Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 2:1
Gebed.
Psalm 84:5.
Skriflesing: Johannes 1.
Teks: Kategismus Sondag 12.
Johannes 1:41
Hy het
eers sy eie broer Simon gekry en vir hom gesê: Ons het die
Messias gevind - dit is, as dit vertaal word, die Christus.
Ons het die Messias gevind! Dit is die Hebreeuse woord vir die Griekse
naam Christus. In Afrikaans vertaal ons dit met: Gesalfde.
- Hierdie mense het geloop en soek na ‘n Verlosser wat deur God
gesalf is om Verlosser te wees.
- En hulle het Hom gekry. Hulle het die hele dag by Hom gebly.
Daarna gaan die mense om die Messias te verkondig aan die ander mense.
Hulle moet weet dat Hy leef!
- Natanael staan eers skepties oor die saak:
- Kan daar uit Nasaret iets goeds wees? Vra hy.
- Filippus antwoord: Kom kyk! En kyk net wie het hulle gekry!
- Hulle het die Man gekry wat van ewigheid af deur God gesalf is
om met ‘n mensegestalte die uitverkorenes op die aarde te verlos.
Toe Jesus die eerste keer na Johannes die Doper toe aangeloop gekom
het, het die Gees van die Here sy verstand oopgemaak, en hy het
gesê:
Daar
is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (29)
En weer:
Ek het
Hom nie geken nie, maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy
het aan my gesê: Op Wie jy die Gees sien neerdaal en op Hom bly,
dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.
Hy praat hier van iemand wat deur God gesalf word - die
Messias/Christus. God salf met die Heilige Gees. Dit is dus:
- Iemand wat deur God met mag, liefde en majesteit beklee word, en
dan aan ons gegee word.
- Die messias, of Christus, deur Wie ons geroep word tot
bekwaamheid in die geloof.
- Hy is gestuur met ‘n drievoudige amp. Hy openbaar self dat die
Vader Hom gesalf het om ons Profeet, Priester en Koning te wees.
Die Profeet preek die weg.
- Hy leer die kudde van die Here die weg van verlossing.
- Sy mond preek van die liefde en die oordeel van die Vader.
- Hy verkondig die raad van God.
- Hy preek ook dat die Here sy gesalfde stuur om die wat aan die
Here behoort uit die hand van die duiwel te skeur.
- Ons kan luister as Hy leer, want Hy word nie onder die leuen
gebore en getooi soos ons nie. Hy gaan ook sonder sonde deur die lewe.
Hy is die enigste Een wat werklik aan die Vader gehoorsaam is.
- Hierdie Profeet van ons kom troos mense wat in sonde verlore is
met die beloftes wat God aan hulle gemaak het. Hy preek verlossing uit
ons smarte. Hy preek lewensblydskap, en dat ons in die ewige
geluksaligheid sal leef in die hiernamaals. Hy preek troos vir die
twyfelmoediges: al lyk dit of ons op die aarde teen die sonde verloor,
Hyself kom om die duiwel vir ons te oorwin.
- Vir die mense wat arm is, profeteer die Here blydskap, want Hy
het ook gekom om almal van armoede te bevry. Hy gee aan ons die rykdom
van die koninkryk van God. In hierdie lewe is dit rykdom van geloof, en
in die hiernamaals oorvloed van alles. Hy is gesalf om aan ons
geestelike rykdom te gee.
- Die Gesalfde van die Here het ook verbaas met sy kennis. Op
twaalfjarige leeftyd redeneer Hy met die wyses van Jerusalem.
- Hy is die profeet met die sterkste prediking. Hy gebied ‘n
legioen duiwels om die besetene van Gadara te verlaat. En hulle sidder.
Siekes juig na genesing. Ellendiges prys God omdat hulle sondes vergewe
is. Sonder die lering van hierdie profeet van die Here is ons verlore.
Maar Jesus is ook Priester.
- Die Profeet leer die weg. Die Priester maak die volk bereid en
gereed om hierdie weg te bewandel.
- Jesus kom as die hoogste gesalfde Priester wat die hoogste offer
van alle tye moet bring. Regdeur sy aardse lewe is Hy besig met ons
verlossing voor God.
- Die Gesalfde van God is juis ook gestuur om as Priester ons met
God te versoen.
- Ons het versoening nodig, want ons is blind vir die almag van
ons Skepper.
- Ons in onkundig oor die Wese en Persoon van die Drie-Enige God.
- Ons is skuldig aan verraad teenoor Hom. Ons weier om sy bevele
konsekwent te handhaaf.
- So maak ons onsself God se openlike vyand.
Soos wat die taak van die priester was, bewerk Jesus dit dat die Here
ons al hierdie wandade kan vergewe.
- Hy offer ‘n offer wat volmaakte versoening gee.
- Hy offer Homself.
- En terwyl Hy die vloek van gekruisig word deurgaan en gemartel
word, en sy lewe aflê, kry ons vergewing van sondes.
Maar dis nie al nie. Ons Hoëpriester se werk is toe nie net op die
aarde voltooi nie. Hy gaan terug hemel toe.
- Daar staan ons Hoëpriester aan die regterhand van die Vader.]
- Oomblik na oomblik bid ons Priester nog al die tyd vir ons by sy
Vader. Hy bid sodat die Vader aan ons die ewige lewe gee. Deur Hom
verwerf ons ook die onbeperkte genade van die Vader.
- Die Hoëpriester maak ons meer as oorwinnaars oor die sonde
en die kwaad. Hy sorg daarvoor dat geen dood of lewe, of engele, of
owerhede of magte ons kan skei van die liefde van God nie.
Christus is ook die gesalfde Koning.
- Die Profeet preek die weg. Die Priester maak ons bereid om die
weg te bewandel. En die Koning regeer ons so dat ons op hierdie pad
loop.
Elke gelowige en elke gemeente gaan deur stryd. Soms baie fel stryd.
- Die duiwel gryp elke mag en elke geleentheid om die gelowiges te
beveg, maar ook om hulle te gebruik om onmin en verwoesting te saai.
- Die haat van die hel is werklik oor die kerk.
Ons ervaar dit ook in ons lewe:
- Versoekinge en oortredinge is male sonder tal voor elkeen van
ons. Die een aanlokliker as die ander een.
- Die een met soveel belofde as die ander. Dikwels ervaar ons dat
die eerlikheid van die gelowige vir hom ‘n struikelblok word.
Ongelowiges maak ons geloof af as die absurdste ding wat daar is.
- Die eer van God word in ons hele wêreld misken.
- Geloof en aanbidding is vir sommige mense iets lastigs.
- Vir ander is dit weer bloot ‘n emosionele belewing.
- Al die beloftes van Jesus Christus word as ‘n ydele versindsel
voorgestel.
Maar juis daarom het ons hierdie gesalfde Koning so nodig. Ek en jy sal
nie hierdie pad kan aanhou loop as Iemand met baie groot Geestesmag ons
nie daarop hou nie. Ons sal ingee.
Ons Koning Jesus Christus dra ons deur die versoekinge.
- Hy gee volheid aan dit alles wat vir ons deur die wêreld as
klein en leeg voorgehou word.
- Hy leer ons dat die duiwel sy voortbestaan ook net aan die
lankmoedigheid van God te danke het, en dat God se lankmoedigheid
eendag gaan gedaan raak, en daarmee saam ook die voortbestaan van die
Satan.
Ons Koning moes ‘n geweldige pad loop voordat Hy sy koninkryk uit die
hand van sy Vader ontvang het.
- ‘n Krip was die wiegie wat aan sy geboorte die eer gegee het.
- ‘n Kruishout het Hom in sy doodstryd regop gehou en ondersteun.
- ‘n Leë klipgraf het aanskou hoe Hy uit die dood wakker
geword het, en hoe die engel van God die steen voor die opening
verwyder het.
Maar, die engele het gejuig toe Hy opstaan, en ook toe Hy hemel toe
gevaar het.
- Nou maak Hy by sy Vader alles gereed vir ons aankoms in sy
koninkryk.
- Daar is sy regering so standvastig dat niks en geen mag ons ooit
uit sy hand kan ruk nie.
Maar Hy preek ook aan ons dat Hy mense skei.
- Die verdienste van die Gesalfde van God was vir die wat die Vader
Hom gegee het.
- Sy dood was nie net om aan ons wat uitverkorenes is sondeloosheid
te verseker nie.
- Sy dood was ook ‘n bevestiging van sy mag om die duiwel te
vernietig.
- Sy haters gaan met sy toorn getref word.
Geliefdes, Filippus en Natanael het hierdie Gesalfde gevind. U moet Hom
ook vandag hoor preek in die Gees, terwyl Hy u siel versterk. Hy
bevestig al sy beloftes aan u. Sy Gees profeteer in u binneste dat u
deel is van die koninkryk van God, en dat u ook moet sorg dat dit kom.
Kom ons lees Kategismus Sondag 12 saam:
Vraag 31: Waarom word Hy
Christus, wat Gesalfde beteken, genoem?
Antwoord: Omdat Hy deur
God die Vader bestem en aangestel en met die Heilige Gees gesalf is (a)
tot ons hoogste Profeet en Leraar (b), wat aan ons die verborge raad en
wil van God aangaande ons verlossing ten volle bekend gemaak het
(c); tot ons enigste Hoëpriester (d), wat ons met die enige
offer van sy liggaam verlos het (e) en met sy voorbidding gedurigdeur
by die Vader vir ons intree (f); tot ons ewige Koning, wat ons
met sy Woord en Gees regeer en ons by die verlossing wat verwerf is,
beskerm en bewaar (g).
(a)Ps 45:8; Heb 1:9; Jes 61:1; Luk 4:18. (b)
Deut 18:15; Hand 3:22; 7:37; Jes 55:4. (c) Joh
1:18; 15:15. (d) Ps 110:4. (e) Heb 10:12, 14;
9:12, 14, 28. (f) Rom 8:34; Heb 9:24; 1 Joh
2:1; Rom 5:9, l0. (g) Ps 2:6; Sag 9:9; Matt
1:5; Luk l:33; Matt 28:18; Joh 10:28 Op 12:10, 11.
Vraag 32: Waarom word jy
'n Christen genoem (a)?
Antwoord: Omdat ek deur
die geloof 'n lid van Christus is (b) en daardeur deel aan sy salwing
het (c) sodat ek sy Naam kan bely (d), myself as 'n lewende dankoffer
aan Hom kan toewy (e) en in hierdie lewe met 'n vrye gewete teen die
sonde en die duiwel kan stry (f) en hierna met Christus in ewigheid oor
alle skepsels kan regeer (g).
(a)Hand 11:26. (b) 1 Kor 6:15. (c) 1 Joh 2:27; Hand
2:17. (d) Matt 10:32; Rom 10:10. (e) Rom I2:1;
1 Pet 2:5, 9; Op 1:6; 5:8, 10. (f) 1 Pet 2:11;
Rom 6:12, 13;. Gal 5:16, 17; Ef 6:11; 1 Tim 1:18,
19. (g) 2 Tim 2:12; Matt 25:34.
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm 32:1.
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 7 September 2003