Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Skrifberyming 1-1:1
Gebed.
Psalm 89:11
Skriflesing: Johannes 14
Teks: Kategismus Sondag
8; Johannes 14:
- Glo in God, glo
ook in My
- Filippus
sê vir Hom: Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.
- Jesus sê
vir hom: Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus
? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. En hoe sê jy:
Toon ons die Vader ?
- En Ek sal die Vader bid,
en Hy sal julle 'n ander Trooster gee om by julle te bly
tot in ewigheid; die Gees van die waarheid ...
'n Mens se lewe is 'n presiese weergawe van dit wat jy glo. As ons dit
met 'n beeld mag vergelyk: dit is soos 'n skaduwee: dit vertoon die
beeld van die ding wat die skaduwee veroorsaak.
- As jou kennis van
God, en liefde vir die Here maar aan die dun kant is, gaan die
uitlewing van jou geloof net so yl wees.
- Maar as jy die Here
waarlik ken en liefhet, gaan jou geloof en alles wat uit jou geloof
voortkom, baie diepsinnig we
Kom ons gee aandag aan die volgende sake:
1. Skrifuitsprake oor die Drie‑Eenheid
van die Here
2. Die satan se vervalsing van die
Drie-Eenheid
3. Ons bely die Drie-Eenheid in die
nagmaalviering
1. Skrifuitsprake oor die Drie‑Eenheid
van die Here
Hierdie preek handel oor die Drie‑Eenheid van God en wat daarvan word
in ons lewens. Kom ons maak ons vertrekpunt dit wat die Bybel ons leer
van die Drie‑Eenheid. U moet dan daarop let dat daar nie een teks is
wat sê dat God 'n Drie‑Eenheid is nie.
- Daar is wel plekke,
soos die een wat ons gelees het, waar Jesus Homself aan die Vader
verbind as een en dieselfde Wese, soos Hy vir Filippus gesê het: Wie My gesien het, het die Vader gesien.
- Net so koppel Hy ook
die Heilige Gees aan die Vader, en net verder aan in Johannes 15: 26
koppel Jesus die Heilige Gees aan Homself.
As ons al hierdie verskillende Skrifuitsprake aan mekaar koppel, word
dit vir ons baie duidelik dat daar 'n Drie‑Enige God is.
Dit maak een saak baie duidelik: Die Here is so magtig en so onpeilbaar
in sy bestaan, dat 'n mens nie kan deurdring tot alles wat die Here
raak nie.
- Die feit is dat mens
met alles moet konsentreer op wat die Here in die Bybel van Homself
openbaar, en daaruit kom ons dan agter dat daar een God is, maar dat Hy
in drie Persone bestaan.
- Ons kom agter dat
die Here God is wat in sy heerlikheid onstuitbaar is deur alle magte in
die hemel en op die aarde.
- Ons kom agter dat sy
heerlikheid so groot is dat dit enige skepsel wat dit aanskou,
vernietig.
Die Here se grootheid is so oneindig dat geen mens hom daarin kan
indink nie, al probeer hy ook hoe hard. Daarom is dit 'n onbegryplike
misterie dat God dit kan regkry om God die Vader in die hemel te wees,
en terselfdertyd Jesus Christus, en dan nog die alomteenwoordige
Heilige Gees ook, wat mense in hulle harte verlig.
Paulus het hierdie beperktheid van ons vermoëns in gedagte gehad
toe hy in 1 Korintiërs 13:12 geskryf het dat ons in hierdie lewe
soos deur 'n spieël in 'n raaisel kyk, en dat ons eers in die
hiernamaals dinge reg sal verstaan.
2. Die satan se vervalsing van die
Drie-Eenheid
In ons kennis en vermoë om te begryp word ons deur die duiwel
beïnvloed.
- Hy het 'n groter
houvas op die manier waarop ons dinge insien en verstaan as wat ons
soms dink. Hy weet goed dat ons die Here nie so goed sal dien, as hy
ons dinge verkeerd laat verstaan nie, en hy weet ook dat ons maklik
sonde sal doen as hy ons net sover kan kry om sekere dinge van die Here
te bevraagteken.
- Die duiwel loop ook
dikwels die openbaring van die Here vooruit, en dan hou hy 'n skewe
ding voor ons, sodat ons gesindheid verkeerd is wanneer die Here met
die ware openbaring kom.
- Ek noem graag vir u die volgende
voorbeeld. Lank voor die Here Jesus se geboorte was daar al 'n beeld in
Rome waarop die volgende woorde gegraveer was: "Die grote God wat deur
God voortgebring is, is die algeheel skynende." Die duiwel het dus al
in hierdie beeld die geboorte en menswording van die Here Jesus probeer
vervals in 'n afgodsbeeld.
- Ons het in die heidendom nog 'n
voorbeeld van so 'n godsdiensuitspraak wat dui op 'n vervalsing van die
Drie‑Eenheid van God. In die Serapeumkultus (diereaanbidding wat
voorgekom het tydens die vyfde plaag) van die ou Egiptenare was daar 'n
orakelspreuk wat so gelui het: "Alles is een God, daarna die Woord en
die Gees; drie Gode tesame voortgebring wat hulle met mekaar verenig
het."
Dis natuurlik nie waar dat God voortgebring is, of dat God drie Gode is
wat met mekaar saamgesmelt het nie. Maar die gedagte van die
Drie‑Eenheid is tog waar. Ons het hier baie duidelik te doen met 'n
vervalsing van God se openbaring.
Ons moet hierdie dinge verstaan teen die agtergrond van Romeine 1: 19 ‑
21:
...
omdat dit wat van God geken kan word, in hulle geopenbaar is, want
God het dit aan hulle geopenbaar. Want sy onsigbare dinge kan van
die begin van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan
en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat
hulle geen verontskuldiging het nie; omdat hulle alhoewel hulle
God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle
het dwaas geword in hulle oorlegginge, en hulle onverstandige hart is
verduister.
3. Ons bely die Drie-Eenheid in die
nagmaalviering
Dit klink ondenkbaar dat die Here heidene sommer net so in die hel kan
gooi omdat hulle Hom nie aanbid het nie.
- Ons dink soms dat
hulle 'n saak het. Maar as ons na die heidene se godsdienste gaan kyk,
dan kry ons dinge soos die wat ek vir u genoem het daarin.
- Dan besef ons dat
God Hom tog aan hulle geopenbaar het, maar dat hulle die ware
openbaring verdraai het.
Hierdie ding behoort by ons 'n rooi lig aan te skakel: Dit is die pad
wat die heidene geloop het met God se openbaring oor Homself en oor die
Drie‑Eenheid. Watter pad loop ons, want ons het die ware en volle
openbaring?
- Bestudeer ons die
Bybel as openbaring van God?
- Ken ons die Here
soos Hy Hom openbaar, en aanbid ons Hom soos wat dit van ons verwag
word? 'n Roekelose lewe en 'n skewe geloof bewys net dat jy die Vader
in sy bevel en die Seun in sy versoening en die Heilige Gees in sy
leiding nie ken nie.
Hier pas die Bybel. Ons het onlangs aan die Nagmaaltafel gesit.
- Dit was ook 'n
belydenis dat ons die almagtige God waarlik ken in sy oordeel oor ons
sondes
- Dit was ook 'n
belydenis dat ons die almagtige God waarlik ken in sy genade dat Hy vir
ons voldoening van ons sondes bewerk het.
- Dit was ook 'n
belydenis dat ons onder die leiding van die Heilige Gees aan die tafel
sit om sy bevel te gehoorsaam.
- Ons het dus bely dat
ons God ken soos Hy Hom in sy Woord aan ons openbaar.
Kyk net weer hoe ons die Drie-Eenheid in die Nagmaalviering bely:
- Ons bely dat ons
besef dat ons slegs die oordeel van die Here kan oorleef as die Vader
Jesus Christus straf vir ons sondes.
- Ons bely dat ook net
die Here Jesus Christus uit die dood kon opstaan en aan ons die ewige
lewe gee. Net Hy kan ook al ons wandade versoen met die algeheel
heilige God.
- Ons bely dat die
Here elke dag saam met ons is. Hy regeer ons harte en verstande sodat
ons die geloofsake kan verstaan en ons eie maak. En die Heilige Gees
leer ons om te onderskei ‑ en om gehoorsaam te wees.
Die belydenis van die Drie‑Enige God werk dus na twee kante toe.
- Na die een kant toe
bely jy dat jy die Drie‑Enige God in sy Wese ken ‑ en in
die ewigheid staan jy midde in die vreugde van die teenwoordigheid van
hierdie God wat jou oorspoel.
- Of jy bely God nie
soos Hy Hom openbaar nie, en jy gaan vir ewig verlore.
Dit is die twee uiterstes. Dan kom daar nog dinge tussen‑in: Jy kan God
nie bely, maar jou geloofslewe skiet tekort nie. Dis 'n skynheilige
belydenis wat die verdoemenis tot gevolg het.
- Daar kom tye of
geleenthede wanneer elke mens sonde doen.
- Maar dan moet jy
onder die leiding van die Heilige Gees opstaan, en deur die genade van
die Here Jesus gedra, weer die goeie soek en doen.
Dis belangrik om te mag weet dat die Drie‑Enige God die afstand tussen
Hom en die wat werklik glo, wegneem.
- Daarom daal Hy neer
na hulle toe.
- Hy kom sterf vir
mense wat swak is, maar wat tog in ware opregtheid stry om God beter te
dien en te verheerlik.
- Al drie die Persone
van God bewerk vir die sondaar weer ware lewensgemeenskap met die Here.
Opsommend kan ons sê dat ons een God ken wat Hom in verskillende
Persone aan ons openbaar:
- God die Vader in sy
liefde.
- God die Seun in sy
Verlossing.
- God die Heilige Gees
wat ons met krag troos en lei.
Kom ons lees Kat. Sond. 8 saam
Vraag 24: Hoe word hierdie
artikels ingedeel?
Antwoord: In drie dele: die eerste handel oor
God die Vader
en ons skepping; die tweede oor God die Seun en ons
verlossing; die derde oor God die Heilige Gees en ons
heiligmaking.
Vraag 25: Terwyl daar maar tog
net een, enige Goddelike Wese is,
waarom praat jy van drie, naamlik die Vader, Seun en Heilige Gees (a)?
Antwoord: Omdat God Hom so in sy Woord geopenbaar
het (b) dat
hierdie drie onderskeie Persone die enige, ware en ewige God is.
(a)Deut 6:4; Ef 4:6; Jes
44:6; 45:5; 1 Kor 8:4,
6. (b) Jes 61:1; Luk 4:18; Gen 1:2, 3; Ps
33:6; Jes 48:16; Matt 3:16, 17; 28:19; 1 Joh
5:7; Jes 6:1, 3; Joh 14:26; 15:26; 2 Kor
13:13; Gal 4:6; Ef 2:l8; Tit 3:5, 6.
Amen.
Slotgebed.
Skrifberyming 12-2:1
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 12 September 2004 (aand)