Sing vooraf: Psalm 100:1-4
Ons
hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes,
genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur
die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm
119:50
Geloofsbelydenis Nicea
Na
die wet antwoord ons met Ps. 99:4, 5
Wet
Psalm
99:4, 5
Gebed
Psalm 68:11
Skriflesing:
Jesaja 8:23 – 9:7
Teks:
Jesaja 9:7
(9:6) tot vermeerdering van die
heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy
koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur
geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die Here van die
leërskare sal dit doen. (Jesaja 9:7 AFR53)
Die
ywer van die Here sal dit doen! Dis sterk woorde wat mens meteens baie
diep laat dink.
- Wat beteken dit as die Here ywer?
- Vir wie ywer Hy?
- Wat is die gevolge daarvan as die Here ywer?
Jesaja
profeteer van ’n volk wat in die donkerte van sondes
vasgevang sit.
- Hulle beleef baie oorlogsellendes – wat natuurlik niks anders
is as hulle eie sondes wat hulle inhaal nie!
- Al die dinge gebeur met hulle omdat die Here hulle straf oor hulle
godsdiens wat nie meer op kerf was nie.
Tog
is die straf van die Here nie liefdeloos nie. Sy absolute heiligheid
vereis dat Hy alle sondes moet straf – maar sy liefde
voorsien ook dat die straf op so ’n manier voltrek gaan word
dat daar baie seën na vore gaan kom vir die wat Hy liefhet.
Vir
ons menslike verstand is dit dinge wat nie wil rym nie, maar dit is hoe
God werk met sy straf en sy genade.
In
hoofstuk 8:23 maak die Here ’n tydsverskil tussen die dinge
wat ons self oor ons bring en die dinge wat Hy oor ons bring:
- Die Here praat van die eerste tyd – dis die tyd van
allerhande ellendes.
- Daarna praat Hy van die laaste tyd – dit is ’n tyd
van heil wat in die toekoms lê wat Hy oor ons gaan laat
aanbreek.
Dit
is juis wat gemaak het dat almal wat na die profeet Jesaja gestaan en
luister het, meteens die verstommende van God se genade kon hoor:
- Daar waar die diepste donkerste ellendes is, daar gaan God dit oopbreek
met die lig van sy verlossing soos wat die son helder opkom oor
’n stikdonker nag.
- Lig is natuurlik enersyds die simbool van die hoogste vreugde en geluk!
- Andersyds is dit deel van die Wese van God: God is Lig uit Lig.
Die
volk wat in die donker vasgevang sit, is natuurlik ’n beeld
wat wyer uitkring as net Israel – dit word uiteindelik die
hele kerk (al die uitverkorenes van die Here) tydens hulle aardse
bestaan.
In
vers 4 is daar nog ’n treffende beeld van hoe ons is:
- Ons is so vasgevang in die slawerny van die sonde dat ons vergelyk word
met ’n trekdier wat ’n juk op sy nek het.
- Die Here beeld dan die verlossing uit deur te sê dat Hy
hierdie juk gaan breek – sodat ons meteens vry gaan wees van
alle slawerny.
Daarna
word duidelik gesê hoe die Here dit gaan doen:
9.4:
Want elke soldateskoen wat daar wegstap met gedreun, en die kleed wat
in bloed gerol is, dien tot verbranding, ’n prooi van die
vuur. (Jesaja 9:5 AFR53)
Mens
kom dadelik agter dat hier meer agter die woorde sit as net sommer
’n terloopse verwysing na iets wat Jesaja se hoorders geken
het.
- Hulle het die beeld van die soldateskoen goed geken, want hulle word
juis gewaarsku teen oprukkende magte wat hulle in ballingskap gaan
wegvoer omdat hulle teen die Here gesondig het.
- Die beeld van die bloedbevlekte kledingstuk het hulle ook geken, want
die wat op die slagveld doodgemaak is, is in bebloede klere toegerol.
In
die profeet se profesie moet hulle nou hoor dat al die
oorlogstoerusting – die soldatemantel en die soldateskoen
– deur die Here verbrand gaan word. Die betekenis daarvan is
dat al die dinge waarmee wêreldmagte oorwin en hulle wil op
mense en volke afdwing, deur die Here verbreek gaan word.
Tog
is hier iets meer in as net dit: Daar is ook iets profeties in van die
soldateskoene wat om die kruis geknars het en van Jesus se klere wat
toegerol was terwyl dit besmeer was met sy bloed.
- Vir die donker magte was die oomblik van die kruisiging die hoogtepunt
van oorwinning.
- Maar daardie oorwinning was van baie korte duur, want net daarna staan
die Here op uit die graf as die Vors van die lewe, wat lewe en
oorwinning gee aan sy uitverkore volk – die mense wat hier
beskryf word as die wat in die angs van die duisternis vasgevang is.
Die
verlostes het dus ’n duidelik uitgespelde toekoms wat voor
hulle oopgemaak word deur die Here. Die Here dui ook die oorsaak van
die verlossing en die deurligte toekoms aan:
(9:5)
Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons
gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem:
Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors –
(Jesaja 9:6 AFR53)
Aards
gesien, hoor hulle dat daar weer ’n koning gebore gaan word.
Die koning sal uit die nasate van Dawid wees.
- Die profesie maak egter iets besonders duidelik: Kind is nie net gewoon
menslik nie. Hy styg by die menslike verby.
- Die profesie van die Here maak dit duidelik: Hy gaan die eienskappe van
’n aardse vors baie ver oorskry.
Dis
juis dit was ons ook laat verstaan dat die soldatetoerusting van die
vorige vers nie net op ’n gewone oorlog betrekking het nie.
Dit moet betrekking hê op die gebeurtenis waar die duisternis
opgeklaar geraak het – die kruisiging en alles wat daarmee
saamgegaan het.
Hoe
gebeur alles? Deur die ywer van die Here. Die ewige God is die Een wat
alles beplan en beskik en bewerk.
Die
gedeelte noem dit die ywer van die Here. Die ywer van die Here het die
verlossing oor ons beskik.
Wat
is die ywer van die Here? Dit is uiteindelik alles wat uitgespel word
in die Name wat die Heilige Gees gee vir die Kind wat gebore gaan word.
- Die ywer van die Here is die verstommende wonderbaarheid van God se
onkeerbare almag.
- Dit is die Raad van God – maar ook die Raad wat Hy aan ons
voltrek en waarby Hy ons betrek. Dis die verlossing deur die Here Jesus
Christus, maar dis ook die inwerking van God die Heilige Gees in ons.
- Dis die verlossende en beskikkende krag van God.
- Dit is die wese van ons ewige God en Vader.
- Dit is die ewige volmaakte vrede wat God aan ons gee in sy ewige
koninkryk. Dit is daardie vrede wat nooit weer tot in ewigheid versteur
sal kan word nie.
Die
ywer van die Here is deur die tyd aan die werk oor die wat aan die Here
behoort. Lees maar net Sagaria 1:14:
Daarop
sê die engel wat met my gespreek het: Roep en sê:
So spreek die Here van die leërskare: Ek ywer oor Jerusalem en
oor Sion met ’n groot ywer; (Sagaria 1:14 AFR53)
So
behartig die Here in sy uitverkiesing die ewige beskerming van die
gelowiges:
Want uit Jerusalem sal ’n
oorblyfsel uitgaan en vrygeraaktes van die berg Sion. Die ywer van die
Here van die leërskare sal dit doen. (2 Konings
19:31 AFR53; Jesaja 37:32 AFR53)
Natuurlik
is die ywer van die Here ook sy oordeel. Daarvoor is alle mense bang,
want hulle weet dat dit iets is wat ons nie sal kan hanteer nie:
Of
wil ons die ywer van die Here opwek? Is ons miskien sterker as Hy? (1
Korintiërs 10:22 AFR53)
Dink
ook aan die woorde van Deuteronomium 29:20
Die
Here sal hom nie wil vergewe nie, maar dan sal die toorn van die Here
en sy ywer teen dié man rook, en die hele vloek wat in
hierdie boek geskrywe is, sal op hom rus; en die Here sal sy naam onder
die hemel uitdelg.
Of
Psalm 79:5:
Hoe lank, Here, sal U vir ewig
toornig wees, sal u ywer brand soos ’n vuur?
Omdat
ons beelddraers van die Here is, sal hierdie ywer vir die Here en alles
wat vir Hom saak maak, ook by ons (moet) voorkom.
Uiteraard
sal dit al die dienaars in die gemeente raak – die dominee,
ouderlinge en die diakens. Dink maar net aan die woorde van Romeine
12:8:
. . . of wie vermaan, in die vermaning;
wie uitdeel, in opregtheid; wie ’n voorganger is, met ywer;
wie barmhartigheid bewys, met blymoedigheid.
Natuurlik
sluit dit nie die gemeente uit nie. Ons gelowiges word letterlik almal
hierby betrek: Romeine 12:11:
. . . wees nie
traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here;
Die
woorde van Hebreërs 6:11 bevestig dieselfde saak aan ons:
Maar
ons verlang dat elkeen van julle dieselfde ywer mag toon om te kom tot
die volkome sekerheid van die hoop tot die einde toe;
Daarby
is natuurlik altyd die vermaning dat ons moet weet wat ons doen as ons
vir die Here ywer, want as ons nie die regte kennis het nie, kom ons by
die Here in die moeilikheid. Dink maar aan die volgende twee uitsprake
wat die Here laat opteken het:
2 Petrus 1:5: En
juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof
voeg die deug, en by die deug die kennis,
Romeine
10:2: Want ek getuig van hulle dat hulle ’n ywer vir God het,
maar sonder kennis.
Die
ywer van die Here kom tot vervulling in die Here Jesus Christus en die
versoening wat Hy vir ons doen. Hy maak Jesaja 9 voluit waar.
- In die Here Jesus Christus versorg die Here ons.
- Hy laat ons lewe.
- Hy begelei ons deur die dood wanneer ons sterf.
- Hy gee aan ons ’n opstanding uit die dood
So
breek die ewige lig vir ons deur en skyn dit voluit oor ons deur die
ywer van die Here vir ons. Nou laat dit ons met die verantwoordelikheid
om as deurligte gelowiges die Here tegemoet te lewe. Dink aan die
woorde wat God die Heilige Gees deur Judas laat neerskryf het.
Geliefdes,
terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike
saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my
skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die
heiliges oorgelewer is. (Judas 1:3)
Amen.
Slotgebed
Skrifberyming
3-1:1 – 3
Die Here sal jou
seën en jou behoed;
Die Here sal sy
aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
Die
Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 20 November 2005 (oggend)