Sing vooraf: Skrifberyming 1-1:7; Skrifberyming 5-4: ;
Kom ons begin hierdie ontmoeting met God deur openlik teenoor mekaar en teenoor God te
verklaar:
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige
werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Psalm 146:1, 3, 8
Gebed
Skrifberyming 5-3:4, 5
Skriflesing: Jesaja 44
Teks:
Jesaja 44: 20
Hy wat hom besig hou met as, 'n bedroë hart het hom verlei; sodat hy sy siel
nie kan red, of kan sê nie: Is daar geen leuen in my regterhand nie? (Jesaja 44:20
AFR53)
Die Here roep sy volk op om Hom te aanbid as die enigste en lewende God. Die Here openbaar
Homself in sy liefde aan sy volk, sodat hulle sy verlossingsbeloftes gelowig kan aanvaar.
1. Die Here stel homself bekend
2. Die mense se verwarde lewenswaardes was die oorsaak dat Jesus gekruisig
is
3. Die Here bevestig sy liefde
1. Die Here stel homself bekend
Jesaja het hierdie preek gepreek aan mense wat so ver in ongeloof geval het dat hulle lewe in
'n ketting van sondes ontaard het.
- Al die sondes wat hulle gedoen het, was as gevolg daarvan dat hulle band met die Here so
verswak het dat hulle nie meer geweet het wie die Here is nie.
- Daarom stel die Here Hom eers weer aan hierdie volk bekend, sodat hulle presies kan weet
Wie dit is wat sy genade aan hulle openbaar:
- Die Here openbaar Homself nou deur verskillende Godsname te noem wat almal betrekking het
op sy almag.
- En elkeen van hulle wys reguit na die vervulling en die betekenis daarvan in die
kruisiging van die Here Jesus.
Die eerste naam waarmee Hy Hom openbaar is Here (Jahwê). Hy is die
Here, die Verbondsgod wat van ewigheid tot ewigheid lewe.
- Met hierdie naam openbaar die Here dat Hy van die skepping af sy genade aan die mense
verkondig het.
- Hy het hierdie genade voortdurend deur verbonde aan hierdie volk se voorgeslagte
bevestig. Dink byvoorbeeld aan die verbond met Abraham.
- Daarby was daar tasbare bewyse dat die Here die voorouers by verskillende geleenthede
beskerm en gered het: Dink maar net aan dinge soos die kwartels en manna en die verskillende
geleenthede waar die Here water voorsien het in die woestyn.
Om die Goddelike oorsprong van die waarheid nog meer en sterker te beklemtoon, openbaar
die Here Hom ook met 'n tweede Godsnaam. Hy is die Koning van
Israel.
- In hoofstuk 41:21 noem die Here Homself die Koning van Jakob. Jakob en Israel was
dieselfde mens.
-
- Jakob was 'n naam wat die sondaar beskryf het - die bedrieër wat eiegeregtig gelewe
het. Jakob het in sy sonde voortgejaag totdat die Here hom by die Jabbokrivier voorgekeer
het en sy naam verander het na Israel toe.
- Israel was die man wat met God geworstel het, maar wat aan die einde van die
worsteling deur God geseën is.
- Israel word die naam waarmee die Here die verbondsvolk noem om aan te toon dat hulle sy
uitverkore eiendom is. Die Here stel sy heerskappy oor hierdie uitverkorenes baie duidelik,
daarom noem Hy Homself Koning - die Koning van Israel.
Daarna volg daar nog 'n naam vir die Here: Verlosser.
- Die Bybel gebruik die woord Losser - maar daar is nie werklik 'n
verskil tussen Losser en Verlosser nie.
-
- In die Ou Testament is daar geglo dat die land aan God behoort. As iemand deur
armoede of deur watter rede ook al gedwing was om sy grond te verkoop, kon iemand anders
die verkoopprys aan die persoon wat die grond gekoop het gaan gee, en dan moes hy die
grond aan die oorspronklike eienaar teruggee.
- Die Here is sy volk se losser.
-
- Deur hulle sondes het hulle hulle land verloor. Hulle is met die ballingskap gestraf
oor hulle sondes en hulle land is van hulle afgeneem. Eintlik is hulle van hulle land af
weggeneem.
- Dit maak egter nie saak watter kant om dit gebeur het nie, want die simboliese
betekenis bly dieselfde:
-
- Deur hulle sondes het hulle die ewige lewe en die koninkryk van God verloor.
- Daar is net Een wat dit aan hulle kan teruggee, en dit is die Een wat hulle
sondes van hulle af kan wegneem en hulle van die straf van God kan verlos.
Al staan hierdie dinge in die Ou Testament geskryf, weet ons uit die volle openbaring van
God, soos wat dit veral in die Nuwe Testament uitkom, dat hierdie verlossing kom deur Jesus
Christus.
- Daarom gebruik die Here in Jesaja 44:6 die woord Losser.
- Profeties word die verlossingswerk van die Here Jesus deur hierdie naam voorspel - al sou
dit omtrent vyf eeue later eers gebeur.
Dan kom daar nog een Godsnaam by: Here van die Leërskare.
- Daarmee word alle skepsele in die hemele en op die aarde bedoel.
- Almal van hulle staan onder die regering van die Here, en Hy alleen is God en heerser oor
hulle almal.
Dan begin die Here praat:
- Ek is die Eerste en Ek is die laaste en buiten My is daar geen God nie.
- Veral gesien teen die feit dat die Here Homself die Verlosser noem, moet ons hier dink
aan Jesus se woorde aan Johannes:
Moenie vrees nie; Ek is die eerste en die laaste en die lewende; en Ek was
dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. Amen. En Ek het die sleutels van die doderyk en
van die dood. (Openbaring 1:17-18 AFR53)
Hieruit is dit duidelik dat dieselfde God met Johannes praat as die een wat met Jesaja gepraat
het. Let net op die verskil:
- Toe die Here met Jesaja gepraat het, was die Verlosser se werk nog nie voltooi nie - toe
was dit nog aan die kom.
- Toe die Here met Johannes gepraat het, was die werk reeds voltooi.
- Daarom sê die Here vir hom nog hierdie woorde ook:
Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. Amen. (Openbaring
1:17 AFR53)
So lyk die Verlosser aan die einde van die tyd, wanneer die profesie van Jesaja dat God in sy
ewige regering sy volk verlos het, in vervulling gegaan het.
2. Die mense se verwarde lewenswaardes was die oorsaak dat Jesus gekruisig
is
Wie is die mense en watter mag het mense?
- Uit hulleself niks, want die Here versorg hulle van die voortyd af.
- Die Here roep die wat hy wil verlos tot bekering en Hy bevestig sy genade aan hulle.
- Hy openbaar aan hulle wat in die toekoms gaan gebeur, want uit hulleself kan hulle die
toekoms nie ken en sien nie. Die dinge staan alles in vers 7.
Maar u moet oplet dat dit na twee kante toe sny.
- Aan die een kant is dit 'n openbaring van genade aan die gelowiges:
-
- Die Here ken hulle en roep hulle.
- Daar sal nie een van hulle verlore gaan nie. Trouens, die Here het dit alreeds in
hoofstuk 40:26 ook presies so gesê. Die gelowiges kan hulle bevryding in die Here
tegemoetgaan, want die Here het van die ou tyd af sy verlossingsraad oor hulle bevestig.
- Aan die ander kant is daar 'n sterk oordeelselement in hierdie woorde:
-
- Geen mens kan in homself bestaan nie.
- Geen mens kan homself van sy sonde en die dood bevry nie.
- Daarom die wekroep in vers 8 dat die volk mos self getuies is daarvan dat die Here
hulle deur al die eeue beskerm het en dat daar geen God buiten die Here is nie.
Die oordeel kom van vers 9 af baie sterk uit:
- Die Here beskuldig hulle daarvan dat hulle wat in hulleself geen bestaanskrag het nie,
afgode maak wat deur hulle aanbid word.
- Hulleself is nietigheid en dan maak hulle hierdie lieflingsafgode van hulle wat dan nou
sogenaamd mag moet hê.
Die Here beskuldig nou die makers van die afgode dat hulle nie kan sien nie omdat hulle
geestelik blind is.
- Hulle sien nie die dwaasheid van hulle afgode nie, en in hulle stiksienigheid besef hulle
ook nie dat hierdie afgode geen voordeel bring nie.
- Hulle kan geen lewe in hierdie afgode inblaas nie. Hulle word daaraan herinner dat hulle
self doodgaan as hulle nie eet en water drink terwyl hulle werk nie.
Om die dwaasheid van afgodsaanbidding nog helderder te verlig, gaan die Here nou wys op
die vervaardigingsproses.
- Die Here behandel nou die materiaal.
-
- Hulle moet van die Here se skepping gebruik maak. Iewers moet hulle 'n boom gaan
afkap om hout in die hande te kry.
- Die Here wys daarop dat die mense die helfte van die boom verbrand wanneer hulle
vuurmaak om self warm te word en hulle kos mee gaar te maak.
- Maar as hulle met die ander helfte wat net so brandbaar en nietig is 'n beeld maak,
dan dink hulle dat dit nou goddelike magte het.
- Hulle insig is so verblind dat hulle nie eers die lyn van nietigheid kan deurtrek
nie.
- Die nietigheid van die afgode word ook nog geskets teen die feit dat hierdie
sterflike mense met liniale en passers en skawe meet en werk aan die beelde om hulle
volgens menslike begrip vorm te gee.
- Wat vir 'n god is dit wat so tot bestaan kom?
Daarna verwyt die Here hulle nog hulle finansiële beperktheid.
- Die wat ryk genoeg is, maak 'n afgod van goud.
- Die wat minder ryk is, maak een van silwer.
- Die wat baie arm is, maak maar een van hout.
- Die status en postuur van sy god word bepaal deur sy beursie.
Die Jode wat die Here Jesus laat kruisig het, het die lewende God as Here gehad.
- Maar al hulle rituele het hulle insig laat verdwaal. Die dat hulle van Godsdiens
afgodsdiens maak!
- Daarom skreeu hulle met die waansin van die hel in hulle dat Jesus gekruisig moet word.
Dit is waarom daar in ons teksvers geskryf staan dat die afgodsaanbidder is soos 'n
bok/skaap wat verdwaald op die ashoop staan en dink dat hy daar kan oorleef.
- Sy hart en sy verstand bedrieg hom. Uiteindelik gaan hy verlore.
- Want alles wat deur die vuur verbrand word, kan jou siel nie red nie - dus ook nie jou
afgode wat alles saam met hierdie wêreld verbrand gaan word nie.
3. Die Here bevestig sy liefde
Na die spreekwoord oor die bok/skaap wat verdwaald op die ashoop staan, roep die Here na sy
volk:
Dink aan hierdie dinge o Jakob en Israel! Jy is my kneg. Want Ek het jou
geformeer!
Die Skepper roep sy skepsele terug na Hom toe!
- Die Here wil hê dat elke gelowige mens sy troos en verlossing op die regte plek moet gaan
soek.
- Ons gaan die nodige troos en steun vir ons lewens net op een plek kry, en dit is by Hom.
- Hy sal ons verwagting nooit terleurstel nie.
Die Bybel noem ons knegte:
- Kneg is nie 'n slegte benaming of 'n naam van minderwaardigheid nie. Die Here noem die
Messias ook sy kneg.
- Dit wys hier op 'n baie besondere en baie intieme verhouding van aanbidding tussen ons en
die Here waarin Hy nie net ons meerdere is nie, maar waarin Hy ons ook absoluut beskerm, soos
wat 'n heer sy kneg beskerm.
Daar is 'n baie intieme verhouding tussen ons en die Here. Hy het elkeen van ons vooraf
beplan en gemaak.
- Hy laat nie toe dat sy produk misluk soos die afgodsbeelde wat deur mense gemaak word
nie.
- Ons is sy knegte wat geskep is om Hom te aanbid, en om tot in ewigheid by Hom te lewe in
sy koninkryk.
- Daarom gebruik Hy ons skewe aanbidding om sy Seun Jesus Christus aan die kruis te bring -
sodat Hy ons sondestraf en sy toorn daaroor op Jesus Christus kan laat neerkom.
Die Here gaan terug na die begin van hierdie rede toe toe Hy Hom bekendgestel het. Hy het
Homself Verlosser genoem.
- Nou kom Hy daarop terug en Hy belowe juis so 'n verhouding, want Hy sê dat Hy hulle
verlos. Ook nie sommer net so 'n verlossing nie.
- Hy gaan die sondes uitdelg. Dis 'n baie sterk woord wat sê dat
die Here die sondes totaal gaan vernietig.
- Aan die einde van die vernietigingsproses sal daar geen teken van sondes wees nie, want
dit sal wees soos 'n vlieswolkie wat deur die son weggebrand word totdat die lug helder is.
Die gedagte aan die verlossing laat dan die hemel en die aarde in 'n vreugdelied
uitbreek.
- Hulle sing dat die Here Jakob verlos en Homself verheerlik aan Israel. Sondaars word
verlos en die uitverkorenes deel in die heerlikheid van die Here!
Hierdie beloftes van die Here het nie vasgesteek by die profesieë van die Ou Testament
nie.
Die Here het as Verlosser na ons aarde toe gekom en as 'n mens kom lewe.
- Dit was 'n gebeurtenis wat geweldige kontraste en die spanning tussen die hemel en die
hel geopenbaar het.
-
- Toe die Verlosser gebore is, het die hemele en die aarde oopgebreek en gejuig dat die
Verlosser gebore is in die stad van Dawid.
- Die Verlosser wat daardie nag gebore is, het inderdaad ons sondes uitgewis omdat Hy
God se volle straf daarvoor gedra het.
- Daardie middag het die stem van die Seun van God skel en vol pyn oor Golgota gesny:
My God, My God, waarom het U My verlaat?
Toe dit gebeur het, was daar geen engelesang nie - dit was oordag donker en rotse het
geskeur, en dooie mense in graftes het lewendig geword.
Jesus is vandag nog steeds Koning oor ons kerk - maar Hy wil ons ook hier hê met die belydenis
dat ons Hom alleen aanbid. Kyk wat het valse aanbidding aan Hom gedoen toe Hy op die aarde
was.
- Laat ons daarom hierdie dag van sy kruisiging herdenk met 'n diep dankbaarheid dat God
dit beskik het dat ons sondes sy Seun kruis toe kon stuur - sodat ons gered kon word deur sy
liefde.
- Ons onthou die profeet se woorde:
Hy wat hom besig hou met as, 'n bedroë hart het hom verlei; sodat hy sy siel
nie kan red, of kan sê nie: Is daar geen leuen in my regterhand nie? (Jesaja
44:20
Amen.
Slotgebed
Skrifberyming 2-4:1-3
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige
Gees bly by u almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: Goeie Vrydag, 25 Maart 2005