volk moet moed skep, want
daar is niemand wat die skepping so kon beplan en afgemeet het
nie - net die Here Alleen.
- Hy het ook nie hulp nodig gehad nie, en niemand het
Hom raad gegee oor wat Hy moes doen, sodat dinge kon uitwerk nie.
- Die magtigste volke is maar soos ‘n stoffie aan ‘n
weegskaal - of soos ‘n druppel water wat aan ‘n emmer
hang. As hulle gemeet word teen die heersersmag van die Here, is
hulle magte wat nie eers bereken kan word nie, so klein en
nutteloos is hulle.
Natuurlik moet die volk gewys word op die dwaashede wat hulle aangevang
het, wat hulle gebring het tot waar hulle is. Daarom word dit
duidelik gestel dat afgodediens dwaas en nutteloos is. Lewe en
verlossing kan mens net kry by die lewende regerende God!
Die bedoeling van hierdie tussendeel van die profesie is
- enersyds om die grootheid en heerlikheid van God te
besing,
- maar verder ook om aan te toon dat die hele
skepping en die wêreld deur God bestuur word.
Dan kom die derde deel. Dis die toepassing van die feit van die
koms van die Here na hierdie verslae en gebreekte mensvolk toe.
Om dit te verstaan moet ons heel eerste kyk na die mense wat daar voor
Jesaja gestaan het en wat na sy profesie geluister het:
- Hulle was ‘n verpletterde volk. Die grootste
gedeelte van hulle het al in Babel in ballingskap gesit.
- Die res het in ‘n beleërde stad gesit
- en nog daarby aanhoudend gehoor dat die Here hulle gaan straf
en Jerusalem gaan laat val!
Wat gaan in hulle gemoed aan?
Verkeerde dinge! Ons hoor hulle ongelowige gesprekke met mekaar
terug in die profeet se woorde:
My weg
is vir die HERE verborge, en my reg gaan by my God verby!
In ons taal oorgesê: Ons lot gaan by die Here verby.
Hy kan nie sien wat gebeur met ons nie. Hy bekommer Hom ook nie
meer oor ons nie.
Hulle het gedink dat hulle as verdrukte volk ‘n regsaak voor God het
teen hulle vyande - maar die Here doen niks aan die vyande
nie.
- Kyk net hoe verplaas hulle hulle skuld! Dis
die Here se skuld!
- Dis Hy wat nie sien nie! Dis waarom daar nie
aan hulle reg voldoen word nie!
So maklik kom mens egter nie by jou eie sondes verby nie! Luister
net hoe sag en mooi vermaan die Here hulle en wys Hy hulle tereg!
Waarom
sê jy dan, o Jakob, en spreek jy, o Israel:
Dit gaan oor die twee name wat hier gebruik word: Jakob en
Israel. Die twee name dui die wending aan wat God deur sy genade
aanbring.
- Jakob was die man wat God so gedien het dat Hy
alles gesteel het wat die Here beloof het dat Hy dit vir hom sou
gee. Hy was alles wat sy naam beteken het: ‘n bedrieër van
faam!
- Die genade van God in sy lewe was die nag toe die
Here hom by die Jabbokrivier voorgekeer en met hom geveg het.
Uiteindelik het die Here sy heup afgeslaan. Op Jakob se gesmeek
vir genade het die Here sy naam verander na Israel toe. Hy het
met God geworstel en is verander.
In hierdie twee name lê God se genade vir sy kerkvolk:
- Julle wat in julle sondes julleself bejammer en
dink dat God by julle verbygegaan het moet luister!
- Hy het nie in sy reg by julle verbygegaan
nie. Daarom is julle nie meer Jakob nie maar Israel. Julle
reg is juis deur God hanteer, daarom die genade dat Hy kom!
- Daarom die genade dat sy loon by Hom
is! Dieselfde loon wat ons skulde betaal, vergeld sy en ons
vyande!
Die vraag wat hier staan, is eintlik nie ‘n vraag nie. Dis ‘n
sterk stelling wat maar net op hierdie manier neergeskryf is! Ons
reg het nie by God verbygegaan nie. Hy het dit juis gesien en vir
ons hanteer!
Die feit word gevolg met die volgende woorde:
Weet
jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? ‘n Ewige God is die
HERE, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat
nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie.
Hy gee die vermoeide krag en
vermenigvuldig sterkte vir die wat geen
kragte het nie (Vers 28, 29)
Ons kyk vandag terug in die tyd, en ons herdenk dat God in sy Raad mens
geword het. Die Koning het dus al gekom! Ons onthou
dit! Daarom onthou ons ook die troos: Ons skulde is betaal
- ons kan die Here met vrymoedigheid in sy genade tegemoetgaan!
Maar die openbaring van God het intussen al verder gegaan: ons verwag
die Here se wederkoms. Daarom kry ons van nuuts af die
boodskap: Die Koning kom en alles moet voorberei word dat die volk tot
in ewigheid hulle God kan ontvang!
En die
heerlikheid van die HERE sal geopenbaar word, en alle vlees
tesame sal dit sien: want die mond van die HERE het dit gespreek
(Jesaja 40:5).
Ons boodskap uit die Nuwe Testament:
Kyk,
Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom
deursteek het; (Openbaring 1:7)
Ons oë gaan deel wees van die pare oë wat die ewige God en
Regter op die wolke sien kom!
Die gedagte aan hierdie wederkoms van die Koning van die kerk is vir
die vromes en uitverkorenes begeerlik en troosryk. Daardie
oomblik gebeur al die volgende dinge:
- Dan sal hulle volle verlossing voltooi word en
hulle sal daar die vrugte ontvang van moeite en lyding wat hulle gedra
het.
- Hulle onskuld sal deur almal erken word en hulle
sal die verskriklike wraak sien wat God sal voltrek oor die goddeloses
wat hulle in hierdie wêreld wreed vervolg, verdruk en gekwel
het.
- Die goddeloses sal deur die getuienis van hulle eie
gewete tot erkenning van hulle skuld gebring word; hulle sal
onsterflik word, dog slegs om gepynig te word in die ewige vuur wat vir
die duiwel en sy engele voorberei is (Matt 25:41).
- Die gelowiges en uitverkorenes, daarenteen, sal met
heerlikheid en eer gekroon word.
- Die Seun van God sal hulle naam voor God, sy Vader
(Matteus 10:23) en sy uitverkore engele bely;
- alle trane sal van hulle oë afgevee word
(Openbaring 21:4).
- Dan sal dit bekend word dat hulle saak … die saak
van die Seun van God is.
- En as 'n beloning uit genade sal die Here self
hulle so 'n heerlikheid gee as wat die hart van 'n mens nooit sou kon
bedink nie.
Daarom verwag ons hierdie groot dag met sterk verlange om die beloftes
van God in Jesus Christus, ons Here, ten volle te geniet. (NGB
artikel 37).
Amen
Slotgebed.
Slotpsalm 145:1-5
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: Kersdag 2003