Oujaarsaand 31 Desember 2001.
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 18:1, 14.
Gebed.
Psalm 2:6.
Skriflesing: Jesaja 44.
Teks: Jesaja 44: 20
Hy wat
hom besig hou met as, 'n bedroë hart het hom verlei, sodat hy sy
siel nie kan red ... nie...
Die Here roep sy volk op om Hom te aanbid as die enigste en lewende
God. Die Here openbaar Homself in sy liefde aan sy volk, sodat hulle sy
verlossingsbeloftes gelowig kan aanvaar.
1. Die Here stel Homself bekend
2. Die Here stel die mens en sy afgod
bekend
3. Die Here bevestig sy liefde
1. Die Here stel Homself bekend
Jesaja het hierdie preek gepreek aan mense wat so ver in ongeloof geval
het, dat hulle lewe in 'n ketting van sondes ontaard het.
- Al die sondes wat hulle gedoen het, was as gevolg daanvan dat
hulle band met die Here so verswak het, dat hulle nie meer geweet het
wie die Here is nie.
- Daarom stel die Here Hom eers weer aan hierdie volk bekend, sodat
hulle presies kan weet Wie dit is wat sy genade aan hulle openbaar: Die
Here openbaar Homself deur verskillende Godssname te noem wat almal
betrekking het op sy almag.
Die eerste naam waarmee Hy Hom openbaar is HERE (Jahwê). Hy is
die HERE, die Verbondsgod wat van ewigheid tot ewigheid lewe.
- Met hierdie naam openbaar die Here dat Hy van die skepping af sy
genade aan die mense verkondig het.
- Hy het hierdie genade voortdurend deur verbonde aan hierdie volk
se voorgeslagte bevestig. Dink byvoorbeeld aan die verbond met Abraham.
- Daarby was daar tasbare bewyse dat die Here die voorouers by
verskillende geleenthede beskerm en gered het. Dink maar net aan dinge
soos die kwartels en manna en die verskillende geleenthede wat die Here
water voorsien het in die woestyn.
Om die Goddelike oorsprong van die waarheid nog meer en sterker te
beklemtoon, openbaar die Here Hom ook met 'n tweede Godsnaam. Hy is die
Koning van Israel.
- In hoofstuk 41: 21 noem die Here Homself die Koning van Jakob.
Jakob en Israel was dieselfde mens.
- Jakob was 'n naam wat die sondaar beskryf het: die
bedrieër wat eiegeregtig gelewe het.
- Jakob het in sy sonde voortgejaag totdat die Here hom by die
Jabbokrivier voorgekeer het en sy naam verander het na Israel toe.
- Israel was die man wat met God geworstel het, maar wat aan die
einde van die worsteling deur God geseën is. Israel word die naam
waarmee die HERE die verbondsvolk noem om aan te toon dat hulle sy
uitverkore eiendom is. Die Here stel sy heerskappy oor hierdie
uitverkorenes baie duidelik, daarom noem Hy Homself Koning: die Koning
van Israel.
Daarna volg daar nog 'n naam vir die Here: Verlosser.
- Die Bybel gebruik die woord Losser - maar daar is nie werklik 'n
verskil tussen 'n Losser en 'n Verlosser nie.
- In die Ou Testament is daar geglo dat die land aan God behoort.
As iemand deur armoede of deur watter rede ookal gedwing was om sy
grond te verkoop, kon iemand anders die verkoopprys aan die persoon wat
die grond gekoop het gaan gee, en dan moes hy die grond aan die
oorspronklike eienaar teruggee.
- Die Here is sy volk se losser.
- Deur hulle sondes het hulle hulle land verloor. Hulle is met
die ballingskap gestraf oor hulle sondes en hulle land is van hulle
afgeneem.
- Eintlik is hulle van hulle land af weggeneem.
- Dit maak egter nie saak watter kant om dit gebeur het nie, want
die simboliese betekenis bly dieselfde: deur hulle sondes het hulle die
ewige lewe en die koninkryk van God verloor.
- Daar is net Een wat dit aan hulle kan teruggee, en dit is die Een
wat hulle sondes van hulle af kan wegneem en hulle van die straf van
God kan verlos.
Al staan hierdie dinge in die Ou Testament geskryf, weet ons uit die
volle openbaring van God, soos wat dit veral in die Nuwe Testament
uitkom, dat hierdie verlossing kom deur Jesus Christus.
- Daarom gebruik die Here in Jesaja 44: 6 die woord "Losser."
- Profeties word die verlossingswerk van die Here Jesus deur
hierdie naam voorspel - al sou dit omtrent 5 eeue later eers gebeur.
Dan kom daar nog een Godsnaam by: Here van die Leërskare.
- Daarmee word alle skepsele in die hemele en op die aarde bedoel.
Almal van hulle staan onder die regering van die Here, en Hy alleen is
God en heerser oor hulle almal.
Dan begin die Here praat:
- Ek is die Eerste en Ek is die
laaste en buiten My is daar geen God nie.
- Veral gesien teen die feit dat die Here Homself die Verlosser
noem, moet ons hier dink aan Jesus se woorde aan Johannes: Ek is die Eerste en die Laaste en die
Lewende...
Hieruit is dit duidelik dat dieselfde God met Johannes praat as wat met
Jesaja gepraat het. Let net op die verskil:
- Toe die Here met Jesaja gepraat het was die Verlosser se werk nog
nie voltooi nie - toe was dit nog aan die kom.
- Toe die Here met Johannes gepraat het, was die werk reeds voltooi.
- Daarom sê die Here vir hom nog hierdie woorde ook: Ek was
dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid Amen (Openb. 1: 17, 18).
- So lyk die Verlosser aan die einde van die tyd, wanneer die
profesie van Jesaja dat God in sy ewige regering sy volk verlos het, in
vervulling gegaan het.
2. Die Here stel die mens en sy afgod
bekend
Wie is die mense en watter mag het mense?
- Uit hulleself niks, want die Here versorg hulle van die voortyd
af.
- Die Here roep die wat hy wil verlos tot bekering en Hy bevestig
sy genade aan hulle.
- Hy openbaar aan hulle wat in die toekoms gaan gebeur, want uit
hulleself kan hulle die toekoms nie ken en sien nie (v. 7).
Die dinge staan alles in vers 7. Maar u moet oplet dat dit na twee
kante toe sny.
- Aan die een kant is dit 'n openbaring van genade aan die
gelowiges:
- Die Here ken hulle en roep hulle.
- Daar sal nie een van hulle verlore gaan nie. Trouens die Here
het dit alreeds in hoofstuk 40: 26 ook presies so gesê.
- Die gelowiges kan hulle bevryding in die Here tegemoetgaan,
want die Here het van die ou tyd af sy verlossingsraad oor hulle
bevestig.
- Aan die ander kant is daar 'n sterk oordeelselement in hierdie
woorde:
- Geen mens kan in homself bestaan nie.
- Geen mens kan homself van sy sonde en die dood bevry nie.
- Daarom die wekroep in vers 8 dat die volk mos self getuies is
daarvan dat die Here hulle al die eeue deur beskerm het en dat daar
geen God buiten die Here is nie.
Die oordeel kom van vers 9 af baie sterk uit, omdat die Here hulle
daarvan beskuldig dat hulle wat in hulleself geen bestaanskrag het nie,
afgode maak wat deur hulle aanbid word. Hulleself is nietigheid en dan
maak hulle hierdie lieflingsafgode van hulle wat dan nou sogenaamd mag
moet hê.
- Die Here beskuldig nou die makers van die afgode dat hulle nie
kan sien nie, omdat hulle geestelik blind is.
- Hulle sien nie die dwaasheid van hulle afgode nie, en in hulle
stiksienigheid besef hulle ook nie dat hierdie afgode geen voordeel
bring nie.
- Hulle kan geen lewe in hierdie afgode inblaas nie. Hulle word
daaraan herinner dat hulle self doodgaan as hulle nie eet en water
drink terwyl hulle werk nie.
Om die dwaasheid van afgodsaanbidding nog helderder te verlig, gaan die
Here nou wys op die vervaardigingsproses.
- Die Here behandel nou die materiaal. Hulle moet van die Here se
skepping gebruik maak. Iewers moet hulle 'm boom gaan afkap om hout in
die hande te kry.
- Die Here wys daarop dat die mense die helfte van die boom
verbrand wanneer hulle vuurmaak om self warm te word en hulle kos mee
gaar te maak.
- Maar as hulle met die ander helfte wat net so brandbaar en nietig
is 'n beeld maak, dan dink hulle dat dit nou goddelike magte het.
- Hulle insig is so verblind dat hulle nie eers die lyn van
nietigheid kan deurtrek nie.
Die nietigheid van die afgode word ook nog geskets teen die feit dat
hierdie sterflike mense met liniale en passers en skawe meet en werk
aan die beelde om hulle volgens menslike begrip vorm te gee. Wat vir 'n
god is dit wat so tot bestaan kom?
Daarna verwyt die Here hulle nog hulle finansiële beperktheid.
- Die wat ryk genoeg is, maak 'n afgod van goud.
- Die wat minder ryk is maak een van silwer.
- Die wat baie arm is, maak maar een van hout.
- Die status en postuur van sy god word bepaal deur sy beursie.
U moet nou nie te haastig gaan oordeel oor hierdie klomp heidense Jode
wat so dom geraak het dat hulle afgode aanbid het, terwyl hulle die
lewende God as Here gehad het nie. Ons doen dieselfde. Baie mense het
gelukbringertjies. Dis presies dieselfde ding.
Alle tipes rituele het van die vroegste eeue af saam met afgodsdiens
gegaan.
- U dink miskien dat dit nie so ernstig is nie - die mense in
Jesaja se tyd het ook nie gedink dat dit so ernstig is nie.
- Maar God het gedink dat dit ernstig is! Hy het hulle in 'n oorlog
laat uitwis en hulle land weggevat daaroor!
Ons moet weer oor hierdie dinge begin dink, want sonder dat ons dit
agterkom, begin die heidendom weer in ons inkruip.
- Dit is waarom daar in ons teksvers geskryf staan dat die
afgodsaanbidder is soos 'n bok/skaap wat verdwaald op die ashoop staan
en dink dat hy daar kan oorleef. Sy hart en sy verstand bedrieg hom.
Uiteindelik gaan hy verlore.
- Wat alles wat deur die vuur verbrand word, kan jou siel nie red
nie - dus ook nie jou afgode wat alles saam met hierdie wêreld
verbrand gaan word nie.
3. Die Here bevestig sy liefde.
Na die spreekwoord oor die bok/skaap wat verdwaald op die ashoop staan,
roep die Here na sy volk:
Dink aan hierdie dinge o Jakob en Israel! Jy is my kneg. Want Ek het
jou geformeer!
Die Skepper roep sy skepsele terug na Hom toe.
- Die Here wil hê dat elke gelowige mens sy troos en
verlossing op die regte plek moet gaan soek.
- Ons gaan die nodige troos en steun vir ons lewens net op een plek
kry, en dit is by Hom. Hy sal ons verwagting nooit terleurstel nie.
Daar is 'n baie intieme verhouding tussen ons en die Here.
- Hy het elkeen van ons vooraf beplan en gemaak.
- Sy produk het nie misluk soos die afgodsbeelde wat deur mense
gemaak word nie.
- Ons is sy knegte wat geskep is om Hom te aanbid, en om tot in
ewigheid by Hom te lewe in sy koninkryk.
Kneg is nie 'n slegte benaming of 'n naam van minderwaardigheid nie.
Die Here noem die Messias ook sy kneg. Dit wys hier op 'n baie
besondere en baie baie intieme verhouding van aanbidding tussen ons en
die Here waarin Hy nie net ons meerdere is nie, maar waarin Hy ons ook
absoluut beskerm, soos wat 'n heer sy kneg beskerm.
Die Here gaan terug na die begin van hierdie rede toe, toe Hy Hom
bekendgestel het. Hy het Homself Verlosser genoem.
- Nou kom Hy daarop terug en Hy belowe juis so 'n verhouding, want
Hy sê dat Hy hulle verlos.
- Ook nie sommer net so 'n verlossing nie. Hy gaan die sondes
uitdelg. Dis 'n baie sterk woord wat sê dat die Here die sondes
totaal gaan vernietig.
- Aan die einde van die vernietigingsproses sal daar geen teken van
sondes wees nie, want dit sal wees soos 'n vlieswolkie wat deur die son
weggebrand word totdat die lug helder is.
Die gedagte aan die verlossing laat dan die hemel en die aarde in 'n
vreugdelied uitbreek.
- Hulle sing dat die Here Jakob verlos en Homself verheerlik aan
Israel.
- Sondaars word verlos en die uitverkorenes deel in die heerlikheid
van die Here!
Hierdie beloftes van die Here het nie vasgesteek by die profesië
van die Ou Testament nie.
- Die Here het as Verlosser na ons aarde toe gekom en as 'n mens
kom lewe.
- Toe het die hemele en die aarde oopgebreek en gejuig dat die
Verlosser gebore is in die stad van Dawid.
- Die Verlosser wat daardie nag gebore is, het inderdaad ons sondes
uitgewis, omdat Hy God se volle straf daarvoor gedra het.
- Hy is vandag nog steeds Koning oor ons kerk.
Ken u Hom? Aanbid u Hom alleen as God? U mag geen vorm van aanbidding
naas die Here hê nie - selfs nie eers iets soos ons onskuldige
gelukbringertjies nie. U moet glo en bely dat u volle saligheid in die
krag en versoening van Jesus alleen geborg is. Hy wil ons almal deur
hierdie nuwe jaar:
- in sy liefde toevou
- en aan ons bevestig dat Hy ons van al u sondes verlos het,
- en dat Hy aan ons die ewige lewe gee.
- Maar Hy wil u ook hê dat ons bely dat ons Hom alleen aanbid.
Laat ons dan nie die jaar 2002 ingaan soos mense wat as aanbid omdat
hulle harte en hulle verstande hulle so bedrieg dat hulle op die ashoop
staan nie.
Amen
Slotgebed.
Skrifberyming 8:1, 2.
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 30 Desember 2001.