Sing vooraf:
Psalm 71:13, 14.
Ons hulp is in die Naam van die
Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes,
genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur
die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm
145:1, 10.
Gebed.
- Doksologie:
- Aanbidding:
- Skuldbelydenis:
- Dank:
- Smeking vir
die nood van die gemeente en voorbidding vir die kerk, owerhede en
sondige wêreld, asook die beroep op die beloftes van God
- Algemene bede:
- Verligting
van die Gees ter wille van die Woorddiens:
Amen.
Psalm
4:1.
Skriflesing:
Jesaja 40
Teks:
Kategismus Sondag 1; Jesaja 40:1-11:
Troos, troos my volk,
sê julle God. Spreek na die hart van Jerusalem, en roep haar
toe dat haar stryd verby is, dat haar skuld betaal is, dat sy uit die
hand van die HERE dubbel ontvang het vir al haar sondes. ’n
Stem van een wat roep: Berei in die woestyn die weg van die HERE; maak
gelyk in die wildernis ’n grootpad vir onse God! Elke dal
moet opgevul en elke berg en heuwel klein gemaak word; en die bult moet
’n gelykte en die rotsagtige plekke ’n laagte word.
En die heerlikheid van die HERE sal geopenbaar word, en alle vlees
tesame sal dit sien: want die mond van die HERE het dit gespreek.
’n Stem sê: Roep! En hy vra: Wat moet ek roep? Alle
vlees is gras, en al sy aanvalligheid soos ’n blom van die
veld. Die gras verdor, die blom verwelk as die asem van die HERE daarin
blaas. Voorwaar, die volk is gras! Die gras verdor, die blom verwelk;
maar die woord van onse God hou stand in ewigheid. o Sion, verkondiger
van goeie boodskap, klim op ’n hoë berg! o
Jerusalem, verkondiger van goeie boodskap, hef jou stem op met mag; hef
dit op, wees nie bevrees nie! Sê aan die stede van Juda: Hier
is julle God! Kyk, die Here HERE sal kom as ’n Sterke, en sy
arm sal heers; kyk, sy loon is by Hom, en sy beloning is voor sy
aangesig. Hy sal sy kudde laat wei soos ’n herder; Hy sal die
lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy
saggies lei. (Jesaja 40:1-11 AFR53)
Wat
is jou enigste troos in jou lewe en in jou dood?
- Dis
‘n baie snaakse vraag om vir iemand te vra, want wie
sê ek het troos nodig?
- Dalk
dink ek nog glad nie aan die dood nie - watse troos
sal ek nou in my sterwensoomblikke nodig hê?
- Het
u al ooit gaan sit en besin oor hierdie saak:? Is jou lewe
dol gelukkig of is daar baie hartseer?
Ons dink
ook altyd dat troos iets is wat ons net vir hartseer mense gaan gee.
- Dit
is byvoorbeeld tipies van ons om wanneer iemand huil, ons ons
arm om sy skouers gaan sit en probeer om iets aan die persoon
te bied wat sy verlies moet ver vang, sodat die persoon kan beter voel
en weer kan aangaan!
Ons glo dat ons tog almal
gelukkige en welvarende mense is.
- Ons
het genoeg van alles – eintlik leef ons in oorvloed na alle
kante toe, al kla ons dikwels oor alles wat ons te min het.
- Dink
u iemand wat alle aardse middele het, het troos nodig, of het so iemand
(ek en jy!) alles waarna ons smag volmaak in ons besit?
Ons
moet verstaan dat hierdie vraag ‘n baie belangrike vraag is
vir ons wat almal hier saam is.
- Ons weet
almal dat die geluk waarin ons leef, ‘n valse geluk is, want
ons het baie verloor waaroor ons troos nodig het.
- Iemand
wat genoeg lewensdiepte het, weet mos dat ons deur die sonde alles wat
kosbaar is, verloor het.
- Dis nou as
gevolg van die sondes wat ons geëerf het,
- maar
dis ook deur ons eie sondes en moeds willigheid -
dink maar mooi daaroor:
- ons het ons
koningskap verloor,
- ons beeld van God in ons,
- ons
adel.
Die ellende van die
ding is dat baie mense al so diep in hierdie beeldloosheid ingesink het
– en gewoond geraak het daaraan - dat
hulle nie meer daaraan dink dat hulle hoegenaamd iets anders wil (of
kan) hê nie!
Ons leef biae keer
‘n ploeterbestaan vol kwaad met min aanloklike heiligheid
daarin.
- Ons het ons kindskap van God
verloor, want ons het met ons sondes onsself aan die satan gaan verkneg.
- Ons
het werklik mense geword wat die hel en sy smarte as voorland het, as
daar nie iets drasties met ons gebeur om ons uit hierdie toestand uit
te help nie.
Die slotsom is maar net dit:
- Ons
het troos nodig, want ons weet dat ons oor hierdie lewe dalk kan
grootpraat, maar die donker ander kant die graf wag soos ‘n
verskrikking op elkeen van ons!
- Ons is te huiwerig
om te dink oor wat van ons gaan word as ons sterf.
Ons
moet by die Here gaan hulp soek.
- Maar
ons is net by die Here welkom as ek heeltemal eerlik is.
- En
ek kan die Here ook net werklik ken as ek myself ken.
- Ek
moet weet hoe swart en besmeer my eie lewe is.
- En
ek moet eers besef dat ek regtig in die moeilikheid is, voordat ek my
na God toe sal wend.
Dan eers gaan ons
kennis van God diep word, en ons insig al hoe groter word.
- Dan
sien ons God se almag en sy kennis.
- Dan verstaan
ons hoeveel Christus as ‘n mens alles moes insit om
ongeskonde deur hierdie lewe te kon gaan – sodat Hy aan die
kruis kon sterf sonder dat Hy een enkele sonde gedoen het.
- Dan
besef ‘n mens eers dat ons die Here kan vertrou en dat ons
enigste moontlike verlossing in Jesus Christus is.
Vanselfsprekend
gaan dit in ons lewe die gevolg hê dat ons dan ‘n
verandering in ons lewe gaan hê. Ons sal so foutloos as
moontlik leef, uit dankbaar heid teenoor God.
Daar
is ‘n beskuldiging teen elkeen van ons.
- Nie
sommer maar net ‘n gewone beskuldiging nie
- ons word beskuldig van die grootste denkbare misdaad:
- Ons
is moedswillig teen die Here, en in verset teen alles wat Hy met ons
doen.
- Die straf hiervoor is die doodstraf.
- Dit
maak ons troostelose wesens – om nou ons lewenstoestand aan
te sluit by die begin van ons preek.
Daarom
bely ons dat dit vir ons vanselfsprekend is dat ons in die moeilikheid
is, en dat ons troos moet nodig hê (Heidelbergse Kategismus
Sondag 1).
- Ons het presies dieselfde
troos as Juda nodig. Ons het daarvan gelees.
- Die
Here het hulle herhaaldelik opgeroep om hulle tog van hulle sondes te
bekeer, maar hulle wou nie hoor nie.
- Die lewe het
hulle meer gebied, as die nougesette gehoor saamheid wat God gevra het.
- Daarom
het hulle net nie belang gestel om te luister nie.
Toe
het die Here hulle gestraf. Simbolies is hulle doodgemaak.
- Toe
die gedeelte geskryf is, was hulle onder die druk van die
Babiloniërs.
- Die grootste deel van die
volk was weggevoer, en al die stede van Juda was verlate.
- Hulle
was regtig diep in ellende. Hulle het troos nodig gehad.
Vir
die Jode uit daardie tyd was die toestand so erg soos die einde self.
- U
kan net dink hoe u sal voel as u as ‘n krygsgevangene uit ons
land weggevoer word en ons in ‘n ander land met sy kultuur en
taal ingedwing word.
- Hulle smarte was so groot dat
hulle in Babel geweier het om een Psalm tot eer van God te sing.
- Hulle
het langs die riviere gesit en huil, en daar was net een gedagte wat
deur hulle gemaal het: Jerusalem en ons vaderland is verwoes. Ons volk
is uit die wêreldgeskiedenis verwyder.
Nou
kom die Here en Hy troos hulle self.
Troos, troos my volk,
sê julle God, en roep haar toe dat haar stryd verby is, dat
haar skuld betaal is; dat sy uit die hand van die Here dubbeld ontvang
het vir al haar sondes.
Ons
is bietjie dieper in die ellendes as wat Juda was.
- Hulle
het die vooruitsig gehad dat hulle weer na hulle land toe sou
teruggaan, noudat hulle hulle straf uitgedien het.
- Maar
ons het deur ons sondes so van God vervreem geraak, dat sommiges onder
ons baie dae twyfel of God nog daar is.
Alle mense
(selfs gelowiges!) stel ook nie meer werklik al belang in God en in sy
koninkryk nie.
- Soms praat ons nog
godsdiens voor mense, maar ons harte is leeg, want die Here het geen
werklike plek in ons lewens nie.
- Dis waarom ons so
floutjies stry teen die verkeerde dinge wat ons doen. Die duiwel het
ons gevang.
- Dis seker die grootste ellende wat daar
kan wees, as ons onder die koningskap van die satan staan.
Maar
nou het ons die bevryding: ons kan ook voortgaan.
- Ek
hoef my nie dood te bekommer oor die donker van my dood nie.
- My
stryd is verby, want die Here het my nie aan myself oorgelaat nie.
Die
troos van hierdie hele preek is net dit:
- Die
Here weet dat die sonde ons en die lewe uitmekaar hou.
- Hy
begryp heeltemal dat die sonde geweldige spanninge by ons bewerk.
- Daarom
bewerk Hy in sy teerheid oor ons troos vir hierdie ellendige toestand.
- Hy
stuur ‘n Verlosser wat ons ontkoppel van die dood.
Die
saak is in sy diepte te groot dat ons alles kan verduidelik, want God
het ook nie alles aan ons openbaar nie.
- Maar
wat ons weet is dat Hy besluit het dat Hy bereid sal wees om een mens
vir almal te straf.
- Maar dan moet hierdie een mens
volmaak wees.
- Hy moet geen enkele sonde gedoen het
nie - sy lewe moet heeltemal skoon wees.
Maar
dan moet hierdie mens ook in staat wees om die straf te kan
“vat”.
- Dis logies
dat daar geen mens is wat die straf van die Here sal kan verduur nie,
want die Here het dan vir Moses gesê dat geen mens Hom kan
sien en aan die lewe bly nie.
- Toe was die Here baie
vriendelik. Watter kans staan ‘n mens dan wanneer die Here
kwaad en ontsteld is?
Daarom kom Jesus Christus
– wat so ‘n volmaakte mens is, maar wat ook God
self is, sodat Hy die straf van God oor ons sondes op Hom kon neem en
ook kon oorleef. Hy koop ons van die duiwel af terug.
- Nou
behoort ons aan die Here Jesus Christus.
- Dit bring
ons terug in die gemeenskap met God.
- Nou
behoort ons aan die Here (weer).
- Ons is sy eiendom
en Hy is besorgd oor sy eiendom. Hy het alles aan ons teruggegee wat
ons verloor het. Kan daar ‘n groter troos wees?
Die
verhouding tussen my en God is herstel, en ek het geen dood spanning
meer nie. Lewenskwellinge verander in hulle wese – as ons weg
van God af is, is hulle ‘n doodskwelling, want hulle bedreig
ons lewe. By God is dit net ‘n kwessie van dat ons hulle moet
hanteer tot eer van God – Hy het hulle klaar opgelos. Daarom
staan hier:
Troos, troos my volk ….
Maar
nou moet u iets daarvan in u lewens terugwys. Ons moet ‘n
dankbaarheidslewe lei.
Ons moet die wil van God
van harte doen. Ek weet nie een van ons kan nie, maar daar was baie
heiliges voor ons wat ook nie kon nie! Daarom roep Dawid uit:
Ék het in my angs
gesê: Alle mense is leuenaars. Wat sal ek die HERE
vergeld vir al sy weldade aan my? (Psalms 116:11-12 AFR53)
Maar
hy gee ook die antwoord:
Ek sal die beker van verlossinge
opneem en die Naam van die HERE aanroep. My geloftes sal ek
aan die HERE betaal in die teenwoordigheid van sy ganse volk. (Psalms
116:13-14 AFR53)
Berymd sing ons dit
so:
Wat
kan 'k die HEER vir al sy guns vergeld?
Wat kan 'k Hom bring uit dank
vir sy genade?
Ek sal Hom prys vir sy
verlossingsdade
en by die kelk van heil sy Naam
vermeld.
As
ons leef onder die besef van ons penarie waarin ons sondes ons voor God
stort, dan sal ons al hoe meer na die Here soek, en ook al hoe heiliger
(dankbaarder) probeer lewe.
Daarom kan ons nou
saam met Paulus jubel:
Want niemand van ons leef vir
homself nie en niemand sterf vir homself nie. Want as ons
lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot
eer van die Here; of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die
Here. (Romeine 14:7-8 AFR53)
Kom
ons lees Kategismus Sondag 1 saam om te sien wat ons belydenis oor
troos leer:
Vraag
1: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?
Antwoord: Dat ek met
liggaam en siel in lewe en in sterwe (a) nie aan myself (b) nie, maar
aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort (c). Hy het met sy
kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal (d) en my uit alle
heerskappy van die duiwel verlos (e). Hy bewaar my op so 'n wyse dat
sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie
(g). Alles moet inderdaad tot my saligheid dien (h). Daarom verseker
(i) Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van
harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe (k).
(a)Rom 14:8. (b) 1 Kor 6:19. (c)
1 Kor 3:22; Tit 2:14: (d) 1 Pet 1:18, 19;1 Joh 1:7; 2:2, 12. (e) Heb
2:14;1 Joh 3:8; Joh 8:34 36. (f) Joh 6:39; 10:28; 2 Tess 3:3; 1 Pet
1:5. (g) Matt 10:30; Luk 21:18. (h) Rom 8:28. (i) 2 Kor 1:22; 5:5; Ef
1:14; Rom 8:16. (k) Rom 8:14;1 Joh 3:3:
Vraag 2: Hoeveel dinge moet jy
weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe?
Antwoord: Drie dinge
(a): Ten eerste, hoe groot my sonde en ellende is (b); ten tweede; hoe
ek van al my sonde en ellende verlos word (c) en ten derde hoe ek God
vir so 'n verlossing dankbaar moet wees (d).
(a)Matt 11:28 30; Ef 5:8. (b)
Joh 9:41; Matt 9:12; Rom 3:10;1 Joh 1:9;10. (c) Joh 17:3; Hand 4:12
10:43. (d) Ef 5:10; Ps 50:14; Matt 5:16; 1 Pet 2:12; Rom 6:13; 2 Tim
2:15:
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm
65:4.
Die genade van die Here Jesus Christus en
die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly by u
almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 8 Januarie 2005 (aand).