Vooraf:
SB 4-4 (4) :1, 3, 4, 5; SB 4-6; Psalm 47:1,
3; 66:1; 105:2;
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 100 (beurtsang)
Geloofsbelydenis Apostolicum
Wet
Psalm 68:13
Gebed.
Psalm 78:1, 2.
Skriflesing:
Jesaja 8:23 – 9:6 en 1 Johannes 4 en 5.
Teks:
Jesaja 9:6 (9:5)
Want
‘n Kind is
vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons
gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem:
Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors
- (Jesaja 9:6 AFR53)
In die tyd toe die Here al die dinge waarvan ons in Jesaja gelees het,
aan hom openbaar het, het alles (die land en die mense!)
rondom Jesaja in bangheid en ellendes gelê. Soos
die Here altyd doen, het Hy toe ook gedoen: Hy het aan die
wat Hy liefhet geopenbaar dat Hy vir hulle anderkant hulle lyding
‘n beter toekoms het.
Natuurlik het die Here met dit wat Hy aan die profeet openbaar, nie net
een tyd en een enkele gebeurtenis in gedagte nie!
- Hy openbaar inderdaad dat die volk Israel, nadat die
straftyd verby is,
weer sy seën sal ontvang.
- Maar die dinge wat geprofeteer word, gaan baie verder as net die
Ballingskap en daardie geskiedenis - dit sny tot
deur ons en ons toekoms!
- Van vers 5 af openbaar die Here baie duidelik die reddende werk
van die
Messias. Hy openbaar selfs die Persoon van die komende
Messias deur gebeurtenisse en Name opeen te stapel.
Want ‘n
Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons
gegee; en die heerskappy
is op sy skouer, en Hy word genoem:
Wonderbaar, Raadsman, Sterke God,
Ewige Vader, Vredevors -
Die Messias/Christus gaan so ver bo die gewoon menslike begrip uit dat
Hy beskryf word met woorde wat normaalweg nie saam in een sin kan staan
nie. Hy is Kind en Seun en God. Terselfdertyd is Hy ewig en
Hy bewerk ewige vrede – wat natuurlik verlossing insluit.
Die sleutel wat die Messias se Wese ontsluit is die eerste twee
beskrywings:
- ‘n
Kind is vir ons gebore,
- 'n Seun is
aan ons gegee
Kom ons kyk eerste na die profesie rondom die woord: Kind.
Die openbaring begin asof dit gewoon normaal is: ‘n kind word
gebore. Natuurlik. Dit klink nie snaaks nie, want
alle kinders word gebore.
- Tog staan daar iets van die geboorte uit: vir ons.
Waarom
word die kind vir ons gebore? Alle kinders word nie vir
“ons”
gebore nie. Hulle word normaalweg
vir hulle ouers gebore.
- Die vraag hang dus eers onopgelos: wie is die “ons”
en waarom word die Kind gebore “vir ons”.
Die antwoord is dat die ons inderdaad sondige mense is. Die
uitverkorenes van die Here wat sonder hierdie ingryping van God verlore
sou gaan, want hulle hele lewe is sondebevlek en deurspek met
verkeerdhede
Die antwoord is verder dat die Messias eerste ‘n Kind gaan
wees wat as ‘n mens gebore gaan word vir mense.
Hierdie gedeelte van die openbaring beklemtoon die mensheid van Jesus
Christus. Later beskryf die boek Openbaring die gebeurtenis so:
En sy (Maria) het ’n manlike kind gebaar, wat al
die nasies
met ’n ystersepter sou regeer; en haar kind is weggeruk na
God en sy troon. (Openbaring 12:4-5 AFR53)
Soos alle ander gelowige ouers se kinders van daardie tyd, is hy ook
besny en in die tempel geseën toe sy ouers die lossingsoffer
vir Hom gebring het.
En
Símeon het hulle geseën en aan Maria, sy moeder,
gesê: Kyk, hierdie Kind is bestemd tot ’n val en
’n opstanding van baie in Israel en tot ’n teken
wat weerspreek sal word - (Lukas 2:34 AFR53)
Dit was inderdaad ‘n seën plus ‘n profesie:
Kyk,
hierdie Kind is bestemd tot ’n val en ’n
opstanding van baie in Israel …
Die Kind moet val: Hy moes uiteindelik kruis toe gaan. Die
hand van die slegte magte was egter van die begin af teen Hom:
Want
waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die
volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het, (Handelinge
4:27 AFR53)
Maar hierdie Kind was ook bestem om uit die dood op te staan ten
behoewe van baie in Israel - die uitverkore
volk! In die Nuwe Testament kyk die Heilige Gees
terug in die geskiedenis en praat dan met die kerkvolk met die volgende
woorde:
God
het, nadat Hy sy Kind Jesus opgewek het, Hom eers vir julle gestuur
om julle te seën deur elkeen van sy booshede te bekeer.
(Handelinge 3:26 AFR53)
Ons luister weer na die profesie in Jesaja 9. Ons ondersoek
wat die Heilige Gees bedoel het met die woorde: ‘n Seun is
aan ons gegee
- Die Kind wat vir ons gebore is, was nie ons Kind nie.
- Hy was vir ons ‘n Kind. Hy was Iemand Anders se
Seun. Daardie Persoon
het sy Seun vir ons gegee.
Die woord Seun gaan nie in die eerste plek daaroor dat dit die geslag
van die betrokke Kind is nie. Hierdie woord beklemtoon die
Godheid van hierdie Kind. Hy is God se Seun wat vir ons gegee
is.
Hy was van ewigheid af God Self. Hy was van altyd af daar.
Toe het God dit gedoen wat ons met ons menslike verstand nie kan
uitredeneer nie. Hy het die Seun gegenereer. Ons
bely dit in die volgende woorde in die Belydenis van Athanasius:
- Die Vader is deur niemand gemaak of geskep of gegenereer nie;
- die Seun is deur die Vader alleen nie gemaak of geskep nie, maar
gegenereer;
- die Heilige Gees is deur die Vader en die Seun nie gemaak of
geskep of
gegenereer nie maar gaan van Hulle uit.
Die Heilige Gees stel hierdie daad in die volgende woorde:
soos
daar ook in die tweede psalm geskrywe is: U is my Seun, vandag het
Ek U gegenereer. (Handelinge 13:33 AFR53)
So gebeur dit dat die tweede Persoon van die Godheid as die
Seun ‘n menslike liggaam aangeneem het om ons te
verlos. Die Here laat dit soos volg opteken:
Maar
toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur,
gebore uit ’n vrou, gebore onder die wet, (Galasiërs
4:4 AFR53)
Hierdie vers in Jesaja (9:1) vat dus die mensheid en die Godheid van
die Messias saam in die een aankondiging.
- Wie dit nie begryp nie, kan die res van die name en beskrywings
wat
kom, nie verstaan nie.
- In die res van die beskrywing word aangedui Wie hierdie Seun was
en
watter mag Hy gehad het - en daarom dinge kan doen
wat buite die vermoëns van ‘n mens lê.
Kersfees is dus ‘n gebeurtenis met ‘n
boodskap. Dit is die een dag wat ons blydskap saamvat omdat
God met die koms van sy Seun ons redding en herskepping kom waar en
werklik maak het. Ons verlossing en ons hoop en ons ewige
toekoms word saamgevat in die Naam: Jesus Christus. Dis
waarom die evangelie presies met hierdie woorde aan die Jode in
verstrooiïng verkondig word:
Nadat
God baie keer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot
die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons
gespreek deur die Seun (Hebreërs 1:1 AFR53)
Hierdie Seun besit ewige heerskappy. Die uitdrukking: In
Jesaja 9 en die heerskappy is op sy
skouer is maar ‘n idioom
om die koningsmantel wat van sy skouer af hang tot op die grond, te
beskryf. Die apostel Johannes het die Messias in die hemel
gesien, waar Hy presies so aangetrek is:
en
tussen die sewe kandelaars Een soos die Seun van die mens met
‘n kleed aan wat tot op die voete hang, en gegord om die bors
met ‘n goue gordel. (Openbaring 1:13 AFR53)
Johannes het nie net die Seun van God met ‘n koningskleed
aan
gesien nie.
- Hy het Hom gesien in sy reddende heerskappy.
- Hy het Hom gesien in die geweld van sy woede waarmee Hy die hel
en sy
magte vernietig, sodat die vir wie Hy gesterf het die volmaakte
heerlikheid wat Hy as God voorberei het, kan ontvang en geniet.
- Johannes het Hom gesien waar Hy met Goddelike almag ‘n nuwe
hemel en ‘n nuwe aarde maak.
- Hy het Hom gesien waar Hy die dooies opwek en met hulle liggame
verenig.
- Johannes het die skares gesien met wit klere aan wat hierdie God
en
Here tot in ewigheid toe loof en prys.
Dit is waarom Jesaja gesê het dat die Seun Wonderbaar
is. Hy is net ver meer as die gewoon menslike. Hy
oorskry alle perke van mag waarvoor ons enige begrip het. Die naam
Wonderbaar dui op die
bomenslike Goddelike Wese van die Seun van God
wat vir ons gegee is.
Hierdie Seun is terselfdertyd Raadsman.
Dit openbaar dat Die
Seun van God sy eie Raadsplan opgestel het en dit self
uitvoer. Hy weet wat onmisbaar is vir die wat Hy liefhet, en
Hy sorg dat Hy dit vir hulle gee.
Gaan daar iemand of enige mag wees wat die Seun van God gaan keer om
hierdie werk te kan doen? Nee, want Hy is self die Sterke
God. Luister hoe stel die Here dit in die
Hebreërbrief:
En
wanneer Hy weer die Eersgeborene in die wêreld inbring,
sê Hy: En al die engele van God moet Hom aanbid. En
van die engele sê Hy wel: Hy wat van sy boodskappers winde
maak en van sy dienaars vuurvlamme; maar van die Seun: U
troon, o God, is tot in alle ewigheid, die septer van u koninkryk is
’n regverdige septer; (Hebreërs 1:6 - 8 AFR53)
Die Seun is dus niemand anders nie as God self. Die Heilige
Gees het dat Jesaja dit so aankondig: Hierdie Seun is Ewige
Vader. Sy regering is God se regering. Omdat Hy God
is, is Hy en alles wat Hy doen ewig!
Stefanus het Jesus ook in sy Godheid gesien. In sy
doodsoomblikke het die Here Stefanus se oë sterk gemaak,
sodat hy sy eindadres kon sien. Tussen ‘n
reën van klippe deur het hy opgekyk en gesê wat hy
sien:
En hy
het gesê: Kyk, ek sien die hemele geopend en die Seun
van die mens aan die regterhand van God staan. (Handelinge 7:56
AFR53)
Dink daaraan: Hy is gebore om te sterf en op te staan sodat ons
‘n pad het uit ons ellendes uit agter Hom aan in sy ewige
heerlikheid in. Dit is waarom die laaste naam is: Vredevors
Is die vrede wat die Seun van God kom maak het vir alle mense
bedoel? Hierdie Kind wat vir ons gebore is antwoord Self:
Oor
die wat U My gegee het, het Ek gewaak; en nie een van hulle het
verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf, sodat die Skrif
vervul sou word. (Johannes 17:12 AFR53)
Die Seun is gegee om verlossing te bewerk. Hy verlos ons wat
deur God aan Hom gegee is! Anders gesê: God gee dus vir ons
verlossing en vryspraak met die dat Hy sy Seun vir ons gee.
Daarmee word die verhouding tussen ons en God heeltemal
verander. Waar dit vroeër ‘n verhouding
van straf was, is dit nou ‘n verhouding van
versoening. Dink maar net aan die woorde van Romeine 5:10:
Want
as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die
dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons
versoen is. (Romeine 5:10 AFR53)
Die Here stel hierdie verlossingsgebeurtenis nog skerper in Kolossense
1:13:
Hy wat
ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het
in die koninkryk van die Seun van sy liefde, (Kolossense 1:13
AFR53)
Die verlossing roep ons op tot verantwoordelikheid. Ons moet
die Verlosser bely. Hierdie geregtigheid wat die Here Jesus
verwerf, is ons eie as ons in Hom glo (NGB art. 23).
Dink hier aan die gesprek tussen Jesus en Martha:
Jesus
sê vir haar: Jou broer sal opstaan. Martha
antwoord Hom: Ek weet dat hy sal opstaan in die opstanding in die
laaste dag. Jesus sê vir haar: Ek is die opstanding
en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe;
en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie.
Glo jy dit? Sy antwoord Hom: Ja, Here, ek glo dat U die
Christus is, die Seun van God, wat in die wêreld sou kom.
(Johannes 11:23-27 AFR53)
Ons doen dus met ons herdenking van die geboorte van die Here Jesus
belydenis van God se liefde vir ons. Ons bely dit met die
woorde van die apostel Johannes:
Hierin
is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore
Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe.
(1 Johannes 4:9 AFR53)
Ons bely dat die Kindjie wat gebore was God se Seun is en dat Hy God
self is.
Elkeen
wat die Seun loën, het ook nie die Vader nie. (1
Johannes 2:23 AFR53)
Die kind wat vir ons gebore is, wat ook God se Seun is, het gekom om
ons ook kinders van God te maak. Hy stel ons in die ewigheid
in ‘n verhouding van kindskap tot die Ewige en Almagtige
God. Hy eis egter van ons getrouheid en vastheid van geloof.
Die Heilige Gees laat dit duidelik en verstaanbaar vir ons neerpen:
maar
hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is,
die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in
sy Naam. (Johannes 20:31 AFR53)
Ons Bybel maak sy laaste bladsye toe met hierdie oproep in ons ore:
Hy wat
oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom
’n God wees, en hy sal vir My ’n seun wees.
(Openbaring 21:7 AFR53)
Wanneer die Here Jesus weer kom, kom Hy nie weer as ‘n Kind
wat vir ons gebore word nie.
- Ons verwag Hom in die vervulling van sy werk as die ewige Regter.
- Op daardie oomblik sal die Here self aan ons wat
Hom bely, 'n beloning uit genade gee dat ons so 'n
heerlikheid sal hê as wat die hart van 'n mens nooit sou kon
bedink nie.
- Daarom verwag ons hierdie groot dag met sterk verlange om die
beloftes
van God in Jesus Christus, ons Here, ten volle te geniet.
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm 98:2, 4.
Die HERE sal jou seën en jou behoed;
Die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig
wees;
Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr.
M.J. du Plessis
Gereformeerde
Kerk Bellville
Datum:
26 Desember 2004 (oggend)