Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 47:1, 4.
Gebed.
Skrifberyming 5-2:6
Skriflesing: Jesaja 53.
Teks: Kategismus Sondag
16; Jesaja 53 : 9
En
hulle het Hom sy graf by die goddelose gegee; en by ‘n ryke
was Hy in sy dood, omdat Hy geen onreg gedoen het nie, en geen bedrog
in sy mond gewees het nie.
Hier het ons smart en blydskap tegelyk, want hier het ons die
dieptepunte van Christus se lyde op die aarde, maar ook reeds die
deurbraak van sy heerlikheid.
- Die dieptepunt
is sy dood saam met twee bendeleiers aan die kruis, terwyl Hy heeltemal
onskuldig is.
- Die deurbraak
van sy heerlikheid is dat Jesaja kan sê: en by ‘n ryke was
Hy in sy dood.
In sy gees het Jesaja voor die kruis gestaan.
- Hy het al die
smarte gesien wat die Here Jesus oorgekom het: sy mishandeling,
en ook hoe sy oë gebreek het toe Hy sterf tussen die twee rowers.
- Maar Jesaja
het ook saamgestap na die tuin van Josef van Arimathea toe, waar Jesus
se heerlikheid begin deurbreek. Hy word in ‘n nuwe graf begrawe.
- Die oue word
dus hier deurbreek, want van nou af maak Jesus alles nuut!
Ons verdeel hierdie preek in die volgende punte:
- Onskuldig veroordeel - daarom ryk begrawe!
- Daardie begrafnis openbaar ons eie toekoms!
1. Onskuldig veroordeel
- daarom ryk begrawe!
Eers kyk ons na die dood van Christus volgens die plan van sy
vyande. Jesaja skryf in vers 8 dat Hy afgesny is uit die land van
die lewendes.
- Hy het tussen
mense gelewe, sonder dat hulle met Hom kontak wou maak.
- Hulle wou niks
van Hom weet nie – niks wat vir hulle saligheid van belang was nie.
- Daarom verwerp
hulle Hom ook uiteindelik. Hulle eis die doodsvonnis oor Hom
terwyl Hy onskuldig is.
- Saam met
oortreders word Jesus gekruisig deur die mense vir wie se saligheid Hy
gekom het.
- Die
begunstigdes word hier sy haters wat Hom in die middel van twee
moordenaars kruisig, so asof Hy die skuldigste is van die drie.
Almal het ook gedink dat Hy saam met die rowers begrawe sou word.
- Die gebruik
van die Romeine was dat hulle die mense wat gekruisig word, aan hulle
kruise laat hang totdat almal dood was.
- Daarna het
hulle ‘n gat laat grawe en al die gekruisigdes saam daarin gegooi en
toegegooi.
- Dit was deel
van die vloek van die dood en begrafnis van iemand wat die kruisdood
verdien.
Maar met Jesus was dit anders. Die Jode was bang om Hom soos die
moordenaars te laat begrawe, want die Joodse wet het geëis dat
hulle dooies goed
begrawe moes word.
- Al het hulle
Jesus veroordeel, was Hy immers tog ‘n Jood!
- Daarom word
die smaad Jesus gespaar om na sy dood ook nog in ‘n rowersgraf
toegegooi te word.
- Die Joodse wet
besorg Jesus ‘n eervolle begrafnis.
- Dit kon
gebeur, want die lydensbeker van Jesus Christus is met sy sterwe klaar
gedrink.
Die dood van Jesus is egter in die hand van sy vyande. Daarom
moet die mense wat Jesus wil begrawe, eers sy liggaam gaan vra.
Sy liggaam was die eiendom van sy vyande.
By ons gelowiges is dood en begrafnis ‘n familiesaak. Die dooie
behoort aan sy mense en hulle begrawe hom.
- Maar die Bybel
skryf dat Jesus se graf by die goddeloses was, en dan word daarmee
verwys na die feit dat die Romeine Jesus saam met die twee rowers wou
gaan begrawe (en dan sekerlik ook die feit dat Jesus se liggaam wetlik
hulle eiendom was).
- Dit is hoe fel
die haat van die satan en sy mense teen hierdie gesalfde van God was.
Maar God laat ook nie die kwaad onbeperk toe nie. Daarom verydel
God die res van die duiwel se werk.
- Dit is waarom
Jesaja al kon skryf dat Jesus in sy dood by ‘n ryke was!
- Van die
kruisiging af beskik God nie meer smarte oor sy Seun nie. Die
smaad is meteens verby.
‘n Man van aansien onder die mense van Jerusalem gaan na Pilatus
toe. Josef van Arimathea.
- Hy is ‘n lid
van die Joodse Raad en hy gaan vra die liggaam van die Seun van
God. So kom Jesus in die hande van ‘n ryke.
- Hierdie rykman
het juis ‘n nuwe graf gereed.
Dit wat Jesus in hulle harte gesaai het met sy prediking, dit dra nou
vrug. Die rykman oorkom sy vrees, want Jesus se dood het sy hart
verander.
- Hierdie Josef
het die koninkryk van God verwag en hy het besef dat hy hom nie vir
hierdie gekruisigde Jesus hoef te skaam nie, want hierdie Jesus het
gepreek van die opstanding uit die dode.
- Die
liefdesbewys wat so kenmerkend was van die eerste Christene, word nou
al hier deur Josef van Arimathea bewys.
- Hulle gaan
haal die liggaam van Jesus van die kruis af.
- ‘n Fyn doodskleed is
gereed.
- Mirre is byderhand om mee
te balsem.
- ‘n Eie graf word afgestaan.
- Jesus se hoof wat stukkend
gesteek is deur die doringkroon, word toegewikkel in ‘n doek.
- Die rykste man in Jerusalem
kon nie meer gee vir die begrafnis van sy eie seun nie.
Die gebeurtenis simboliseer dat die oue verbygegaan het en dat alles
nuut geword het – soos die begrafnis en die graf van die Seun van God.
- ‘n
Erebegrafnis het plaasgevind om ons daarvan te verseker dat Jesus
Christus waarlik gesterf het.
- Al hierdie
dinge tydens die begrafnis pas natuurlik by die waardigheid van Jesus
Christus, want Jesaja sê mos dat Hy geen onreg gedoen het nie, en
geen bedrog was in sy mond nie.
Die kruisiging was nog deel van Jesus Christus se lyde, maar sy
begrafnis nie meer nie.
- Dit was ‘n
bewys van sy onskuld, en hier het sy heerlikheid ook al begin
deurbreek.
- Die begrafnis
het al deur die profesie van Jesaja gepreek dat Jesus nie die
oproermaker was wat die satan en sy volgelinge van Hom wou maak nie.
- Hulle het
probeer voorgee dat hy ‘n man van bedrog en onreg was – die
teenoorgestelde van ons teks.
Maar God preek die waarheid.
- Sy Seun kry ‘n
ryk begrafnis: die begrafnis van ‘n regverdige!
- Sy onskuld
word in sy begrafnis duidelik aan die mensdom verkondig.
2. Daardie begrafnis openbaar ons eie
toekoms!
In die begrafnis is ook die werk van Christus vervat:
- Hy is die
enigste Regverdige wat vir die onregverdiges gesterf het. Jesaja
skryf dit ook baie duidelik:
- Hy is ter
wille van ons oortredinge deurboor, en ter wille van ons ongeregtighede
is Hy verbrysel.
Die begrafnis van Jesus Christus was ook na die behoefte van sy volk.
- Die gelowiges
het die werklike behoefte om te weet dat Christus sekerlik dood
was.
- Ons moet weet
dat Hy werklik gesterf het – so diep was sy ellendes oor ons sondes!
In die tuin van Josef van Arimathea was alles vol lewe – alles behalwe
die liggaam in die nuwe graf.
- Maar in
hierdie selfde tuin is daar ook die eerste aanslag op die dood gemaak.
- Die Seun van
God het in hierdie tuin uit die nuwe graf uitgeloop, omdat Hy uit die
dood teruggekom het na die lewe toe.
- Toe die vroue
die oggend van die derde dag met speserye daar aankom om die liggaam te
versorg, het die graf heeltemal anders gelyk: Die doeke waarin
die liggaam toegedraai was, is netjies opgevou. Die liggaam was
weg!
- Jesus Christus
het die dood oorwin. Hy het dit met soveel gemak gedoen dat Hy
selfs genoeg tyd gehad het om sy graf netjies te maak voordat Hy dit
verlaat het.
- Hy het sy
doodsklere agtergelaat omdat Hy verheerlik uit die graf uitgegaan het.
So moet dit met ons ook wees.
- Ons moet lewe
om in Jesus Christus te sterf.
- Ons moet ook
in die graf die kleed van die wêreld agterlaat en verheerlik
daaruit opstaan.
- Dit is die
beloftes wat Jesus Christus aan ons agterlaat met sy begrafnis en
opstanding.
Die begrafnis van Jesus Christus preek aan ons dat dit is hoe ver ons
sondes Hom gedryf het – tot in die graf! Maar dit preek ook aan
ons lewe!
- Jesus Christus
het opgestaan – en net so sal ons opstaan!
- Hy gaan ons
ook wakker maak en terugbring soos wat Hy opgestaan het.
In die begrafnis van Jesus Christus sien ons dat Hy nie vernietig is
toe Hy ons skuld gedra het nie.
- Sy graf is
leeg, want die dood is nie magtig genoeg om Hom daarin te hou nie.
- Hy het vir ons
die sonde en die dood oorwin.
- Dit beteken
dat die leë graf van Jesus Christus ook vir ons lewe preek.
Net so sal Hy ons laat opstaan om in dieselfde ewigheid as Hy te wees.
- Die graf van
Jesus praat dus nie van dood nie, maar van nuwe lewe!
Die preek is saamgevat in Kategismus Sondag 16:
Vraag 40: Waarom was dit
noodsaaklik dat Christus Hom tot in die
dood toe verneder het?
Antwoord: Weens die
geregtigheid en waarheid van God (a) kon nie
anders as deur die dood van die Seun van God vir ons sondes betaal word
nie (b).
(a)Gen 2:17. (b) Rom 8:3,
4; Heb 2:14, 15.
Vraag 41: Waarom is Hy begrawe?
Antwoord: Om daarmee die
versekering te gee dat Hy werklik
gesterf het (a).
(a)Hand 13:29; Matt 27:59,
60; Luk 23:53; Joh 19:38.
Vraag 42: As Christus dan vir
ons gesterf het, waarom moet ons
ook nog sterwe?
Antwoord: Ons dood is nie
'n betaling vir ons sondes nie (a),
maar slegs 'n afsterwe van die sondes en 'n deurgang tot die ewige lewe
(b).
(a)Mark 8:37; Ps 49:8.
(b) Fil 1:23; Joh 5:24;
Rom 7:24.
Vraag 43: Watter nut verkry ons
nog verder uit die offer en dood
van Christus aan die kruis?
Antwoord: Deur sy krag
word ons ou mens saam met Hom gekruisig,
gedood en begrawe (a). Gevolglik kan ons sondige begeertes nie
meer oor ons heers nie, (b) maar kan ons onsself as 'n dankoffer aan
Hom toewy (c).
(a)Rom 6:6. (b) Rom 6:6,
12. (c) Rom 12:1.
Vraag 44: Waarom volg
daar: en neergedaal het na die hel?
Antwoord: Sodat ek in my
swaarste aanvegtinge verseker kan wees
en myself volkome kan vertroos dat my Here Jesus Christus my van die
hel se benoudheid en pyn verlos het (a). Hierdie verlossing het
Hy bewerk deur sy onuitspreeklike angs, smarte en verskrikking (b) wat
Hy ook aan sy siel deur sy hele lewe, maar veral aan die kruis gely.het.
(a)Jes 53:5. (b) Ps 18:5,
6; 116:3; Matt 26:38;
27:46 Heb 5:7
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm 49:5
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 17 Oktober 2004 (aand)