Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 119:9
Gebed.
Skrifberyming 10:1,2,5,6.
Skriflesing: Johannes 14.
Teks: Kategismus Sondag 17. Johannes 14: 19
...maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe.
Ons is mense wat so baie gekonfronteer word met dood.
- Daar is elke nuusbulletin berigte oor iemand wat gekaap of vermoor is, of opstande wat op geweld en dood uitgeloop het.
- Ons voel soms dat dit amper nie die moeite werd is om aan te gaan nie, want watter toekoms is daar voor ons behalwe spanning en armoede?
Maar mens moet jou nie so deur die dood en al die swart dinge van die lewe laat toesmoor nie. Want daar is 'n saak wat baie groter is as al hierdie swaarkry dinge wat ons op die aarde belewe.
- Dit is dat ons deur die Here ewig lewe
- Dat ons na hierdie aardse lewe in sy volmaaktheid ingaan waar die dood en sy aanhangsels geen voet kan sit nie.
- Ons kry dit deur Jesus Christus - in die feit dat Hy die dood oorwin het, en dat Hy daarmee die lewe wat Hy verwerf het, op ons laat oorgaan.
Dink daaraan:
- Jesus Christus lewe, want Hy het opgestaan uit sy graf en uit die dood.
- Dadelik is daar 'n aanspraak op ons wat sy kerk is: die Kerk moet lewe soos sy Here leef.
- Die kerk mag nie dood wees, en veragter in die genade nie.
- Die Kerk van Jesus Christus mag hom ook nie oorgee aan angs en vrees - soos vir dood en om deur allerhande ander gepaardgaande ellendes bedreig te word nie.
Kom ons kyk vanaand na drie sake:
1. Die Here Jesus laat sy kerk lewe
2. Die Here Jesus bou sy kerk op sodat dit kan lewe
3. Die Here Jesus waarborg die kerk se lewe
1. Die Here Jesus laat sy kerk lewe.
Luister na die presiese woorde van die Here Jesus Christus: "Ek leef..."
- Dis baie sterk gestel. Hier staan nie "Ek sal opstaan uit die dood" of "Ek sal die dood oorwin" nie. Hy leef.
- Hy is die lewende.
- Hy is ook die Een wat lewe gee.
- Die lewe is in die Here.
Dink hier byvoorbeeld aan die betekenis van die Nagmaal. Nagmaal is die sakrament wat die Here se dood en opstanding herdenk.
- Die Here is gekruisig, maar die Here kon nie in die graf bly nie: Omdat die lewe in die Here Jesus is, daarom staan Hy op.
- Ons is geneig om teenoorgesteld daaroor te dink: Ons sê normaalweg dat die Here leef omdat Hy opgestaan het.
- En dan vergeet ons dat Hy juis opgestaan het omdat die ewige lewe in Homself is, Hy het dit nie eers verwerf toe Hy opgestaan het nie.
- Jesus Christus het op so 'n manier mag oor die dood dat Hy nie gesterf het nie - Hy het sy lewe afgelê. M.a.w. Hy het self in die dood ingegaan. Hy het die dood heeltemal oorwin omdat Hy daar ingegaan het toe Hy wou, en weer uitgekom het ook toe Hy wou.
Waarom het die Here Jesus dit gedoen? Vir sy kerk - vir ons! Sodat ons bestaan gewaarborg word deur die ewige lewe wat Hy het. Die bestaan – dis die ewige lewe - van elke gelowige en van die kerk berus dus op die opstanding van die Here Jesus Christus. In Sy woorde gesê: Ek lewe, en julle sal lewe.
2. Die Here Jesus bou sy kerk op sodat dit kan lewe.
Ons lees in Matteus 16 dat die Here eenkeer vir Petrus gevra het wie die dissipels sê dat Jesus is. Daarop het Petrus geantwoord: "U is die Christus, die Seun van die lewende God."
- Op hierdie woorde van Petrus het die Here onder andere gesê dat Hy, Jesus Christus, sy gemeente op hierdie rots sal bou.
- Daar is dus vir die kerk die waarborg dat dit nie vernietig kan word deur enige mag buite die Here om nie - al sou die aanvalle van so 'n mag ookal hoe verskriklik en ernstig wees.
- Die punt is: Jesus Christus bou sy kerk.
- Die kerk kan nie sterf of tot niet gaan nie, omdat die Koning van die kerk Jesus Christus nie sterf of kan sterf nie.
- Sy opstanding uit die dood het dit bewys.
Die opstanding van die Here het bewys dat Hy mag het om die dood op enige vlak waarop dit toeslaan, te vernietig.
- Dit beteken dat die onvermoë wat ons het wat ons het om ons sondes te besef - omdat ons sondebesef dood is - weer lewendig gemaak kan word.
- Kom ons sê dieselfde ding net in ander woorde: Die Here Jesus kan ons tot bekering bring.
- Ons kan dus opgeskerp word om die dinge wat verkeerd is, doodgewoon te vermy.
- Dan word ons lewendig in ons aanbidding van die Here.
- Ons moenie dink dat ons maklik reg en goed lewe voor die Here nie, want ons begeerte om heilig te wees, is ook deur die sonde geskend.
- Ons sal baie keer sonde doen, sonder dat ons ons heiligheid in Jesus Christus ooit te oorweeg.
- Maar ook hier kan daar in die krag van die Here Jesus verandering kom.
Ons liefde vir die Here het in baie opsigte ook al doodgegaan.
- Almal van ons dien nie die Here altyd omdat ons Hom liefhet nie.
- Baie van ons se godsdiens rus baie keer of op skuldgevoelens,
- Sommige mense se godsdiens rus op 'n vae pligsbesef dat hulle die Here moet aanbid, maar dit rus nie meer op 'n lewende liefde vir die Here nie.
Gelukkig kan ek aan u die genade van die Here preek oor hierdie dinge.
- Ons hoef nie moedeloos te raak oor al ons sondes en dan dink dat ons nou reguit op pad hel toe is nie.
- Al hierdie tekortkominge van ons soos ons gebrek aan sondebesef, en ook die feit dat die begeerte tot heiligheid en ware liefde ontbreek, word deur die Here Jesus self herbou.
- Sy kruisdood was sodat Hy hierdie dinge in die mense vir wie Hy sterf, herstel. Dis o.a. wat dit beteken dat Jesus sy kerk bou en lei tot in die ewige Vaderwoning.
Die Here Jesus maak ons dus weer lewend uit ons verstorwe toe stand. Só dat dit 'n duidelike neerslag vind in ons daaglikse lewe en lewensstyl. Die nuwe lewe in Jesus Christus word dus opgevolg deur 'n nuwe lewe waarin ons verantwoordelikheid en liefde vir die Here voorop staan.
3. Die Here Jesus waarborg die kerk se lewe
Christus is onsterflik. Hy is ook onoorwinlik.
- Die belydenisskrifte noem kerk die liggaam van Jesus. Daarom deel die kerk in die oorwinning van die Here Jesus oor die dood.
- Die kerk is dus onuitroeibaar, want slegs iemand wat Jesus kan uitroei, sal die kerk kan uitroei.
Maar dit plaas die kerk onder die verantwoordelikheid om die karakter van die liggaam van die Here Jesus te vertoon.
- Ons as lede van die Here Jesus se kerk, moet die ewige lewe wat ons besit, vertoon deur oor die sonde te heers.
- Ons moet ook ons onsterflikheid vertoon met ons verbondenheid aan God se Woord.
Die Here onderneem om die lewe in ons te bewaar. Maar dan moet onsself ook wil lewe, en dan moet ons die lewe in ons benut.
- Ons moet die lewenskrag van die Here Jesus na vore bring in ons aanbidding:
- dit moet uitkom in dinge soos ons kerkbesoek, ons offers aan die Here, ons gemeenskap met mekaar en ook in ons binnekamerlewe met die Here.
- Daar staan mos al in Amos 5: 4 geskryf: "Soek My en julle sal lewe!"
Broeders en susters, leef deur die krag van die Here se opstanding.
- In die opstanding van die Here is u ook altyddeur oorwinnaars oor die kwaad en oor alles wat sleg is.
- Ons is nie 'n somber Christendom nie. Ons leef met die blydskap van oorwinning in ons.
- Die hoop vir ons opstanding rus in die opstanding van die Here Jesus! Weet dan: Hy leef, en ons sal lewe!.
Kom ons lees Kategismus Sondag 17 saam.
Amen.
Slotgebed.
Skrifberyming 43: 4, 5.
Die genade van die Here Jesus Christus
en die liefde van God
en die gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 14 Julie 2002