Sing Vooraf: Psalm
32:4; 33:1;
66:1; 84:1; Skrifberyming 5-3 (8):1, 4, 5.
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 146:1, 4.
Gebed.
Psalm 19:6
Skriflesing: Mattheus
7:11– 29 en Jesaja 64:6
Teks: Kategismus
Sondag 24; Jesaja 64:6
En ons
het almal geword soos ‘n onreine, en al ons
geregtighede soos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal
verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die
wind. (Jesaja 64:6 AFR53)
Matteus 7:18
‘n
Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n
slegte boom ook geen goeie vrugte nie. (Matteus 7:18 AFR53)
Dit maak nie werklik saak of ons in die tyd van die Ou Testament of in
die Nuwe Testament lewe nie, want God oordeel met dieselfde oordeel oor
ons sondes. Aan die ander kant begenadig Hy ons ook weer met dieselfde
liefde en vergewing van sondes in die Here Jesus.
Ons kyk in hierdie preek na die volgende aspekte wat goeie werke
(vrugte) raak:
1. Gebrek aan goeie werke in 'n
gelowige se lewe.
2. Die Here verander ons om
goeie werke te kan doen.
1. Goeie werke en 'n gelowige
lewe.
Dit is 'n baie ernstige saak
hierdie: 'n Goeie boom kan geen
slegte vrugte dra nie, en 'n slegte boom ook geen goeie vrugte
nie. Waar kry jy onder ons 'n mens wat net goeie vrugte dra?
Daar is nie een nie. Die logiese afleiding is dus dat ons
almal slegte bome is. Geen mens in enige tyd beteken uit
homself iets voor die aangesig van die Here nie.
Die Bybel leer ons dat net volmaakte werke voor God kan bestaan.
- In die Ou Testament staan daar in Psalm 14:1 dat daar geen mens
is wat
goed doen nie.
- In die Nuwe Testament is die Here se standpunt nog altyd presies
dieselfde; lees maar Romeine 3:23 waar die Here skryf dat alle mense
gesondig het en dat dit hulle aan die heerlikheid van God ontbreek.
- Dit moet ons nou teen die agtergrond sien dat Jesus vir die mense
gesê het dat hulle volmaak soos God moet wees (Dit staan in
Matt. 5:48). Voor Hom het daar net almal
sondaarmense gestaan vir wie die Here later sou sterf!
Kom ons toets ons goeie werke aan dit wat Christus leer. 'n
Wetsgeleerde het eenkeer na Jesus toe gekom en 'n twisvraag aan Hom
gestel (Matt. 22:36vv). Hy wou weet watter een van
die gebooie dan nou eintlik die groot gebod is waarom alles draai.
Toe
antwoord Jesus: Jy moet die Here jou God liefhê
met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele
verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die
tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste
liefhê soos jouself.
Hoe moet 'n mens nou oordeel daaroor dat jy die Here moet dien met jou
hele hart en met jou siel en met jou hele verstand?
- 'n Mens se oordeel oor dinge is nooit heeltemal suiwer nie.
Hoe geldig is dit om op ons behoeftes te vertrou?
- Ons bepaling van ons behoeftes het al eeue lank onder die sonde
deurgeloop, en omdat ons oordeel geskend is, sal ons oordeel nie altyd
wees wat die Here wil hê dat dit moet wees nie.
Israel se oordeel het hulle presies net so in die steek
gelaat. Kyk net met watter verskriklike belydenis het hulle
vorendag gekom toe dit te laat was (Jesaja 64:6):
Ons
het almal geword soos 'n onreine, en al ons ongeregtighede soos 'n
besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons
ongeregtighede het ons weggevoer soos blare.
Ons lewens het natuurlik nog 'n ander kant ook. As ons aan
die Here gehoorsaam is, kan ons met mooi en goeie dinge in ons lewens
vorendag kom.
- Daar staan in Johannes 15:5 dat almal wat in Jesus Christus bly,
goeie
vrugte dra, soos lote wat op 'n goeie wynstok ingeënt is.
- Dit beteken dat ons goeie werke kan doen wanneer ons nie op ons
eie
behoeftes vertrou nie, maar ons in gehoorsaamheid heeltemal oorgee aan
Jesus Christus.
- Sulke mense word in die oordeel van die Here begenadig, want
Christus
het vir sulke sondaars soos ons gaan sterf sodat ons beter kan
presteer.
- Hy is tot skande gemaak, sodat ons die skande van die hel kan
misloop.
- Johannes 15 stel 'n paar dinge duidelik: Jy doen nie goeie werke
in jou
eie krag nie.
- Die stam wat jou voed is nie jou eie stam nie ‑ jy is daarop
ingeënt.
- Jy kan ook nie jou eie vrugte dra nie, want die vrugte kom
voort as
gevolg van die stam wat jou voed.
- Dit is presies dieselfde as wat in ons teksvers ook geskryf
staan. Goeie bome dra goeie vrugte.
Die mooi dinge
wat ons doen, is nie die oorsaak nie, maar wel die
gevolg van God se genade oor ons.
- Die logiese afleiding is dus dat as jy geen vrugte dra nie, daar
'n
groot fout met jou geloofslewe is.
- Dan is jy nie op die stam van Jesus Christus se versoening
ingeënt nie. Jy kan dan net op die Satan se stam
groei.
2. Die Here verander ons om
goeie werke te kan doen.
Dis omdat ons uit onsself te swak is om heeltemal goed te wees, dat
Jesaja in vers 8 skryf:
Maar
nou, Here, U is ons Vader; ons is die klei, en U is ons
Formeerder ...
In Nuwe Testamentiese taal sou ons sê: Here, ons kom nie uit
onsself reg nie. Verander U ons in Christus met U Woord en U
Gees sodat ons U behoorlik kan dien en aanbid.
Die Apostel Paulus het toe oor hierdie teks in Jesaja 64 gaan preek in
die Nuwe Testament.
- Hy skryf in Romeine 9: 21 dat alle mense soos klei in God se
hande is.
- Hy stel God voor as 'n Pottebakker, wat met klei allerhande
soorte
voorwerpe maak.
- Van party klei word voorwerpe van eer gemaak, en van ander klei
word
voorwerpe van oneer gemaak.
- Paulus skryf verder dat die klei tog nou nie die Pottebakker kan
gaan
verwyt omdat hy gemaak is soos hy gemaak is nie. God maak
elkeen van die voorwerpe met 'n doel en die voorwerp moet die funksies
uitvoer waarvoor hy gemaak is.
Gesien teen die agtergrond van goeie werke, beteken dit dat die Here
ons gemaak het om Hom te verheerlik en nie onsself nie.
- Daarom moet ons die Here verheerlik in alles wat ons elke dag
doen.
- Dan doen ons nie meer goeie werke omdat ons iets daarmee wil
verdien
nie.
- Dan doen ons goeie werke omdat ons dit wil doen waarvoor die Here
ons
geskape het.
- Ons is sondig, maar tog verlos uit genade. Ons is baie
skuldig, maar ook baie besonders. Die Here het ons
uitverkies, en Hy het ons sy eiendom gemaak.
Ons behoort dus geen ander God as die Here te ken nie, en ons geloof
behoort so suiwer te wees dat ons nooit tot 'n ander geloof as
aanbidding van die Drie-Enige God kan oorgaan nie.
Maar nou het ons gelees dat dit tog anders was. Kyk net wat
staan in Jesaja!
- Hierdie volk se werke was nie goed nie. Hulle werke was
soos
vuil klere.
- Hulle geloofswerke ‑ en dit het hulle daaglikse lewe ingesluit,
want
jou optrede kom tog uit jou geloof voort ‑ was so sleg, dat die Here
hulle in ballingskap moes wegstuur om hulle tot bekering te kon beweeg.
Dis ondenkbaar dat 'n volk wat
soveel met die teenwoordigheid van God
te doen gehad het, so ver van Hom af kon afdwaal. Dit laat
mens wonder hoever ons al afgedwaal het, veral omdat ons moet glo
sonder dat ons die Here ooit gesien of gehoor het, soos wat hierdie
volk die Here gesien en gehoor het.
Die volk waarvan ons gelees het, staan in hulle onreinheid vir ons in
ons sondige toestand. Nou kan ons seker redeneer en
sê dat ons die Here Jesus en sy soensverdienste het, wat
hulle nie gehad het nie. Goed.
- Maar waarom moet ons dan nog die Ou Testamentiese wet gehoorsaam?
Dis
mos werke wat tipies Ou Testamenties is.
- En die verlossing van die Here leer tog dat verdienste nie vir
jou
saligheid bytel nie. Ons goeie werke is uit dankbaarheid aan
Jesus Christus se verdienste en uit gehoorsaamheid aan God die Heilige
Gees.
Die Nuwe Testament praat nogal 'n paar keer daarvan dat die Here ons
gaan beloon vir ons werke. Christus laat die kwessie van
betaling in sy plek val.
- Ons werk nie vir betaling nie, maar om God te verheerlik.
- Dan besef ons dat die Here ons inderdaad oorbesoldig: Ons
kom
by Hom aan met gebreekte gehoorsaamheid. Maar Hy beloon ons
in Christus met die vergifnis van al ons sondes, en met die heerlikheid
van sy hemel.
Ons word dus nie betaal vir die werk wat ons doen nie ‑ ons word
vergoed volgens dit wat die Here Jesus vir ons verdien het.
- Hy het gesterf en al God se toorn gedra vir ons onbekwaamheid om
goed
en reg te wees.
- Wanneer ons dan in die eindoordeel voor God staan, word ons van
ons
sondes en onbekwaamhede vrygespreek, omdat Christus ons met God versoen
het.
Nou kan u seker met alle reg vra: Maak hierdie leer dan nie sorgelose
mense nie? Nee natuurlik nie!
- Daar is baie mense wat sorgeloos is, en wat selfs goddeloos is,
maar
dis nie die Bybel se skuld nie.
- Dis ook nie die leer van verlossing en vryskelding van sondes se
skuld
nie. Hulle is net doodgewoon nie opregte gelowiges nie,
daarom bewys hulle lewens dit.
Die mense wat aan die ander kant besef dat Christus vir hulle gesterf
het, weet om ware dankbaarheid aan die Here te betoon.
- Hulle besef ook dat die enigste manier om dit met jou lewe te
bewys, is
om jou lewe in te rig met goeie werke.
- Hulle probeer nie met goeie werke iets verdien nie ‑ hulle
probeer net
om te volhard in die voorbeeld wat die Here Jesus aan hulle gestel het.
Daarom word ons gestraf wanneer ons nie goeie werke doen nie.
Ons kan nie ons goeie werke laat vaar omdat God se genade so groot is
nie, want nalatigheid in die manier waarop jy God vereer, moet gestraf
word.
Geliefdes, volhard dan met blydskap in u goeie werke.
- Ons weet dat dit nie ons saligheid bewerk nie, maar laat dit u
ook nie
bekommer nie, want ons weet mos dat ons reeds die saligheid in Jesus
Christus besit.
- Maar laat ons met ons goeie werke bewys dat ons die beeld van God
dra,
en dat ons waardig is aan die verlossing van die Here Jesus Christus.
- Kom ons laat ons verlossingsbeeld skyn in ons gehoorsaamheid en
aanbidding aan die Drie‑Enige God.
Kom ons lees Kategismus Sondag 24 saam.
Vraag 62: Maar waarom kan ons
goeie werke nie die
geregtigheid voor God of 'n deel daarvan wees nie?
Antwoord: Omdat die
geregtigheid wat voor die oordeel van God
kan bestaan, heeltemal volmaak moet wees en in alle opsigte
met die wet van God ooreen moet stem (a) en omdat ook ons beste werke
in hierdie lewe almal onvolmaak en met sondes besmet is (b).
(a)Gal 3:10; Deut 27:26:
(b) Jes 64:6.
Vraag 63: Verdien ons goeie
werke dan niks nie, terwyl God
hulle tog in hierdie en in die toekomstige lewe wil beloon?
Antwoord: Hierdie
beloning word nie uit verdienste nie, maar
uit genade gegee (a).
(a)Luk 17:10.
Vraag 64: Maar maak hierdie leer
nie mense onverskillig en
roekeloos nie?
Antwoord: Nee, want dit
is onmoontlik dat 'n mens wat deur 'n
ware geloof in Christus ingeplant is, nie vrugte van dankbaarheid sal
voortbring nie (a).
(a)Matt 7:18; Joh 15:5.
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm 86:3
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr.
M.J. du Plessis
Gereformeerde
Kerk Bellville
Datum:
26 Desember 2004 (aand).