Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm: Skrifberyming 45:1, 12.
Gebed.
Psalm 43:3, 4.
Skriflesing: Johannes 16.
Teks: Kategismus Sondag 18; Johannes 16: 7
Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur.
Daar was 'n tyd in die geskiedenis toe dit maar donker gegaan het met die kerk van die Here, want die gelowiges was gehaat en vervolg. Tydens hierdie vervolginge het die Christene vasgehou aan die hemelvaart van die Here Jesus Christus.
- Wanneer die leeus hulle uitmekaargeskeur het, was dit hulle ligpunt dat hulle verskeurde liggame saam met die Here Jesus sal wees by die wederkoms.
- In ons tyd is daardie beloftes en vooruitsigte van die opstanding uit die dood nog net so waar en vas - en daarom moet ons aan dieselfde dinge vashou.
Ons beleef nou 'n tyd waar die wêreld met sy manier van dink en glo in die kerk ingedring het en die toekoms van die kerk begin donker maak:
- Daar is uitsprake dat "daar 'n hoofstroom in ons land aan die gang is en dat ons nie meer so aan die Bybel moet vasklou dat ons uit die bus uitval nie."
- Daar is kerkleiers wat leer dat baie dinge in die Bybel verbygegaan het en dat dit nie meer geldend is vir ons wat in die moderne tye lewe nie.
- Daar is ook die groep vir wie die geloofswêreld 'n wêreld geword het waarin hulle so aan hulle eie belange en behoeftes dink dat hulle nie meer bereid is om in gehoorsaamheid voor God te kniel nie.
- Dan is daar baie mense vir wie dit in geloof gaan oor die uiterlike, veral dan oor dinge soos vorm en selfgemaakte tradisies.
- Vir ‘n aantal mense gaan dit in die geloof oor materiële dinge.
Die duiwel is nie so dom as wat ons graag wil dink nie. Die magte van die antichris het lankal - soos wat God dit in die Bybel vooruitgesê het - begin om die grense tussen die kerk en die wêreld uit te wis. In effek wil hy met oëverblindery die indruk skep dat die wêreld en die koninkryk van God dieselfde ding is.
Let op hoe dit gebeur:
- Die bedoeling van die politieke klimaat oor die hele wêreld is niks anders nie as om hemel op aarde te skep soos wat mense dit verstaan nie.
- Om dit te kan doen word die Christelike geloof doodgesmoor en ander gelowe en gedagteringtings in die plek daarvan gepropageer.
- Vroeër het die kommunisme 'n slagspreuk gehad dat die Christelike geloof opium vir die volk is, want dit verskraal die produktiewe aanhang van die burgers van die land se steun aan die staat as welvaartskepper.
- In die jongste tyd is die aanslag so dat al die heidense gelowe meteens ook 'n sogenaamde christelike inslag kry of daarmee gelykgestel word.
- Die hemel kom dus vir die moderne filosowe in die gelykheid van gawes en besittings tydens hierdie lewe.
- Alles wat verantwoording aan die enigste ware God en oordeel deur Hom oor die mens se getrouheid en gehoorsaamhheid aan Hom raak, word uitgefaseer.
Die feit is dat hierdie lewe verbygaan, en dat dit nie help om hier alleen 'n hemel - of ewige toekoms - te probeer bou nie, want aan die einde van die tyd gaan al ons stelsels op die aarde in duie stort - en wat bly dan oor?
Onder sulke omstandighede hoor ons die woorde van die Bybel waar ons vermaan word om in hierdie lewe en in die toekomstige een op Christus te hoop, anders is ons die ellendigste van alle mense.
Dit is waar die hemelvaart en die twee nature van die Here Jesus Christus inpas.
- Die hemelvaart van Christus leer ons dat daar aan die einde van die tyd voorsiening is om weer ons liggaam en siel te verenig en dan verder te lewe sonder om weer dood te gaan.
- Ons hoef dus nie so angsvallig aan hierdie lewe vas te klou, en dit wat ons hier gebied word, die een en die al te maak nie.
- Toe die Here Jesus weggevaar het, het die dissipels vir Hom gestaan en kyk. Wat het hulle gesien?
- Hulle het gesien dat Hy met sy liggaam daar by hulle gestaan het. Hy het sy liggaamlike hande opgetel en hulle geseën en toe het Hy weggevaar. Let wel: Jesus is met sy menslike liggaam hier weg.
Terwyl Jesus (met sy menslike liggaam) tussen ons gebly het, het Hy gesê dat Hy moet weggaan, want as Hy nie weggaan nie, sal die Trooster nie na ons kom nie; maar as Hy weggegaan het, sal Hy die Trooster na ons toe stuur (v. 7).
Hy het ook gesê:
...Ek het van die Vader uitgegaan en in die wêreld gekom. Weer verlaat Ek die wêreld en gaan na my Vader (v. 27, 28).
Wat weereens belangrik is om op te let, is dat Jesus nie gesê het dat Hy net in sy Godheid teruggaan hemel toe nie. Hy het gesê dat Hy gaan, m.a.w. soos wat Hy daar voor hulle gestaan het. Die dissipels het dus verstaan dat Hy as volledige mens (met liggaam en siel) teruggaan hemel toe.
Dit het toe so gebeur. Die tyd het aangebreek dat Jesus gekruisig is. Sy werk op die aarde was voltooi.
- Maar dit was nie gedoen vir die aarde nie: dit was gedoen om vir die uitverkorenes ‘n woonplek in die koninkryk van God te verseker.
- Daarom is Jesus met sy liggaam terug na die heiligdom van sy Vader, om te heers totdat al sy vyande onder sy voete gestel is.
Die dissipels was baie bekommerd. Hulle was baie bang dat daar met die hemelvaart 'n versteuring van die verlossingswerk sou kom.
- Sou die Here se liefde nie verkoel as Hy nie meer hier by hulle is nie?
- Moet nou net nie dink dat die dissipels alleen so-iets sou dink nie. Ons dink presies dieselfde dinge. Lees maar wat vra ons in die Kategismus vraag 47: "Is Christus dan nie by ons tot aan die einde van die wêreld soos Hy beloof het nie?" Ons het dus dieselfde bekommernisse.
In die antwoord op hierdie vraag bely ons twee dinge:
- Die eerste is dat dit waar is dat Jesus met sy liggaam weggevaar het.
- M.a.w. die Here het nou nog (op hierdie oomblik) sy menslike liggaam!
- Hy het dit nie iewers na die hemelvaart verloor nie.
- Die tweede is dat Jesus ook God is, al het Hy nog steeds 'n menslike liggaam.
- Al is sy liggaam van die aarde af weg, bly Hy kragtens sy Godheid alomteenwoordig.
- Jesus Christus is dus binne en buite sy mensheid.
- Hy is dus nog steeds by ons al het Hy weggevaar.
- Daarom sal sy liefde vir ons nie verkoel nie.
Dit staan ook so geskryf in Matteus 28: 20:
...En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.
Hy bly 'n God van nabyheid.
Dit klink dalk vir u na 'n akademiese belydenis, maar dink nou net daaraan wat al met die kerk in ons geskiedenis sou gebeur het as Christus nie met ons was nie. Maar ons is nog steeds bewaar omdat sy Godheid, majesteit genade en Gees nooit van ons af weggegaan het nie.
- Die moontlikhede is onberekenbaar hoe ons in dwaalleer of totale ongeloof sou kon verval as die Here Jesus nie daadwerklik met sy koningskap en regering vlak by ons was nie.
- Al die voorregte wat ons het deur die inwoning en leiding van die Heilige Gees sou nie bestaan het as die Here nie by ons was nie.
Romeine 8: 35 pas hier:
Wie sal ons skei van die liefde van Christus? Vervolging of verdrukking of benoudheid of gevaar of swaard?
Dit is dus nie verkeerd om te glo dat Jesus Christus se menslike liggaam in die hemel is, terwyl Hy met sy Godheid in die hemel en op die aarde is nie.
In ons belydenisskrifte bely ons hierdie saak: Die Here Jesus se Godheid kan deur niks ingesluit word nie en ook deur niks uitgesluit word nie.
- Die Here is alomteenwoordig. Die Here Jesus is deur die Heilige Gees by ons teenwoordig.
- Hy berei ons voor vir die hiernamaals. Ons belydenis noem die Heilige Gees 'n teëpand. Die bedoeling is dat Jesus met sy menslike liggaam van ons af weggegaan het, maar sy Heilige Gees as 'n teëpand gestuur het.
- God die Heilige Gees leef in ons; Hy woon in ons; Hy werk in ons liggaam en siel.
- Daarom mag die Gees van die wêreld net nie in ons gevind word nie.
- Die gees van die wêreld dink aan sonde.
- Daarteenoor laat die Heilige Gees ons vir die koninkryk van God leef.
Kom ons pas dit toe:
- Dit beteken dat ons gereinig is deur die bloed van die Here Jesus Christus en deur die Heilige Gees gelei word om met die wederkoms met liggaam en siel op te staan om tot in ewigheid in God se koninkryk te lewe.
- U het geen rede om te twyfel of u liggaam sal opstaan nie.
- Die Here Jesus se opstanding het dit reeds bewys.
- Sy hemelvaart het die rigting aangewys waarheen ons gaan met die opstanding wanneer die Here Jesus op die wolke verskyn.
Natuurlik sal daar verskil wees, want ons is nou sondig en dan sal ons verheerlik wees.
Laat ons dan gewaarsku en getroos wees deur die woorde van Kolossense 3: Ons lewe is saam met Christus verborge in die hemel. Daar is net een manier om ewig in die hemel te kan lewe met liggaam en siel en dit is deur die Here Jesus Christus. Diegene wat hulleself dien, of wat ongelowig is, sal hierdie heerlikheid nooit sien nie. Jesus Christus alleen is die Weg en die Waarheid en die Lewe.
Kom ons lees Kategismus Sondag 18 saam.
Amen.
Slotgebed.
Here, seën en behoed ons. Rig ons en lei ons in waarheid en geregtigheid. Leer ons om lief te hê en te dien. Leer ons om onsself te verloën, sodat U meer word, en ons minder word. Ons bid dit om Jesus Christus ontwil.
Amen.
Slotpsalm 65:2
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 21 Julie 2002.