Sing vooraf: Skrifberyming 7-2:1, 2
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 98:1, 4
Geloofsbelydenis Nicea
Wet
Psalm 16:4
Gebed
Psalm 142:1, 6
Skriflesing:
Jesaja 6
Teks:
Jesaja
6:3 en 5
En die
een het die ander toegeroep en gesê: Heilig, heilig,
heilig is die HERE van die leërskare. Die hele aarde is van sy
heerlikheid vol! (Jesaja 6:3 AFR53)
Toe
het ek gesê: Wee my, ek is verlore! Want ek is ’n man onrein
van lippe en woon onder ’n volk wat onrein van lippe is; want my
oë het die Koning, die HERE van die leërskare, gesien!
(Jesaja 6:5 AFR53)
In hierdie hoofstuk word dinge geopenbaar wat onmiddellik ingryp in
elkeen van ons se persoonlike geloofslewe. Kom ons kyk daarna!
- Jesaja sien die Here!
- Die serafs sien ook die Here!
Maar die effek is verskillend:
- Die serafs roep mekaar aanhoudend toe: Heilig,
heilig, heilig is die HERE van die leërskare. Die hele aarde is
van sy heerlikheid vol!
- Jesaja kan niks van die soort uitroep nie. Sy
sondebesef slaan hom totaal plat. Hy praat maar net en sê: Wee
my, ek is verlore! Want ek is ’n man onrein van lippe . . .
Ons kyk in hierdie preek na die volgende dinge:
1. Eerste kyk ons na
wat ’n mens ervaar wanneer hy
God sien.
2. Daarna kyk ons na
wat God daarvan maak.
1. Eerste kyk ons na
wat ’n mens ervaar wanneer hy
God sien.
Deesdae is daar baie aansprake deur mense wat tot bekering kom agter
leiers aan wat God sogenaamd gesien het, of met wie God gepraat het, of
aan wie die Here dan nou ’n besondere boodskap sou gegee het. Dit geld
ook van mense wat dan nou die Here as ’t ware nuut ontdek het in die
Bybel of wat die openbaring van God herskryf omdat hulle beter
openbaringe het!
By al hierdie leiers – en kerke – is daar iets opvallends:
- Daar is ’n baie sterk verwaandheid dat hulle alleen
die waarheid het.
- Al bedek hulle hierdie verwaandheid met hoeveel
sweem van nederigheid, die boodskap wat hulle uitstraal is: ons het die
waarheid en ons weet – teenoor ons ander wat die “ag siestog” klompie
gelowiges is.
Daarom is dit so ontsettend belangrik om na hierdie gedeelte in die
Skrif te gaan kyk en te sien wat hier aan die gang is, sodat ons die
waarheid kan weet van iemand wat God sien of gesien het.
Jesaja sien God in sy heerlikheid – maar hy sien God ook in sy
heiligheid. Hy sien ’n heilige God.
- Dis ’n eienskap wat baie vreemd is aan alle ander
godsdienste wat daar op die aarde is.
- Heiligheid is ’n eienskap wat net by die Drie-Enige
God alleen voorkom.
- Die wat almal aan hierdie God wil behoort, moet ook
heilig word.
- Dis ’n baie swaar proses.
- Dis ook ’n proses wat met baie seer en baie pyn
gepaard gaan.
- Dis swaar en gebeur nie maklik nie.
- Daar is uit die oordeel van God net een enkele pad
uit: Hierdie heiligwording is net te kry in die verlossende en
vrymakende genade van God.
Daarom raak Jesaja beangs oor sy sondes. Hy raak nie soos die moderne
teoloë selfvoldaan omdat hy God gesien het nie. Is dit nie dalk ’n
toets vir die waarheid of iemand God werklik gesien het en of hy
werklik met God kontak het nie?
Jesaja sê hy het God gesien. Kan ’n mens God sien? Wat openbaar
die Bybel hiervan?
Ons lees van die gesprek wat God met Moses gehad het, waarin die
volgende deur God gesê word:
Verder
het Hy gesê: Jy kan my aangesig nie sien nie, want geen
mens kan My sien en bly lewe nie. (Eksodus 33:20 AFR53)
Die Nuwe Testament sluit hierby aan, want die openbaring van God
lê altyd op een reguit lyn:
Niemand
het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem
van die Vader is, dié het Hom verklaar. (Johannes 1:18
AFR53)
Die apostel Paulus skryf in dieselfde lyn vir Timoteus:
. . .
dat jy die gebod onbevlek, onberispelik bewaar tot by die
verskyning van onse Here Jesus Christus wat op sy eie tyd vertoon sal
word deur die salige en enigste Heerser, die Koning van die konings en
Here van die here, wat alleen onsterflikheid besit en ’n ontoeganklike
lig bewoon, wat geen mens gesien het of kan sien nie, aan wie toekom
eer en ewige krag. Amen. (1 Timoteus 6:14-16 AFR53)
Tog is daar ’n manier waarop net sekere mense God wel sal sien. Jesus
Christus het tog duidelik gesê:
Salig
is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien. (Matteus
5:8 AFR53)
Die punt is dus net dat geen fisiese oog God kan sien nie, omdat God ’n
geestelike Wese is. Hy is die onsienlike ewige God.
- Om God te sien, is dus om Hom te sien in en deur sy
openbaring.
- Hy openbaar Homself in sy Woord en deur sy Gees. Op
hierdie wyse sal ons almal God dus kan sien.
Wie het die profeet Jesaja gesien? Die openbaring hieroor is vir ons
belangrik. In Afrikaans staan hier net dat hy die Here gesien het, maar
ons weet dat in die Hebreeuse Bybel daar verskillende name is wat die
Here het, en elke een van hierdie name openbaar iets anders van God se
Wese en van Wie Hy is.
- Die Naam van God wat hier gebruik word, is die Naam
wat beteken dat God magtig is om dit wat Hy ten doel het, uit te voer.
Hy is die onstuitbare en onkeerbare ewige God.
- In sy soewereiniteit kan Hy mense se harte verhard,
maar kan Hy ook die wat sondeskuld bely, heilig maak. In sy hande is
die tye van alles en van almal wat bestaan: Hy skep en Hy vernietig
soos sy raad bepaal.
- Verder sien Jesaja die Here op ’n troon. Dit
beteken dat die Here Koning en Regter is oor alles wat bestaan. Hy is
reeds die ewige Koning wat besig is om reg te spreek oor alles wat
bestaan.
Rondom God se troon is daar serafs. Dis die enigste plek in die Ou
Testament waar ons van hulle lees.
- Letterlik beteken hulle naam die vlammendes, of
hulle wat uit vuur bestaan.
- Hulle is skepsele soos ons wat as persone
voorgestel word: Hulle het gesigte en hande en praat soos mense. Hulle
het ses vlerke – ses vlammende vlerke!
Hierdie serafs doen iets baie besonders: Hulle prys die heiligheid van
God aanmekaar. Hulle bly mekaar toeroep: Heilig, heilig, heilig is die
HERE van die leërskare.
- Hier word ’n ander Naam van God gebruik – sy
Verbondsnaam in ’n kombinasie. Hy is God wat ewig bestaan en wat ewig
heers oor al die leërskares van engele en geredde mense voor sy
troon.
Wat beteken die woord heilig? Die woord beteken: afgeskei wees van. Dit
beteken dat daar iets is wat God in sy volmaaktheid afskei van sy
skepping af – iets wat Hom totaal anders maak as die skepsele: Hy is
heilig. Hy doen nie sonde nie. Hy maak ook nie foute nie. Hy doen niks
verkeerds of leliks nie.
Dit openbaar dat die Here ’n aanspraak maak op ons:
- Ons moet ook van die sonde en alles wat lelik is,
afskei.
- Ons moet hierdie karaktertrek van Hom soek, opsoek
en ons eie maak.
- Ons moet heilig wees. Ons moet Hom dit voortdurend
toeroep met ons hele lewe.
Om God se heiligheid te aanbid vereis meer as net om dit drie keer uit
te roep. Jesaja het dit ook dadelik verstaan.
- Toe die serafs klaar uitgeroep het: Heilig, heilig,
heilig is die HERE van die leërskare, is dit Jesaja se beurt om te
aanbid
- Hy kon nie. Die Here openbaar tog wie voor Hom mag
verskyn. Jesaja het dadelik geweet dat hy nie kwalifiseer om voor die
Here te verskyn nie! Die Here openbaar die volgende:
Maar
wie kan die dag van sy koms verdra? En wie kan standhou as Hy
verskyn? Want Hy sal wees soos die vuur van die smelter en soos die
loog van die wassers. (Maleagi 3:2 AFR53)
Wie
mag klim op die berg van die HERE? En wie mag staan in sy heilige
plek? Hy wat rein van hande en suiwer van hart is, wat sy siel nie
ophef tot nietigheid en nie vals sweer nie. (Psalms 24:3-4 AFR53)
Onmiddellik
dink Jesaja oor homself en hy sien homself soos God hom
sien: Hy is flenters van al die sonde en lelike dinge wat hy doen. Hy
kan nie uitroep dat God heilig is nie, want sy eie lewe het niks van
die vlammende heiligheid wat die serafs s’n het nie. Sy belydenis is
een van verdoeming tot die ewige dood:
Wee my, ek is verlore! Want ek is ’n
man onrein van lippe en woon onder
’n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die
HERE van die leërskare, gesien! (vers 5)
Wat ’n verskriklike evaluering van homself: Ek is so sondig, ek kan God
nie prys nie!
Wie van ons is al op daardie punt, want in ons belydenis bely ons baie
duidelik dat ons eers die verlossing in die Here Jesus Christus kan
toeëien nadat ons besef hoe groot ons sondes en ellende is – dus
ook ons verlorenheid.
2. Kom ons kyk na
wat God daarvan maak.
Jesaja kan God dus nie prys voordat daar nie by hom eers ’n skoonmaak
van sy hart en sy lippe is nie. Hy moet vrykom van sy sonde wat hom van
God af wegkeer.
God verwerp Jesaja nie. Hy maak hom rein.
- Ons weet dat God deur die inwerking van sy Heilige
Gees in mense inwerk. Dis hoe Jesaja tot sy sondebesef kom. Dis waar
God begin om elke mens se hart (en daardeur ook sy lewe!) skoon te
maak.
Duidelik openbaar die Here sy genade:
- Om God te prys is niemand se reg nie. Dis ’n
genadereg wat God net aan sekere mense toeken.
- Dis nie die hele volk wat die Here sien nie. Dis
Jesaja wat die Here sien. Dis nie alle mense wat rein gemaak word om
die Here te kan dien nie. Dis Jesaja wat rein gemaak word. So werk God
se uitverkiesende genade.
God laat ’n seraf Jesaja se lippe met ’n gloeiende kool aanraak.
- Die reinwording is nie iets wat sommer net gebeur
nie. Hierdie kool is so warm dat die seraf dit met ’n tang van die
altaar afhaal.
- Ons kan dus net dink dat Jesaja se lippe ontsaglik
moes gebrand het toe die kool daaraan geraak het – al leer die Bybel
dit nie – die res van die toneel maak dit tog duidelik!
- Jesaja ondergaan dus die pynlike proses van
reinmaking en heiligmaking. Daarna eers kan die Here Jesaja gebruik in
sy diens. Dan eers is Jesaja ook bereid om werklik vir die Here te werk.
- Jesaja is deur geweldige wroeging en lyding om tot
op die vlak te kan kom waar hy waardig genoeg is om vir die Here te kan
werk en om die Here te kan dien.
Dit beteken nie dat Jesaja nou maar vrypostig kan raak nie. Hy moet nog
steeds (nou eers!) versigtig wees in sy doen en optrede.
- Die bewys daarvoor lê in die serafs se
optrede: Al is hulle vlammend van heiligheid, moet hulle nog steeds met
twee vlerke hulle voete toemaak en met twee hulle oë omdat hulle
onwaardig is om God te sien. Hulle sal dadelik sterf as hulle Hom sien
of oneerbiedig voor Hom verskyn.
- Die beginsel is baie duidelik: God gebruik mense
wat deur die angs van hulle sondes geworstel het.
Jesaja het dienooreenkomstig ’n roeping aanvaar wat ’n roeping was wat
met pyn vervul moes word . . .
- En Hy het gespreek: Gaan sê aan
hierdie volk: Hoor altyddeur, maar verstaan nie, en sien altyddeur,
maar bemerk nie.
- Maak die hart van hierdie volk vet en maak hulle
ore swaar en bestryk hulle oë, sodat hulle nie sien met hul
oë en met hul ore nie hoor en hul hart nie verstaan nie, en hulle
hul nie bekeer en gesond word nie.
- Toe sê ek: Hoe lank, Here? En Hy antwoord:
Totdat die stede verwoes lê, sonder inwoners, en die huise sonder
mense en die land verwoes is tot ’n wildernis,
- en die HERE die mense ver verwyder het en die
verlatenheid groot is in die land.
So kom ons verlossing en ons roeping ook in die werklikheid van die
lewe uit.
- Die Here laat ons dikwels sy heiligheid sien, sodat
ons ons sondeskuld pynlik en skerp moet beleef.
- Hy doen dit juis omdat Hy daardeur genade gee. Hy
kon ons gelos het dat ons doodgewoon vernietig geraak het deur sy
straf, maar Hy doen dit nie so nie. Hy brand ons sonde uit ons uit
sodat ons waardig genoeg kan word om Hom te aanbid en reg te kan lewe.
Hy doen dit vir ’n rede: Hy het versoening bewerk deur die vuur van sy
toorn op ons Borg Jesus Christus te laat losbrand. Dit is wat dit
beteken as daar in 1 Korintiërs 3:15 geskryf staan:
. . .
as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy
self gered sal word, maar soos deur vuur heen.
Die feit dat die warm kool van die altaar af gehaal word om Jesaja te
brand, is juis die bewys daarvan dat dit sinspeel op Jesus Christus se
versoening, want die altaar is juis die plek van versoening waar die
offer tot versoening gebring word.
Ons kan deur die toorn van God kom omdat Hy die vlamme van ons sondes
by ons laat verbybrand het op Jesus Christus.
- Maar dit laat ons met die verantwoordelikheid: Ons
moet deeglik selfondersoek doen oor ons lewens.
- Ons moet die erns van sonde besef en verstaan en
ons moet berou hê daaroor. Wie ook al daaroor berou het, word
deur God heilig gemaak – al is dit deur die pyn van selfondersoek.
- Berou is ook nie sonder pyn nie.
- Ware berou het dikwels ’n pyn wat jou jou lewe lank
gaan bybly en teister – soos dit met Paulus was wat nooit kon vergeet
dat hy een tyd die kerk van die Here vervolg het en die mense wat in
Jesus Christus glo, laat doodmaak het nie.
Bid en glo in God se genade. Leef die Here tegemoet met heilige lewens
wat getuig van ware berou oor ons sondes. Kom saam Nagmaal toe, sodat
ons hierdie versekering simbolies mag ontvang en fisies mag proe
wanneer ons tydens die Nagmaal die brood en wyn proe wat van ons
verlossing getuig.
Kom ons kom en juig in ons harte saam met die serafs voor God se troon:
Heilig, heilig,
heilig is die HERE van die leërskare.
Heilig, heilig,
heilig is die HERE van die leërskare wat ons die
onreinheid van ons harte en lippe vergewe.
Heilig, heilig,
heilig is die HERE van die leërskare wat ons
heilig maak en in sy diens gebruik.
Amen.
Slotgebed
Skrifberyming 5-4:1-6 (10:1-6)
Die HERE sal jou seën en jou behoed;
Die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 22 Augustus 2004 (oggend)