Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 122:1.
Geloofsbelydenis
Wet
Psalm 51:8.
Gebed.
Psalm 147:1, 2.
Skriflesing: Jesaja 65:13 - 25.
Teks: Jesaja 65:18
Wees
bly en jubel sonder ophou oor wat Ek gaan skep: Ek gaan 'n Jerusalem
skep wat vol blydskap is, sy inwoners sal vreugde hê.
Glo in God en sy beloftes en volhard daarin om Hom werklik opreg te dien - en ontvang 'n nuwe aarde as toekomstige blyplek.
Ons gee in hierdie preek aandag aan:
1. Die eindbestemming van God se raad.
2. Hoe sal die lewe daar wees?
1. Die eindbestemming van God se raad.
Die Here stuur Jesaja om 'n bekeringsboodskap met 'n belofte aan sy
volk oor te dra. Daarom is daar in hierdie hoofstuk 'n kontras tussen:
- Wat van die Here se dienaars gaan word
- en wat van die mense gaan word wat die Here verwerp het.
Let net daarop dat die Here hierdie boodskap rig aan die kerkvolk. Die heidene word heeltemal buite rekening gelaat. In hierdie kerkvolk is daar 'n tweedeling:
- van hulle is die Here se knegte
- en die ander word net gewoon aangespreek as "julle".
Die eindbestemming van hierdie twee groepe in die Here se raad is ook heeltemal verskillend.
- Die knegte van die Here sal kos hê om te eet, en hulle sal iets hê om te drink.
- Waar hulle heengaan sal hulle bly wees en jubel omdat daar rede vir blydskap sal wees.
- Hulle kry ook 'n nuwe naam.
- Hulle bly in 'n plek waar daar niemand weer doodgaan nie - nie 'n baba nie en ook nie 'n oumens nie.
- Die "julle" bly honger en dors en hulle is terleurgesteld.
- Daar is geen vreugde waar hulle is nie.
- Inteendeel, hulle skreeu van pyn in hulle harte en hulle huil omdat hulle gees verbreek is.
- Dit is 'n tipiese tekening van alles wat die wat in die hel is, gaan deurmaak.
- Daarom leer hierdie gedeelte dat as daar iemand sterf, hy/sy is in die plek wat vervloek is - dit is in die hel.
- Die vervloektes sterf die ewige dood en het dus nie die ewige lewe as hulle adres nie.
Vers 15 stel die kontras tussen die twee groepe die skerpste.
- Die een klomp word deur die Here uitverkies.
- Die wat nie uitverkies is nie is vanself die verwerptes. Hulle name is dus deur die Here vervloek.
Kyk wat word van die uitverkorenes. As ons verskillende gegewens bymekaarsit kan ons die volgende sê:
- Die uitverkorenes word deur die Here omring en Hy gee vir hulle 'n nuwe toekoms.
- Hulle kry 'n nuwe naam (Hoofstuk 62:2).
- Hulle lyding gaan verbygaan en hulle gaan weer in hulle land woon (hoofstuk 65:16).
Die woorde het natuurlik 'n duddelde betekenis:
- Die eerste betekenis is dat die Jode van Ballingskap af sal terugkom in Kanaän in.
- Die tweede betekenis is dat die uitverkorenes van hierdie aarde
af sal tuiskom in die land waar die swaarkry van vroeër verdwyn
het: die nuwe aarde.
Hierdie nuwe aarde is al vroeër belowe:
Slaan
julle oë op na die hemel en aanskou die aarde daaronder; want die
hemel sal soos rook verdwyn en die aarde soos 'n kleed verslyt en sy
bewoners soos muskiete sterwe; maar my heil sal vir ewig bestaan en my
geregtigheid nie verbreek word nie. (Jesaja 51:6 AFR1953)
En Ek
het my woorde in jou mond gelê en in die skaduwee van my hand jou
verberg; om die hemel te plant en die aarde te grond en aan Sion te
sê: My volk is jy! (Jesaja 51:16 AFR1953)
Die
son sal bedags jou lig nie meer wees nie, en as glans sal die maan vir
jou geen skynsel gee nie; maar die HERE sal vir jou wees 'n ewige lig,
en jou God sal jou sieraad wees. (Jesaja 60:19 AFR1953)
Want
soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek maak, voor my aangesig sal
bestaan, spreek die HERE, so sal julle nageslag en julle naam bestendig
wees. (Jesaja 66:22 AFR1953)
Hierdie toekomsverwagting was nie net vir die Jode wat op pad was
Ballingskap toe gepreek nie. In die Nuwe Testament word dit ook nog aan
die Kerk gepreek wat die Here Jesus weer op die wolke verwag. Ons het
vandag nog presies dieselfde hoop en verwagting. Luister na 2 Petrus
3:12, 13:
...julle
wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele
deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt. Maar ons
verwag volgens sy belofte nuwe hemele en 'n nuwe aarde waarin
geregtigheid woon.
Hierdie verwagting gaan beslis vervul word, want die Here het dit aan
Johannes openbaar. Hy het gesien hoe dit gebeur, en het dit beskryf:
En ek het 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde gesien, want die eerste
hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer
nie. En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien
neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos 'n bruid wat vir haar man
versier is.
En ek het 'n groot
stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die
mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self
sal by hulle wees as hulle God (Openbaring 21: 1 - 3).
2. Hoe sal die lewe daar wees?
Hoe sal die lewe daar oorkant wees? Volgens 'n paar beskrywings in die
Bybel is die lewe daar verstommend eenders as die lewe hier.
- Ons sal daar huise bou. Elkeen sal in sy eie huis woon.
- Daar sal druiweboere wees en die druiwe sal baie vrugte dra.
- Daar is nie iets soos onvrugbaarheid en tevergeefsheid in ons arbeid nie.
Tog is daar dinge wat totaal anders gaan wees.
- Op die nuwe aarde is alles teruggeskape tot in die volmaakte
toestand waarin alles was voordat Adam en Eva die hele skepping in
sonde gedompel het.
- Die diere reageer ook anders as waaraan ons gewoond is. Luister na Jesaja 11: 6 - 9.
Dan
wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en
die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en 'n klein
seuntjie sal hulle aanjaag.
Die koei en die berin wei en hulle
kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os; en
die suigeling speel by die gat van'n adder, en die gespeende kind steek
sy hand uit na die kuil van 'n basilisk...
Die Here beloof aan ons 'n volmaakte nuwe woonplek waar ons tot in alle ewigheid sal woon: die nuwe aarde.
- Die nuwe aarde kom op sterkte van God se trou.
- Jesus Christus het self belowe dat Hy van die aarde af weggaan om vir ons plek te gaan voorberei.
- Ons weet dat die Here deur al die eeue getrou was en elke keer dit wat Hy beloof het, waar gemaak het.
- Die Here Jesus is toe ook kruis toe om die magte van die hel te
verslaan, sodat niks in sy pad sal staan wat wil keer dat sy koninkryk
kom nie.
Jesaja 65: 16 beklemtoon weereens dat die Naam van die Here getrou is
(v. 16). Die getrouheid van die Naam van die Here kom in twee dinge na
vore.
- Die een is die vernuwing en herskepping wat Hy tot stand bring oor die gelowiges
- Die tweede een is dat almal wat in die nuwe land is, hulle ede sal aflê in die Naam van die God wat getrou is.
Die belofte wat saamgaan met die koms van die nuwe aarde, is dat aan
die vroeëre/vorige dinge nooit meer gedink sal word nie. Dit
verwys na alle sondes en ellendes en selfs die strawwende hand van die
Here.
- Daar kom 'n punt in die Here se genade waar al hierdie dinge agter lê.
- Daar sal 'n dag kom wanneer ons gaan jubel omdat die seer van die
verlede heeltemal vervang is met die die heerlikheid van die toekoms.
Dit is die inhoud van ons teksvers. Hierin lê 'n eis: Jubel!
- Kyk vooruit en sien die herskeppende wondermag van die Here, want dit gaan ons en ons toekomsland vervul.
- Ons moet dus elke dag glo en bid met hierdie vergesig in
ons gedagte. Dis hierdie hoop wat die Heilige Gees telkens opnuut
in ons versterk.
Die Here sal self ook vreugde hê oor hierdie stad. Die Here gee
sy redes: Die merkwaardige is dat die redes almal herinneringe is aan
die pyn van die aardse lewens van mense.
- Niemand huil nie.
- Niemand roep om hulp nie (daar is nie meer angs nie).
- Daar is nie babas wat sterf nie, en daar is ook nie oumense wat nie hulle jare uitgeleef het nie.
Die volmaaktheid van ons bestaan word beskryf in die ouderdom van die mense.
- Almal sal honderd jaar oud word - dit is maar net 'n profetiese tekening van 'n volmaakte lewe tot in ewigheid.
- As iemand sterf voor hy honderd is, sal hy beskou word as iemand wat vervloek is.
- Dit beteken dat daar op die nuwe aarde niemand sal sterf nie,
want daar is nie vervloektes nie, en daar is ook nie siekte of dood
nie.
- Almal lewe daar vir ewig.
Ons vier hierdie feesgety met baie vreugde in ons. Een van die dinge
wat die koms van die Here Jesus aan ons doen, is om ons geloofsvisier
weer op te stel, sodat ons ver in die toekoms kan inkyk.
- So ver dat ons deur die verdienste van Jesus Christus onsself in die hiernamaals kan sien.
- Natuurlik moet ons dit in gedagte hou dat die koms en die
kruisiging en die hemelvaart van die Here was sodat ons bo alle twyfel
kan weet dat daar 'n hiernamaals is.
- En ook sodat ons kan weet wat ons daar kan verwag. Daar is ons uiteindelik van alle siekte en ouderdom ontslae.
- Jesus Christus se oorwinning oor die dood waarborg 'n volmaakte liggaam en 'n lewe in volle krag.
- Sy opstanding waarborg dat ons in ons hiernamaalse lewe hierdie
krag sal gebruik om te werk - en dat ons elke oomblik van
ons arbeid sal geniet.
As ons gedurende die volgende twee weke die geboorte van ons Here Jesus herdenk, dink dan oor hierdie beloftes van die Here.
- Die Here Jesus se geboorte en alles wat daarop gevolg het,
bevestig dat die Here Jesus se doel daarmee is dat ons deur sy bloed
gered word om na hierdie aardse lewe verder gaan lewe op die nuwe
aarde.
- Dit bevestig die vervulling van die eerste belofte wat die Here al aan Eva gemaak het:
- Daar kom 'n skeiding tussen mense en magte.
- Die slang en sy magte sal vermorsel word, maar die vrou se saad
sal deur die oorwinning van die Een wat gebore word, geskei word van
hierdie ander groep.
- Hierdie skeiding bereik sy hoogtepunt in die oorwinning van ons
Here Jesus oor die dood en die hel, en in ons toetrede tot die nuwe
aarde.
Leef en hoop en glo daarnatoe.
Amen.
Slotgebed.
Skrifberyming 10:1, 2, 5, 6.
Die HERE sal jou seën en jou behoed;
Die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 15 Desember 2002.